Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

07 April 2019 Dr Tinus van Zyl Klassieke Diens

Posted by Administrator (dbvgadmin) on Apr 08 2019
Lees preke >>

7 Aprl 2019

Klassieke diens: Doop

Skriflesing: Jesaja 43:16-21

God van verlede

Dikwels glo ons in die God van die verlede, die God wat lank terug hemel en aarde geskape het, die God van Abraham, Isak en Jakob, wat destyds, in die ou, ou verlede mense verlos, bevry en gered het. Ook die God wat ons eie ouers en voorouers bygestaan en gehelp het in alles wat hulle deurgemaak het in hulle leeftyd, en wat ons gebring het tot hier waar ons vandag is.

God van toekoms

Somtyds glo ons selfs in die God van die toekoms, die God wat eendag in die verre toekoms, by die wederkoms van Christus, die hemel en die aarde nuut sal maak, wat die sonde, die bose en die dood finaal sal oorwin, wat alles reg en heel sal maak, wat vrede en geregtigheid sal laat seëvier oor die aarde en al die trane van ons oë sal afdroog. 

God van vandag

Dit is uiters belangrik dat ons glo in die God van die verlede en die God van die toekoms, maar dit is net so belangrik dat ons glo in die God wat vandag, en dikwels is dit ‘n geloofsperspektief wat ons uit ons sig verloor.

Nuwe dag

Ons vergeet so maklik dat die God wat lank, lank terug die son en die aarde gemaak het, ook vanoggend die son laat opkom het en vir ons ‘n nuwe dag geskenk het.

Lewensasem

Ons vergeet so maklik dat die God wat destyds lewensasem in die mens se neus geblaas het, ook vanoggend my laat wakker word het en nog ‘n lewensdag vir my geskenk het.

Geboorte van kind

Vir elke ouer is die geboorte van hulle kind ‘n absolute wonderwerk, maar dit is so maklik om te vergeet dat die Skeppergod wat ons kinders in die moederskoot gevorm het, hulle ook vandag help met die uitdagings wat hulle nou in die gesig staar.

Opstanding van Jesus

Ons vergeet somtyds dat die krag waarmee God tweeduisend jaar terug vir Jesus uit die dood uit opgewek het, en so al die boosheid en onreg van die wêreld, sondes en siektes in ons lewens, asook die magte van die hel en die dood oorwin het, dat daardie opstandingskrag van God, daardie skeppingsmag van God, ook nou, vandag in my en jou aan die werk is. 

Uit niks uit

Daardie skeppingskrag wat uit niks uit, iets kan voortbring, wat iets nuuts kan maak wat nie voorheen bestaan het nie. Daardie opstandingsmag wat iets moontlik maak wat jy nie gedink het moontlik is nie. Die krag van God wat nie net jou gedagtes kan verander nie, maar ook jou hart, jou wil, jou strewe, jou hele lewenswyse.

Kies liefde

Dit is daardie skeppingskrag van God wat in ons werk wat ons instaat stel om nou, vandag, liefde te kies, eerder as haat, genade te kies eerder as weerwraak. Dit is daardie opstandingskrag van Chrsristus wat in ons werk wat ons instaat stel om nou, vandag, te vergewe, eerder as om te veroordeel, te versoen eerder as om ‘n wrok te koester.

Nuwe pad

Dit is daardie krag van God wat my nou, vandag, instaat stel om ewe skielik, totaal onverwags, ‘n nuwe pad te kies. Uit niks uit. Uit die graf uit. Vanuit my radeloosheid en wanhoop, my woede en bitterheid. Vanuit my hartseer en verlies, my seer en pyn. Vanuit my sonde en swakheid, my bekommernis en vrees. Skielik net ‘n nuwe pad te loop. Soos Israel deur die Rooi See. Soos ‘n rivier wat ewe skielik ontspring in ‘n woestyn.

Wat verhoed jou?

Maar wat is die ding wat ons keer om hierdie nuwe pad te loop, as God dan so kragtig in ons werk? Wel, daar kan ‘n hele reeks redes wees waarom ons nié kies om hierdie nuwe pad te loop nie. Maar in die geval van Jesaja 43, was daar nogal ‘n vreemde ding wat in hulle pad gestaan het, en ek wonder of dit nie ook dieselfde ding is wat dikwels in óns pad staan nie.

Ballinge

Julle ken seker die verhaal van die Israeliete wat in ballingskap weggevoer is deur die Babiloniërs, wat alles verloor het en toe ‘n nuwe lewe in Babel moes begin, ‘n vreemde land met vreemde mense en vreemde gode.

Vreemde deel van vrhaal

Maar ‘n deeltjie van die verhaal wat ons dalk nie so goed ken nie, is die feit dat na verloop van ‘n paar jaar, het dinge nie meer so verskriklik sleg met die ballinge gegaan nie.

Riviere

Daar het twee groot riviere in Babel geloop – die Tigris en die Eufraat – so dit was ‘n groen, vrugbare land.

Vryheid

Die ballinge het relatiewe vryheid gehad in Babel. Hulle kon deelneem aan die ekonomie, nuwe boerderye begin, en party van hulle het ook begin trou met van die mense in Babel.

Gaan goed

Om die waarheid te sê, na verloop van ‘n aantal jare, het dit eintlik heelwat beter gegaan met die ballinge in Babel as met die oorblyfsel Jode wat agtergebly het in die verwoeste Jerusalem en sy woestynagtige omgewing.

Wil nie terugkeer

Soos die moontlikheid al hoe nader gekom het dat die ballinge dalk kan terugkeer na hulle vaderland, het hierdie moontlikheid om terug te keer al hoe minder aanloklik vir baie van hulle begin lyk.

Reeds alles verloor

Hulle het reeds een keer alles verloor. Hulle moes reeds van vooraf begin, met niks. Om nou die risiko te neem om wéér alles te verloor, om wéér van vooraf te moet begin, en boonop in die dorre woestyn van Juda, in die verwoeste stad Jerusalem – dit is te veel gevra.

Nie welkom nie

En boonop weet die ballinge nie of die mense van Juda hulle regtig wil terughê nie. Die ballinge was eintlik die leiers van die volk, die elite, gesagsfigure. Sê nou maar hulle kom terug in Jerusalem en daar is nuwe leiers wat hulle nie wil terughê nie. Sê nou maar hulle is nog kwaad vir die ou leiers, omdat hulle nie die volk kon beskerm teen die Babiloniërs nie.

Trek voordeel

En nou trek hulle nog ook voordeel uit die Babiloniërs se voorspoed. Hulle leef eintlik al soos die Babiloniërs. Vir die Jode in Jerusalem lyk die ballinge dalk soos Babiloniërs. Hulle is dalk glad nie welkom in hulle vaderland nie.

Om jouself bloot te stel

Vir die ballinge, om hulleself weer bloot te stel om teleurgestel te word, om verwerp te word – daarvoor sien hulle nie kans nie. Om hulleself weer broos en kwesbaar te maak, en dalk geen bedanking te kry nie, maar eerder teenstand en kritiek – dit is ‘n kans wat hulle nie wil vat nie. “Rather the devil you know, than the one you don’t.”

Is dit wat ons ook verhoed?

Is dit nie dieselfde ding wat ons baie keer verhoed om ‘n nuwe pad te stap nie? Veral as ons reeds in die verlede seergekry het, as ons reeds ‘n klomp dinge verloor het, as ons reeds van vooraf moes begin, by ‘n nulpunt – om nou wéér onsself broos en kwesbaar te maak, om nou wéér ‘n kans te vat en van vooraf te begin – ons sien net nie daarvoor kans nie.

“Lent”

Ons is Lydenstyd. Dit is die tyd wat oploop na Paasfees, waarin ons die sterwe en opstanding van Jesus vier. En dis belangrik om te weet dat Lydenstyd nie net gaan oor die lyding van Jesus nie. Die Engelse woord “Lent” kom eintlik van ‘n ou Engelse woord, waar ons die Afrikaanse woord “Lente” vandaan gekry het. “Lent” verwys na die seisoen Lente, die seisoen van nuwe lewe.

Sterwe en opstanding

Lydenstyd gaan dus daaroor om na te dink oor Jesus se sterwe én opstanding – 2000 jaar terug, maar ook oor ons eie sterwe en opstanding – elke dag! Dit is ‘n seisoen waarin ons bid en wag en werk vir die nuwe lewe van God om in ons lewens deur te breek.

In hede

Ons onthou nie net die verlede, Jesus se sterwe en opstanding destyds nie, maar ons bid en vertrou ook dat die opgestane, lewende Christus nou, vandag, iets nuuts en merkwaardig in ons lewe kan en gaan doen, dat die SkepperGod iets nuuts in ons kan en gaan skep.

Kruisweg

Maar dan weet ons ook – juis as ons oor die kruisweg en lyding van Jesus nadink – dat hierdie nuwe lewe, hierdie opstandingslewe waarna ons smag en soek, kan nie lyding, opoffering en ‘n kruisweg systap nie. Dit kan nie bo-oor die graf spring nie. Dit moet deur die graf gaan.

Brené Brown

Die sosioloog Brené Brown noem dit in een van haar praatjies. Sy het navorsing gedoen oor hoe mense dit regkry om te vergewe. Maar iets wou nie klop nie. Daar was iets wat sy nie kon raaksien nie. Hoe het hierdie mense dit reggekry om te kan vergewe?

Sterf eers

En op ‘n dag het sy dit gesnap. Hulle moes eers sterf. Hulle moes eers hulle ou lewe begrawe. Hulle moes eers rou oor die drome wat hulle gehad het, wat nooit sal realiseer nie. Hulle moes eers die mooi, ideale prentjie wat hulle in hulle gedagtes gehad het – van hulle huwelik, of van hulle kind, of van hulle lewe, hulle beroep – hulle moes eers daardie perfekte prentjie begrawe en daaroor rou.

Dan eers

En dan eers ... eers as hulle gesterwe het ... eers as hulle hulle drome begrawe het ... eers as hulle waarlik gerou het oor hulle verliese ... eers dan, was vergifnis moontlik, eers dan kon daar iets nuuts uit die graf uit opstaan, ‘n nuwe moontlikheid van nuwe lewe en hoop.

Gedooptes

Gedooptes is mense wat elke dag sterwe en opstaan. Ons wat gedoop is, leef met die moontlikheid om elke dag ‘n nuwe pad te kies, onverwags, ewe skielik, uit niks uit, uit die graf uit, op ‘n nuwe weg te gaan – om liefde te kies eerder as vrees, om genade te kies eerder as verwyt, om versoening te kies, eerder as bitterheid, om die lewe te kies, eerder as die dood.

Prys: Broos

Maar hierdie nuwe lewe kom teen ‘n prys. Dit beteken dat ons onsself daagliks, keer op keer, weerloos en broos maak, dat ons onsself blootstel, oopstel om wéér te kan seerkry, om wéér verwerp te word, om wéér teleurgestel te word.

Dit is liefde

Maar dit is wat liefde is. Liefde is om jouself oor te gee. Liefde is om jouself oop te stel vir iemand anders. In die wete dat dit jou broos en weerloos laat. In die wete dat jy gaan seerkry. Dit is immers wat God gedoen het, toe God uit liefde sy enigste Seun vir ons gestuur het.

Dit is die lewe

Dit is wat die léwe is – die ware lewe, die opstandingslewe. Dit is ‘n lewe waarin jy jouself oorgee vir jou naaste, sonder enige beskerming, sonder enige waarborge, maar in die wete dat die SkepperGod saam met jou in die graf sal ingaan en saam met jou uit die graf uit sal opstaan. Amen. 

Last changed: Apr 08 2019 at 8:29 AM

Back