Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

30 Julie 2017: Ds. André Agenbag

Lees preke

Menswaardigheid                                                                                                              

Johannes 1:14-18

Inleiding: Waarom is menswaardigheid belangrik?

Ek onthou hoedat ons gesin op ‘n keer, toe ek nog ‘n kind was, besluit het dat my suster nog te jonk was om die een of ander geleentheid by te woon. Sy was ongeveer vier jaar oud en het verontwaardig reageer: “Ek is ook ‘n mens!” Ons almal het al so gevoel nê? Dat ons menswaardigheid op ‘n manier misken word. Of ek is te jonk. Of ek is nie mooi of aanvaarbaar genoeg vir hierdie groep nie. Ek voel miskien ek is nie finansieël sterk genoeg nie. Daar word op my neergekyk. Uiteindelik is ons eie ervaring van ons menswaardigheid ‘n baie persoonlike ding. En hoe jonger jy is, hoe meer intens is dit.

Maar ons weet die kwessie van menswaardigheid is ook groter as dit. Menswaardigheid is groter as bloot my persoonlike ervaring. Ons weet dit kan groot implikasies hê: Politieke en ekonomiese implikasies. Tot watter mate daar reg en geregtigheid geskied. Ook in ons land het ons ‘n lang geskiedenis wat getuig van groot konflik en teenstrydighede tov die bewoners van hierdie land se ervaring van menswaardigheid.

Maar op ‘n tegniese punt het mense vir die eerste keer regtig oor menswaardigheid begin nadink na die Tweede Wêreldoorlog. In die lig van die uitwissing van die Jode, het mense begin nadink oor die vraag: Het elke mens ‘n basiese waardigheid wat nie van hulle weggevat kan word nie? Bo die hek van een van die konsentrasiekampe was daar ‘n leuse wat gelui het: “Aan elkeen wat hom toekom” met ander woorde, in die denke van daardie tydsgewrig, was ‘n konsentrasiekamp en ‘n gaskamer dít wat ‘n Jood toegekom het.

Kan ons só oor mense dink? Is daar mense wat weens hulle ras, kultuur, geloof, nasionaliteit, ekonomiese vermoë, sosiale status, liggaamlike werklikheid of watter kategorie ookal, só veragtelik is, so onwaardig is, so onmenslik is, dat hulle nie verdien om met dieselfde respek hanteer te word as ander mense nie?

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika praat reg van die begin oor menswaardigheid.

HOOFSTUK 1

GRONDLIGGENDE BEPALINGS

Republiek van Suid-Afrika

  1. Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes:

(a) Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte

en vryhede.

Daarna word menswaardigheid ‘n bietjie duideliker omskryf:

Menswaardigheid

  1. Elkeen het ingebore waardigheid en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word.

Maar wat het menswaardigheid met die Bybel te doen? Die woord kom tog nie in die Bybel voor nie. Ek dink ons almal aanvoel dat die idee van menswaardigheid eg Bybels is. En ek dink almal voel aan dat die Bybel en geloof vir ons ander, dalk dieper insig sal gee in die idee van menswaardigheid. Maar waar sal ons begin? As christene, nie as sekulêre landsbewoners nie. Waar begin ons nadink oor menswaardigheid as christene?

Menswaardigheid is ingebore

Die Grondwet sê: Elkeen het ingebore (mens) waardigheid en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word. Ek dink dis waar. Jou menswaardigheid is iets wat jy by jou geboorte ontvang het. Jy hoef dit nie te verdien nie. Dit kan ook nie van jou af weggeneem word nie.

Daarom is dit nie reg om te sê: “Jy moet vir hierdie of daardie persoon hulle menswaardigheid teruggee nie.” Want iemand se menswaardigheid kan in die eerste plek nooit weggeneem word nie. ‘n Mens kan eerder sê: “Jy moet hierdie of daardie persoon as menswaardig beskou en hom of haar menswaardig behandel.”

Die Grondwet is inderdaad reg as dit sê dat ons menswaardigheid ingebore is, maar vir ons as Christene, gaan die verwysing na die ingeborenheid van ons menswaardigheid natuurlik nie ver genoeg nie. Want die oomblik as ons die woord ingebore hoor, dan dink ons aan God. Ons dink aan die Skepper. Ons menswaardigheid is iets wat ons by ons geboorte ontvang, ontvang ons uit die hand van God. Want God is die Skepper. Ons menswaardigheid is ‘n geskenk van God. Dis iets wat niemand ooit van ons kan wegneem nie.

Ons kan hoogstens onmenswaardig behandel word, maar die skat van menswaardigheid kan nooit van ons weggeneem word nie. Omdat dit ‘n geskenk is wat ons van God ontvang het.

Menswaardigheid het betekenis omdat ons na die Beeld van God geskape is

Maar steeds het ons nog nie by die werklike juweel uitgekom nie. Die ware juweel van menswaardigheid lê nog dieper as die blote ingeborenheid daarvan. Onder die idee dat menswaardigheid ingebore is, lê die ware diamant: Ons is geskape na die beeld van God! Dís waar alles vandaan kom! Alle menswaardigheid. Ons diepste roeping as mense!

Dis die bron van die diepste roeping en menswaardigheid van alle mense. Ook mense wat in die oë van die samelewing slegte mense is. Ook mense wat God nie ken of wíl ken nie. ALLE mense is na die beeld van God geskape. Dis die kern van alle mense se menswaardigheid en die hart van alle mense se diepste roeping as mense. Elkeen van ons is gebore, nie om meer as ‘n mens te word nie, maar om meer van ‘n mens te wees. Die sleutel tot egte menswees en menswaardigheid is dat ons almal na God se beeld geskape is.

Ons lees in Genesis 1:26, 27, “Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.’ God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as die beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.’”

Alle mense is na die beeld van God geskep. En as beeld van God, sê Genesis, is die mens God se verteenwoordiger en moet die mens namens God oor die skepping heers. Daar lê die hart van jou diepste roeping as mens. Ons is namens God in hierdie wêreld.

Maar die mens as beeld van God is ‘n gekraakte beeld

Ons is die beeld van God. Maar hierdie beeld is nie ‘n volmaakte beeld nie. Hierdie spieël wat veronderstel is om God te reflekteer, is gekraak. Ons sien hierdie krake in ons eie lewens. Ons sien dit in die wêreld. Ons sien dit in ons politici. Orals waar ons kyk, sien ons die beelde van God, maar ons sien gekraakte beelde.

Die Duitse teoloog, Wolfhart Pannenberg het gesê: “Sonde is die universele mislukking om ons menslike bestemming te bereik.” Sonde is eintlik daar waar mense nie word wat hulle gemaak is om te wees nie. Emil Brunner het amper dieselfde gesê: Ons dink te oppervlakkig oor die sonde. Ons dink dikwels aan sonde as iets moreels, ‘n klompie moets en moenies: Jy mag nie rook nie; jy mag nie drink of dans nie, ens. Emil Brunner sê dat sonde volgens die Bybel verwys na die mens se diep behoefte aan verlossing, gesien in die lig van sy goddelike bestemming. Hierdie gekraakte beeld van God moet herstel word. Moet reggemaak word. Ons moet versoen word met ons goddelike bestemming.

Sonde is hierdie groot fout: Ons is nie wat ons gemaak is om te wees nie. Die beeld van God wat ons reflekteer in die wêreld is skeef. As mense na ons kyk, sien hulle nie die volheid, die diepte, die werklikheid van wie God regtig is nie.

Sonde is om jou lewe te sien as ‘n solo-vlug. As ons kyk na die versoeking van Adam en Eva in die tuin van Eden, sien ons dat die slang vir hulle sê: God is eintlik bang dat julle soos God sal word. Dít is waarom God nie wil hê julle van hierdie vrugte moet eet nie. Maar eet daarvan! Dan sal julle soos God wees!”

Dít is ons oersonde. Die moeder van alle sondes. Ons wil soos God wees. Ons wil elkeen alleen vlieg. Ons wil die middelpunt van ons bestaan wees. Ons wil absoluut vry wees in die sin van ‘n absolute onafhanklikheid. “Ek het niemand nodig nie. Ek is selfgenoegsaam, dankie! Ek het God nie nodig nie. Ek kan ‘n mens wees sónder God!”

Maar die oomblik as ons ophou om met ‘n goddelike oog na ander te kyk, kyk ons met menslike oë na hulle. Dan baseer ek my eie menswaardigheid op my eie ras, geslag, liggaamlike vermoëns ens. “Kyk hoe oulik is ek! Ek is ‘n ordentlike mens! Ek is in beheer van my eie lewe.”

Net daar vergeet ons hoe broos en afhanklik ons is van God en ander mense. Net daar verloor ons ons diepste bestemming as mense. Daar waar ons neersien op ander mense en dink dat hulle eienskappe van hulle minderwaardige mense maak. “Ek self is egter aanvaarbaar want ek deel nie in daardie eienskappe nie. Kyk, ek is nie gestremd nie! Ek is normaal. Kyk, ek is nie arm nie, ek lê nie dronk in die strate nie. Dít maak van my ‘n beter mens. Kyk, ek is nie in die tronk nie!” Of wat ookal die geval mag wees.

Altyd is ons besig om êrens op ‘n manier aan redes te dink waarom ons dit sou verdien om meer menswaardig te wees as ander mense. “Ek verwerf dit! My menswaardigheid is te wyte aan hoe goed, aanvaarbaar, finansieël sterk, gesond of uiterlik mooi en invloedryk ek is.” Die oomblik as ons só dink, verloor ons ons diepste roeping as ‘n mens. Want dit is nie waarvoor mens na die beeld van God geskape is nie.

Want wie God, is ten diepste om in verhoudings te tree. ‘n God wat homself kwesbaar gemaak het in Jesus Christus. Die beeld van God en beelde van God is juis gemaak om verenig met God te leef. Wanneer ‘n beeld van God ophou om daardie basiese ding te doen, naamlik om verenig met God te leef, en ten diepste van God afhanlik te wees, dan kraag daardie beeld. Dan verloor ons dit wat ons rêrig in hierdie wêreld moet doen en wees.

En die liefdesgebod sê dit eintlik só mooi. Ons is gemáák om God, naaste en self lief te hê. Dit is wat dit is om beeld van God te wees. Ons is gemáák vir verhoudings. Liefde vir God. Liefde vir die naaste. Liefde vir die wêreld.

Maar ons wil dit nie doen nie. Die vlees, die sonde in ons wil onafhanlik wees. Wil nie aan niemand rekenskap hoef te gee nie. En net daar verloor ons perspektief op menswaardigheid. Net daar begin ons om ‘n verskoning te vind om ander mense as minder menswaardig as ons te ag.

Die Johannesevangelie: In Jesus word God mens. Hiermee identifiseer God met ons en sluit God ons in.

In die Johannesevangelie lees ons dat God in Jesus mens geword het. God het mens geword sodat ons verlos en versoen kan word. Hierdie gekraakte beelde van God het herstelwerk nodig. Daar moet versoening plaasvind. En om dit te doen, sê die Bybel vir ons, stuur God sy Jesus na ons. Jesus is God wat mens geword het. In Hom identifiseer God met ons. Die God van hemel en aarde, wat die mens nie nodig het nie, identifiseer met ons! Athanasius, die ou kerkvader het geskryf: Hy het geword wat ons is. God word wat ons is.

Johannes 1:14 sê: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

‘n Mens sou ook kon sê dat God met ons simpatiseer. In Jesus kom neem God deel aan ons menslikheid, ons menslike toestand. God word ‘n mens. God weet waardeur ons gaan. God verstaan ons menswees. God kén ons omdat Hy in Christus deelneem aan ons menslike toetand.

Die Duitse mistikus, Meester Eckhardt het omtrent 800 jaar gelede gesê, “Die eerste uitbarsting van alles wat God doen is barmhartigheid of medelye.” Dit is wie God is. En ons is na daardie God se beeld geskape. En alleen in soverre as wat ons in gemeenskap en eenheid met daardie God lewe, is ons die herstelde beelde van God wat ons veronderstel is om te wees.

God is mét ons. Dit is die hart van die Bybelse boodskap. God is ín ons lewe. God is ín ons sterwe. In ons vreugde en ín ons verdriet. In ons goeie dae en ín ons slegte dae.

Die Duitste teoloog, Jurgen Moltmann het gesê, “God het ons sonde, lyding en ellende binnegetree. Binne in dit kom staan. In Christus. Namens ons. En toe het God gely.” Wanneer ons dink dat God totaal en volledig afwesig is, ontdek ons die geheimenis van God se onontvlugbare teenwoordigheid.

Nog ‘n kerkvader, Irenaes, het gesê “God het soos ons geword, sodat ons soos God kan word.” Dit is iets om oor na te dink. God identifiseer met ons, sodat ons ingesluit kan word. Deel kan word. Verenig kan word met God. God identifiseer met ons sodat ons ingesluit kan word.

Ons kry deel aan die Goddelike natuur

2 Petrus 1:3, 4:3: “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.”

Maar nou het die Bybel nog lank nie klaar gepraat oor die beeld van God nie. In die Nuwe Testament vind daar ontwikkeling plaas. Waar die beeld van God in die Ou Testament met verteenwoordiging en heerskappy te make het, het dit in die Nuwe Testament ontwikkel om ‘n versoenings- of verlossingsrol te vervul.

Ons lees in 2 Kor 4:3-6, “As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met ‘n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan.  Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is. Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis,’ het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.”

Ook 2 Kor 3:17, 18: “Die Here’ beteken hier ‘die Gees’, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat Gees is.”

Paulus sê Christus is die beeld van God. En Paulus sê: Die werk van die Heilige Gees is die voortgaande versoening, verlossing en transformasie van die gemeenskap van Christene sodat hulle al hoe meer die heerlike Beeld van Jesus Christus sal vertoon. Dit is wat dit is om ‘n christen te wees: Om meer méns te wees – geskape na die beeld van God. Om meer te word wat jy ís. Dit is die werk van die Heilige Gees. Om ons al hoe meer te vorm om soos Jesus s’n te lyk.

God stuur die Seun na hierdie wêreld. God wil hierdie wêreld neem na sy ware en diepste bestemming: Om deel te neem aan die natuur, die diepste karakter van God: Liefdesgemeenskap met God. Met mekaar. Met die wêreld.

God neem ons daartoe om alle mense te wil respekteer ongeag hulle geslag, hulle ras, hulle seksuele voorkeur. Om geen, maar geen uitsonderings te maak nie. Om geen mens as minderwaardig te ag op grond van enige kategorie wat ‘n mens ooit kan uitdink nie. Want dit is hoe God is. Dit is hoe God na ons kyk.

En as ons dit nie met mekaar doen nie, hoe kan ons dit van God verwag? As ek b.v neersien op ‘n ander mens omdat hy of sy gay of lesbies is, hoe kan ek verwag dat God uit genade na my gaan kyk? Ek kan nie. As ek neersien op ‘n ander persoon omdat hy b.v ‘n arm, dronklap is wat in die straat lê, en ek dink ek verdien om hier te staan en daardie persoon verdien om daar te lê omdat hy so sleg is – hoe kan ek dan die genade van die Here verwag? Want dit is dieselfde God wat op dieselfde liefdevolle manier na almal van ons kyk!

Menswaardigheid

Menswaardigheid is ingebore. Maar dit is dieper: Ons is na die beeld van God geskape. Dit is iets wat ons ontvang. Maar hierdie beeld is gekraak. Ons wil selfgenoegsaam en onafhanklik wees. Ons wil redes vind waarom ons dit op ‘n manier verdien om so oulik te wees.

Maar dis ‘n groot misverstand. Want selfs God is nie so nie. Wie God is, is ten diepste ‘n verhoudingsgod. God is ‘n God van liefde. God gee homself weg in liefde. God maak homself kwesbaar in Christus Jesus. Dit lê aan die hart van die natuur van God. En alleen as ons daarin deel en so leef, deel ons in die natuur van God, en leef ons die beeld van God uit.

Slot: Die Rabbi se geskenk (Uit die boek van Piet Naudé, Stories vir die Lewe)

Daar was eendag ‘n klooster waarin talle jong monnike gewoon en gewerk het. Die plek het altyd weerklink van hul musiek en dreunsang. Maar toe het die klooster moeilike tye begin beleef. Later was dit leeg en verlate. Niemand het meer die klooster besoek vir geestelike leiding en gebed nie. Net ‘n handjie vol van die ouer monnike het nog deur die leë gange geslof en met swaar harte tot God gebid.

Rondom die klooster was ‘n woud en op die randjie daarvan het ‘n rabbi ‘n hut gebou. Hy het van tyd tot tyd daar kom bly om te vas en te bid. Niemand het ooit met hom gepraat nie, maar wanneer hy daar was, het die woord onder die monnik rondgegaan: “Die rabbi wandel weer in die woud.” En, solank hy daar was, het die monnike sterker gevoel, so asof hulle deur sy gebede gedra word.

Eendag, na ‘n nagmaal wat net deur enkele persone bygewoon is, het die hoof van die klooster sy hart by die rabbi gaan uitstort. Toe die hoofmonnik nog aankom na die hut toe, het hy die rabbi al in die deur sien staan met sy arms uitgestrek in ‘n gebaar van verwelkoming. Dit was asof hy al ‘n lang tyd daar staan en wag het. Die twee het mekaar soos broers omhels. Toe gee al twee ‘n treetjie agteruit en staan mekaar met ‘n liefdevolle uitdrukking en aankyk, elkeen met ‘n glimlag wat byna te groot was vir hul gesigte.

Na ‘n rukkie wys die rabbi vir die hoofmonnik om in te kom. Nadat die hoofmonnik sy hart voor die rabbi uitgestort het, sê die rabbi vir hom: “Dit is vir my so hartseer om te sien met watter swaar harte jy en jou paar medebroers die Here dien. Ek dink jy het na my toe gekom in die hoop dat ek vir julle ‘n boodskap sal hê. Ek sal vir jou die enigste woord wat ek vir julle het, saamgee. Maar jy mag dit net een keer vir jou broers sê. Daarna mag julle nooit weer daaroor praat nie.”

Toe kyk die rabbi die monnik in die oë en sê sag: “Die Messias is tussen julle.” ‘n Rukkie was dit doodstil. Toe sê die rabbi: “Nou moet jy gaan.”

Die monnik het die hut verlaat en teruggegaan sonder ‘n woord en sonder om een keer terug te kyk.

Die volgende oggend het hy al die monnike in die klooster bymekaargeroep en hulle vertel dat hy ‘n boodskap ontvang het van die “rabbi wat in die woud wandel.” Hy mag dit net een keer vir hulle sê en dan mag hulle nooit weer daaroor praat nie. Toe kyk hy na elke broer in die vertrek en sê: ”Die rabbi sê een van ons is die Messias.”

“Wat bedoel jy?” wou hulle weet. “Is broer Johannes dalk die Messias? Of vader Matteus” Of broer Tomas? Is ék dalk die Messias?”

Langsaam het dié gedagte ‘n verandering by hulle bewerkstellig. Die monnike het mekaar met besondere ontsag behandel. Elkeen het in die ander monnike ‘n moontlike messias raakgesien; en elkeen was verwonder by die gedagte dat dit dalk hyself kan wees. Daar het ‘n besondere sagtheid, ‘n diepe deernis vir mekaar by hulle begin posvat wat moeilik is om te beskryf, maar wat maklik gesien kon word. Hulle het met mekaar saamgeleef soos mense wat uiteindelik gevind het waarna hulle soek. Die paar besoekers wat soms daar gekom het, is diep geraak deur die kwaliteit van die monnike se lewe en wedersydse liefde. En kort voor lank het mense weer van oraloor gekom om deur hulle gebede vertroos en gehelp te word.

Terug