Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Geskiedenis van gemeente

Op 23 September 1824 het 11 boere van die Koeberg 'n versoekskrif aan Goewerneur Lord Charles Somerset gerig vir die oprig van 'n eie kerk. Toestemming vir die Tygerbergse gemeente is gegee en op 1 April 1825 is die hoeksteen van die kerkgebou gelê. Die kerk is op 6 Augustus 1826 amptelik ingewy.

Die naam van die gemeente

Aanvanklik is die kerkplaas en die dorpie wat begin ontwikkel het Pampoenkraal genoem. Daar is egter sedert die begin na "de gemeente aan de Tijgerbergen" of die "tijgerbergsche gemeente" verwys.

Op 1 Augustus 1836 het 49 inwoners die goewerneur Sir Benjamin D'Urban versoek om die dorp na hom te vernoem. Hy het ingestem en op 2 September 1836 is dit so in die Staatskoerant afgekondig. Ons dorp vier dus ook vanjaar dan sy 180ste verjaarsdag. Dit was eers vanaf 1841 wat daar na die dorp verwys is as "gemeente van Tijgerberg te D'Urban." Dit het egter baie verwarring veroorsaak en die Sinode het in 1886 goedgekeur dat die gemeente voortaan as Durbanville bekend sou staan.

Hoe groot was die Gemeente in 1826?

Toestemming is gegee dat al die plase in die Tygerberg, Koeberg, Blouberg en De Kuilen binne die grense van die Tygerbergse Gemeente sou val. Volgens Sinodebesluit was die noordelike grens by Klipheuwel, Oortmanspoort, Boterberg, Driefontein, Haarmeyerskraal en Buffelsrivier. Die suidelike grens met Kaapstad was vanaf die Zoutriviermond in 'n reguit lyn tot by Vergenoegd, aan die Eersterivier, Stellenbosch. (Later omskryf as vanaf Soutrivierstasie, verby Maitlandstasie). Die westelike grens was die kus en het Blaauwberg, Rietvlei, Rozendal en Seven Pannetjies ingesluit. Die oostelike grens was met Stellenbosch en Paarl distrikte langs die hardepad van Malmesbury na Stellenbosch.

Dogtergemeentes

Oor tyd het die gemeente egter al hoe kleiner geword namate woonbuurte begin ontwikkel het en dogtergemeentes gestig is. Die volgende gemeentes het van Durbanville afgestig:

  • 1863: Philidelphia
  • 1903: Kuilsrivier
  • 1917: Parow-Goodwood
  • 1934: Bellville
  • 1944: Kruispad (Kraaifontein en Brackenfell)
  • 1947: Sonnekus (Milnerton)
  • 1971: Stellenberg
  • 1982: Bergsig

Die predikante van die Gemeente

Vanaf 1826 was die predikante van die gemeente as volg:

  • 1828-1830: Ds. J Edgar
  • 1834-1886: Ds. JJ Beck
  • 1886-1904: Ds. AD Luckhoff
  • 1904-1928: Ds. D Bosman
  • 1928-1941: Ds. PJ van der Merwe
  • 1942-1948: Ds. SS Weyers
  • 1948-1956: Ds. EJ Matthee
  • 1956-1962: Ds. HJ van Rooyen
  • 1963-1969: Ds. JM Delport

In 1967 kry die gemeente die eerste keer 'n mede-leraar en daarna volg daar heelwat ander predikante.

Kerkraadslede

Van die eerste kerkraadslede was die volgende:

  • GA Willer (leier-ouderling)
  • AA Meyburg van Diemersdal
  • JA Louw van Fisantekraal
  • SJ Louw van Keer-de-Koe (Klein Olifantskop)
  • S Malan van Kuiperskraal
  • JW Louw van Eversdal
  • SJ van der Spuy van Klein Olifantskop
  • ML Neethling van Loevenstein

Kerklike gebruike

  • Huisbesoek is 14 dae voor Nagmaal gedoen.
  • Gemeentebidure is eers in 1886 deur ds. Luckhoff begin en Pinksterbidure eers in 1891.
  • Kollekte is opgeneem met fluweelsakkies aan lang stokke. In 1891 is dit met die kollektebordjies vervang.
  • Gesangborde is in 1883 aan weerskante van die preekstoel aangebring.
  • Engelse dienste is reeds vanaf 1856 gehou en Hollandse dienste is eers in 1928 met Afrikaans vervang.
  • Nagmaal is eers vanaf 1914 in die banke bedien. Daar was ook besluit om vir hierdie doel die banke met "witte lakentjies" te bedek. Kelkies is eers in 1936 in gebruik geneem.
  • Doopouers moes reeds met tweede gelui aanmeld. As hulle laat was is die baba dan eers by 'n volgende geleentheid gedoop.
  • Begrafnisdienste was ongekend en die eerste was gehou vir mev. ds. Beck.

Kerkgrond

Met die versoek om 'n nuwe kerk in die Tygerberg te begin is daar ook twee stukke grond aan die kerk vir die doel gegee. Op die een erf is die kerkgebou opgerig. Die ander stuk grond kon die kerkraad in erwe laat opsny en verkoop as inkomste vir die kerkkas. Die stuk grond was geleë tussen Kerk-, Hoog-, Vrede- en Gladstonestrate. Die eerste erwe is op 26 Oktober 1836 opgeveil. Die groot erf naaste aan die kerkerf is uitgehou om die eerste pastorie op te bou. In 1975 is die ou pastorie-erf van 35 000 vierkante voet vir R39 000 verkoop.

Kerkgebou

Die oorspronklike kerkgebou was 'n tipiese kruiskerk. Oorspronklik het die gebou 'n rietdak gehad. Die konsistorie was aanvanklik as skooltjie gebruik en as vergaderplek vir die kerkraad. Daar was ook drie galerye, soos ons dit vandag ken. In 1859 is die voorportaal aangebou en in 1891 die twee syportale. Met laasgenoemde verbouings is die kerk ook vergroot deur die buitemure in boë uit te slaan, nuwe buitemure verder weg te bou en die oorspronklike vensters in die nuwe mure te plaas. Hierdie nuwe dele is met skuinsdakke aan die hoofdak verbind en die hele dak is met teëls vervang. Die ou banke is in die nuwe dele teen die kante geplaas en nuwe langer banke is vir die middel van die skip geplaas. In 1912 is gasligte geïnstalleer en in 1933 elektriese ligte. Die kerk is in 1953 en weer in 1968/9 gerestoureer.

Kerkmuur

Die kerkterrein was onomhein en daar is reeds in 1828 bydraes per "circulaire" gevra om 'n ringmuur op te rig ten einde die kerk "te secureeren voor brand en te dien tot eene begraafplaats". Op 29 Augustus 1832 is 'n ossewa baie naby aan die suid-oostelike muur van die kerk en konsistorie uitgespan, vlak voor die venster, en met renosterbosse is 'n baie groot kampvuur aangesteek. Ter oordeel aan die "mist der beeste" was die voorosse nog aan die deurknop van die konsistorie ook vasgemaak. Die broeders was "met afgrijsen vervul" oor die ontheiliging van die bedehuis. Nou is daar met erns begin om geld by mekaar te maak vir die muur en teen 1834 is dit voltooi.

Orrel

In 1859 was daar verbouings aan die kerkgebou, onder meer om 'n orrel voor by die kansel te installeer. Die nuwe orrel is op 25 Maart 1860 ingewy. Onder "fraaie melodien" van die orrel tree ook 'n "zangkoor" twee maal op. Hierdie orrel doen diens tot in 1894 waarna dit verskuif is na die Hanoverstraat kerk in Kaapstad en daarna na die Langa NGKA gemeente. Die nuwe orrel is in 1894 bestel van die orrelbouer Hatfield in Kaapstad en het £650 gekos. Dit is op 6 September 1894 ingewy deur ds. AA Moorrees en met Jan Orrelis agter die orrel. In 1966/7 is die orrel vernuwe en die speeltafel vorentoe geskuif. Die werk het toe R6 000 gekos.

Klok

'n Nuwe klok is in 1903 geskenk deur oud-diaken SJ van der Spuy en die kinders van die gemeente. Dit is in die kloktoring geïnstalleer en die ou klok is aan die gemeente in Kuilsrivier geskenk wat toe pas afgestig het. In 1968 is 'n nuwe kloktoring gebou.

Preekstoel

In 1826 het landdros JW Stoll en sy heemrade die preekstoel aan die gemeente geskenk. Dit was 'n beknopte kelkievorm met 'n gewelf daar bo-oor. In 1912 het ds. van der Merwe die gemeente oortuig dat 'n rostum nodig is en die nodige fondse was reeds daarvoor ingesamel. Jessie Chevers is opdrag gegee om die ontwerp te doen en dit is toe in Kanada laat maak. Dit is teen die muur geplaas en die deur uit die konsistorie moes toegemessel word en twee deure aan weerskante van die preekstoel is aangebring. Die trappe en vloer rondom die kansel het toe ook matte gekry. Die nuwe preekstoel is op 30 Maart 1913 ingewy deur ds. Geo Malan, die redakteur van Die Kerkbode.

Nagmaalbekers en doopvont

Van die kosbaarste kleinnode is die doopvont en Nagmaalbekers. Johannes Paulus Eksteen het in 1829 twee nagmaalbekers, wat deur die bekende Kaapse silwersmid Laurence Twentyman van ou Kaapse silwer gemaak is, geskenk.

Cornelia Eliana Serrurier, die eggenote van ds Berrange het bepaal dat uit haar boedel 'n silwer doopbak gemaak moet word as geskenk aan die gemeente. Die bak, gemaak deur die Kaapse silwersmid Willem Lotter, is op 11 April 1830 deur die kerkraad ontvang.

Kerkhof

Sedert 1834 dien die kerkterrein as kerkhof. Teen 1902 was die terrein heeltemal vol met grafte en is daar van die nuwe begraafplaas gebruik begin maak. In 1939 is begin om die terrein binne die ringmuur gelyk te maak en slegs 'n paar grafte en grafkelders het behoue gebly. Hiervan is die bekendstes die graf van mev. ds. Beck, AL van der Spuy van Olifantskop, AA Louw en familie, die Biccard grafkelder, en die Duminy grafkelder. Die kerkraad verkoop eers in 1908 sy ou lykswa en teen 1909 het die kerkraad 'n pad laat bou vanaf die kerk na die begraafplaas.

Kerksaal

In 1891 het die Kerkraad die ou skoolgebou in Gladstonestraat gekoop met die doel om dit vir gemeentelike doeleindes te gebruik, soos bv. vir die weeklikse bidure, Sondagaanddienste en basaars. Dit is toe bekend as die kerksaal van die gemeente. Nadat die kerkraad dit van 1946 aan andere verhuur het is dit in 1954 aan die Hebreeuse gemeente verkoop. Omdat die saal te klein geword het is ondersoek ingestel na die bou van 'n nuwe kerksaal. In 1951 is die nuwe kerksaal voltooi teen 'n koste van £21 000 en in Augustus in gebruik geneem. Dit het saamgeval met die gemeente se 125ste verjaarsdagviering.

Inwyding van die kerk

Die nuwe kerkgebou is in Junie 1826 voltooi en die inwyding het op Sondag, 6 Augustus 1826 plaasgevind. Die verslaggewer van The South African Chronicle het as volg verslag gedoen oor die geleentheid: "This beautiful little church, refreshing to the eye of the traveller, like an oasis in the desert, and of incalculable importance to the dwellers of the country, as a light shining in a dark place, has at length been opened for public worship. Nothing could exceed the beauty of the spectacle in the goodly crowds of anxious and greeting people who had assembled on the occasion. The building was overflowing at an early hour, and many persons could not even get standing room."

Die wydingsrede is deur die konsulent, ds. JC Berrange gelewer. Hierna is 'n wydingsgebed gedoen en daarna is kerkraadslede bevestig en die baba Johannes Jacobus Roeland gedoop. Mnr BJ le Roux van die Wagenmakersvallei het 'n verslag opgestel oor die dag en vertel van die buitengewone belangstelling deur die publiek, die musiekuitvoering van die Filharmoniese Musiekgeselskap van Kaapstad wat die gemeentesang begelei het. Hy meld ook dat die doop heel laaste plaasgevind het omdat die dominee nie die kanseltrappe kon op en afklim nie omdat hy seer bene gehad het.

190ste verjaarsdag

Op Sondag, 7 Augustus 2016 is die 190ste verjaarsdag van die gemeente gevier.