PINKSTER AANLYN EREDIENSTE:
Sondag 16 Mei 2021:
Maandag 17 Mei 2021:
19 April 2019 Dr. Tinus van Zyl Goeie Vrydag |
Posted by Administrator (dbvgadmin) on Apr 23 2019 |
Goeie Vrydag – 19 April 2019
Op Nagmaaltafel is Kandelaar met sewe kerse. Middelste kers brand aan die begin van die diens (dit is aangesteek aan die einde van die Donkerdiens, Donderdagaand)
Kerklok lui soos by begrafnis, met enkel slae
Votum: Jesaja 53 (SLIDES)
Voorganger: Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien? Hy was verag en deur die mense verstoot, 'n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.
Gemeente: Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra.
Voorganger: Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.
Gemeente: Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Amen
Seën: Kolossense 1:19-20
Deur die bloed van Jesus aan die kruis het God die vrede herstel.
Deur Jesus het God alles op die aarde en in die hemel met Godself versoen.
En daarom is daar vir julle genade en vrede. Amen.
Koor: “Wie sal ons glo as ons vertel” – ‘n lied 401 verwerk deur Prof Albert Troskie
Lied 396:1-4 Aanskou die Heiland, sien die kruis
Gaan ondertoe
Lees Kruisverhaal uit Kinderbybel
Voorganger: Vandag dink ons aan Jesus Christus, die Seun van God, wat mens geword het en onder ons kom woon het ...
... wat in ‘n stal gebore is, omdat daar geen plek in die herberg was nie.
Gemeente: Jesus, kind van Betlehem, onwelkome vreemdeling.
Tweede kers word aangesteek – Naam van kind:
Voorganger: ... wat saam met sy ouers ‘n vlugteling in Egipte was.
Gemeente: Jesus, kind van Josef en Maria, vervolgde vlugteling.
Derde kers word aangesteek – Naam van kind:
Voorganger: ... wat sonder werk en vaste verblyf was, wat van plek tot plek rondgeswerf het.
Gemeente: Jesus, kind van Nasaret, sonder ‘n rusplek vir u kop.
Vierde kers word aangesteek – Naam van kind:
Voorganger: ... wat deur die godsdienstige leiers verdag gemaak, verwerp en vervolg is.
Gemeente: Jesus, priester en herder, verdagte verwerpeling.
Vyfde kers word aangesteek – Naam van kind:
Voorganger: ... wat deur sy volgelinge verraai, verloën en verlaat is.
Gemeente: Jesus, profeet en leermeester, eensaam en alleen.
Sesde kers word aangesteek – Naam van kind:
Voorganger: ... wat valslik beskuldig is, ter dood veroordeel is, gemartel en gekruig is.
Gemeente: Jesus, koning en Here, onskuldige misdadiger.
Sewende kers word aangesteek – Naam van kind:
Voorbidding vir vreemdelinge, vlugtelinge, dakloses, verwerptes, eensames en gevangenes.
Stilgebed
Gebed uit gebedeboek : bl. 87-88.
Band: Lied 512:1-3 Nader, my God, by U
Opening van die Woord
Band Lied 159:1-3 God is hier teenwoordig (Luidkeels) – sittend met oop Bybels
Die wysie van die wildsbok van die daeraad / dagbreek – Dit moes ‘n liedjie gewees het wat gaan oor die laaste oomblikke van die nag, net voor die eerste lig van die dag breek. ‘n Mens kon nogal dink hoekom Dawid hierdie wysie sou kies, want dit is ‘n donker, donker Psalm, maar met straaltjie van hoop, van lig aan die einde.
Skriflesing: Psalm 22:1-25
Malcolm Guite – 14 Sonnette vir 14 stasies
He weeps with you and with you he will stay
when all your staying power has run out.
You can’t go on, you go on anyway.
He stumbles just beside you when the doubt
that always haunts you, cuts you down at last
and takes away the hope that drove you on.
This is the third fall and it hurts the worst.
This long descent through darkness to depression
from which there seems no rising and no will
to rise, or breathe or bear your own heart beat.
Twice you survived; this third will surely kill,
And you could almost wish for that defeat.
Except that in the cold hell where you freeze
you find your God beside you on his knees.
Markus en Matteus
“My God, my God, waarom het U my verlaat?” In Matteus en Markus se evangelies is dit Jesus se enigste woorde aan die kruis.
Barth
Die teoloog Karl Barth het gesê dat Jesus is vandag nog steeds by ons teenwoordig, maar Jesus is by ons as die Gekruisigde Heer.
Vriend van sondaars
Jesus is vandag by ons teenwoordig as die Vriend van sondaars.
Prostitue en tollenaars
Jesus is vandag by ons as die Een wat eet saam met prostitute en tollenaars, wat miskien in ons tyd korrupte regeringsamptenare is.
Melaatses en besetenes
Jesus is vandag nog steeds by ons as die Een wat raak aan melaatses en bestenes – dalk in ons dag VIGS-lyers en Stikland pasiënte.
Koppe skud
Jesus, volgens Barth, is vandag nog steeds die Een vir wie familielede hulle koppe skud, die Een vir wie gekultiveerde mense gril en wat deur godsdienstige mense veroordeel word.
Ontken deur volgelinge
Tot vandag toe is Jesus die Een wat deur sy eie volgelinge ontken en verraai word. Jesus is die Een wat skuldig bevind word saam met opstandige misdadigers.
Verwerp en verlaat
Die opgestane, lewende Here Jesus, is vandag nog steeds by ons teenwoordig, sê Barth, as die Een wat deur mense verwerp word en deur God verlaat word.
Werklik verlaat
Barth meen Jesus was werklikwaar deur God verlaat aan die kruis, maar juis sodat ons mense nooit weer deur God verlaat sal word nie.
Jesus roep namens ons
Jesus is tot vandag toe by ons teenwoordig as die Een wat namens mense na God toe uitroep met smekinge en trane: “My God, my God waarom het U my verlaat?!”
Barth preek in tronk
Karl Barth, wat ‘n baie gesogte professor in teologie was, het amper nooit in kerke gepreek nie, maar meestal in die tronk, veral rondom Kersfees- en Paasfeestyd.
My God, my God
Op meer as een geleentheid het hy in die tronk gepreek oor hierdie gebed wat Jesus op die kruis gebid het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”
God hoor ons geroep
Omdat Jesus dit uitgeroep het op die kruis, beteken dit dat God almal se gebede hoor wat in desperaatheid na God toe uitroep.
Enigstes wat God nie help nie
Die enigste mense wat nié deur God gered kan word nie, wat nié deur God gehelp kan word nie, sê Barth, is dié mense wat dink hulle geen rede om om hulp te roep nie – dié mense wat dink hulle het nie redding nodig nie – dié wat dink dat hulle hulleself sal help, dat hulle self sal regkom.
Godsdienstiges. Regverdiges.
Die godsdienstiges. Die brawes. Die regverdiges. Die helde. Hulle skreeu nooit in desperaatheid na God nie.
Magteloses
Nee, die mense wat na God skreeu is die hulpeloses, die magteloses, die brandarmes, die dodelike siekes.
God help hulle
En dit is hulle, wat deur God gehoor, gehelp en gered word, omdat hulle hulle magteloosheid en hulpeloosheid na God toe uitroep met trane en geskreeu, soos Dawid in Psalm 22, soos Jesus aan die kruis.
Hulle is steeds sondaars
En dan voeg Barth by: Hierdie mense wat so desperaat na God toe roep om hulp en dan wel deur God gehoor, gehelp en gered word ...
... Hulle is nog steeds sondaars, maar ook geregverdig.
Hulle harte is nog steeds stukkend, maar gevul met vreugde.
Hulle ly en sterwe nog steeds saam met Christus, maar word hulle word ook opgewek en hulle staan op saam met Christus.
Hulle is nog steeds op aarde, maar reeds in die hemel. Ons sou kon sê: Hulle is nog steeds deel van die ou wêreld, maar reeds burgers van God se nuwe wêreld.
Onevangelies
Die mees onevangeliese ding wat ons vandag kan glo, is die gesegde, wat baie gewild is, en wat baie mooi klink, naamlik dat God dié mense help wat hulleself help.
Goeie nuus
Niks kan verder van die evangelie af wees nie. Die goeie nuus van die evangelie is juis dat God dié mense help wat nie hulleself kan help nie, dat God dié mense red wat nie hulleself kan red nie.
AA
Dit is wat die AA – Alkoholiste Anoniem – se eerste drie stappe van die twaalf stappe, so geniaal en evangelies maak.
Die eerste drie stappe van die twaalf stappe is:
Moet eers daardeur
Wat so wonderlik is hiervan, is dat álmal wat deur die twaalf stappe gaan, moet eers deur hierdie eerste drie stappe gaan: hulle moet eers hulle magteloosheid erken, besef dat God alleen hulle kan help en daarom hulleself aan God oorgee.
Ryk, mag, slim
Dit maak nie saak hoe ryk en suksesvol jy is nie. Dit maak nie saak hoe belangrik, invloedryk of gewild jy is nie. Dit maak nie saak hoe slim en geleerd jy is nie. Jou rykdom, jou mag, jou verstand kan jou nie red van jou verslawing nie.
Maak nie saak nie
So, dit maak nie saak wie of wat jy is nie – jy is nie instaat daartoe om jouself te red nie. En daarom moet jy éérs erken dat jy hulp nodig het, vóórdat jy enigsins kan vorder op die twaalf stappe.
Erken jy het probleem
Mense sê mos altyd die eerste stap is om te erken dat jy probleem het. Jy kan nie iemand help wat nie gehelp wil word nie.
Maklik van ander
Maar dit is maklik om dit te sê van ander mense. Maar moes jy al ooit by die punt kom waar jy self jou trots moes sluk en moes sê: “Ek kan hierdie nie op my eie doen nie”? Dis nie so maklik nie!
Trots sluk
Om jou trots te sluk en te bely – ten spyte van hoe slim, hoe talentvol, hoe suksesvol ek is – ek kry hierdie ding nie op my eie reg nie. Ek het hulp nodig. Dis ongelooflik moeilik! Veral in Durbanville!
Mislukking
Om in Durbanville te erken dat jy nie op jou eie voete kan staan nie, dat jy nie self kan regkom nie, dat jy nie die “cut” maak nie – dit is om ‘n mislukking te wees! Niemand wil dit erken nie.
Help maklik
Ons praat maklik oor ander mense se swakheid en sê dat dit geen skande is nie. O, en ons is tog so mal daaroor as ons iemand anders kan help in hulle swakheid.
Vra moeilik om hulp
Maar om te erken dat ek self hulp nodig het? Om te vra vir hulp? Dit is ‘n bitter pil om te sluk.
Vernedering van Dawid
In Psalm 22 lees ons ook van hierdie vernedering wat Dawid beleef as ander sien hoe magteloos en hulpeloos hy is: Verse 7-9
7 Maar ek is 'n wurm, nie 'n mens nie. Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag. 8 Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit en knik met voldoening die kop en sê: 9 “Laat dit aan die Here oor! Laat Hý hom red, laat Hý hom bevry as Hy dan so baie van hom hou.”
Geloof erken swakheid
Geloof in God is ‘n erkenning van ons eie swakheid, van ons onvermoë om onsself te help en onsself te red. En daarin lê die krag van ons geloof.
Paulus
Dit is hoekom Paulus kon sê: As ek swak is, is ek sterk. En: As ek in enige iets sal roem, sal ek in my swakhede roem.
Geen skande
Paulus het verstaan dat sy wonde is geen skande nie. Want sy Here Jesus het wonde aan sy hande en voete.
Nie slagoffer nie
Paulus het nie homself as ‘n slagoffer beskou nie. Hy het nie sy wonde gelek en dit misbruik het as ‘n bron van bitterheid waarmee hy ander seergemaak het nie.
Genesing in Christus
Nee, juis die teenoorgestelde. Omdat daar vir Paulus genesing was in die wonde van Christus, het sy eie wonde ‘n bron van genesing geword vir ander.
Leer afhanklikheid
Dit is uit ons swakhede dat ons leer wat afhanklikheid van God se genade beteken. Dit is uit ons wonde dat ons leer om ander wat seer het, met groter deernis en genade te behandel.
Salf vir ander
Dit is wanneer ons beleef dat daar vir ons genesing is in die wonde van Christus, dat ons eie wonde ‘n salf kan word vir ander se seer.
Wounded healer
Dan kan ons, soos Henri Nouwen sê, “wounded healers” vir mekaar wees.
Winnie Mandela
By Winnie Mandela se begrafnis het president Cyril Ramaphosa gepraat oor Winnie se wonde, ons Suid-Afrikaners se wonde en die wonde van Christus, die wonde waarin Tomas sy vingers moes steek, om te weet dat dit waarlik Jesus is.
Almal het wonde
Ons almal in Suid-Afrika het wonde. Ons moenie ons wonde lek en dit gebruik as regverdiging om mekaar nog verder te verwond nie.
Steek vingers in Christus se wonde
Nee, ons moet ons vingers in Christus se wonde steek, sodat daar vir ons genesing kan kom. Ons moet ons medeburgers se wonde raaksien, en ons eie wonde aanbied as salf.
Malcolm Guite – Crucifixion: Jesus is nailed to the cross
See, as they strip the robe from off his back
And spread his arms and nail them to the cross,
The dark nails pierce him and the sky turns black,
And love is firmly fastened onto loss.
But here a pure change happens. On this tree
Loss becomes gain, death opens into birth.
Here wounding heals and fastening makes free
Earth breathes in heaven, heaven roots in earth.
And here we see the length, the breadth, the height
Where love and hatred meet and love stays true
Where sin meets grace and darkness turns to light
We see what love can bear and be and do,
And here our saviour calls us to his side
His love is free, his arms are open wide. Amen.
Lied 239:1-3 Jesus, Rots vir my geslaan
Nagmaalgebed (SLIDES)
Voorganger: God, ons Vader, dankie dat U ons so baie liefhet. Dankie Vader, dat U die heelal, die aarde en ook vir ons gemaak het. Dankie Vader dat U ons uitgekies om u kinders te wees. Dankie Vader, dat U u Seun, Jesus, uit liefde vir ons gestuur het. Ons almal bid:
Gemeente: Dankie Vader!
V: Jesus, U is die Here oor hemel en aarde en ook oor ons lewe. U is ons Koning. Dankie Jesus, dat U u lewe vir ons, sondige mense, afgelê het en dat U ons nooi na die nagmaaltafel, sodat ons deel kan wees van u liggaam, die kerk. Ons almal bid:
Gemeente: Jesus is die Here!
V: Heilige Gees, kom vul en vernuwe ons. Heilige Gees, kom gee ons geloof in God, hoop vir die wêreld en liefde vir mekaar. Kom Heilige Gees, en help ons om daagliks te bid en te werk vir die koms van God se nuwe wêreld. Ons almal bid:
Gemeente: Kom Heilige Gees!
V: Terwyl ons op pad is na die nuwe aarde, bid ons saam:
Ons Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;
En laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die bose.
Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Voorganger: Genadige God, ons het teen U gesondig in denke, woorde en dade
deur dit wat ons gedoen het en dit wat ons nie gedoen het nie.
Voorganger: Ons het U nie met ons hele hart liefgehad nie.
Ons het nie ons naaste soos onsself liefgehad nie.
Vergewe ons en verander ons,
sodat ons met vreugde sal lewe soos U wil hê ons moet lewe.
V: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem,
Gemeente: wees ons genadig.
V: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem,
Gemeente: ontferm U oor ons.
V: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem,
Gemeente: gee ons vrede.
Uitdeel van tekens
Instel van tekens
Die brood wat ons breek is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Neem dit, eet dit, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is, tot ‘n volkome versoening vir al ons sonde.
Die beker van danksegging is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Neem dit, drink dit, dink daaraan en glo, dat sy kosbare bloed vergiet is om vir ons die nuwe lewe in Christus te skenk.
Vrede: Vrede vir jou ...
Die Migrante Geloofsbelydenis - Jose Luis Casal
Ek glo in die almagtige God
wat sy volk gelei het uit Egipte en uit ballingskap.
Die God van Josef in Egipte en Ester in Babilon,
die God van vreemdelinge en immigrante.
Ek glo in Jesus Christus,
’n ontheemde uit Galiliea,
wat gebore is ver van sy vaderland,
wat gevlug het na ’n ander land met sy ouers.
Toe hy teruggekeer het na sy land
het hy gely onder die onderdrukking van Pontius Pilates,
wat ’n buitelandse maghebber gedien het.
Jesus is vervolg, geslaan, gemartel en onregmatig veroordeel tot die dood,
maar op die derde dag het hy opgestaan uit die dood,
nie as ’n geminagte buitelander nie,
maar om ons die burgerskap van God se koninkryk te bied.
Ek glo in die Heilige Gees,
die ewige migrant van God se ryk onder ons
wat al die tale praat en in al die lande woon,
en al die rasse weer met mekaar verenig.
Ek glo dat die kerk ’n veilig tuiste is vir vreemdelinge en vir alle gelowiges.
Ek glo dat die gemeenskap van heiliges begin, daar waar ons God se mense omarm in al hulle diversiteit.
Ek glo in vergifnis
wat ons almal gelyk maak voor God,
en in versoening,
wat ons gebrokenheid heel maak.
Ek glo dat in die opstanding
God ons sal verenig as een volk,
waar almal uniek en gelyk sal wees.
Ek glo in die ewige lewe,
waar niemand ’n vreemdeling sal wees nie,
maar ons almal burgers van die koninkryk
waar God regeer vir ewig en altyd. Amen
Orrel: Lied 266 Ons Vader in die hemel
Blaas sewe kerse dood
Onvoltooide Geloofsbelydenis (SLIDES)
Ek glo in God die Vader,
die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is
Stap uit sonder Amen, want die diens gaan voort op Paassondag
Last changed: Apr 23 2019 at 11:06 AM
Back