PINKSTER AANLYN EREDIENSTE:
Sondag 16 Mei 2021:
Maandag 17 Mei 2021:
4 Maart 2018 Dr. Tinus van Zyl |
Posted by Administrator (dbvgadmin) on Mar 06 2018 |
4 Maart 2018
Klasieke diens: Doop
Lydenstyd
Skriflesing: Johannes 2:13-22
Waar is God?
Waar is God? Is God in die hemel? Of woon God in die kerkgebou? Of woon God in jou hart? Of is God oral ewe veel teenwoordig?
Tempel
Die tempel was vir Israel die woonplek van God. Dit was die plek waar hemel en aarde mekaar ontmoet het en oorvleuel het.
Wêreldbeeld
In die wêreldbeeld van die ou nabye ooste was die hemel nie ‘n plek anderkant of buite ons wêreld nie. Die hemel was deel van die wêreld. Die hemel was God se troon, God se dimensie. Ons leef op die aarde – die mens se dimensie. En dan onder die aarde is die doderyk – die dooies se dimensie. Maar dit alles is deel van een wêreld.
Poorte
En daar is poorte, waar hierdie dimensies mekaar ontmoet en oorvleuel.
Jakob
As ons dink aan Jakob wat met sy kop op ‘n klip geslaap het, en toe gedroom het van ‘n leer tussen hemel en aarde, waar engele tussen hemel en aarde beweeg. En toe hy wakker word, sê hy: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”
Bet-el
Hy het toe die plek Bet-El, huis van God genoem, die klip regop gesit, olie daarop gegiet, en vir God belowe dat as God hom bewaar, dan sal hierdie klippilaar ‘n tempel wees.
God wil nie tempel hê nie
Nou, interessant genoeg, God wou nooit die tempel gehad het nie. Toe Israel uit Egipte bevry is en hulle deur die woestyn getrek het, het God in ‘n tent, die tabernakel, gewoon.
Dawid wil tempel bou
En toe koning Dawid vir God ‘n tempel wou bou, het God gesê: Nee, ‘n tent is my goed genoeg. Ek wil nie in ‘n weelderige tempel bly nie. Maar Salomo het nietemin vir God ‘n tempel gebou, al was dit nie God se wil nie.
Tabernakel / Tempel is poort
Vir die volk Israel, was die tabernakel, en later die tempel, dié poort tussen hemel en aarde, die plek waar hemel en aarde mekaar ontmoet en oorvleuel, letterlik ‘n stukkie hemel op aarde, ‘n plek waar God gelyktydig in die hemel is, maar ook op die aarde is.
Ballingskap
Met die ballingskap is die tempel vernietig. En dit het ‘n reuse geloofskrisis vir die Jode tot gevolg gehad, want waar is God nou? Woon God nog by ons? Het ons nog op enige manier toegang tot God, as die tempel nie meer daar is nie?
Herbou
Na die ballingskap is daar pogings aangewend om die tempel weer te herbou, en die tempel het weer begin funksioneer as ‘n tempel, daar is offers gebring, maar dit is nooit volledig herstel soos in die dae van Salomo nie.
Verontreinig deur Grieke
En toe, in 167 vC, het daar konflik ontstaan met die Griekse ryk, en veral tussen Griekse Jode en streng tradisionele Jode. En die tempel is verontreinig deurdat daar in die tempel ‘n vark geoffer is aan die Griekse gode.
Makkabese opstand
Dit het gelei tot die Makkabese opstand, gelei deur Mattatias Makkabees se vyf seuns. Die Griekse heerskappy oor die Jode is afgegooi en tempel is gereinig en weer heringewy. Die Jode vier tot vandag hier herinwyding van die tempel in Desember, met die Hanukka-fees. En vir ‘n 100 jaar het die Jode oor hulleself regeer.
Romeine
Met die opkoms van die Romeise ryk, is hierdie Joodse ryk verswak. En met Rome se aanstelling van Herodus as die “koning van Jode”, omtrent 40 jaar voor Christus se geboorte, het die Joodse ryk finaal tot ‘n einde gekom.
Messias sal temepl reinig
As gevolg van hierdie geskiedenis, was daar die verwagting by die Jode, dat indien daar weer ‘n Messias sou kom, wat hulle sou bevry van Romeinse oorheersing, dan sal daardie Messias weer die tempel reinig en herinwy.
Rewolusie
Maar natuurlik, die persoon wat dit sal doen, sal daarmee in direkte opstand kom teen die heersers van die dag, ook teen die Joodse godsdienstige leiers, wat deur die Romeinse ryk aangestel is. Dit sal dus gelykstaande aan die begin van ‘n rewolusie of ‘n coup de tas wees – en dit sal met mag en geweld beveg en onderdruk word.
Jesus
En dan kom Jesus en hy verklaar homself as die Messias deur die tempel te reinig, soos die Jode verwag het. Maar Jesus doen ‘n verdere, snaakse ding: Hy sê dat as hulle die tempel afbreek, sal hy hom weer in 3 dae oprig.
Johannes ná 70 nC
Nou ons moet dit in gedagte hou dat Johannes se evangelie omtrent in 90 nC geskryf is. Die tempel is die tweede keer en finaal vernietig in 70nC, toe die Jode in opstand gekom het teen die Romeinse Ryk, maar misluk het.
Tempel-lose wêreld
So Johannes probeer in tempel-lose wêreld die vraag beantwoord: Waar is God? En Johannes se antwoord is: In Christus. Christus is die nuwe tempel. Christus is die poort tussen hemel en aarde, die plek waar hemel en aarde oorvleuel, waar God en mens mekaar ontmoet.
Tempel wys na Christus
Die tempel, vir Johannes is nie goed of sleg nie. Die tempel is ‘n heenwyser na Christus, die Messias, die nuwe tempel. In Johannes 1 word Christus beskryf as die Woord wat vlees geword het en tussen mense kom tent opslaan het, kom tabernakel het, in die ou vertaling.
Christus = tabernakel
Christus is Immanuel: God-met-ons. Christus is die tabernakel, die tempel, waar God en mens mekaar ontmoet, waar hemel en aarde oorvleuel, eintlik hemel op aarde. Maar dis ook belangrik watter soort tempel Christus is.
Lig in donker
In Johannes se evangelie is Christus ‘n lig wat skyn in die donker, en die donker kan dit nie uitdoof nie. Maar dit skyn in die donker. Met ander woorde, dit woorde deur meeste mense misgekyk, of ontken.
Messias word ontken
Daarom is daar dwarsdeur die evangelie ‘n spanning tussen lig en donker, tussen sien en nie sien nie. Dit gaan ook daaroor dat Johannes se gemeenskap was gewikkel in ‘n stryd met Jode wat nie Christus se Messiasskap wou erken nie.
Tempel word afgebreek
Maar dit gaan nog verder. Christus is ‘n tempel wat afgebreek sal word. In die evangelie van Johannes is die inhuldiging van Christus as die ware Messias, die kruisiging. Die kroon is ‘n doringkroon. Die troon is Golgota.
Geen Salomo-tempel nie
So die nuwe tempel is geen Salomo-tempel, wat gehul is in weelde, en waarop die wêreld jaloers is nie. Nee, hierdie tempel is ‘n tempel wat deur die wêreld afgebreek, bespot, verwerp en gekruisig word.
Afbreking = oprigting
En ironies genoeg, is dit juis in hierdie afbreking van die tempel, in die kruisiging van die Messias, waarin God die mense sal ontmoet, al hulle oortredinge vergewe en weer by hulle kom woon.
Heilige Gees
Want na drie dae rig Christus weer die tempel op, staan Christus op uit die dood, en stort Hy oor sy volgelinge sy Gees uit, wat van hulle almal ‘n tempel van die Heilige Gees maak.
Elke dissipels
Nou is elke dissipel ‘n poort tussen hemel en aarde, ‘n ontmoetingsplek tussen God en mense, ‘n stukkie hemel op aarde binne-in gewone bloed en vlees.
Doop
Dit is wat die doop sê: Ons wat gedoop is, het saam met Christus gesterf en opgestaan, en ons ontvang die Heilige Gees, sodat ons nou kan lewe as ‘n tempel van die Heilige Gees.
Hemel op aarde
Dit beteken dat gedooptes, soos ek en jy, ‘n stukkie hemel op aarde kan wees, ‘n poort tussen hemel en aarde, ‘n ontmoetingsplek tussen God en mense.
So waar is God?
So waar is God? God is in jou. En God is in die persoon langs jou. Of dalk nog beter gesê: God is in die spasie tussen jou en die persoon langs jou.
1 Johannes 4:12
1 Johannes 4:12 sê: “Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.” Amen.
Last changed: Mar 06 2018 at 8:24 AM
Back