Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

28 Oktober 2018 Ds. Rian Verster Klassieke Diens

Lees preke

Sondag 28.10.2018.

HERVORMINGSONDAG

Klassieke Diens:    Nagmaal

Teks: Hebr.  5: 1 – 10

1. Agtergrond om die Hebreërbrief beter te verstaan.

Die brief is geskryf aan ‘n gemeente wat ook lidmate uit die Hebreër of dan Joodse agtergrond gehad het.

Die skrywer verduidelik daarom die evangelie van Jesus Christus deur te wys op die rol van die ou bedeling, met ander woorde, die lang tradisie van God se betrokkenheid en liefde in die Ou Testamentiese tyd.

Hy doen dit sodat die Joodse lidmate in die Nuwe Testamentiese Gemeente mooi kan verstaan dat hulle ook nou deur dieselfde God begelei word, maar dat God in Christus nou opnuut by hulle, in hierdie wêreld is. Dit verduidelik die skrywer baie mooi in hfst. 1:1-4 – in Jesus Christus is die lewende God by ons teenwoordig! Vir ‘n Gemeente wat twyfel oor wat Jesus vir hulle beteken is dit belangrik.

Daarom ook die oproep in hfst. 2: 1 dat die Gemeente sal bly by wat hulle geleer het. Hierdie oproep loop soos ‘n refrain deur die hele brief. As jy jou geloof in Jesus opsê verloor jy alles!

2. Jesus ons Hoëpriester – tradisie uit die ou bedeling

Die skrywer van die brief het reeds in die vorige hfst, 4:14 vv na Jesus verwys as Hoëpriester. Dit is verrassend, maar ons weet reeds dat die skrywer die Hebreërs of Jode in die Gemeente respekteer en byhou in sy verduideliking van die evangelie van Jesus Christus.

Hy doen dit omdat die druk waaronder die Gemeente geleef het veroorsaak het dat dit vir hulle baie moeilik geword het om te bly glo dat Jesus enige verskil vir hulle kon maak.

Ons ken hierdie emosie!

In hfst 10:32-34 kry ons ‘n idee van wat hierdie mense moes deurmaak

Hulle het baie gely

Hulle is beledig, vervolg en bespot

Hulle het gely omdat hulle omgegee het vir ander wat ook gely het –

Omdat hulle meegevoel met Gevangenis gehad het en

Hulle goed is gesteel.

Klink dit bekend? Die wêreld het nie veel verander nie!

3. In die ou bedeling met die Tempeldiens  - miskien selfs nog voor die Tempeldiens met die Tabernakeldiens (Andrie du Toit – Hebreërs vir vandag) kon ‘n mens na die Priester en Hoëpriester toe gaan wat as Middelaar tussen jou en God kon intree. En die bevrydende hiervan was dat die Hoëpriester ‘n mens was en omdat hy ‘n mens was kon hy meegevoel hê met die behoeftes en probleme waarmee bidders na hom toe gekom het.

Hy het geweet, verstaan hoe dit is om in hierdie lewe staande te bly. Om in jou vasgelooptheid met iemand te kon praat wat verstaan wat jou behoeftes, probleme en sonde is.

De mees bevrydende was waarskynlik dat die Hoëpriester nie hoër, beter as ander was nie, hy moes ook by God intree en bid vir sy eie sonde.

Die Hebreërs sou nou kon redeneer – met so ‘n Hoëpriester kon ons ons vereenselwig. So ‘n Hoëpriester het ons gehelp, hy was een van ons, hy kon verstaan.

Maar wat kan ons van Jesus verwag?

Want die deurlopende tema van die Hebr-brief is dat die Gemeente gevra word om nie geloof in Jesus op te sê nie!

 

4. Nou sê die skrywer, as N.Testamentiese –kerk het ons ook ‘n Hoëpriester, Jesus die Seun van God.

Hy het ook ‘n mens geword soos ons, dit het die skrywer al in hfst 2 gesê. Daarom kan Hy ook medelye met ons swakhede hê. Hy is ook soos ons versoek, Hy verstaan presies waardeur ons gaan, maar anders as ons het Hy nie aan die versoekings toegegee nie. Hy het nie gesondig nie.

 Hy het die een volkome offer vir die sondes gebring deur Homself aan ‘n kruis te offer. Daarom kan ons met vrymoedigheid na God toe gaan. Let op hfst.10: 11-25 – aangrypend!!

Dit is die ontdekking waartoe die Hervormers ook gekom het – God het ons uit Sy genade van ‘n hooplose bestaan, doodsbestaan gered en daarom mag ons vrymoedig met God lewe!

5. Nou sou die Hebreërs kon redeneer – ja, maar enigiemand kon tog nie sommer goedsmoeds Hoëpriester word nie. Priesters en Hoëpriesters het uit die stam van Aaron gekom, die stam wat God vir die priesterskap afgesonder het. Daar was tog orde en dissipline in die verkiesing van die priesters. Hoe moet ons dan nou oor Jesus dink?

Die skrywer sê, dis reg, maar Jesus het nie die Hoëpriesterskap vir Homself toegeeien nie, God het dit vir Hom gegee en Ps. 2: 7 en 110: 4 word as bewys aangehaal.

En buitendien is God nie aan tradisie gebind om te doen wat Hy wil nie.  Onthou julle vir Melgisedek, die koning en priester van wie ons in Gen. 14 :17-20 lees? Hy was ook nie uit die stam van Aaron nie, hy was heeltemal onbekend en tog het hy ‘n belangrike rol in Israel se geskiedenis gespeel!

6. Dit is goed en wel om na die afkoms en egtheid van Jesus se Priesterskap te vra. Maar baie meer belangrik as dit is om te vra na die betekenis van wat Hy vir ons gedoen het!!

Hy was in Sy Priesterskap gehoorsaam aan God

Hy het volmaaktheid bereik – wat ons nie kan nie

En so vir ons die bron van ewige saligheid geword.

Die vraag is nou: wat beteken hierdie ewige saligheid? Beteken dit dat ons ons ewiglik in ons verlossing kan baai? Rustig agteroor, by wyse van spreke, wagtend op die Here se koms?

Of beteken hierdie ewige saligheid dalk dat ons die pynlike, harde werk van voortdurende reformasie ernstig sal neem. Dat ons doelbewus in elke nuwe uitdaging, in elke nuwe tyd nie die gemaklike weg sal volg nie, die weg wat so min as moontlik van ons vra, maar doelbewus, al is dit pynlik sal soek en vra na die liefde van Jesus in hierdie tyd of uitdaging waarvoor ons te staan kom.

7. Daarom is die skrywer nie klaar met die Gemeente as hy hulle gewys het op hulle verlossing nie, in 13: 1-6 bind hy hulle in ‘n nuwe leeftstyl in. Lees dit!

Vergelyk in die verband ook die teks waarmee ons vanoggend begin het, Ef. 5:6-20.

 

 

 

Terug