Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

3 September 2017: Ds. André Agenbag

Lees preke

Teks: Lukas 10:25-37

Liewe Vriende, toe ek gehoor het dat ek vandag ‘n boodskap moet bring oor die tema van rassisme, het ek sommer lam geword, want ek is moeg van rassisme. En ek dink julle almal is moeg vir rassisme. Ons is as’t ware vuisvoos oor rassisme in Suid-Afrika. Omdat dit so ‘n politieke speelbal geword het. Omdat dit so na aan ons lyf is. Dis asof rassisme net glad nie uit ons klere kan kom nie.

En ek het gewonder: wat gaan ek vandag met julle deel oor die tema van rassisme en ek het begin om die Skrifgedeelte biddend te lees. En ek het vir die Here gevra: Here, asb. regtig help dat ons sinvol kan nadink oor die tema van rassisme. En ek het ervaar hoedat God met my werk deur die Bybel. En dat God tóg vir my ‘n boodskap van hoop en van vertroosting selfs gee oor hierdie moeilke onderwerp.

Want ‘n mens kan God natuurlik as kwaai en veroordelend sien, maar God is tog nie so nie. Hoe sou God vandag met ons gepraat het oor rassisme? Vertrou ons die Here? Kan ons regtig vir die Here daaroor vra? Vertrou ons die Woord van die Here? Oor al die goed het ek nagedink die week, want die Woord is tog inspirerend, die Woord is tog betroubaar.

Ons lees in Psalm 19:8: Die Woord van die Here is volmaak. Dit gee lewe. Gaan lees gerus die hele Psalm 19. Dis pragtig. En ek het net besef ek moet die Woord van die Here vertrou en probeer om myself fyn en diep daarop in te stel... om fyn te luister. En daarom wil ek julle vanoggend nooi om diep te luister na die Woord van die Here.

Ons almal ken die uitdrukking seker al teen dié tyd: “packing for Perth”. Dit is nou al bekend onder baie Suid-Afrikaners. “Packing for Perth” is mos nou maar ‘n uitdrukking wat vertel van die stroom Suid-Afrikaners wat sedert 1994 – eintlik vir ‘n klomp mense voor dit al – ‘n stroom emigrasie vanuit SA na die res van die wêreld, maar in die besonder na Australië en die stad Perth, verteenwoordig het. Baie van ons vriende en ons familie woon oorsee, in die res van die wëreld, maar ook in Perth. Ek lees dat daar ongeveer 19 000 Suid-Afrikaners in Perth alleen woon. “Packing for Perth” of PFP – soos party mense dit noem – is nie ‘n nuwe verskynsel nie.

Herman Gilliomee skryf in sy wonderlike boek, Die Afrikaners - ‘n biografie, oor die eerste “Packing for Perth”. Hy skryf dat Johannes Starrenburg, die landdros van die klein dorpie Stellenbosch, in Maart 1707, “vier jong mans gewaar het wat soos mal mense” (dis sy woorde) “in die straat afjaag. Hulle was dronk en rumoerig.” Dis nou 1707. In die Kompanjiesmeule het hulle met “veel gevloek die skale rondgegooi.” Starrenberg het hulle berispe en Hendrik Biebou (16 jaar oud) met sy rottang geslaan toe dié weier om sy bevele te gehoorsaam. Hierop het Biebou geskreeu in Nederlands: “Ik ben een Afrikaander! Al slaat de landdrost my dood of al setten hy my in de tronk, ik sal nog niet wil swygen.”

Hy sê: “Ek is ‘n Afrikaner, selfs al slaan die landdros my dood of al sit hy my in die tronk, sal ek en wil ek nie swyg nie.” Dit gebeur toe nou in 1707. Nou ja, hy’t sy lyfstraf gekry en sy naam, so sien ons sê Herman Gilliomee, is van die rol in Stellenbosch geskrap en daar is net ‘n woordjie bygeskryf: Weg. En blykbaar is hy toe nou verban na Batavië. Hy was maar 16 jaar oud, né. Nou daai tyd was jy ‘n man op 16.

Nou skryf Herman Gilliomee dat volgens een van die bronne van oorlewering, hy gesit is op ‘n skip en dié skip het gestrand net noord van Perth. En hy het waarskynlik, volgens dié oorlewering, die res van sy lewe onder die inboorlinge van Perth gesluit. So, “Packing for Perth” het al in 1707 plaasgevind.

Nou vra mense natuurlik, die van ons wat al so ‘n bietjie gelees het, weet: Ek is ‘n Afrikaner – Ik ben een Afrikaander, het ook sekere politieke konnotasies. En Herman Gilliomee skryf mooi daaroor. Hy sê: Dit is nie presies moontlik vir ons om vas te stel wat het hy bedoel met die woorde “Ek is ‘n Afrikaner” nie. Ons weet net dat dit ongekend was, omdat die woord Afrikaner gereserveer was in 1707 om te verwys na – en ek haal aan – “sekere slawe, vry swartes of Khoi-Khoi wat in die Kaap gebore is.”

Jy sal die woorde in die argiewe vind: Hottentot-Afrikaner en Jager-Afrikaner. Dit is waarvoor die woord gereserveer was in 1707 en hier kom ‘n jong man van Europese herkoms en hy identifiseer homself as ‘n Afrikaner en Gilliomee sê ons kan nie presies daaruit aflei wat dit sou beteken nie, want hulle het vasgestel dat hierdie Hendrik Biebou se pa was van Duitse herkoms, sy ma was ‘n Nederlander. Maar voordat hy met haar getroud was, het hy ‘n buite-egtelike verhouding met ‘n slavin gehad by wie hy ‘n kind gehad het, so Hendrik Biebou het ‘n ongeletterde pa en ‘n swart suster gehad. So, sy identiteit was ook nie ‘n eenvoudige aangeleentheid nie. Maar ten minste sê dit vir ons dat identiteit ter sprake is en ek dink tog vir ons almal is ons identiteit vir ons op die een of ander manier geweldig belangrik – hier aan die suidpunt van Afrika.

Die noue verweefdheid tussen ras en identiteit – ons almal is bekend daarmee. So die vraag is nou: wie is ek of jy? Wat is ons identiteit? Ons is tog seker meer as blote biologie. Ons almal voel dit aan, maar ons voel ook aan dat ons identiteit – wie ons is – gevorm word deur meer as ons biologie. Ook meer as die ideale selfs van die Bybel.

Ons almal weet daar is groot dryfkragte wat vir ons van kleins af vertel wie ons regtig is, wie ons behoort te wees. Met watter mense ons onsself eintlik behoort te vereenselwig. Hoe die eende van óns dam nou eintlik lyk. En hierdie verhale wat ons gevorm het, het natuurlik gevolge. En uiteindelik bepaal dit ons gedrag teenoor mekaar en nog verder in die pad af bepaal dit watter soort wette gemaak word.

Maar dikwels lê die verhale wat ons vorm - ons diepste identiteit vorm, vir ons vertel wie ons is – selfs nog dieper of ten minste op ‘n ander plek as die Bybel. Om die waarheid te sê: regoor die wêreld vind jy, dikwels in die geskiedenis hoedat die Bybel ingespan word om die een of ander soort voorkeure of afkeure te bevestig. So, die Bybel kan eintlik gebruik word in die proses van vir mense vertel wie hulle is of wat hulle ook behoort te wees. Met wie hulle hulleself behoort te vereenselwig, wie die mense in die binnekring is en wie die mense in die buitekring is. Of selfs wie die mense is wat gehaat behoort te word.

Ons ken dit. Die geskiedenis van die wêreld is deurspek van sulke verhale. Die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan wys vir ons hoe so ‘n verhaal kon lyk. Ons lees dat ‘n wetgeleerde na Jesus toe gaan en dat hy ‘n strikvraag aan hom stel. Maar Jesus was ‘n man met ‘n plan. Jesus was meesterlik in die manier waarop hy hierdie strikvraag beantwoord het. En as ons nou die verhaal so ‘n bietjie saam deurgaan vanoggend, wil ek julle aandag vestig op die manier waarop Jesus hierdie gesprek hanteer het – in detail.

Die gesprek gaan deur twee rondtes – daar is twee keer vrae wat gevra word. En elke een van hierdie twee rondtes, volg presies dieselfde patroon. En julle gaan sien: die wetgeleerde vra ‘n vraag aan Jesus, dan antwoord Jesus hom deur ‘n teenvraag te vra. Dan antwoord die skrifgeleerde hierdie teenvraag van Jesus, en dan antwoord Jesus die eerste vraag.

Kry julle daai prentjie? Die wetgeleerde vra ‘n vraag, Jesus vra ‘n teenvraag, die wetgeleerde antwoord die teenvraag en dan antwoord Jesus die eerste vraag. Hy doen dit twee keer om op ‘n manier hierdie wetgeleerde fyn en subtiel na die waarheid te neem. Uiteindelik die waarheid van sy eie lewe. ‘n Teoretiese of ‘n teologiese vraag is ‘n vraag waarmee alles begin, en dit eindig met Jesus wat daai man se lewe aanspreek en sê dit het eintlik alles te make met wie jy is en hoe jy leef.

So, kom ons kyk na die eerste rondte. Die wetgeleerde stel ‘n vraag aan Jesus. Hy vra: Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Nou help skrifverklaarders ons. Hulle sê hierdie is nie ‘n vraag uit nood gebore – iemand wat hierdie vraag vra omdat hy ‘n diepe behoefte aan die ewige lewe het – nie. Hierdie wetgeleerde verwag nie ‘n verrassende antwoord nie en hy het ook nie hoop op goeie nuus nie. Hy ken reeds die antwoord. Hy ken die antwoord op daai vraag: wat moet ek doen om die ewige lewe te verdien of te verkry? uit sy kop uit. Hy kan dit opsê en resiteer soos ‘n gediggie. Hy wil maar eintlik net kyk of Jesus weet hoe om aan hierdie strikvraag te ontkom.

Dan vra Jesus ‘n teenvraag. Hy antwoord nie die vraag nie. Die vraag: wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Hy vra ‘n teenvraag. En onthou hierdie man is ‘n wetgeleerde. Jesus begewe hom onmiddellik op die terrein van hierdie man se nering.

Jesus vra vir hom: Wat staan daar in die wet? Jy’s ‘n wetgeleerde. Wat staan daar in die wet? Jesus se antwoord was briljant. Dit kom in die vorm van ‘n teenvraag. En Jesus wil vir hierdie wetgeleerde vra: Jy is nou so slim. Jy ken die wet. Wat sê jý is die diepste bedoeling van die wet? Hy wil hierdie wetgeleerde self onder die heerskappy van die wet plaas. Hy wil hê dit moet verder gaan as bloot ‘n teoretiese gesprek. Hy wil hierdie wetgeleerde neem na waarvoor die wet in die éérste plek vir ons gegee is.

En dan antwoord die wetgeleerde die teenvraag. Hy sê: Jy moet die Here jou God liefhê en jy moet jou naaste liefhê. Hy antwoord korrek. Hy antwoord letterlik uit die daaglikse liturgie van die Shemah. Hy resiteer dit dadelik en korrek, want dis ‘n gebed wat daagliks gebid is onder die Jode. Hy ken die antwoord uit sy kop uit. Die liefdeswet is tereg die hart van die Joodse godsdiens. En die verwysing na “met jou hele hart moet jy die Here jou God liefhê” is ontsettend belangrik. Hier gaan dit om ons totale liefde. Dit gaan nie oor ‘n sporadiese bevlieging wat jy het, ‘n gevoel – iets soos kalwerliefde – nie.

Dit gaan oor ‘n totale liefde met jou totale menswees. Dis deel van jou leefwyse. Dit sê eintlik: ons benader alle mense deur die liefde van God. Ons ingesteldheid op die lewe... ons ingesteldheid op alle mense is om as’t ware in te kom na hulle toe... hulle te ontmoet vanuit die liefde van God.

En dan antwoord Jesus hom, maar hy antwoord eintlik sy eerste vraag. Sy eerste vraag was: wat moet ek doen om die Ewige Lewe te verkry? Nou is Jesus gereed om hom te antwoord. Hy sê: “Doen jy dít en jy sal die lewe verkry. Dis die antwoord. As jy die Here jou God liefhet, en jou naaste soos jouself, dan sal jy die Ewige Lewe verkry. Doen dit.”

So, jy het die versie perfek opgesê. Baie geluk. Maar as jy die lewe in sy volheid wil ervaar, dan moet jy dít gaan doen. Dan moet jy hierdie nuwe lewe wat in God beskikbaar is, vir jouself toeëien. Jy moet jouself volledig oorgee aan die liefde, tot ‘n lewe van onbeperkte, onvoorwaardelike liefde. Dís wat van jou verwag word as jy die Ewige Lewe wil hê.

As ‘n mens so ‘n bietjie meer in ons taal kan praat:  as jy ‘n vervulde en gelukkige lewe wil hê... om dit nóg eenvoudiger te stel: as jy gelukkig wil wees as mens, moet jy God liefhê met jou hele hart, siel en verstand en jou naaste soos jouself. Jesus sê: as jy dít doen, sal jy hier op aarde ‘n gelukkige mens wees.

Baie antwoorde, baie boeke, baie kursusse – hierdie is die hart van dit alles. As jy wil lewe, moet jy liefhê. Kort en kragtig. As jy wil lewe, moet jy liefhê.

Maar die wetgeleerde was nie tevrede nie. Daar is goed wat hom pla, daar is dinge wat hom krap en die gesprek gaan in ‘n tweede rondte in en weer vra die wetsgeleerde vir Jesus ‘n vraag. Hy vra: “Maar wie is my naaste?” Hierdie wetgeleerde weet wie God is. Hy dink hy weet wie is God, maar wie is sy naaste? Dis die vraag. Want hy weet nou hy moet sy naaste liefhê soos homself. Maar nou is dit belangrik, né, wie is hierdie naaste?

‘n Switserse teoloog, Karl Barth, skryf dat hierdie wetgeleerde nie weet dat ons alleen deur die genade lewe en die Ewige Lewe ontvang nie. Hy wíl nie deur die genade leef nie. Hy weet nie eers wat dit is nie. Hy lewe volgens iets heeltemal anders as die genade. Hy wil volgens sy eie bedoelings en dit wat vir hóm belangrik is, lewe. Sy eie vermoëns – dít is die kern. Hy wil uit dít uit leef. Ek weet wie ek is en ek weet wat my bedoelings is. Ek is ‘n goeie mens. Hy stel homself ook voor as ‘n regverdige mens.

So, volgens hierdie wetgeleerde se uitkyk op dinge moet ‘n mens self bepaal wat jy doen en wat jy nie doen nie. Niemand sal vir my kom vertel wat ek moet doen nie. Ek is die kaptein van my eie lewe. En daarom... omdat dit die geval is, omdat hy so glo, het hy ‘n lysie nodig. Hy moet weet aan wie hy hoeveel moet doen as wetgeleerde. Ons moet net tegnies wees, ons moet al die boksies kan afmerk.  So, ek weet ek moet nou my naaste liefhê, maar wie is my naaste?

Vertel vir my sodat ek net presies volgens die wet reg kan wees. Want wat die wetgeleerde eintlik hier doen, is... hy stel ‘n grens aan naasteliefde. Hy sê: daar is grense. Dis te veel gevra om net ‘n oop uitnodiging te hê om alle mense lief te hê soos myself. Daar is ‘n grens waarbuite God en naasteliefde nie verwag en gevra word nie. En ek wil weet wat daai grens is.

By watter grens hou my verpligtinge eintlik op, vra hy eintlik. My verpligting om lief te hê – waar is daardie grens? Almal kan tog nie kwalifiseer vir my liefde nie – vir my onvoorwaardelike en onselfsugtige liefde nie. Hoe groot moet die radius wees wat ek om my en myne... my huisgenote, my volksgenote, my geloofsgenote trek? Hoe groot is daardie sirkel? Want daai sirkel moet getrek word! Daar moet ‘n streep wees!

En dan vra Jesus weer ‘n vraag vir hom nadat hy hom die gelykenis vertel. Hy vertel hom die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan. Hy vertel die verhaal van die priester en die Leviet wat ver verby hierdie man wat kaal lê en bloei nadat hy aangerand en beroof is. Nie een van hulle mag naby hom kom nie want hy was onrein volgens hulle godsdiens. Hulle sou m.a.w. soos hulle in hulle koppe verstaan het, teen die hart van hulle godsdiens ingegaan het as hulle hom gehelp het. Want as jy naby aan iemand kom – jy weet nie of dit ‘n Jood is nie. Die feit dat hy kaal was beteken jy kon hom nie eien aan sy klere nie. Jy kon nie sien op ‘n afstand of dit ‘n rein of ‘n onrein persoon is nie.

En daarom is dit veiliger – gaan liewer ver verby. En dan lees ons hoedat die Barmhartige Samaritaan daar verby reis en hoe hy na die man toe gaan; hoe hy hom salf, hoe hy sy wonde skoon was, hoe hy hom na ‘n herberg neem, hoe hy betaal vir sy versorging, hoe hy sê: ek sal weer hier verbykom om te kom kyk hoe dit gaan. As daar nog uitgawes is, dan sal ek hierdie man regtig weer help en betaal vir wat ook al nodig is.

En dan vra Jesus vir die wetgeleerde: “Wie is die naaste van hierdie man?” Dis Jesus se teenvraag. Die man het gevra:”Wie is my naaste?” en Jesus vra:”Wie is die naaste van hierdie bloeiende, halfbewustelose man?” Sien julle wat het Jesus met die vraag gedoen? Die man vra: “Wie’s my naaste?” en Jesus vra:”Wie is hierdie man se naaste?”

Die liefde begin nie deur ‘n definisie te probeer kry van wie kwalifiseer vir die liefde of nie. Die liefde moet ontdek wat liefgehê behoort te word. So, die gelykenis word gebruik om ons te help om die regte soort vraag te vra. Die vraag: wie is my naaste? is ‘n verkeerde vraag en Jesus het hom daardeur nie laat mislei nie, daarom dat hy die teenvraag vra.

Die gelykenis help ons om ‘n ander soort vraag te vra, sodat die regte antwoord op hierdie vraag gegee kan word. En daarom sê Jesus: wie was hierdie man se naaste?

Die belangrikste vraag in hierdie situasie is nie wie jou naaste is nie. Die belangrikste vraag is nie wie is die wetgeleerde, die priester of die Leviet se naaste nie. Die vraag is: wie is die een wat ly, wat stukkend is, die een wat bloei, se naaste? Dit is die enigste vraag wat regtig gevra kan word. Die vraag vanuit die perspektief van die beroofde.

Dit gaan nie oor die begrensing van liefde nie. Dit gaan oor ‘n opdrag aan diegene wat moet liefhê. Daarom is die gelykenis ‘n gelykenis gerig aan die wetgeleerde, aan die priester, aan die Leviet: gaan maak jy ook so.

Die vraag is dus nie: wie moet ons liefhê of wie moet ons nie liefhê nie. Die vraag is: hoe is ons die naaste? Hoe is ek die naaste? Hoe is jy die naaste van ander mense? Anders gestel: hoe is ek en jy die een wat onvoorwaardelik liefhet? So, die vraag kom na ons toe... na jou toe: hoe kan jy die Ewige lewe verkry? Ja, jy moet lewe vanuit jou liefde met God tot jou naaste. Nog eenvoudiger gestel: hoe kan jy en ek gelukkig wees? Deur ‘n medemens te wees. Dis jou en my roeping. Wees ‘n mens... ‘n medemens vir ander.

Die vraag wat ons die heeltyd het – ook die vraag binne rassisme of wat ook al die geval mag wees, is die vraag van identiteit: wat of wie is jy in jou hart van harte ten diepste?

Die verhaal van die Barmhartige Samaritaan sê: hou op om die mense buite of binne die kring van jou sirkels – hoe jy dit ook al trek – te probeer definieer. Kyk na jouself en vra: is ek ‘n medemens of nie? Dit gaan nie om definisies of voorskrifte nie. Dit gaan daaroor dat ek myself as ander se naaste sien. Niemand ís jou naaste nie, maar hulle kan jou naaste word, as jy jouself as ‘n naaste gedra.

Hoe kyk ek na mense? Wat sien ek? Beroof ek nie myself van ‘n klomp vreugde en seëninge deur myself nie as ‘n medemens te sien nie? Maar myself verstaan asof die een of ander kategorie bepaal hoe ek na my medemens of mede-burgers in die land kyk. As ek begin om myself as ‘n medemens te verstaan, begin ek anders kyk na ander mense. Begin ek kyk met die oë van Christus se liefde.

Hierdie is ‘n perspektief wat so ongelooflik is, dat dit die wêreld kan verander. Dit kan jou lewe verander. Die ervaring wat jy het van vreugde, om mense regtig om jou raak te sien – want dis wat die Barmhartige Samaritaan gedoen het: daardie man wat daar gelê en bloei het was nie net vir hom ‘n tipe nie, hy was vir hom ‘n mens. Hy het daardie mens se menslikheid gesien en erken.

Dít is die goed wat van ons mense maak wat die Ewige lewe ervaar. Dit is ons diepste identiteit in Christus – dat ons God liefhet en dat ons ‘n medemens is.

Kom ons gaan uit, kom ons word medemense wat medemenslikheid betoon.

Amen.

Terug