Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

26 Mei 2019 Dr Tinus van Zyl Klassieke Diens

Posted by Administrator (dbvgadmin) on May 27 2019
Lees preke >>

26 Mei 2019

Klassieke diens

Nagmaal

Handelinge 16

Skriflesing:    Handelinge 15:36-41; 16:1-5; 16:11-15; 16:40

Wat hou die kerk bymekaar?

Wat hou die kerk van Jesus bymekaar? Wat bind ons saam? Met so ‘n verskeidenheid van mense wat hulleself volgelinge van Jesus noem – mense van verskillende rasse, van verskillende kulture en tale, mense van verskillende agtergronde en oortuigings, mense aan verskillende kante van die politieke spektrum, rykes en armes, mans en vrouens – is daar iets wat al hierdie mense aan mekaar verbind?

Bybel

‘n Mens sou kon redeneer dat dit die Bybel is wat gelowiges aan mekaar verbind. Alle volgelinge van Jesus hou tog vas aan die Bybel as die betroubare getuienis van Wie God is, die geloofwaardige goeie nuus - die evangelie van Jesus Christus, waarop elke volgeling van Jesus se geloof gebou is en waaruit ons elke dag leef.

Woord en Gees

Inderdaad is die Bybel ‘n essensiële samebindende faktor in die kerk. In die Gereformeerde tradisie sê ons dat Christus regeer oor die kerk deur sy Woord en Gees. So die Woord staan definitief sentraal vir ons in ons eenheid as kerk.

Verdeeldheid

En tog, het die Bybel al baie verdeeldheid in die kerk gebring. In die tyd van die Reformasie het Martin Luther gepoog om te hou by die Skrif alleen. Hy wou nie die kerk skeur nie en het volgehou dat alles wat hy sê is gefundeer op die Woord alleen.

Protestantse kerke

Nou, 500 jaar later, kyk ons terug en ons sien hoe die Protestantse kerk, wat daarop aanspraak maak dat ons hou by Skrif alleen, verder verdeel en versplinter het – honderdvoudig, duisendvoudig.

Vertakkings

Dit was nooit Luther se bedoeling of keuse om weg te breek uit die Katolieke kerk nie, maar die nagevolge van die reformasie is dat ‘n mens nie eers kan praat van die protestantse kerk nie, maar slegs van protestantse kerke, want al verder vertak het in ‘n magdom verskillende denominasies, strome, bewegings en nuwe onafhanklike kerkies.

Geen Bybel in vroeë kerk nie

Dis merkwaardig om daaraan te dink dat in die tyd van die vroeë kerk, wat Lukas vir ons beskryf in Handelinge, was daar geen Bybel nie. Daar was nie eers ‘n Ou Testament in een boek nie. Daar was ‘n magdom verskillende geskrifte, die wette, profete en geskrifte van Israel. En dan was daar ‘n paar briewe van Paulus wat onder die gemeentes gesirkuleer is. Die evangelies was nog nie eers geskryf in die tyd van Paulus se sendingreise nie.

Wat dan?

So wat het die gelowiges aan mekaar gebind, as dit nie die Bybel was nie?

Gees?

‘n Mens kan seker sê dat die Heilige Gees hulle aan mekaar gebind het. Dit is weer eens ‘n goeie antwoord. Dit is in der daad so dat die Gees die gelowiges saamgesnoer het en hulle aan mekaar verbind het.

Anderkant kultuur

Die Gees het die gelowiges veral gehelp om aan mekaar verbind te word anderkant die bande wat in die verlede groepe aan mekaar gebind het. Vir die Joodse gelowiges was daar in die verlede ‘n klomp dinge wat hulle aan mekaar verbind het: hulle etnisiteit, hulle kultuur, hulle taal, hulle gebruike, hulle voorvaders en hulle vaderland.

Anderkant geloof

Maar dit was nie net kulturele dinge wat hulle aan mekaar gebind het nie, dit was ook hulle godsdiens, geloof en moraliteit. Belangrike dinge, soos die wet van God, die besnydenis, om die Sabbatdag heilig te hou, om nie onrein kos te eet nie. Hierdie was oortuigings en maniere van leef wat die Jode saamgebind het.

Ander mense

Maar nou beweeg die Gees hulle verder as hierdie samebindende geloof en moraliteit. Die Gees bind hulle nou aan ander mense wat nie hulle etnisiteit, kultuur en taal, hulle geloof, godsdiens en moraliteit deel nie, maar wat nietemin volgelinge van Jesus is en wat ook die Gees ontvang het.

Nuwe leiers

Die Gees bemagtig mense in leiersposisies, mense wat voorheen geen agting of stem binne Joodse geleedere sou gehad nie – soos Tabita, ‘n Joodse vrou wat ook onder Griekse weduwees ‘n bediening gehad het, soos Timoteus, basterkind met ‘n Joodse ma en ‘n Griekse pa, en soos Lidia, ‘n nie-Joodse immigrant, ‘n welgestelde besigheidsvrou en ‘n enkelma.

Nuwe bande

Die Gees beweeg die kerk bo-oor die grense van kultuur, ras, taal, geloof, moraliteit en godsdiens – die dinge wat hulle in die verlede saamgebind het – en die Gees bou nou nuwe bande van eenheid.

Problematies

Maar dis nie sonder probleme nie. Want die gelowiges kry stry met mekaar oor hoe die Gees hulle lei. Paulus wil nie vir Markus saamvat op die tweede sendingreis nie, terwyl Barnabas wel vir Markus wil saamvat. En hierdie stryery raak so intens en verbitterd, dat Paulus en Barnabas se paaie skei.

Paulus of Barnabas?

So wie van hulle het die leiding van Gees gekry – Paulus of Barnabas? Wel, Lukas maak nie ‘n keuse nie. Blykbaar het die Gees met albei gegaan, in hulle verskillende rigtings, en het die Gees aangehou om kragtig deur albei te werk. Blykbaar het die kerk nie geskeur nie, al kon hulle nie met mekaar saamstem nie.

Wat dan?

So wat bind die kerk dan saam, as die Bybel en die Gees nie genoegsaam is om ons aan mekaar te bind en ons een te maak nie.

Doop?

Wel, ‘n mens sou kon sê die doop. Lidia en haar huis word immers dadelik gedoop, wat hulle onmiddelik deelmaak van die kerk.

Uiterlike val weg

Nêrens kry ons eenheid as kerk seker beter gesalte as in die doop nie. Want in die doop, sterwe ons saam met Christus en staan ons op saam met Christus. Al die uiterlike dinge wat ons in die verlede saamgebind het, maar wat ons ook van mekaar onderskei het en ons verdeel het, val nou weg.

Begrawe met Christus

Ons ras, ons kultuur en taal, ons klas, ons aardse besittings en bates, al die uiterlike dinge waarop mense ons beoordeel het en waaraan ons ons eie waarde gemeet het, dit val nou weg, want ons sterwe saam met Christus. Die ou ek – wit, Afrikaanse, bevoorregte, NG Kerk, man en dominee – word nou begrawe saam met Christus.

Nuwe burger

En die nuwe mens wat opstaan, is nou nie meer gekoppel aardse lojaliteite en kenmerke nie, maar ‘n burger van God se nuwe wêreld, waar alle mense leef onder die heerskappy van Christus.

Lidia dring aan

Daarom kon Lidia daarop aandring dat die apostels in haar huis gaan bly. Volgens die ou aardse reëls en oorwegings mag hulle dit natuurlik nie gedoen het nie. Sy was ‘n nie-Joodse vrou en dus onrein. Sy was ‘n enkelma, so dit was onbetaamlik vir mans om by haar aan huis te gaan, wanneer daar geen man is wat as hoof van die huis en gasheer hulle kan ontvang nie.

Lidia daag uit

Maar Lidia daag die apostels uit. As julle werklikwaar glo dat ek en julle nou nuwe mense is, op grond van die doop, dan behoort hierdie uiterlike dinge mos nie meer te tel nie. Bewys nou vir my dat julle glo wat julle verkondig. En kom bly in my huis.

Glo wat ons verkondig?

Ongelukkig, in die geskiedenis, het die kerk al dikwels nie geglo wat ons verkondig nie. Dikwels het ons steeds mense beoordeel op aardse kategorieë en lojaliteite, eerder as op hulle identiteit as gedooptes in Christus.

Doop verdeel ook

En wat so tragies is, is dat ons selfs van die doop ‘n verdelende saak gemaak het. Selfs in die tyd van die vroeë kerk was dit al so. En dan raas Paulus met die gelowiges:

1 Korintiërs 1:10-13

10 Ek doen 'n beroep op julle almal in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging. 11 Ek sê dit omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is. 12 Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.”

13 Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop? 

Dit wil vir my lyk dat ons selfs van die doop, wat ons so heg aan Christus en aan mekaar verbind, dat ons selfs daarvan ‘n verdelende saak kan maak.

Nagmaal?

So miskien lê die antwoord by die nagmaal. Ons word net een keer gedoop. Maar die nagmaal gebruik ons herhaaldelik. So miskien is die nagmaal beter geskik om ons voortdurend te herinner aan ons eenheid in Christus.

Vra nie wat ons verstaan nie

Wat so wonderlik is van die nagmaal, is dat die nagmaal nie vra of ons die Bybel dieselfde verstaan nie, die nagmaal vra nie of die Gees ons tot dieselfde oortuiging gebring het nie, die nagmaal vra nie hoe en wanneer ons gedoop is nie – die nagmaal sê eenvoudig: Eet die brood. Drink die wyn.

Vra nie wat ons glo nie

Die nagmaal vra nie eers wat jy glo nie. Dit was een van die groot geskilpunte tydens die reformasie. Zwingli het gesê ons eet en drink die nagmaal met ons geloof. Volgens Zwingli is Christus nie werklik teenwoordig in die brood en wyn nie. Christus is slegs teenwoordig in ons geloof.

Christus is teenwoordig

Maar Luther het driftig hiervan verskil. Christus, het Luther volgehou, is nie net teenwoordig in ons geloof nie. Christus is werklikwaar teenwoordig in die brood en die wyn. Nie in dié sin dat die brood in vleis verander en die wyn in bloed verander soos die Katolieke kerk sê nie.

Opgestane Christus

Maar Christus is teenwoordig in dié sin dat wanneer ons die brood eet en die wyn drink, dan is die opgestane, lewende Christus werklikwaar hier teenwoordig en dan het ons gemeenskap met Christus en ook met mekaar, omdat Christus ons deelmaak van sy liggaam.

Eet met mond

Daarom het Luther vir Zwingli gesê: Ons eet nie die brood met ons geloof nie. Ons eet die brood met ons mond. As jy die brood eet, het jy deel aan Christus en deel aan sy liggaam.

Al glo ons verskillend

Al glo ons ook verskillend mekaar. Al sukkel ons om te glo. Al twyfel ons in onsself en al wyfel ons in mekaar. Christus in sy genade maak ons deel van Homself en deel van mekaar, wanneer ons die brood eet en die wyn drink.

Ook probleme!

Maar dit is ook nie sonder probleme nie! Want ons ken die hartseer geskiedenis van die nagmaal ook! In die tyd van die reformasie het dit geweldige spanning gebring met die Katolieke kerk en ook tussen die hervormers, soos Luther en Zwingli.

1857

In ons gesiedenis in Suid-Afrika kan ‘n mens selfs sê dat die nagmaaltafel die eerste saadjies gesaai het van die skeuring van die NG Kerk op raslyne en ook van Apartheid – toe gemeentes binne die Wes-Kaap in 1857 gesê het dat hulle wit en bruin en swart gelowiges apart wil laat nagmaal hou.

Swakheid van sommige

Die sinode het gesê dat dit absoluut onbybels en onChristelik is, maar het dit nietemin toegelaat, ter wille van “die swakheid van sommige”.

Ironies en tragies

Hoe ironies en tragies dat die dinge wat ons juis as gelowiges moet saambind – die Bybel, die Gees, die doop en die nagmaal – juis die dinge is wat ons in die verlede aangevoer het as die rede waarom ons van mekaar skei en aparte paaie loop.

Wat hou ons bymekaar?

So wat hou die kerk van Jesus bymekaar? Wat bind ons saam? Wat is dit wat gelowiges aan mekaar verbind en een maak?

Die liggaam van Christus

Die liggaam van Jesus wat vir ons gebreek is. Die bloed van Jesus wat vir ons gestort is. Dit is immers die goeie nuus wat die Bybel verkondig. Dit is immers waarvan die Gees getuig. Dit is juis waarvan ons deel word in die doop. Dit is juis waaraan ons deel neem in die nagmaal. Jesus se liggaam wat vir ons gebreek is. Jesus se bloed wat vir ons gestort is.

Christus is ons vrede

Lees Efesiërs 2:13-16.

1 Korintiërs 10:16

“Die beker van danksegging, waarvoor ons God dank, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan een brood.”

Skuldbelydenis

Here, voor U, voor mekaar,

saam met ons broers en susters,

bely ons ons gebrokenheid;

dat ons op verskillende maniere onsself, ons eie lewe verwond;

die lewe van ander;

die lewe van die wêreld

en die liggaam van Christus.

And the Table Will Be Wide  – Jan Richardson

And the table

will be wide.

And the welcome

will be wide.

And the arms

will open wide

to gather us in.

And our hearts

will open wide

to receive.

And we will come

as children who trust

there is enough.

And we will come

unhindered and free.

And our aching

will be met

with bread.

And our sorrow

will be met

with wine.

And we will open our hands

to the feast

without shame.

And we will turn

toward each other

without fear.

And we will give up

our appetite for despair.

And we will taste

and know of delight.

And we will become bread

for a hungering world.

And we will become drink

for those who thirst.

And the blessed

will become the blessing.

And everywhere will be the feast.

Last changed: May 27 2019 at 9:20 AM

Back