Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

24 Maart 2019 Ds. Rian Verster Klassieke Diens

Posted by Administrator (dbvgadmin) on Mar 27 2019
Lees preke >>

Sondag 24.3.2019.

Klassieke Diens

Teks. Jes.55:1-9.

Derde Sondag in Lydenstyd

1. Die tweede deel van die Jesaja profesieë, hoostukke 40-55 is waarskynlik die werk van ‘n Profeteskool of Skole wat die profesieë van Jesaja herinterpreteer het en toepaslik verkondig het vir die tyd waarin hulle geleef het. Die profesiee is die Here se woord aan Sy mense , Sy volk wat in Babilonie in ballingskap is.

In die eerste deel van die Jesaja-boek, hfst 1-39 waarsku die profeet die volk Israel om nie ongehoorsaam en minagtend teenoor die Here te leef nie. Dit gaan lei tot hulle vernietiging en ballingskap.

Min of meer twintig jaar voor Jesaja het die klein profeet Amos al baie duidelik hieroor gewaarsku in geen onduidelike taal nie. Amos was nie bang om die ongehoorsaamheid aan God by die naam uit te wys nie. (Lees tog weer ‘n keer die klein profeet se boek).

Die tyd waarin Amos opgetree was ‘n baie voorspoedige tyd. Polities en ekonomies was dit ‘n stabiele tyd en mense het goed gedoen en goed gelewe.

Die probleem wat Amos uitgewys het was dat hierdie voorspoed gebou was op die uitbuiting en veronregting van armes.

Dit het die Here nie maar net laat gaan nie. In Amos 4:6-13 lees ons die volgende:- lees dit. Wat hier belangrik is met die oog op Jes. 55 is Amos 4:6! As Sy mense die pad byster raak en hulle op selfvernietiging afstuur, gryp God in. Hier dan met hongersnood en broodsgebrek sodat Sy volk na Hom sal terugkeer.

Ter wille van interressantheid die volgende oor  “ballingskap” wat krygsgevangenisskap beteken.  Behalwe dit wat ons in boeke lees weet ons nie regtig wat die implikasie van ballingskap is nie.

Net as voorbeeld uit ons eie geskiedenis lees ek uit Hermann Giliomee se boek – “Die Afrikaners.”

Hy skryf die volgende oor die impak van die Konsentrasiekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog, op vroue en kinders na Kitchener se “verskroeide aarde – beleid.” Bladsy 76, tweede laaste paragraaf tot bladsy 77, einde van 2de paragraaf.

2. In Jes 55, midde in die ballingskap, kom die Here met ‘n uitnodiging na Sy mense, “kom almal wat dors is, … ook die wat nie geld het nie, kom koop en eet, wyn en melk.”

In plaas daarvan dat die Here Sy mense vergeet en hulle in hulle omstandighede los, gryp Hy genadiglik in en red Hy!

Hy red hulle uit ballingskap, maar Hy red hulle ook van hulself.

Want baie van die Israeliete het vrede gemaak met die omstandighede in ballingskap en in die Babiloniese kultuur en godsdiens verval. Hulle het hul geloof in die lewende God opgesê en gekies vir die houtgodjies van Babel.

3. In vers 3 en 4 word dit duidelik dat God se uitnodiging om baie meer gaan as water, wyn en melk. Dit is simboliese taal om te sê dat die Here Sy mense terugnooi om in ‘n verhouding met Hom te lewe. Hy nooi hulle terug in ‘n ewige verbond, wat beteken dat Hy volle verantwoordelikheid vir Sy mense aanvaar. Dit beteken verder dat Hy Sy troue liefde aan hulle toesê.

Hierdie belofte van die Here se troue liefde hang nie in die lug nie. Hy bevestig dit deur na Sy liefde vir Dawid te verwys. “Is ek by magte om liefde te gee? Ja, onthou julle vir Dawid? My liefde vir hom het tot gevolg gehad dat hy ‘n getuie vir My was onder volke.”

Ons lees ligweg oor vers 5. Maar let op die verrassende en blye belofte hier. “Israel, My liefde vir julle sal anders as vir Dawid die gevolg hê dat nasies wat jou nie geken het nie na jou toe sal hardloop.” Omdat hulle sal sien hoe God se liefde vir julle ‘n toekoms skep.

4. Lydenstyd is ‘n tyd van selfondersoek. Om regtig ernstig te vra na ons verhouding met die Here. Vers 6 en 7 vra vir terugdraai na die Here toe. Om goddeloosheid en slegte planne te laat vaar. Om tot die Here te bekeer!

‘n Gebruik wat ons hiermee help is om in Lydenstyd sekere voorregte op te gee. Soos om bv. nie sjokolade te eet of koffie/tee, wyn te drink nie.

Wat ons egter ook moet doen is om vir die Here en Sy Gees te vra om ons bewus te maak van die suigkrag van ons samelewing op ons. Dat die Here ons bewus sal maak van die heidense praktyke in ons samelewing en ons begeerte daarna! Dat ons sal kan onderskei tussen God se wil en die wil van die houtgodjies van Babel wat ons vir onsself maak! Leef ons vir Jesus en Sy koninkryk of leef ons vir onbeskaamd vir onsself en ons begeertes. Dis skokkend om soms te ontdek dat ons leefstyl en begeertes met Jesus en Sy koninkryk niks te make het!

Ons sit met hoeveel emosies en gevoele in die tyd waarin ons nou lewe. Maar dink net vir ‘n oomblik aan die verstommende van die Here se belofte hier. Op grond van ons bekering, die Gemeente se bekering, die kerk se bekering, wat beteken, die dissipline om gereeld na Jesus se wil te vra ontdek ons dat God “nasies na ons toe stuur.” Aangegryp deur die liefde van Jesus vir ons en ook weer ons liefde en omgee vir die mense wat ons pad kruis!!

6. Sal dit tog ooit gebeur, kan dit gebeur?

Nee, nie as ons vanuit ons eie moedeloosheid en verslaenheid na die realiteit rondom ons kyk nie.

Maar kyk wat se vers 12: “Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word!!” Om geen ander rede nie as dat God getrou is en ons dit in Jesus sien en belewe.

Wat beteken dit? God bly Sy woord en verbond.

Ons kan uitsien na Jesus Christus se genadige werk, ook in ons tyd, ook in ons krisisse, vrae, onsekerhede!

En tipies Ou Testament as ‘n bevestiging: die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig en al die bome van die veld sal hande klap.

En God herskep: in die plek van ‘n doringbos sal ‘n sipres opskiet en in die plek van ‘n dissel, ‘n mirteboom!!

Sal Hy dan nie vir ons ook herskep in die Liefde van Jesus ons Here nie?

 

 

Last changed: Mar 27 2019 at 9:38 AM

Back