Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

SIG
No such droplet: LEPTON_SearchBox

Lees preke

24 November 2019 dr Tinus van Zyl Gesamentlike diens

Posted by Administrator (dbvgadmin) on Nov 26 2019
Lees preke >>

24 November 2019 – Gesamentlike diens: Nagmaal

 

Johannes 1 is ‘n gedig.

 

Skriflesing: Johannes 1:1-18

 

Malcolm Guite

Malcolm Guite, ‘n digter, se goeie vriend het gesterf van ‘n brein tumor.  Na die begrafnis in Edinburgh, het Malcolm op die trein terug na Londen gedink oor hulle gesprekke oor gedigte.

 

Lewe is ‘n gedig

Sy vriend het voor sy dood gesê dat hy nog altyd gedink het dat sy lewe ‘n gedig is, wat deur God geskryf word. Maar hy het altyd gedink sy lewe gaan ‘n lang, epiese gedig wees, en nou ontdek hy dat dit ‘n kort sonnet is.

 

Bounding line

Sy vriend kon nou die einde van sy lewe sien – hy praat van ‘n “bounding line” – ‘n grens wat nou jou lewe afbaken en definieer. Maar dit gee ook aan jou lewe ‘n begronding en betekenis.

 

O Wysheid

So op die trein terug na Londen skryf Malcolm Guite vir sy vriend ‘n advents-sonnet, met die titel O Sapientia – o Wysheid. En toe hy afklim van die trein en hy maak sy dagboek oop, toe sien hy dit is die dag waarop die wêreldkerk die Adventsgebed bid: O Sapientia.

 

O Sapientia– Malcolm Guite

I cannot think unless I have been thought,

Nor can I speak unless I have been spoken.

I cannot teach except as I am taught,

Or break the bread except as I am broken.

O Mind behind the mind through which I seek,

O Light within the light by which I see,

O Word beneath the words with which I speak,

O founding, unfound Wisdom, finding me,

O sounding Song whose depth is sounding me,

O Memory of time, reminding me,

My Ground of Being, always grounding me,

My Maker’s Bounding Line, defining me,

Come, hidden Wisdom, come with all you bring,

Come to me now, disguised as everything.

 

 

Nie inleiding nie

Johannes 1 is nie eintlik ‘n inleiding tot die evangelie, soos wat Matteus en Lukas inleidings het nie. Reg aan die einde van sy evangelie sê Johannes hoekom hy dit geskryf het, in hoofstuk 20:31 “Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”

 

Overture

Johannes begin nie met ‘n inleiding nie, maar met ‘n gedig. En hierdie gedig is soos ‘n Overture aan die begin van ‘n Opera, waarin ons net so ‘n voorsmakie kry van al die musikale temas wat later in die Opera gesing gaan word.

 

Gedig

Johannes dig oor lig en lewe, genade en waarheid. En met elkeen van die tema’s is daar ‘n dubbele werklikheid: Jesus gee lig en Jesus ís die die lig vir die wêreld; Jesus gee lewe en Jesus ís die lewe; Jesus bring die waarheid en Jesus ís die waarheid; Jesus skenk genade en Jesus ís vol genade. Jesus spreek die Woord en Jesus ís die Woord.

 

Die “Woord”

En die betekenis van die woord “Woord” het ook verskillende lae.

 

Logos

Die betekenis wat ons eerste aan dink, is die Griekse betekenis van Woord – Logos – wat baie lesers van hierdie evangelie in die 2de eeu ook aan sou gedink het.

 

Denke

Die Griekse verstaan van die Woord – logos – het te make met jou denke. Dink maar aan “logika” wat van “logos” af kom – of bio-logie, geo-logie, teo-logie. Om dinge in jou gedagtes te versamel en te orden, om te redeneer en sin te maak van dinge – dit is logos.

 

Dabar

Maar die skrywer van Johannes sou bo en behalwe hierdie Griekse verstaan, definitief ook ‘n sterk Hebreeuse verstaan van die Woord – dabar– gehad het. In die Hebreeuse verstaan het die Woord nie te make met denke en idees nie, maar met krag en aksie.

 

Genesis 1

Johannes se eerste woorde is: “in die begin”, net soos Genesis 1. In Genesis 1 lees ons dat “in die begin” het God die wêreld uit niks uit geskep, deur sy woord te spreek. In die Hebreeuse verstaan was ‘n woord ‘n kragtige ding.

 

Krag

Net deur iemand se naam te noem, het jy eintlik daardie persoon teenwoordig gemaak. God se Naam is ook nooit hardop genoem nie, want daardie woord, is te kragtig en heilig. In die Hebreeuse verstaan is woorde nie denke of idees nie, maar woorde is kragte, woorde is aksies, woorde skep werklikhede, woorde vermag dinge.

 

Faust

In 1808 publiseer die Duitser, Goethe, die wêreldberoemde toneelstuk Faust. In die toneelstuk probeer die hoofkarakter, dr Faust, Johannes 1 vertaal. Maar hy sukkel om sin daarvan te maak, en soek na verskillende vertalings.

 

Sinn

Om te sê: In die begin was die Woord, voel absurd vir dr Faust. Hy probeer dan iets anders.

In die begin was sin. Dit is die Duitse Woord Sinn wat dui op sin en betekenis. Dan wonder Faust, kan “sin” die skeppende bron wees van alles wat bestaan.

 

Kraft

Nee, hy verander dit dan na: In die begin was krag! Hy voel goed oor hierdie vertaling, maar iets waarsku hom om versigtig te wees. Hy wag ‘n oomblik. Hy voel ‘n fluistering van die Gees. Hy verander weer sy vertaling. Nou is dit presies reg: In die begin was Daad.

 

Tat

Hy kies die Duitse woord Tat, wat dui op Aksie, handeling. In die begin was Daad, en Daad was by God en Daad was Self God.

 

Hebreeus

Wat ‘n wonderlike perspektief. Dit is definitief baie nader aan die Hebreeuse verstaan van die Woord as aan die Griekse verstaan.

 

Aktiewe God

Dit is wonderlik om daarin te dink dat God altyd ‘n aktiewe God is, altyd ‘n handelende God is, altyd ‘n God wat iets doen. God is nooit passief nie, maar altyd skeppend aan die werk. God se Woord is nooit leë woorde nie. Deur God se Woord skep God voortdurende nuwe werklikhede.

 

Jesaja 55

Jesaja 55 stel dit ongelooflik mooi:

“8 My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; 9 soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. 10 Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. 11 So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.”

 

Grieks én Hebreeus

Dit beteken nie dat die Griekse verstaan van die Woord as denke of rede, vir Johannes irrelevant was nie. Maar die Griekse verstaan van woord as denkeen die Hebreeuse verstaan van woord as aksie, kom nou hier bymekaar.

 

Derde betekenis

Maar daar is nog ‘n derde, baie belangrike verstaan van die Woord wat hier deur Johannes ingebring word en wat in die kerkgeskiedenis en die geloofstradisie ‘n sentrale rol gespeel het in ons verstaan van die Woord.

 

Mens

En dit is dat die Woord mensgeword het in Jesus. Die Woord van God, vanuit ‘n Christelike verstaan, is die lewe van die mens, Jesus van Nasaret. Vir volgelinge van Jesus is die evangelie, die goeie nuus van Jesus Christus, die inhoud van die Woord van God.

 

Meer as letters

Vir Christene deur die eeue is die Woord van God nie dooie letters op papier nie – dit is baie meer as dit.

 

Grieks: Denke

Vanuit ‘n meer Griekse verstaan, is die Woord van God die denke, die gedagtes, die rede van God-Self, die Outeur van die hele skepping, die Digter van ons lewens.

 

Hebreeus: Aksie

Vanuit ‘n meer Hebreuse verstaan, is die Woord van God die wil, die aksie, die daad van God-Self. Die sprekende, handelende God wat die wêreld geskep het en aktief besig is om die wêreld te herskep en ons lewens te herskryf.

 

Christen: Mens

En vanuit ‘n Christelike perspektief, is die Woord van God die mens, Jesus van Nasaret, in Wie se lewe die gedagtes én die dade van God openbaar word, gedagtes vol waarheid en dade vol genade.

 

Drie riviere

Hierdie drie perspektiewe vloei soos drie riviere ineen in Johannes se gedig.

 

Hoe kan ons glo?

En hoe kan ons hierdie Woord van God, wat soveel lae het, glo? Hoe kan gewone mense, die gedagtes ken van die Outeur van die skepping, die Digter van ons lewens? Hoe kan ons, gewone mense die wil gehoorsaam van die God wat Self besig is om die wêreld en ons lewens te herskep? Hoe kan ons ons vertroue plaas in Jesus van Nasaret, ‘n skrynwerker van 2000 jaar gelede?

 

Ons kan nie

Wel, vers 13 sê ons kan nie. In elk geval nie uit ons eie wil of besluite of krag nie. Vers 12-13 sê: “12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore.”

 

Woord van God

Volgens Johannes word geloof nie tot stand gebring deur ons eie denke, handeling of krag nie, maar deur die Woord van God, deur die denke, handeling en krag van God Self. Om te glo is reeds ‘n reaksie op dit wat God in ons tot stand gebring het deur die Woord.

 

Soos Malcom Guite in sy Sonnet sê:

I cannot think unless I have been thought,

Nor can I speak unless I have been spoken.

 

Soos ‘n taal

 

Geloof gebeur eintlik soos taal gebeur in ‘n kind. ‘n Kind maak nie op ‘n dag die wilsbelsuit om te begin praat nie. Kinders besluit nie of hulle wil Afrikaans of Zoeloe, Portugees of Russies praat nie. Kinders word in ‘n taal in-gepraat.

 

In-gepraat

So ook word ons in die geloof in-gepraat deur die Woord van God. En hierdie Woord kom na ons toe in menslike vorm. Ons leer ken die goeie nuus, die evangelie van Jesus Christus, deur mense wie se woorde en dade van Christus se genade en waarheid getuig.

 

Genade en waarheid

Dit is vir my so merkwaardig dat Johannes hier genade en waarheid met mekaar in verband bring. Weer eintlik ‘n Hebreeuse en ‘n Griekse begrip. Want as jy net met die Griekse begrip van waarheid werk, dan kan waarheid maklik verstaan word as ‘n Wiskundige korrektheid, volmaaktheid of foutloosheid.

 

Foute en gebreke

Maar die waarheid waarvan Johannes hier praat is anders, want hierdie waarheid is ook vol genade. Dit is ‘n waarheid wat foute, gebreke en beperkinge kan insluit. Dit is nie ‘n Griekse, Wiskundige waarheid nie. Hierdie waarheid is ‘n mens. 

 

Teenoor wet

En Johannes stel dit teenoor die wet. In die verlede, as Jode gedink het oor die waarheid, dan het hulle gedink aan die wet van God. Maar nou, as hulle dink aan die waarheid, dan moet hulle nie meer dink aan die wet nie, maar dan moet hulle dink aan die mens, Jesus, wat vol genade en waarheid is.

 

Gekruisigde waarheid

Hierdie waarheid is nie ‘n kille, koue, wettiese, foutlose waarheid nie. Hierdie waarheid is ‘n persoonlike waarheid, ‘n genadige waarheid, ‘n waarheid waarin daar plek is vir ons gebrokenheid. Hierdie waarheid is die mens, Jesus van Nasaret. Hierdie waarheid is ‘n gekruisigde waarheid.

 

Christian Wiman

Christian Wiman is ‘n digter en professor van godsdiens en literatuur by Yale. Christian was as digter op ‘n stadium gekonfronteer met die leegheid van sy woorde. Hy het gevoel dat hy nie instaat is om sy gedigte te beliggaam nie.

 

Mooi idees

Sy gedigte was mooi idees, maar dit het nie vlees en bloed geword in sy lewe nie. Dit was asof hy liewer was vir die idee van dinge as vir dinge self, liewer was vir gedigte oor mense as vir mense self.

 

‘n Gedig oor God

En vir drie jaar lank kon hy nie een gedig skryf nie. Sy woorde het opgedroog. En toe op ‘n dag, skryf hy tot sy verbasing weer ‘n gedig. En tot sy skok, was dit ‘n gedig oor God.

 

Die gedig se titel is “Every riven thing” – wat ‘n mens sou kan vertaal as “elke geskeurde / gebroke ding”.

 

Every Riven Thing - Christian Wiman

 

God goes, belonging to every riven thing he’s made
sing his being simply by being
the thing it is:
stone and tree and sky,
man who sees and sings and wonders why

 

God goes. Belonging, to every riven thing he’s made,
means a storm of peace.
Think of the atoms inside the stone.
Think of the man who sits alone
trying to will himself into a stillness where

 

God goes belonging. To every riven thing he’s made
there is given one shade
shaped exactly to the thing itself:
under the tree a darker tree;
under the man the only man to see

 

God goes belonging to every riven thing. He’s made
the things that bring him near,
made the mind that makes him go.
A part of what man knows,
apart from what man knows,

 

God goes belonging to every riven thing he’s made.

 

Die Digter

In die begin was die Digter daar, en die Digter was by God, en die Digter was self God.

Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele gebrokeding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 

Die ware lig wat elke mens verlig ... was ín die wêreld – en tog het die wêreld Hom nie raakgesien nie.

Die Digter het mens geword en onder ons kom woon ... vol genade en waarheid.

Niemand het God ooit gesien nie. Die Digter, wat digterby die Vader is, dié het Hom bekend gemaak. Amen.

Last changed: Nov 26 2019 at 6:41 AM

Back