Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

14 Julie 2019 Dr Tinus van Zyl Familiediens

Posted by Administrator (dbvgadmin) on Jul 15 2019
Lees preke >>

14 Julie 2019

Familiediens

Tinus van Zyl

Skriflesing:    Amos 7:-17

Is Amos reg?

Ek sukkel met Amos se oordeelsuitsprake. Aan die een kant omdat dit ‘n bietjie depressing, judgmental en selfs wreed klink, maar ook omdat ek wonder: Amos, hoe weet jy jy is reg?

Vrede in Israel

Sure, dit gaan swaar met die armes, maar ten minste het koning Jerobeam II nie oorlog gaan maak teen ‘n klomp ander lande nie. Hy het ten minste vrede gebring vir Israel.

Grense

Koning Jerobeam II het die grense tussen die Noordelike ryk en die Suidelike ryk vasgemaak, sodat daar nie heeltyd botsings was tussen die noorde en die suide nie. Vir die hele tyd wat hy regeer het was daar vrede tussen die noorde en die suide.

Voorspoed

En koning Jerobeam II het die ekonomie laat groei. Daar was ‘n tyd van voorspoed, miskien juis ook omdat daar vrede was en daar meer vreedsame handel kon plaasvind tussen die noorde en die suide.

Witbrood onder arm

Dis dalk die rede waarom Amos sy vee kon kom verkoop in die Noorde. So Amos profeteer bietjie met die witbrood onder die arm. As dit nie was vir koning Jerobeam nie – as Jerobeam ‘n Trump was wat alle invoer van die suide gestop het – dan sou Amos nie sy vee in die noorde kon verkoop nie.

Armes by arm

Koning Jerobeam II bring vrede en meer vrye handel, en dit bring voorspoed. Nou ongelukkig, soos dit dikwels gebeur, raak die armes nie noodwendig beter af as gevolg van ekonomiese groei nie. Soms beteken ekonomiese groei maar net dat die rykes ryker word, produkte duurder word, en die armes kry nog swaarder.

Have a heart

Maar nog steeds voel ek: Amos, have a heart. Ten minste is daar politieke vrede. Ten minste is daar ‘n bietjie ekonomiese vooruitgang.

Kantlyn kritiseer

Dis maklik om van die kantlyn af te kritiseer, maar as jy in koning Jerobeam II se skoene was, of in die priester Amasia wat die staatsgodsdiens beheer, hoe sou jy dit anders gedoen het?

Oordeel = krisis

Die ding van ‘n profeet se oordeelsboodskap, is dat dit ‘n krisis bring, waar mense dink alles is oraait. Die Griekse woord vir oordeel is krisis.

Te gemaklik

Ons het profete nodig om ‘n krisis te skep, om ‘n oordeel uit te spreek, wanneer ons te gemaklik raak en dink dinge kan maar net aangaan soos dit nou aangaan.

Armoede en ekologie

Goeie voorbeelde hiervan sal miskien wees die krisis van armoede in ons land, of die ekologiese krisis in die wêreld.

Gaan net aan met lewe

Dit kan wees dat mense maar net aangaan met hulle lewens en dink: Ja, alles is nie perfek nie, maar ons doen die beste wat ons kan, en ons gaan maar net aangaan soos ons nou aangaan. Dan het ons profete nodig om vir ons te sê: dinge kan nie aangaan soos dit nou aangaan nie.

Profetiese Woord

As kerk moet ons altyd daardie profetiese Woord van die Here hoor en dit ook spreek teenoor mense met politieke mag en ekonomiese vermoë. Een kommentaar het gesê die kerk “... ought to comfort the afflicted and afflict the comfortable.”

Hoor en spreek

En dis belangrik dat ons daardie profetiese Woord van God, daardie kritiese Woord, daardie Woord wat ‘n krisis skep, nie net spreek nie, maar ons moet dit ook self hóór, want dit ruk óns ook uit ons gemaksones.

Geloof vs poltiek en ekonomie

Maar kan die kerk vanuit ons geloof iets sê vir die politiek en vir die ekonomie? Moet ‘n mens nie juis geloof uit die politiek en ekonomie uithou nie? Wat is die verhouding tussen geloof en die res van ons publieke lewe saam?

Politiek

Veral as ons dink oor ons politieke lewe – met ander woorde oral in jou lewe waar jy te doen kry met mag- en gesagstrukture of dalk self in mag- of gesagsposisies is?

Hoe beïnvloed jou geloof jou verhouding met mag- en gesagstrukture? En hoe beïnvloed jou verhouding met mag en gesag jou geloof?

Wat is die regte, gesonde verhouding tussen geloof en politiek?

Ekonomie

En ook as ons dink aan ons ekonomiese lewe – met ander woorde oral in jou lewe waar jy deel neem aan die ekonomie as ‘n werknemer, ‘n werkgewer of in jou besigheid, en ook as ‘n verbruiker en ‘n handelaar.

Hoe beïnvloed jou geloof jou ekonomiese besluite? En hoe beïnvloed jou ekonomiese leefwyse jou geloof?

Wat bepaal die ekonomiese keuses wat jy maak in jou werk of jou besigheid? Waarin belê jy en waarin belê jy nie? Wat jy koop en wat koop jy nie? Waarop spandeer jy jou geld?

Wat is die regte, gesonde verhouding tussen geloof en ekonomie?

Dik vla en dun vla

Ek dink daar is twee basiese benaderings tot die hierdie verhoudings. In ons familie het ons altyd die dun vla en dik vla debat gehad. Die Nel familie het van dun vla gehou en die Van Zyl familie het van dik vla gehou. So ons het van Nel-vla en Van Zyl-vla gepraat.

Met die verhouding tussen geloof aan die een kant en politiek en ekonomie aan die ander kant, kry jy ook dun vla mense en dik vla mense.

Dun vla mense

Dun vla mense is mense wat geloof uit die politiek en die ekonomie wil hou. Hulle voel politiek en ekonomie het sy eie reëls en ‘n mens moenie geloof daarmee meng nie, dan gee dit net ‘n gemors af.

So politiek en ekonomie is soos die poeding, dit het sy eie smaak en struktuur – sy eie resep. En die vla wat jy bo-oor gooi is net ‘n ekstra. Dit is iets anders, iets apart. Dit gee bietjie smaak aan die poeding, maar dit moenie probeer nie om ‘n poeding op sy eie te wees nie.

Mense wat so dink oor die politiek en die ekonomie hou geloof ‘n meer private saak, ‘n meer innerlike saak. En in die wêreld daarbuite word hulle besluite nie noodwendig bepaal deur hulle geloof nie, want hulle dink meer prakties en pragmaties oor dinge.

As dit kom by politiek, dan neem hulle die politieke realiteite in ag. En as dit kom by die ekonomie, dan neem hulle die ekonomiese werklikhede in ag.

Dit is busineness is business tipe mense. Jy moenie jou met persoonlike geloofsoortuigings vermeng met die politiek en die ekonomie nie – dit gaan net moeilikheid maak.

Dik vla mense

Dan is daar die dik vla mense. Hulle voel dat geloof moet sigbaar wees in jou politieke en ekonomiese lewe.

So hulle wil hê die regering moet eksplisiet ‘n Christelike regering wees. Skole moet Christelike skole wees. Besighede moet sê dat hulle Christelike besighede is en dit moet gereflekteer word in alles wat hulle sê en doen, in hulle besluite en begrotings.

Dik vla mense wil sien dat dit wat ons glo konkrete gestalte kry in magstrukture en ekonomiese besluite. Geloof is nie net persoonlik nie – dit moet ook in die samelewing se strukture ‘n werklikheid word.

Gevaar van dun vla

Die gevaar van die dun vla benadering is dat geloof eintlik irrelevant kan raak. Dit kan so ‘n dun, dun sousie raak wat jy oor jou lewe gooi, maar eintlik het jou geloof geen impak op die belangrike besluite wat jy in jou lewe maak nie.

Geloof raak dan ‘n baie individuele ding en dit het nie meer konkrete implikasies vir ons alledaagse lewe saam met ander mense en vir die publieke ruimtes waarbinne ons leef nie.

Dan kan ons dalk later ons glo, maar ons leef heeltemal ateïsties, want ons geloof het geen invloed op die besluite wat ons neem nie. Geloof laat my beter voel en dalk selfs beter cope met die lewe, maar dit het nie ‘n impak op my lewenswyse daarbuite en op die samelewing nie.

Gevaar van dik vla

Die gevaar van die dik vla benadering is dat jy jou geloof kan afdwing op ander en dat dit dan baie voorskriftelik en rigied kan raak, met min ruimte vir ander mense se vryheid en oortuigings.

Dit was tot ‘n groot mate die benadering in die tyd van apartheid. Dit was ‘n Christelike regering en dit was Christelike skole. Maar dit het dan beteken dat die mense in posisies van mag se oortuiging van wat Christelik is, word op almal afgedwing. Daar was nie ruimte vir ander sienings en die vryheid vir mense om ander keuses te maak nie.

Die mense met mag besluit namens jou wat jy mag doen en wat jy nie mag doen nie, op grond van hulle verstaan van die Christelike geloof en Christelike waardes. Hulle het selfs in die tyd van Apartheid besluit met wie jy mag trou en met wie jy nie mag trou nie.

Ek vermoed baie mense vandag wil juis alle Christelikheid uit die politiek en ekonomie hou, as ‘n teenreaksie teen die regering van destyds wat die hele samelewing wou beheer volgens hulle eie oortuigings en so mense se vryhede weggevat het.

Ultra Mel

Dalk is die antwoord nie dik vla óf dun vla nie, maar iets van albei. Dalk ‘n soort Ultra Mel? Ultra Mel kan ‘n heerlike sous wees, maar dit kan ook ‘n poeding op sy eie wees.

Nie te dik nie

Dalk het ons die soort geloof nodig wat nie só dik is, so voorskriftelik en rigied is, dat dit die hele politieke en ekonomiese ruimte oorneem en geen ruimte maak vir ander se siening en vryhede nie.

Nie te dun nie

Maar dan ook ‘n geloof wat nie só dun is, dat dit net ‘n toevallige sousie bo-oor die res van ons lewe is nie. Dat ons besluite en lewenswyse nie bepaal word deur ons politieke belange en ekonomiese oorwegings, en ons geloof maar net ‘n bysaak is nie.

In gesprek tree, sonder antwoorde

Ons benodig ‘n geloof wat in gesprek kan tree met die politiek en die ekonomie, wat hard en duidelik kan verwoord wat ons as Christene glo, maar wat ter selfder tyd nie dink dat ons al die antwoord het nie en wat oop is om te luister na verskillende perspektiewe en insigte vanuit die politiek, ekonomie en ook al die ander velde van die lewe.

Bly krities

Ons benodig ‘n geloof wat altyd krities bly, wat moeilike vrae, wat altyd uitkyk vir die mense in nood, die mense wat nie voordeel trek uit die magstrukture en ekonomiese vooruitgang nie. ‘n Geloof wat praat namens hulle wat nie ‘n stem het nie, die mees brose mense, die natuur, die geslagte wat kom en wat dalk nie meer ‘n bewoonbare aarde gaan erf nie.

Nie irrelelvant of rigied nie

As ons geloof te dun raak, kan dit heeltemal verdwyn en eintlik irrelevant word. Maar as ons geloof te dik raak, kan ons later ons politieke en ekonomiese agendas verwar met die koninkryk en die wil van God.

Kritiese afstand

Daar is altyd ‘n kritiese afstand nodig. Ons moet altyd weet dat óns politieke oortuigings en ons ekonomiese besluite is nie dieselfde as God se koninkryk enGod se wil nie. God se Woord moet ons altyd weer in ‘n krisis kan plaas – ons kan ruk uit ons gemaksones uit.

Nie rusbank nie

Maar ‘n kritiese afstand beteken nie dat ons net op ons rusbanke kan terugsit en die politici en die ekonome kan kan kritiseer van ‘n afstand nie. Ons moet ook ons geloof omsit in dade.

Almal het invloed, al is dit onvolmaak

Ons almal het mag. Ons almal is êrens in ‘n gesagsposisie. Ons almal neem deel aan die ekonomie. Niemand van ons staan onskuldig teenoor die politiek en die ekonomie nie. En ons moet daar waar ons leef en werk ons geloof omsit in dade, al is dit altyd onvolmaak en onvoltooid.

Verkiesing

Dit is hoekom ons stem in ‘n verkiesing. Nie omdat ons dink die party vir wie ons stem is die koninkryk van God nie, maar omdat ons stem vir die party wat volgens ons oordeel die naaste daaraan kom om God se geregtigheid vir alle mense te laat geskied.

En terwyl ons vir daardie party stem, veg ons ook vir ander mense se vryheid en reg om vir ‘n ander party te mag stem.

Skole

‘n Moeilike uitdaging deesdae is hoe ons Christenskap uitleef in ons skole. Persoonlik, en dit is net my siening, dink ek moet ons Christenskap in skole nie so dun wees, dat ons byvoorbeeld net dun motiveringspraatjies vir kinders gee, sonder enige geloofs- of morele inhoud nie.

Maar aan die anderkant dink ek dat Christelike skole dalk ook Joodse Rabbi’s, Moslem Immam’s en Buddhistiese Guru’s kan nooi om ‘n boodskap te gee vanuit hulle geloofstradisie, sodat ons kinders daaraan blootgestel kan word en kan sien dat jou geloof nie noodwendig teenoor iemand anders se geloof staan nie.

Geld

Maar ons heel grootste uitdaging, vir ons in Durbanville, dink ek, lê nie noodwendig by die politiek, of die skole en universiteite nie, maar in die ekonomie – in ons werke, ons besighede, ons deelname aan die ekonomie.

Ons sit nou hierdie in die erediens saam – dit is goed en mooi. Maar net hierna kry ons mekaar in Woolies. En wat is die keuses wat ons dáár uitoefen?

Sewe dae van week

Byvoorbeeld. Ek persoonlik dink dit is verkeerd dat werkers sewe dae van die week moet werk. Dit is vir my gevoel teen my geloof.

Maar as ek sewe dae van die week my inkopies doen, dan is my geloof en my ekonomiese besluite nie in lyn met mekaar nie.

Maak ek ‘n verskil?

Die moeilike ding is dat ons gewoonlik dink – ek dink gewoonlik – dat my ekonomiese besluite geen verskil gaan maak nie. Maar dis natuurlik nir waar nie. Want as verbruikers het ons geweldig baie mag. As ons ophou om ‘n sekere produk te koop, dan gaan die winkels ophou ophou dit te verkoop.

Soms is wette nodig

Maar somtyds is ekonomiese invloed nie genoeg nie. Soms is daar ook wetgewing en reëls nodig om ‘n  samelewing te swaai in ‘n rigting. En dan moet die mense met poltieke mag en invloed hulle rol daar vervul en hulle kritiese, profetiese stem laat hoor.

Amos – klein stem

Wat merkwaardig is van Amos, is dat eintlik geen stem gehad het nie. Hy het geen politieke mag of gesag gehad nie. Hy was nie eers ‘n profeet nie. Hy was maar ‘n gewone veeboer. En hy het nie eers self in die noordryk gewoon nie – hy was van die suide.

En tog het Amos sy stem laat hoor. Soveel so, dat die mense met mag, soos Amasia die priester by die staatstempel, bekommerd geraak het, want die mense begin luister na Amos.

Nie ‘n verskoning nie

Omdat ons voel dat ons stem nie ‘n verskil gaan maak nie, mag nie ‘n verskoning wees dat ons nie met ons woorde en ons dade ons geloof uitleef. Ons kan nie altyd net saam praat, of altyd net stilbly nie – omdat ons nie lus is om teen die stroom te gaan nie. Elkeen van ons het ‘n profetiese stem.

Lucille

‘n Vriendin van ons het my geweldig geïnspireer wat dit betref. Sy het gedink wat kan sy doen om ‘n verskil te maak aan ons planeet. En sy het die gevolgtrekking gekom, dat as sy vir die res van haar lewe nie vleis eet nie, dan gaan dit ‘n impak maak.

En wat dit verder so besondes maak, is dat sy aangehou het om vir haar gesin vleis te maak. Maar sy het besluit dat sy nie vleis gaan eet nie.

Maar haar impak gaan nog verder as dit. Want sy het weer ons gesin geïnspireer om een of twee keer per week, geen vleis eet nie. En vanoggend staan ek hier en vertel haar verhaal vir julle

Jy het ‘n stem

So jy moet nooit dink jy het nie ‘n stem nie. Jy moet nooit dink jou woorde en dade is te klein om ‘n verskil te maak nie. Ons is mos mense van geloof, wat glo dat God selfs met ‘n twee vissies en vyf brode ‘n skare kan voer. Amen

Seën   (Ou Franciskaanse seënbede)

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef;

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede;

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar, sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander;

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.

Last changed: Jul 15 2019 at 9:18 AM

Back