Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

28 April 2019 Dr Tinus van Zyl Familiediens

Posted by Administrator (dbvgadmin) on Apr 29 2019
Lees preke >>

28 April 2019

Familiediens: Nagmaal

Opstandingstyd

Skriflesing: Handelinge 5:26-42

Twee Petrusse

Vergelyk vir ‘n oomblik die twee Petrusse met mekaar. Die Petrus voor Paasfees en die Petrus na Paasfees.

Voor Paasfees

Voor Paasfees is Petrus die een wat drie keer as iemand hom vra of hy vir Jesus ken, dit ten sterkste ontken. En dit is nie belangrike, invloedryke mense wat dit vir hom gevra het nie. Dit was sommer gewone mense wat daar buite by die vuur gesit het. ‘n Diensmeise en nog twee ander naamlose mense. Mense met geen mag of status nie. Maar Petrus is te bang om te erken dat hy vir Jesus enigsins ken.

Na Paasfees

En nou, na Paasfees, is hier ‘n heel ander Petrus. ‘n Petrus wat elke dag, helder oordag, in die tempel, voor almal, praat oor Jesus. Petrus wat keer op keer belet word om oor Jesus te praat, deur belangrike, invloedryke mense. Gervaarlike mense. Dieselfde mense wat vir Jesus laat kruisig het.

Niks kan hom stop nie

Maar niks kan vir Petrus stop nie. Hy hou net aan. Selfs al dreig hulle hom met die dood. Selfs al laat slaan hulle hom. Selfs al belet hulle hom weereens uitdruklik om oor Jesus te praat. Net die volgende dag, is Petrus weer besig om Jesus te praat. En nie in die geheim nie. Helder oor dag, in die tempel, in huise, voor almal.

En die vernedering om deur die godsdienstige leiers kaal uitgetrek en geslaan te word, beskou Petrus as ‘n voorreg.

Wat gebeur by Paasfees?

Wat op dees aarde het oor Paasfees gebeur, dat ons twee sulke totaal verskillende Petrusse weerskante van Paasfees aantref? Want dit is glad nie vanselfsprekend dat daar so ‘n verandering in Petrus en die ander apostels sou plaasvind nie.

Teudas en Judas

As ons luister na die twee verhale wat Gamaliël vertel van ander soortgelyke leiers soos Jesus – ‘n Teudas en ‘n Judas wat ook baie volgelinge gehad het – dan hoor ons dat hulle volgelinge verdwyn het toe hulle leier doodgemaak is. So die logiese verwagting is dat die dissipels na Jesus se kruisdood uitmekaar sou spat en sou aangaan met hulle gewone lewens.

Tenoorgestelde gebeur

Maar die teenoorgestelde gebeur. Waar jy sou verwag dat Jesus se volgelinge nou bang sou wees, is hulle vreesloos. Waar jy sou verwag dat hulle sal wegkruip, tree hulle op in die openbaar. Waar jy sou verwag dat hulle versigtig hulle woorde sal tel, verkondig hulle die goeie nuus van Jesus onbeskaamd. Waar jy sou verwag dat hulle verneder en vernietig is, is hulle blymoedig en vrymoedig.

Dissipels was pateties

En wat dit nog vreemder maak, is dat Jesus se dissipels was nie eers baie watswonders toe Hy nog gelééf het nie. Dwarsdeur die evangelies lees ons keer op keer hoe hulle getwyfel het, nie verstaan het wat Jesus bedoel nie, hoe hulle onder mekaar gestry het oor wie die belangrikste is, hoe hulle net wou begin baklei en veg as iemand Jesus gekritiseer het of teen Jesus gekant was.

Nou ewe skielik

En nou ewe skielik, is hulle bly as hulle verneder word; beskou hulle dit as ‘n voorreg om te ly vir Jesus. Nou ewe skielik is hulle vol geloof en hoop. Nou ewe skielik kan geen kritiek, teenkanting, beskuldigings, dreigemente of aanvalle hulle keer om met vreugde oor Jesus te praat en goeie dade aan mense te doen nie.

Enigste verklaring

Die enigste verklaring vir hierdie radikale verandering in die dissipels is die opstanding van Jesus en die uitstorting van sy Gees oor hulle. Dit is al hoe dit sin maak.

Geen kerk nie

As dit nie was vir Jesus opstanding uit die dood en die uitstorting van sy Gees, wat hierdie radikale verandering in sy volgelinge teweeg gebring het nie, dan sou daar nooit ‘n kerk gewees het nie. Dan sou die Nuwe Testament nooit geskryf gewees het nie.

Nie ons nie

Dan sou ons nie vandag hier gewees het nie. Dan sou ons nooit geweet het dat daar 2000 jaar terug iemand geleef het, met die naam Jesus van Nasaret nie.

Beginpunt van evangelie

Die opstanding van Jesus is die beginpunt van die evangelie, die goeie nuus, van Jesus Christus, wat al vir meer as 2000 jaar verkondig word en mense se lewens tot vandag toe radikaal verander.

Bekeringsevangelie

Die evangelie van Jesus is altyd, noodwendig ‘n bekeringsevangelie. Nie bekering in die eng sin van die woord nie: Sê gou ‘n gebedjie en vra vir Jesus om in jou hart in te kom. Goed, nou het jy jou kaartjie hemel toe. Jy is nou “saved”. Dit is nie bekering nie.

Bekering is dit wat gelowiges elke Paasfees, by elke doop en eintlik elke dag bely:

G:        Ons draai ons rug op die bose!

G:        Ons bely ons sonde met berou!

G:        Ons draai na Christus toe! 

G:        Ons het saam met Christus gesterf!

G:        Ons het saam met Christus opgestaan!

Is ek tans bekeer?

Ek het hierdie week gewonder: Is ek tans bekeer? Op hierdie oomblik? Is ek op hierdie oomblik besig om my rug te draai op die bose, my sonde te bely met berou en na Christus toe te draai? Is ek tans besig om saam met Christus te sterf en saam met Christus op te staan?

Is ek gehoorsaam aan God?

‘n Mens sou dit ook anders kon stel, soos Petrus dit in Handelinge 5 sê: Is ek tans gehoorsaam aan God, of is ek gehoorsaam aan mense?

Tricky vraag

Nou dit is ‘n baie tricky vraag, waarop daar nie ‘n maklike antwoord is nie. Want almal in hierdie verhaal – die Joodse Raad aan die een kant, die apostels aan die ander kant en Gamaliël wat op die draad sit tussen hulle, hulle almal glo dat hulle gehoorsaam is aan God.

Vlieg teen muur

So hoe weet jy of jy gehoorsaam is aan God of aan mense? As jy ‘n vlieg teen die muur was in hierdie verhoor – wie sou jy gedink het, wie is gehoorsaam aan God?

Joodse Raad

Die Joodse Raad lyk dalk baie streng, maar hulle dink aan die belange van die volk. As daar onder die Jode ‘n opstand kom, dan gaan die Romeine hulle vryhede en voorregte wegvat en hulle kom oorneem. So hulle moet, in belang van hulle volk, keer dat daar sulke Messiaanse leiers is wat die volk emosioneel opsweep en opstandig maak teen die Romeine.

Apostels

Die apostels doen ‘n klomp wonders en tekens en maak mense gesond, maar hulle is ook nogal ekstreem. Aan die begin van die hoofstuk lees ons hoe Ananias en Saffira dood neerval voor Petrus omdat hulle hulle eiendom verkoop het, maar ‘n gedeelte van die verkooprys vir hulleself gehou het en nie alles vir die apostels gegee het nie.

Die apostels is besig om mense op te stook en aan te vuur. Dinge raak ‘n bietjie onvoorspelbaar en soos die Engelse sê: “volatile”.

Gamaliël

En dan, tussen die radikale, oproerige apostels aan die een kant en die Joodse Raad aan die ander kant, wat wet en orde, beheer en kontrole wil toepas, is daar die wyse Gamaliël in die middel.

Veilige opsie

Nou ek vermoed, as ek ‘n vlieg teen die muur was in daardie verhoor, sou ek waarskynlik Gamaliël se kant gekies het, want dit is die veilige opsie, die versigtige opsie, die wag en kyk opsie.

Wysheid

Daar is definitief wysheid in hierdie opsie – veral in vandag se tye. Die wêreld is so kompleks, daar is soveel kragte aan die werk, mense is so verdeeld, verward en gepolariseerd, dat dit meestal dwaas is om té vinnig ‘n oordeel te fel en ‘n besluit te neem – “to jump to conclusions.”

Onderskeidingsvermoë

Gehoorsaamheid aan God behels ‘n baie fyn onderskeidingsvermoë, geloofsonderskeiding, wat kom met baie gebed, geduld en ‘n leerbare gees.

Gevaar

Maar daar is ‘n ook gevaar aan die Gamaliël-opsie – ‘n groot gevaar. Die gevaar van die Gamaliël-opsie is dat jy altyd gehoorsaamheid aan God kan uitstel, dat jy altyd eers wil kyk wat ander mense doen en hoe ander mense reageer, voordat jy besluit wat jy gaan doen. En op die ou end doen jy nie wat God nou van jóú vra nie.

Beyers Naudé

Beyers Naudé was ‘n dominee in die NG Kerk in die tyd van Apartheid. Sy pa het die Broederbond gestig en hy was die jongste lid van die Broederbond. Vir 20 jaar het Beyers Naudé gepreek dat die onderskeid tussen rasse in Suid-Afrika, is God se wil. Tot Sharpeville, in 1960, toe 69 swart protesteerders deur die polisie doodgeskiet is.

Bekeringsoomblik

Dit was vir Beyers Naudé ‘n bekeringsoomblik. Hy het weer ‘n studie van die Bybel gaan maak en ontdek dat die NG Kerk se regverdigings van Apartheid onbybels en onChristelik is. Hy het die Christelike Instituut van Suid-Afrika gestig, ‘n interkerklike organisasie wat deur dialoog tussen rasse, navorsing en publikasies versoening wou bevorder.

Laaste preek

Maar die NG Kerk het in 1963 hom gedwing om sy amp as predikant te bedank. En by sy laaste preek, het hy gepreek uit Handelinge 5 oor die tema: Gehoorsaamheid aan God is belangriker as gehoorsaamheid aan mense.

Aanhaling

In sy preek het hy gesê: “Nou weet ek daar is baie wat roep en sê: ‘Dit is nie nou die tyd om te praat nie, al is baie dinge nie reg nie. Dit is nou die tyd om stil te bly en by jou volk te staan!’ Broers en susters, hoe goed dit ookal bedoel is, verstaan ons dan nie dat so ‘n houding gebore is uit vrees nie, en vrees is ‘n teken van ongeloof! Bely en glo ons dan nie dat, as ons God in alles gehoorsaam, Hy ook ons toekoms sal verseker nie? Wie se koninkryk kom eerste? Die koninkryk van God of van ‘n volk? Wat is belangriker? Dat ons bymekaar sal staan of eerstens dat ons by God kom staan? En wat beteken om by God te staan anders as dat ons die koningskap van Jesus Christus oor alle volke (dus ook oor ons volk) sal uitroep en verkondig? Ook wat ons kerklike- en rasseverhoudinge betrek. En wanneer ons weier of vrees om dit te doen dan laat ons ons volk in die steek, dan pleeg ons volksverraad!”

My mense

Nou vandag het ons ander issues as in 1963. Ons is dalk nie meer so opgetrek met die “volk” soos die mense van daardie tyd nie. Maar tog is ons geneig om “my kind”, “my gesin”, “my skool”, “my kerk” en “my mense” se belange eerste te stel en dit te plaas teenoor die belange van ander, asof ons in kompetisie met mekaar staan. Nog steeds verstaan ons nie lekker wat Beyers Naudé gesê het, dat ons ook ons eie belange dien, as ons omsien na die belange van ander nie. Dit is wat die Joodse Raad ook nie kon verstaan nie.

Nie nou die tyd nie

En die Gamaliël-versoeking is ook vandag steeds by ons: Dis nie nou die tyd nie. Kom ons wag en kyk. Ja, alles is nie reg nie. Ja, ek sien ‘n klomp dinge wat verkeerd is. Maar ek gaan nie nou “waves” maak nie. Ek gaan eerder net fokus op die belange van my mense en probeer om die beste te doen vir my gesin.

Wat laat jou uitstel?

Wat is dit wat maak dat jy jou bekering, jou gehoorsaamheid aan God uitstel? Is dit vrees? Is dit bekommernis oor die toekoms? Wonder jy wat mense gaan dink? Het jy nie die moed om die eerste tree te gee nie? Wil jy eers wag en kyk wat ander mense sê of doen?

Leef anderkant Paasfees

Wat ons moet onthou, is dat ons leef aan die anderkant van Paasfees, ons leef aan die anderkant van die graf, want ons Here Jesus is gekruisig en het opgestaan, en ons wat gedoop is, het saam met Hom gesterf en opgestaan.

Ergste het reeds gebeur

Dit beteken die ergste ding wat met ons kan gebeur, het klaar gebeur. Ons het gesterf. So wat maak dit saak as mense ons wil kruisig? Dit het reeds met ons gebeur. Ons lewe reeds aan die anderkant van die kruis en die graf.   

Niks kan ons stop nie

En daarom kan geen teenstand of kritiek, geen beledigings of aanvalle, geen dreigemente of gevaar ons keer om Christus na te volg nie.

Geen waarborge nie

Ons weet die pad van gehoorsaamheid het geen waarborge nie. Maar soos Petrus sal ons ons verbly daarin as ons verneder word en ly ter wille van Christus, want ons wil eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense.

Draai na Christus

Wat behels hierdie gehoorsaamheid aan God? Dit beteken om daagliks jou rug te draai op die dood en alles wat doodmaak, en om te draai na Christus wat lewe en lewend maak.

Draai weg van dood

Draai jou rug op haat en weerwraak, op afguns en kompetisie, onvergewensgesindheid en bitterheid, op vooroordeel en venyn. Alles wat seermaak, afbreek en afkraak. Draai jou rug op ‘n lewe waarin jy jouself en jou mense probeer bevorder ten koste van ander. Draai jou rug op alles wat doodmaak.

Draai na lewe

En draai na Christus, wat lewe en lewend maak. Gee jou lewe, sodat ander meer voluit kan lewe. Jy lewe nou anderkant die graf, sonder vrees of bekommernis vir jou eie oorlewing. Jy kan nou lewe met vrymoedigheid en blymoedigheid. Jy kan nou lewe vir die lewe en vir alles wat lewe gee en lewend maak. Amen.

Stilgebed:      Wat is die bekering, die gehoorsaamheid aan God, die nuwe lewe, wat die opgestane, lewende Jesus van jou vra?

 

Die leë graf    (Sonnet deur Tinus van Zyl)

Jy stap na die graf waar jy hom sal kry.

Jou vingers klou aan die potjie balsem

asof jy hom kan voel as jy dit vryf.

Geen woorde, net voetstappe en asem,

geen trane, net droë, leeggehuilde oë

staar in die niet en sien geen vooruitsig.

Gestroop van als wat jy liefhet en glo.

Als wat jy is en wou wees, gekruisig,

gesterwe en begrawe in ‘n grot:

kliphard, pikdonker – ‘n yskoue hel.

Jy stop dood in jou spoor van skrik en skok.

Die graf gaap oop soos ‘n mond wat vertel:

Jou Heer is nie hier nie, draai om, beweeg!

Jou pad stop nie hier nie, dié graf is leeg!

 

Last changed: Apr 29 2019 at 9:45 AM

Back