Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

30 September Ds André Agenbag Klassieke Diens

Lees preke

30 September 2018                                                                          Durbanville Gemeente: Klassieke Diens

Psalm 90                                                                                           Om oor jou dood en sterflikheid te bid

Inleidend: Die wêreld is in ‘n nimmereindigende middeljare-krisis

Soms word die bekende Middeljare Krisis waardeur mense gaan beskryf as die eerste werklike konfrontasie met jou eie sterflikheid – jou dood. Die dood is die groot gelykmaker. Mark Twain het gesê: “Die enigste goed wat absoluut seker is, is die dood en belasting.”

Maak nie saak hoe mooi, suksesvol, ryk, invloedryk, slim of geestelik jy is nie, dit alles gaan tot ‘n einde kom.

Dít laat mens dink. En hóé jy reageer, maak ‘n enorme verskil! Die Deense dominee, Soren Kierkegaard het geskryf, “‘n Mens kan nie waarlik begin leef voordat jy nie jou eie dood gekonfronteer het nie.” ‘n Gesonde konfrontasie met ou eie sterflikheid is die sleutel tot ‘n volronde lewe. ‘n Lewe wat blom. Nie die ontkenning van jou eie sterflikheid nie. Ook nie ‘n obsessie daarmee nie. ‘n Gesonde, gebalanseerde, realistiese in-die-oë-kyk van jou eie dood...

Maar vandag – die tye waarin ons leef – word gekenmerk deur ‘n Nimmereindigende Middeljare Krisis. Só ‘n middeljare krisis word gekenmerk deur die obsessie om ten alle koste jeugdig te wees tov ons voorkoms, verhoudings, seksualiteit ens. Sterflikheid word ten sterkste ontken. Oscar Wilde of George Bernard Shaw (niemand is presies seker watter een van die twee nie) het gesê, “Youth is wasted on the young.” Die Middeljare Krisis probeer om weer soos jongmens te wees.  Uiteindelik bring dit ons groei na volwassenheid in die gedrang. Ons wil eenvoudig net nie grootword nie. Die wonderlike juwele van volwassenheid bly ons ontglip, omdat ons nie wil ouer word nie, nie ons sterflikheid wil konfronteer en op ‘n gesonde manier daarmee wil vrede maak nie.

Plato het gesê filosofie is eintlik maar die studie van die dood. Baie van alles wat deur die eeue geskryf was, was om mense voor te berei vir die dood. “On dying a good death” is ‘n bekende tema in teologie en literatuur. Maar ons wêreld is op ‘n bepaalde manier doodsontkennend, en daarom lewensontkennend. Nie alleen is die wêreld in ‘n nimmereindigende middeljare krisis nie, maar populêre christenskap is toenemend in die greep van, wat ek noem, kougom-godsdiens. Dis lekker. Jy kou en kou. Maar dis ‘n onrustige gekou. Aanvanklik is dit lekker en geurig, maar gou verloor die kougom sy smaak en boonop bied dit geen voedingswaarde nie. Al die gekou kom tot niks!

Inleiding: Kougom-christenskap, of: Christianity Light

‘n Vriendin van my skryf uit Australië dat sy en haar man ‘n gemeente gesoek het vir hulle gesin, maar dat sy orals waar hulle gaan net “Christianity Light” kry – dit is nou hierdie Kougom-godsdiens wat immer gewild is, maar uiteindelik smaakloos en sonder voedingswaarde. Kougom-godsdiens wil vinnige en eenvoudige antwoorde op alle vrae hê. Dit wil absolute sekerhede hê! Alles moet eenvoudig wees nadat die Bybel op ‘n baie eenvoudige manier gelees word, meestal met ‘n ingesteldheid van verontwaardiging, “maar dit staan dan net so daar!” Dit is ‘n lees van die Bybel wat versies uit hulle kontekste haal en hulle dan net so op vandag van toepassing wil maak. Die probleem is natuurlik dat só ‘n ingesteldheid uiters selektief is. Ons slaan die versies wat vir ons ongemaklik is oor en ons steek was by die versies wat ons behoeftes en verwagtinge (dikwels die vanselfsprekende kulturele en indiwidualistiese waardes) bevestig.

Kougom-Christenskap wil ook alle leerstellings netjies, simmetries, eenvoudig en voorspelbaar uitgepak hê. Alles moet na alle kante toe sin maak, plek vir teenstrydighede, vrae en onsekerhede is daar nie. Nie alleen is die Bybel volgens hierdie ingesteldheid versie vir versie – selfs buite konteks – gelyk aan God se Woord nie – daar is ook net één korrekte vertolking van alles wat in die Bybel staan. Dit spreek seker vanself dat alle standpunte wat van Kougom-christene se standpunte verskil, nie alleen verkeerd is nie, maar soms sommer as uit die bose afgemaak word. Alles moet netjies inpas in my drukkersrakkie: Elke dingetjie in sy hokkie. Netjies. Alles op sy plek.

Nee! Die lewe werk nie so nie. Die lewe is morsig! Die gewone lewens van mense is propvol onsekerhede, vrae en teenstrydighede. Die lewe van geloof in God is ‘n lewe waarin ons voor God kom kniel in gebed te midde van al ons onopgeloste vrae, sonde en gebrokenheid. Ons moet nie eers klaar speel met sonde, onsekerhede en vrae vóórdat ons kwalifiseer om na God te gaan in gebed nie.

Psalms: Gebede wat lewe

Die Psalms is ‘n gebedeboek en in hierdie gebedeboek word die psalmskrywers se diepste oortuigings verweef in hulle gesprekke met God. Hier is geen sprake van kliniese nadenke oor leerstellings nie. Niks is netjies verpak in die drukkersrakkies van die psalmskrywers se geloofslewens nie.

Ons leef nie in laberatoriums nie. Ons leef nie in drukkersrakkies nie. Die gebede in die Psalmbundel is nie leerstellings wat sistematies uiteengesit is met ‘n absolute, nousluitende logika nie. Die logika van die wetenskap is in elk geval veel meer veerkragtig, dinamies en verbeeldingryk as die kliniese simmetrie waarna soveel christene in geloofsoortuigings smag en streef. Die beste dinge in die lewe kan nie verduidelik word nie; die tweede beste word misverstaan. “I feel closer to what language cannot reach” sê Rainer Maria Rilke.

Die Psalmbundel gee nie vir ons resepte vir geloof en gebede nie. Ons kan wel in Psalm 90 ‘n klompie bestanddele van egte gebed raaksien:

  • Eerlikheid en erns.
  • Gestrooptheid en worsteling.
  • Bo alles: Openheid.
  • Gebede met ‘n oop einde, want God is altyd groter as ons verstaan van God. Thomas Aquinas het geskryf. “Then alone do we know God truly, when we believe that God is far beyond all that we can possibly think of God.”
  • Die openheid om anders aan die ander kant van die gebed uit te kom as wat ons daar ingegaan het.

Die verhaal van Yosl Rokover

Robert Vosloo skryf in gister se rubriek, “Geestelike Waardes” in Die Burger van ‘n klein bottel wat in een van die ruïnes in die Warskou-ghetto gevind is tussen verskroeide klippe en menslike beendere. En in die bottel was ‘n dokument, geskryf in sy laaste ure, deur ‘n Jood met die naam van Yosl Rokover. Die geskrif het ‘n hele geskiedenis hierna. Maar dit beskryf die laaste woorde van ‘n ortodokse Jood wat aan ‘n oproer in die ghetto deelgeneem het. Sy kamerade is reeds doodgemaak en sy vrou en ses kinders het ook as gevolg van verskriklike omstandighede gesterf. Soos Job in die Bybel, wend hy hom tot God: “Here, ek wil duidelik en openhartig met U praat. Om vir U te sê dat ons gemartel, verguis, versmoor, lewendig verband en begrawe word. Dat ons die reg het om te weet: ‘Waar is die grense van u geduld?’”

Yosl Rokover skryf dan dat God maar diegene moet vergewe wat in hulle ellende en woede hul rug op God gedraai het. En tóg lees ons aan die einde van die verhaal dat Yosl die geloofsbelydenis van ‘n Joodse rabbi maak deur uit te roep, “God van Israel, U doen alles om my te laat ophou glo in U! Maar as U dink dat U daarin sal slaag om deur hierdie beproewinge my te laat weg draai van die regte pad, dan roep ek uit na U dat dit niks sal help nie... Ek sal altyd in U glo en U liefhê – selfs ten spyte van U.” As laaste woorde neem Yosl dan die Sjema, Israel se kernbelydenis op sy lippe, “Hoor, Israel, die Here is ons God...” (Deut 6:4). Met as byvoeging die woorde uit Psalm 31 “In U hande gee ek my gees oor.”

Die donkerte van God

Egte gebed, gebed wat lewe, trotseer ook die donkerte. TS Eliot het so mooi geskryf:

I said to my soul, be stil                                             Ek het vir my siel gesê, wees stil

and let the dark come upon you                               en laat die donker oor jou kom

which sal be the darkness of God.                             want dit sal die donkerte van God wees.

Hoe lyk so ‘n gebed wat lewe? Die gebed van iemand wat worstel te midde van die morsigheid van die lewe? En die werklikheid van die dood?

Die vorm van die gebed in Psalm 90

Dit is ‘n klaaglied: Gebed. Dit konteks is die tyd na die Ballingskap toe alles verwoes en verpletter was en die volk oor moes begin. Die volk het nodig gehad om te dink aan ‘n tyd VOOR dit alles wat op die oomblik gebeur. Daarom onhou hulle Moses en sy gebede. (Psalm 90 is die enigste Psalm wat so begin – as ‘n Psalm van Moses).

Psalm 90 kan in twee helftes verdeel word:

vv 1-12:           Stel Goddelike Permanensie teenoor menslike broosheid

vv 13-17:         Smeekgebed

Begin: (verse 1 en 2)

Vers 1: Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag. Die basis van hierdie gebed is ook die basis van die geloof: God is ‘n tuiste. Jurgen Moltmann het na God se teenwoordigheid in ons lewens verwys as die “Broad spaces of God.” God is die groot, breë en omvattende ruimtes waarin ons kan gedy en floreer.

In Psalm 90 sit die Psalmdigter die geloofsgoed van sy lewe sommer so langs mekaar. Hy probeer nie ‘n sisteem daarvan maak nie. Hy probeer nie om al die hoekige dele of teenstrydighede oplos nie. Maar die basis staan vas: God is vir ons ‘n tuiste, ‘n toevlug van geslag tot geslag.

Vers 2: Voordat die Psalmdigter sy gebed dompel in die gewone dinge van die lewe, oriënteer hy homself. Vind hy sy plek in die groot prentjie. En hy skets God vir ons as die Skepper: Voor die berge gebore was. Van ewigheid tot ewigheid is die Here God! Voordat die bidder die vrymoedigheid neem om al die teenstrydighede, vrae en onsekerhede van sy lewe te bid, erken hy dat hy klein is, en dat God altyd groter sal wees as sy begrip van en taal oor God.

Die mens is nietig en sondig: Verse 3-11

Die psalmdigter beklemtoon die sterflikheid en sondigheid van die mens se lewe vanaf verse 3-11. Hy vertel vir God hoe dit is om so kortstondig te lewe in vergelyking met die oudheid van die berge en die ewigheid van God; hoe dit is vir ‘n mens as jy voel dat jy onder God se toorn staan. Sonder om vinnige of eenvoudige antwoorde vir al die teenstrydighede en vrae te gee, bring hy al sy angs, vrae en vrese voor God in gebed. Gebed is óf eerlik en gestroop, óf dis leeg, oppervlakkig en smaakloos soos kougom...

Skarnier: Wat nodig is, is wysheid? (vers 12)

Hoe hanteer ons dit alles? Die gegewe werklikheid? Vers 12 is die skarnier van die gebed van Psalm 90.  Die bidder vra nou van God wysheid. Tot dusver het die bidder die gebedstafel as’t ware gedek met sy belewenis van die werklikheid in die volle felheid daarvan soos wat hy dit beleef het. Nou sê hy vir die Here: As dit dan is hoe dit alles is, help ons om ons dae só te gebruik dat ons wysheid bekom.

Wanneer ons die dood in die oë staar, kan ons só maklik fatalisties en sinies raak. Ons kan saam met die Prediker uitroep: Dis alles ‘n gejaag na wind. Alles kom tot niks! Hoekom nog probeer? Hoekom leef vir wat die liefde, vir die wat reg en goed is? Maar die bidder vra hier dat die Here ons sal help om met groot wysheid te leef. Om met geloofsonderskeiding te leef. Om die regte balans tussen realisme en hoopvolle geloofsvolwassenheid te vind. Om te leer hoe om te floreer te midde van die gebrokenheid, vrae en teenstrydighede van die lewe en die geloof.

Die geheim is GOD self (Die Grond van ons bestaan) (Verse 13-15)

Die bidder vra: Hoe lank nog, Here? (vers 13). En dan smeek hy: Ontferm U oor ons (vers 14) dat ons kan juig. Die bidder vra eintlik vir God om Gód te wees. Om getrou te wees aan God se eie, diepste wese: Ontferming. Meester Eckhard het so mooi geskryf: Die eerste uitbarsting van God is altyd ontferming. Dít is die bron van die gelowige se geloof te midde van die morsigheid van die lewe: Dat God vol ontferming is. Dat God barmhartig is. Nou is ons weer terug by vers 1 waar die bidder die basis van geloof biddend bely as God wat ons tuiste en toevlug is.

WAT GOD doen is wat saakmaak (vers 16). So ook GOD se goedheid (vers 17)

Die bidder beweeg al hoe nader aan hierdie wysheid waarna hy smag te midde van ‘n gebroke wêreld. Laat u werk duidelik word. Laat ons die goedheid van die Here belewe: Hou die werk van ons hande in stand (vers 17). Hier sien ons hoedat die bidder onder gebed begin verander. Hy bid met ‘n oop hart en ‘n oop gemoed; en terwyl hy bid, begin God om sy hart en sy insig te verander. Sy perspektief verskuif wég van die korstondigheid en sterflikheid van sy lewe na wie God is en dít waarmee God besig is. Dít is hoe ‘n mens jou dae gebruik dat jy wysheid bekom: Jy let op hoedat GOD sy werk en grootheid vir jou duidelik laat word. En dan is jy gereed om te werk vir die Here. Nou is jy gereed om nie oor te gee aan sinisme, omdat alles in elk geval tot niks kom nie. Maar om vir die Here te werk in die wete dat Hy die werk van jou hande in stand hou: Dat dit tóg saakmaak, al is dit alles so gou verby...

Slot: Kalmte

Kom ons sluit af met die gebed van Fransiskus van Assissi:

Here, gee ons die genade om met kalmte

die dinge te aanvaar wat nie verander kan word nie,

die moed om dié dinge te verander

wat verander behoort te word,

en die wysheid om te onderskei tussen die twee.

Om elke dag een dag op ‘n slag te leef,

om elke oomblik van oomblik tot oomblik te geniet

Om teenspoed te aanvaar as die weg tot vrede,

om, soos Jesus,

hierdie sondige wêreld te vat vir wat dit is,

nie soos ek dit graag sou wou hê nie.

Om te vertrou dat U alles sal regmaak,

as ek my oorgee aan U wil,

sodat ek redelik gelukkig kan wees in hierdie lewe

en vir ewig buitengewoon gelukkig saam met U in die volgende lewe.

 

 

 

 

 

 

 

Terug