Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

06 Oktober Dr Tinus van Zyl Familiediens

Posted by Administrator (dbvgadmin) on Oct 07 2019
Lees preke >>

Familiediens – Dankdiens vir reën

6 Oktober 2019

Reeks oor Klaggebede    

Skriflesing:    Jeremia 14:1-9, 19-22

TIME

Time magazine het op 2 September ‘n uitgawe gehad wat van kant tot kant oor die klimaatkrisis gegaan het. (SLIDE)

30 jaar terug in 1989, was die planeet die Time se persoon van die jaar. Dit was na aanleiding van ‘n groot kongress met internasionale leiers, waarin mense soos Al Gore toe reeds gesê het dat ons afstuur op ‘n ramp. (SLIDE)

In hierdie Time uitgawe (SLIDE) vra hulle die vraag of die aarde oor 30 jaar van nou af, in 2050, gered gaan wees, of nie.

Jacobabad

In een artikel gaan die TIME joernalis, Aryn Baker, wat in Kaapstad bly, na een van die warmste stede in die wêreld, Jacobabad, Pakistan, wat gereeld warmer as 50 grade clecius raak.

Wêreld van toekoms?

Terwyl ek die artikel gelees het, het ek myself afgevra: Is dit hoe die wêreld gaan wees waarin ons, ons kinders, ons kleinkinders, in 2050 gaan leef? ‘n Warm, warm wêreld.

2 grade

Die wetenskaplikes sê reeds dat ‘n 2 grade verhoging in die aarde se temperatuur is onafwendbaar. Dit gaan gebeur. Al wat ons nog kan probeer doen, is om te probeer keer dat dit verhoog met 3 grade of 4 grade.

Verdubbel

Maar wat ek nie geweet het nie, is dat die algemene verhoging in die globale temperatuur verdubbel vir ons wat in Suider-Afrika bly. As die aarde se temperatuur met 2 grade styg, dan styg ons s’n met 4 grade. So ons temperatuur in Suider-Afrika gaan beslis met 4 grade gemiddeld verhoog, maar dit kan ook dalk met 6 grade of met 8 grade verhoog.

Woestyn

Nou ‘n gemiddelde verhoging van 8 grade, in ‘n deel van die wêreld wat al reeds semi-woestyn is, as jy dink aan die Karoo byvoorbeeld en die Noord-Kaap, dan maak ‘n 8 grade gemiddelde verhoging dit eintlik ‘n volledige woestyn.

Jeremia 14?

So as ek Jeremia 14 lees, dan is die vraag, beskryf Jeremia hoe Suider-Afrika in 2050 gaan wees? Is dit hoe dit gaan lyk en voel in Suid-Afrika? Wat ‘n depressing gedagte!

Troos-strategieë

En dan die eerste ding wat in my kop gebeur as ek so ‘n depressing gedagte kry, is om te soek na oorlewingstrategieë vir myself, wat my kan troos.

Aircon

So ek dink: Ag nee wat, dit sal darem nie so erg wees nie – ons het darem aircon. Ag nee wat, dit sal nie so erg wees nie, teen daai tyd loop die ontsouting van die oseaan mooi en het ons genoeg skoon water.

Ontvlugting

Dit is ‘n tipies ontvlugting strategie van my – ek dink net aan hoe ék gaan oorleef en ek sê vir myself alles gaan OK wees.

Veg

Die ander strategie is natuurlik om nie te ontvlug nie, maar om te veg. Dit is tipies wanneer ‘n mens begin om die hele ekologiese krisis op ander mense te blameer.

Blameer

Dit is China se skuld! Dit is Amerika se skuld! Dit is die regerings wat nie aksie neem nie! Dit is die groot, gierige maatskappye wat nie omgee vir die aarde nie.

Righteous anger

Hierdie strategie het ‘n bietjie waarde, want dit kan lei na regverdige woede – righteous anger – en dit kan ‘n mens aktiveer om saam met aktiviste soos Greta Thunberg die regerings en maatskappye van die wêreld aan te vat.

Uitbrand

Die slegte ding van hierdie veg opsie, is dat jy kan uitbrand. As jy dink jy moet die wêreld in jou krag red, gaan jy uitbrand.

Selfrighteousness

Of die ander gevaar is dat jy so seker van jou saak kan raak, dat jou righteous anger verander in selfrighteousness. Dan raak jy soos die vryheidsvegters wat laterhand dink hulle is die struggle en as hulle net hullself bevorder, dan bevorder hulle die struggle.

Ontvlugting: goed

Die goeie ding van ontvlugting is dat jy nie oorweldig voel deur die probleme van die wêreld nie, want daar is so baie probleme in die wêreld en dit is so groot, dat ‘n mens maklik depressief daaroor kan raak. Ontvlugting bring bietjie vrede in jou gemoed.

En sleg

Maar die slegte ding van ontvlugting is natuurlik dat jy in ontkenning kan leef en jou eie verantwoordelikheid nie nakom nie.

Derde opsie

Maar daar is ‘n opsie tussen veg en vlug. En dit is die Jeremia-opsie. Dit is om daaroor te bid. Maar nie ons vroom, mooi, Afrinaer-gebedjies wat ons geleer het om te bid: “Liewe Jesus, baie, baie dankie ...”

Bid soos Bybel

Nee, gebed kan ‘n ware opsie wees tussen veg en vlug, as ons kan leer om weer te bid soos die mense in die Bybel gebid het, soos die profete en die psalmdigters gebid het. As ons weer kan leer om KLAGGEBEDE te bid. Dan kan gebed ‘n beter opsie wees, beter as veg of vlug.

Lees Psalms en profete

Gaan lees weer bietjie die Psalms. Seker die helfde van die Psalms is Klaggebede. En boeke soos Jeremia en Klaagliedere is basies van begin tot einde klaggebede.

Wat is klag?

Wat is ‘n klaggebed? ‘n Klaggebed is om by God te kla oor die slegte omstandighede van die wêreld waarin ons leef.

Nie net kla nie

Maar dis meer as om net te kla. Want om by mense rondom ‘n braaivleisvuur te kla – dit help niks nie. Dit versterk ons gewoonlik net in ons blamering van ander mense en ons verontskuldiging van onsself.

Kla by God

Maar om te kla by God is anders. Want jy chat nie nommer met jou pêlle nie. Jy kla nou by die Skepper van hemel en aarde.

Maak ‘n aanklag

En jy doen eintlik meer as kla. Die woord klag sê dit: Jy maak eintlik ook ‘n aanklag teen God! Jy kla vir God aan. Jy lê ‘n klag. Jy vat vir God hof toe.

Wat gaan hier aan?

Jy sê vir God: Wat gaan hier aan? Het U aan die slaap geraak op die job? Die wêreld is in ‘n haglike situasie en U doen niks nie? Hoe lank moet ons nog wag, Here, voordat U ingryp en iets doen? Kom aan, Here!

Ons kan dit doen

Dis belangrik om te weet dat ons so met God kán en móét praat. ‘n Groot rede, vermoed ek, hoekom mense deesdae sukkel om in God te glo, is omdat ons nie meer ons eerlike gevoelens en gedagtes teenoor God verwoord in gebed nie.

Soetsappige gebede

Ons bid sulke stroperige, soetsappige “liewe Jesus”-gebedjies, God is in beheer, God sorg vir almal, en dan waar die lewe sy harde kante vir ons wys, dan is ons heeltemal ontnugter en dan dink ons dat ons geloof ‘n leuen was.

Fake geloof

Maar dit wás ‘n leuen. Dit was fake geloof. Wat ons baie keer as geloof beskryf is nie ‘n egte, eerlike geloof nie, maar eerder ‘n soort sukses-karma-filosofie, wat basies sê dat as jy mooi soet is, dan sal dit met jou goed gaan, en dan strooi ons net ‘n liewe Jesus-sousie bo-oor daai gedagtes.

Egte geloof

‘n Egte, eerlike geloof is ‘n geloof waarin ons nie net die Here loof en dank omdat God so mooi vir ons sorg nie, maar waarin ons al ons gebrokenheid en gesukkel en frustrasies en sondigheid in rou eerlikheid na God toe bring met ‘n geskreeu en ‘n gehuil.

Cry to the Lord

Gaan lees Engelse vertalings van die Psalms en profete hoe gereeld staan daar: “I cry to the Lord.” Die profete en Psalmdigters huil en skreeu tot God. Dit is hoe hulle bid.

Psalm 130: 1 Out of the depths I cry to you, Lord; 2 Lord, hear my voice.

Let your ears be attentive to my cry for mercy.

Die Afrikaans vertaal dit met “roep”, maar dis nie sterk genoeg nie. Die Psalmdigters huil letterlik vir God.

Boer wat huil

Een van die mooiste dinge wat ek al gehoor het was ‘n dominee in die Noord-Kaap, wat so paar jaar terug, in die middel van die droogte, vertel het hoe sy ‘n Bybelstudie gelei het vir ‘n klompie boere en hoe die een, geharde boer daar in die Bybelstudie, voor die ander boere en voor haar, sit en huil oor die diere wat vrek op sy plaas. Dit is egte gebed. Dit is egte geloof.

Beter as veg of vlug

En dit is ‘n beter weg as veg of vlug. Hoekom? Want ‘n egte klaggebed, doen ‘n paar dinge:

  1. Ontvlug nie

Dit ontvlug nie. Dit ontken nie. Dit kyk die werklikheid vierkantig in die oë.

  1. Nie in eie krag nie

Maar, anders as aktivisme, probeer dit nie om self die wêreld te red in jou eie krag nie, dit probeer nie om die wêreld binne jou beheer te bring nie, maar dit bring die nood van die wêreld na God toe.

  1. Bely skuld

Dit bely ons eie skuld. Lees maar die Psalms en ook Jeremia, hoe gereeld bely die bidders hulle eie aandeel in die krisis. Want jy kan net solank ‘n vingers van aanklag wys na die Skepper van hemel en aarde, voordat jy agterkom hoeveel vingers wys terug na jouself.

  1. Reageer op God

Klaggebede gaan oor in aksie, maar nie aksie waarin ons dink dat die wêreld onder ons beheer is en dat ons die wêreld in ons eie krag kan red nie. Dit is ‘n re-aksie op die aksie van God. Dit ant-woord op die Woord van God

Dit is verbonds-aksie. Die verbond sê dat God getrou is, maar dit vra van ons om ook getrou te wees. Dit gaan oor in aksie, waarin ons nie meer maak asof ons God is nie, maar waarin ons weet dat ons God se verteenwoordigers is.

  1. Gerig op wêreld

Klaggebede is nie net gerig op myself en my eie probleme nie, maar dis gerig op die nood van die wêreld, van die kosmos. Klaggebede sien ‘n groter prentjie raak.

Maar dit word nie oorweldig en lamgelê deur daardie groter prentjie, want dit sien ook vir God raak in daardie groter prentjie.

Vroeë Siriese gebed

In die 8ste is daar ‘n klaggebed ontdek wat die vroeë Siriese kerk gebid het in tye van nood en vervolging. Wat interessant is van hierdie gebed, is dat die volk se klag aan God, verander in ‘n aanklag van God teen die volk, wat lei tot skuldbelydenis en bekering.

Bid saam

Ek wil vra dat julle hierdie klaggebed saam met my sal bid. Ek sal voorgaan en julle kan die vetgedrukte gedeeltes saam met my bid.

BEKLAG VAN VROEë SIRIESE KERK BL 35 IN GEBEDEBOEK

Liturg:

My volk, wat het Ek aan julle gedoen?

En waarmee het Ek julle vermoei?

Ek het die aarde vir julle tot bestaan geroep

en in julle hande toevertrou,

maar my tuin word ’n wildernis,

my lewensakker ’n dodeakker.

Waarom laat julle dit toe?

Gemeente: Heilige God, Heilig en Magtig, ontferm U oor ons.

Liturg:

Ek het julle ’n plek onder my reënboog gegee,

’n teken van vrede en toekoms,

maar dodelike wapens staan gerig op mense

en bedreig my dierbare skepping.

Waarom laat julle dit toe?

Gemeente: Heilige God, Heilig en Magtig, ontferm U oor ons.

Liturg:

Ek het Myself bekendgemaak as julle bevryder,

die bondgenoot van alle onderdruktes,

maar tallose mense word getreiter en geteister,

bedreig deur terreur en tirannie.

Waarom laat julle dit toe?

Gemeente: Heilige God, Heilig en Magtig, ontferm U oor ons.

Liturg:

Ek het julle met oorvloed geseën,

met daaglikse brood en baie meer,

maar op my akker sterf mense onversadig,

en kinders bly honger.

Waarom laat julle dit toe?

Gemeente: Heilige God, Heilig en Magtig, ontferm U oor ons.

Liturg:

Ek het my woord aan julle gegee,

my hartsgeheime aan julle toevertrou,

maar afgode kry oral aftrek,

en mensekinders kies weë wat lei tot die dood.

Waarom laat julle dit toe?

Gemeente: Heilige God, Heilig en Magtig, ontferm U oor ons.

Liturg:

Ek het my eie Seun na julle gestuur,

my sprekende ewebeeld, ’n verlenging van my seënende regterhand,

maar Hy is afgewys, uitgestoot,

verneder tot die laagste dood.

Waarom laat julle dit toe?

Gemeente: Heilige God, Heilig en Magtig, ontferm U oor ons.

Liturg:

My volk, wat het Ek aan julle gedoen?

En waarmee het Ek julle vermoei?

Ek het julle geëer as kroon van die skepping,

Ek het julle uitgesoek as my kosbare sierade,

Ek het julle bewaar in my hand, in my hart,

Ek het julle my trots, my Seun, geoffer.

Wat moes Ek nog meer doen?

Gemeente:

Aan die Vader hoog verhewe,

aan die Seun wat vir ons ly,

aan die Trooster van ons lewe,

is die eer en krag gegee,

nou en tot in alle ewigheid.

Amen.

Last changed: Oct 07 2019 at 10:46 AM

Back