Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

30 Desember 2018 Dr Tinus van Zyl

Posted by Administrator (dbvgadmin) on Jan 02 2019
Lees preke >>

30 Desember 2018

Psalm 148

Skriflesing:    Psalm 148

Dank vs lof

Daar is ‘n verskil tussen om die Here te dank en om die Here te loof. In ons dankgebede en dankliedere sê ons vir God dankie vir alles wat God vir ons doen. Maar in ons lofgebede en lofliedere loof ons God vir Wie God is. Ons staan in verwondering voor Godself.

Job

Dink aan Job, wat gesê het: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.”

Goeie en slegte tye

Om God te loof en te prys is iets wat ons doen in goeie en in slegte tye, omdat God ‘n God vir ons is in goeie en in slegte tye.

Naam van die Here

Die ou Israeliete het spesiek ook die Naam van die Here geloof, want die Naam van die Here het verwys na die teenwoordigheid van God, die krag en nabyheid van God, God se aangesig wat oor ons skyn, in goeie tye en in slegte tye.

Alle omstandighede in Psalms

Dit is juis wat die Psalms so wonderlik maak – die feit dat hulle God nie net loof en prys in goeie omstandighede nie. In alle omstandighede, deur al die verskillende emosies waardeur hulle gaan – liefde en haat, geloof en ongeloof, dankbaarheid en frustrasie, blydskap en hartseer, vrede en angs – in en deur dit alles rig hulle hulle harte tot God in gebed en in lof.

Jaar wat verby is

As ons terugdink oor die jaar wat verby is, dan kan ons ook hierdie wye verskeidenheid van emosies oproep. Alhoewel daar baie dinge sal wees waarvoor ons vir die Here wil dankie sê, sal ons sekerlik nie wil dankie sê vir alles wat hierdie jaar gebeur het nie.

Tog kan ons loof

En tog kan ons vir God loof, tog kan ons die Naam van die Here prys, omdat God ook in hierdie jaar, in die goeie tye, maar veral ook in die slegte tye, by ons was. Ons loof God se Naam, omdat God Immanuel is – God by ons.

Skeppingspsalms

Soos die ander skeppingspsalms is hierdie Psalm waarskynlik geskryf gedurende of ná Israel se ballingskap in Babilonië. In Babel is Israel gekonfronteer met verskeie skeppingsverhale en ‘n reeks ander gode.

Ou Nabye Ooste

In die Ou Nabye Ooste is elemente in die skepping, soos die son, maan en sterre, aanbid as gode. In die Kanaänitiese wêreld, waarin landbou sentraal was, was ‘n daar ‘n god vir elke seisoen en geleentheid van die landboujaar. El was die skepper van die wêreld. Baäl was die vrugbaarheidsgod, Mot die god van die dood en Jam die god van die see.

Bygelowig?

Nou dis maklik om vandag hierdie sienings af te maak as premoderne mense se bygelowigheid. Maar hoeveel gode aanbid ons? Watter gode loof en prys ons daagliks met ons woorde en ons dade?

Geld

Aanbid ons nie dalk vir Mammon, die god van geld nie? Ons sê immers: “Money makes the world go round.” En ons sê dit nie as ‘n grap nie. Ons bedoel dit as ons dit sê.

Die krag van geld

Dis nie noodwendig dat ons geld wíl aanbid nie. Dis nie noodwendig dat ons geldgierig is nie. Maar ons glo in die krag van geld, soms meer as in die krag van liefde, genade of hoop.

Money talks

Ons sê ook: “Money talks.” En ons bedoel dit sinies, gelate. Ja, ek sou ook graag in dit of dat wou glo, dit is mooi gedagte, “but money talks.”

God skep deur Woord

Interessant dat vers 5 sê dat God skep deur sy bevel. Dit herinner aan die skeppingsverhaal in Genesis 1 waar God uit niks uit skep, dinge wat nie bestaan nie word tot stand gebring, deurdat God praat, deurdat God beveel.

Waarna luister ons?

Maar hoe dikwels glo ons in die skeppende krag van geld, in die vermoë van geld om te praat, eerder as in God se vermoë om te praat en om vanuit niks te skep? Hoe dikwels luister ons eerder na dit wat die Rand en Dollar sê, as om te wag op die Woord van God, wat uit niks uit kan skep?     

Tyd?

Of, aanbid ons nie dalk vir tyd nie? Ons sê mos ook: “Tyd is geld.” Hoe dikwels, as ons iets nie kan doen nie, dan is die rede wat ons gee: Ek het nie tyd nie. Of: Dit gaan te lank vat. Of: Dit is nie nou ‘n geleë tyd daarvoor nie.

Wie regeer oor ons lewe?

Asof tyd oor ons lewe regeer. Asof tyd ons god is. Asof tyd nie in ons diens staan nie, maar ons in diens van tyd. Asof tyd nie in diens van die skepping staan nie, maar die skepping in diens van tyd. Asof God die mens gemaak het vir tyd, eerder as dat God tyd gemaak het vir die mens.

Sabbat

Die Sabbatdag was ‘n voortdurende herinnering vir Israel dat hulle nie leef in diens van tyd nie, maar dat God vir hulle tyd gee om te kan leef.

Here oor die Sabbat

Ironies genoeg, het sommige mense toe weer van die Sabbat ‘n nuwe god gemaak, sodat Jesus hulle moes herinner in Markus 2: “Die Sabbat is gemaak vir die mens en nie die mens vir die Sabbat nie...”

Erkenning

‘n Ander god van ons era is mense se erkenning of instemming. Nie net leiers en regerings nie, maar selfs kerke, skole en ander instansie val vir die versoeking om hierdie afgod te aanbid. Ons sê: “Maar wat gaan die mense daarvan sê? Wat gaan die mense van ons dink.”

Perception is reality

Ons sal selfs so ver gaan as om te sê: “Perception IS reality.” Met ander woorde, wat mense van jou dink, maak nie saak of dit reg of verkeerd is, waar of vals is, akkuraat of ‘n wanpersepsie is nie – pesepsie IS die werklikheid.

Integriteit maak nie saak nie

Integriteit maak nie meer saak nie. Wat die ware meriete van ‘n saak is, maak nie meer saak nie. Inhoud maak nie meer saak nie. Al wat belangrik is, is jou beeld na buite. Al wat tel, is mense se indrukke. Al wat saak maak, is wat mense van jou dink.    

Trots as mense jou loof

Skole, kerke en ander instansies klop hulleself op die skouer as mense mooi dinge van hulle sê en dink. Maar dit sê nog niks. Want ons is nie op aarde om deur mense geloof te word nie. Ons is op hierdie aarde om God te loof.

Vers 11

Vers 11: “Konings van die aarde en al die volke, aanvoerders en al die regeerders van die aarde ...” vers 13 “Hulle moet Naam van die Here loof, want sy Naam alleen is hoog verhewe...”

Effektiwiteit

Nog ‘n afgod wat hiermee saamhang is effektiwiteit. As iets werk, as iets produktief is, as iets resultate lewer, dan glo ons daarin – dan loof en prys ons dit.

Vra nie vrae nie

Ons vra nie waarvoor dit werk nie, solank dit werk. Ons vra nie eers vrae oor wat dit produseer nie, solank dit produseer. Ons vra nie vrae oor wat dit verkoop nie – solank mense dit koop. Ons gee nie om oor die gehalte wat dit lewer nie, solank dit vinnig en effektief aflewer.

Hang saam met tyd en geld

En dit alles hang weer saam met tyd en geld. So vind ons hierdie onheilige verhouding tussen geld, tyd, persepsie en effektiwiteit.

Inhoud tel nie

Die inhoud van dinge maak nie meer so baie saak nie. Wat dit doen aan mense en wat dit doen aan die skepping is nie meer ter sake nie. Want al wat tel is: Werk dit? Hou mense daarvan? Kan ons vinnig, baie daarvan maak? En maak dit geld?

God van Israel

Teenoor die gode van persepsie en effektiwiteit, lees ons in die Bybel, en weer hier in Psalm 148, van God wat ‘n volk kies, téén alle persepsies en effektiwiteit in. As God ‘n sterk volk wou kies, wat baie mense beïndruk het en wat kragtig was om dinge te vermag, dan moes God die Egiptenare of die Babiloniërs gekies het.

Swak, klein volk

Maar God kies vir Israel, ‘n swak, klein volkie, tussen hierdie magtige nasies – ‘n volk van wie die ander nasies niks gedink het nie. God se skeppingskrag, dit wat God maak en doen in hierdie wêreld, word nie geopenbaar in die magtige nasies wat almal beïndruk nie, maar in die klein en swakke volkie, Israel.

God wys mag in kleine

God se werk, dit wat God skep en verrig in die wêreld, word nie openbaar deur weerligstrale en aardbewings, storms en vuur nie, deur kragtige werke wat mense bang maak en beïndruk nie.

God werk deur mense

Nee God se skeppingskrag word gewys in ‘n baba in ‘n krip. Blykbaar kies God, die Skepper van alles op hierdie aarde, om in hierdie skepping dinge te doen, deur nietige mense.

Kyk anders na jaar

Miskien kan dit ons help om met ander oë te kyk na die jaar wat verby is. Om nie te kyk met oë wat net Rand en sent raaksien nie. Om nie te kyk met oë wat tydhou in ure en minute nie. Om nie te kyk met oë wat net die uiterlike, mense se persepsies raaksien nie. Om nie vas te kyk in produksie, effektiwiteit en resultate nie.

Kyk met oë van geloof

Miskien kan ons kyk na die jaar wat verby is, en ook na die jaar wat voorlê, met oë wat die Skepper van dit alles raaksien – die God wat uit niks kan skep, deur te praat – die God wie se goedheid en krag openbaar word in die lewens van gewone, nietige mense.

Halleluja

Die Psalm begin en eindig met die woord: Halleluja. Mag ons ons jaar afsluit en ook die nuwe jaar begin met hierdie selfde woord: Halleluja. Alle lof en eer kom toe aan God, wat ons God is van begin tot einde, in goeie en in slegte tye.

Magte is ondergeskik

En mag ons opnuut besef dat al die ander magte en kragte in hierdie wêreld, wat ons so dikwels beïndruk, wat ons so maklik loof en prys, en verhef tot afgode, mag ons besef dat óók hulle ondergeskik staan aan die Skepper van hemel en aarde, die God wat gister, vandag en more by ons teenwoordig is. Amen.    

 

Last changed: Jan 02 2019 at 11:37 AM

Back