21 Julie 2019 Dr Tinus van Zyl Klassieke Diens |
Posted by Administrator (dbvgadmin) on Jul 22 2019 |
21 Julie 2019
Klassieke diens
Tinus van Zyl
Koninkrykstyd
Amos 8:1-12
Skriflesing: Amos 8:1-12
Moeilik om preek te maak
Statistieke – oorweldig en verlam
Apartheid – skuldig / kwaad
Korrupsie en oneffektiwiteit – blameer
Seester – sentimenteel
Hart – gesindheid
Genade – gewete sus
Mense met name
Ek dink die enigste ding wat my nog gehelp het om anders te leef is mense. Mense met name. Mense met gesigte. Mense met verhale wat my verbeelding aangryp. Mense wat ek kon leer ken en wat ek my vriende kon noem.
“Armoede”
Niemand van ons kan veel doen aan “armoede” in die algemeen as ‘n abstrakte begrip nie. Maar ons kan mense bevriend. Ons kan ‘n rol speel in mense se lewens.
Meer as geld
En waarskynlik is die grootste rol wat ons in mense se lewens kan speel, nie om geld te gee nie, maar om ons vriendskap te gee. Om die waarheid te sê, om geld te gee is waarskynlik die slegste wat jy vir iemand kan doen, want dit kan hom afhanklik maak, sy waardigheid beledig en miskien doen jy dit net om jou gewete te sus, terwyl dit hom glad nie help nie.
Vriendskap is meer
Maar vriendskap behels bystand en ondersteuning, ons bemoediging en aanmoediging, ons mentorskap en begeleiding, ons vaardighede en ervaring, ons netwerke en konneksies, ons kennis en wysheid.
Tweerigting vriendskap
En as dit ‘n ware vriendskap is, dan sal die verhouding ook in twee rigtings beweeg en dan sal ons ook net soveel vanuit die vriendskap ontvang as wat ons vir die vriendskap gee.
Meer as vriendskap
Maar ek dink ook God vra van ons meer as vriendskappe. Want vriendskappe is een tot een. Ons moet ook dink aan die groter stukture wat onregverdig is en wat onreg in stand hou. Dallas Willard het gesê dat geregtigheid is liefde wat versprei word deur instansies en strukture vir alle mense.
Verbeeldingsoefening
Om geregtigheid na te streef moet jy die volgende verbeeldingsoefening doen: Gestel jy sterf, en jy kom by die hemel, en God sê vir jou dat jy kan terugkom aarde toe en dat jy ‘n tweede kans gaan kry om te leef.
Strik
Maar daar is ‘n strik. Jy weet nie waar in die wêreld jy gebore gaan word nie. Kom ons maak dit eenvoudiger. Kom ons sê jy gaan in Kaapstad metropool gebore word, maar jy weet nie of dit in Durbanville, Bellville of Kraaifontein, Scottsdene, Wallace dene of Phisantekraal, Parow, Goodwood of Ruyterwacht, Elsies Rivier, Belhar of Delft, Kayalitsha, Mitchell’s Plain of Philippi, Nyanga, Langa of Gugulethu, Rondebosch, Wynberg of Constantia, Pinelands, Soutrivier of Woodstock, Oranjezicht, Bo-Kaap of Seepunt, Muizenberg, Houtbaai of Kampsbaai gaan wees nie.
Ras
Jy weet ook nie as watter ras jy gebore gaan word nie. Jy kan dalk wit of bruin, Indiër of swart gebore word. Jy het ook nie beheer oor wat jou taal en kultuur gaan wees nie. Jy kan nie jou voorsate en voorgeskiedenis kies nie.
Omstandighede
Jy kan ook nie jou ouers en die omstandighede van jou gesin of jou gemeenskap kies nie. Jy kan nie vooraf bepaal wat jou intelligensie, jou vaardighede of vermoëns gaan wees nie.
Wet maak?
Maar nou, voordat jy weer gebore word, vra God vir jou: Is daar dalk enige wette wat jy graag sal wil maak, voordat jy gebore word? As jy die mag het om wette te kan maak vir die samelewing, wat sal daardie wette wees?
Dis geregtigheid
Daardie wette wat jy sal maak, voordat jy weet waar in die wêreld jy gebore gaan word – dít is geregtigheid – dit is waarna jy moet streef.
Ek sal nie wil gaan nie
Laat ek dadelik sê, Suid-Afrika, nee kom ons bring dit nader, Kaapstad, is tans só onregverdig, dat ék vir die Here sal vra, asseblief Here, ek wil nie weer gebore word nie. Ek sien nie kans om daardie risiko te loop nie.
Net ‘n paar kilometer
Want as ek net ‘n paar kilometer daardie kant toe bly, kan ek dalk in ‘n woongebied bly wat eintlik ‘n oorlogsgebied is as gevolg van bendegeweld. As ek net ‘n paar kilometer hierdie kant toe bly, kan ek eindig in skole wat my nie eers kan leer lees en skryf en somme maak nie. As ek net ‘n paar kilometer in ‘n ander rigting bly, kan ek grootword in ‘n gemeenskap waarin ek nie hoop het om eendag universiteit toe te gaan of ‘n ordentlike werk te kry nie.
Jesus se geboorte
Hierdie verbeeldingsoefening waarin jy nie kon beheer waar jy gebore gaan word nie, is wat in werklikheid met Jesus gebeur het. Jesus kon nie sê: Asseblief, Vader, laat my tog net tussen die ryk mense in die mooi woonbuurt gebore word nie. Jesus is in ‘n stal gebore.
Dis hoe God na wêreld kyk
Om so na die wêreld te kyk en te dink dat jy enige plek gebore sou kon word, is hoe God na die wêreld kyk. Dit is hoe God na Kaapstad kyk. God se geregtigheid soek nie na dit wat in die beste belang is van wit, Afrikaanse, goed opgevoede, welgestelde mense in Durbanville nie.
Elke kind se belang
God se geregtigheid soek na dit wat in die beste belang is van elke mens, elke kind. Want die kind wat gebore word in Phisantekraal is vir God net so belangrik soos die kind wat gebore word in Durbanville, en so ook die kind in Belville en Elsiesrivier, Rondebosch en Delft, Wynberg en Kayalitsha, Oranjezicht en Gugulethu.
Die mees weerlose mense
God se geregtigheid vra altyd wat die effek is van die regering se wette, van besighede se handel en die samelewing se maniere van doen op die mees weerlose mense – wat in die Bybel altyd beskryf is as die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees.
Nie net vir party nie
Vir God is dit nie goed genoeg as dit ‘n klomp mense bevoordeel, maar die swakste mense word agtergelaat en kry swaar nie, want God se geregtigheid kyk juis uit vir die mees brose mense.
Amos se tyd
Dit was die probleem ook in Amos se tyd. Dit is nie dat koning Jerobeam so ‘n slegte koning was nie. Hy het eintlik vrede en voorspoed gebring vir Israel. Om die waarheid te sê, die ekonomie het so gegroei dat argeologiese opgrawings wys dat sommige mense in daardie tyd twee huise gebou het, ‘n somers- en ‘n winterhuis.
Armes bly agter
Maar die armes het agter gebly, soos wat dit maar dikwels gaan met ekonomiese vooruitgang. Die armes baat nie noodwendig daarby nie.
Verse 5-6
En wat vir my so treffend is van hierdie verse is hoe Amos sê in verse 5-6:
Julle sê: “Wanneer is Nuwemaan verby dat ons koring kan verkoop, of Sabbat, dat ons ons graanwinkels weer kan oopmaak en minder graan vir meer geld kan verkoop?” ... Julle verkoop arm mense vir geld, behoeftiges oor 'n paar sandale, julle verkoop selfs die koringkaf.
Alles kos geld
Dit voel vir my asof dit die wêreld van vandag beskryf – alles kos geld, alles kos meer en meer geld, alles raak duurder en duurder, behalwe een ding – daar is een ding wat al hoe goedkoper raak, wat amper nie eers meer enige waarde het nie – en dit is mense. Mense se lewens is nie meer veel werd nie. Mense het statistieke geword.
Verbeel ‘n ander wêreld
Maar verbeel jou ‘n wêreld waarin mense meer belangrik is, meer waarde het as geld en wins. As mense dink so ‘n wêreld is onmoontlik, dan gebruik die voorbeeld van die biblioteek.
Biblioteek
Die biblioteek is ‘n plek waarin mense belangriker is wins. In die biblioteek gaan dit daaroor dat mense die vreugde moet kan hê om te lees, dat mense vrye toegang moet hê tot inligting en kennis. En dit is belangriker as om geld te maak. En omdat mense belangriker is as geld, daarom werk die biblioteek met ‘n ander ekonomie.
Berg of see
Nog ‘n voorbeeld is die strand, of die berg. Mense, en ook die natuur, is daar belangriker as wins. Ons sou natuurlik elke stukkie van die strand en elke stukkie van Tafelberg kon verkoop aan die persoon wat die hoogste prys sal betaal.
Maar dis belangriker om dit te bewaar en om dit toeganklik te maak vir alle mense – ook vir die nageslagte. Want mense, en die natuur, het meer waarde as geld en wins.
Verbeelding verloor
Die rede hoekom ons nie meer kan dink dat dinge soos boeke, of die berge, of see en die sand net verniet kan wees vir mense om te geniet nie, is omdat ons ons verbeelding verloor het. Ons dink alles moet geld kos. Ons kan nie meer in ons verbeelding ‘n wêreld verbeel – God se nuwe wêreld – waarin mense belangriker is as geld en wins nie.
“Answer to poverty”
Dallas Willard het destyds toe hy in Suid-Afrika was en iemand hom uitgevra het oor armoede, gesê: “The answer to poverty is not wealth.” Die antwoord vir armoede is nie rykdom nie.
Great!
Eers het gedink dis ‘n wonderlike antwoord: Gaan sê dit vir die EFF – die antwoord vir armoede is nie rykdom nie.
Of nie?
Maar ek het twee keer gedink toe ‘n ander teoloog Jonathan Wilson-Hartgrove sê dat mense praat gereeld daaroor dat ons armoede moet beëindig, maar mense is minder gretig om daaroor te praat dat rykdom ook beëindig moet word.
Logies
En tog is dit so logies. Daar is vandag 7.7 biljoen mense op aarde. En die probleem is nie dat dit te veel mense vir die aarde is nie. Daar is oorgenoeg kos, daar is genoeg geld en hulpbronne om vir hierdie 7.7 biljoen mense te sorg - maklik.
Nie te veel mense nie
Die probleem is nie dat die 7.7 biljoen te veel is nie. Die probleem is dat die 7.7 biljoen kan nie leef soos ek leef nie. Hulle kan nie almal in ‘n motor soos ek ry, in ‘n huis soos ek bly, op ‘n erf soos ek bly, en al die inkopies doen wat ek doen, die vleis eet wat ek eet nie. Die aarde sal dit nie kan hou nie.
Rykdom beëindig is net so belangrik en moeilik
So ons moet armoede beëindig, maar ons moet ook rykdom beëindig. En dit is net so ‘n moeilike werk. Ons moet die armes help, ja, maar ons moet ook die rykes se gierigheid en oormatige verbruik aanspreek, wat net so moeilike taak is.
Nikodemus 3
Jesus het vir Nikodemus gesê dat as jy nie weergebore word nie, sal jy nie die koninkryk van God kan ingaan nie. Babas kom die wêreld in sonder enige iets. Miskien moet ons eers gestroop word van alles wat ons besit en het, voordat ons God se koninkryk kan sien.
Verbeel God se nuwe wêreld
Die antwoord lê in verbeelding. Ons moet in ons verbeelding God se nuwe wêreld kan sien. As ons net sien hoe die wêreld nou is, en ons dink dit is die enigste manier waarop dinge kan werk, dan gaan ons nêrens kom nie.
Skeppergees se kreatiwiteit
Maar as ons ons verbeelding gebruik, as die Skeppergees ons kreatiwiteit oopbreek, vir ons weer oë van geloof gee, sodat ons anders kan kyk en anders kan sien, dan kan ons die koninkryk van God sien, God se nuwe wêreld, waarin daar genoeg is vir almal.
Ook teenwoordigheid
Maar verbeelding is ook nie genoeg nie. Die vraag is ook waar is ons teenwoordig. Miskien is dit juis omdat Amos ‘n veeboer was – nie ‘n koning, of ‘n priester nie, nie eers ‘n profeet nie, maar ‘n gewone veeboer, dat hy tussen die gewone mense teenwoordig was en gesien het wat met die mense gebeur.
Stap
Dit is belangrik waar ons teenwoodig is, waar ons beweeg. Ek is baie bevoorreg dat ek deesdae so naby aan die dorp bly dat ek maklik skool toe, kerk toe en winkel toe kan stap. ‘n Mens let ‘n ander wêreld op as jy stap as wanneer jy in jou motor ry.
Trein
Een van ons lidmate het begin om die trein te ry werk toe. En hy sê dieselfde, jy kom in aanraking – fisiese aanraking – met die mense van ons land in die trein.
Scherlize Hayes
Vrydag het ek by dominee Scherlize Hayes in Ysterplaat gaan kuier. Dit is nie ‘n deel van Kaapstad waar ek graag gebore sal word. Maar dominee Scherlize en die gemeente is daar teenwoordig – hulle beweeg daar tussen mense, daar is ‘n creche onder die kerksaal se verhoog, ‘n nasorg in die middag in die kerksaal, hulle eet daar saam met die mense van Ysterplaat. Hulle is teenwoordig in Ysterplaat.
Rykdom vermoor verbeelding
En Scherlize sê toe vir my dat sy dink rykdom maak ons verbeelding dood. Want wanneer sy daar in Ysterplaat saam met mense eet en gesels, dan ontplof haar verbeelding met idees – idees van wat die kerk as alles kan doen en wees in Ysterplaat.
Huibré se partytjie
Dieselfde Vrydag het my dogter Huibré ‘n partytjie gehou. En sy het by die 11 maatjies wat sy genooi het, elkeen ‘n groot persent gekry – by sommige meer as een persent. Dit is meer as 11 duur persente, vir ‘n 9-jarige dogter. En dit sluit nie eers die persente in wat sy nog by haar ouers, haar suster, haar oumas en oupas, ooms en tannies gaan kry nie.
Dis te veel!
Dis te veel! Dis te veel goed! Dit maak haar verbeelding dood. Sy gaan nie speel daarmee nie. Dit gaan lê in haar kas, wat reeds vol ander goed is waarmee sy ook nie speel nie. Goeters gryp nie kinders se verbeelding aan nie. Laat in ‘n kind in die stof speel met ‘n klippe en ‘n stokkie, en hulle verbeelding hardloop weg met hulle.
Verbeelding ontplof
Mag die Gees ons lei na mense en plekke waar ons verbeeding weer kan ontplof met die moontlikhede van God se koninkryk – die oneindige moontlikhede van God se nuwe wêreld, waarin genoeg is vir almal. Amen.
Gebed
Here van geregtigheid, ons bid vir almal wie se pogings om reg te laat geskied, hulle bitter en ontnugter gelaat het. Ons bid vir hulle wat verstoot word deur dié vir wie se saak hulle gestry het; vir hulle wie se stem nie gehoor word nie en wat hoop verloor het dat dinge ooit kan verander. Ons bid dat U die aarde vol sal maak van die kennis van die Here soos die see vol water is.
Ons bid ook, Here, vir hulle wat die mag het om dinge reg te stel, maar dit nie doen nie; wat na niemand anders se stem luister nie, behalwe hulle eie; wat die ware oorsake van onreg ontken en wat blind is vir die lyding van die magteloses.
Here, help ons om te bly glo dat die aarde eendag vol sal wees van die kennis van die Here, soos die see vol water is. Amen.
Geloofsbelydenis van Belhar (verkort)
Jesus is die Heer.
Aan dié enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid in ewigheid.
Seën (Ou Franciskaanse seënbede).
Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef;
Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede;
Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar, sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander;
En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie
Die genade van ons Here, Jesus Christus, die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by jou wees, nou en vir altyd.
Amen
Last changed: Jul 22 2019 at 11:06 AM
Back