Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

26 April 2018 Ds. André Agenbag Klassieke Diens

Lees preke

Durbanville Gemeente                                                                                                       Klassieke Diens

Sondag, 26 Augustus 2018                                                                                                 Psalm 103

 Gebed is om te antwoord op die Here

Gebed is altyd die tweede woord. Dit is om te antwoord op die Here wat eerste met ons praat. Wat altyd die eerste aanSPRAAK op ons lewens maak. Psalm 103 is ‘n loflied. Dit wil ons leer om met lofliedere te antwoord op die Here. Uiteindelik wil dit ons leer om sélf wandelende, lewende lofliedere te wees. Mense wat met hulle lewens antwoord op die Here. Mense wie se lewens eintlik gebede van lof aan die Here is.

Maar hoe lyk so ‘n lewe wat beskryf kan word as ‘n loflied? Is so ‘n lewe volmaak en sonder foute? Is die loflied slegs dít waarop ek trots is? Die gedeeltes sonder foute en sonde? Nee! Psalm 103 begin én eindig met dieselfde woorde: Loof die Here, o my siel (Ou Vertaling). En tussen hierdie begin en einde vind is die lewe waaroor die Psalmdigter die Here wil loof. En as ons dit lees, dan sien ons dat dit die gewone lewe van ‘n gewone mens is. ‘n Mens wat dit kon regkry om ALLES in te sluit binne die raampie van, “Loof die Here, o my siel.”

Alles word ingesluit by die loflied

In die film, “The world according to Garp” word die seuntjie TS Garp sonder ‘n pa groot. Hy het by sy ma gehoor dat sy pa oorlede is, kort nadat Garp verwek is. Hy was blykbaar ‘n vlieënier in die lugmag. Garp smag daarna om sy pa te ontmoet maar moet later vrede maak daarmee dat sy pa oorlede is. Uiteindelik ontmoet hy die vrou van sy drome en trou met haar. Hulle het twee kinders en Garp ontdek dat hy gemaak is vir die gesinslewe. En dan gebeur dit dat sy vrou onttrou is aan hom en Garp se lewe en hulle huwelik word in ‘n krisis gedompel. Uiteindelik werk hulle op ‘n egte en diepsinnige manier daardeur en hulle huwelikslewe floreer. Garp word dan op ‘n dag deur ‘n fanatikus geskiet en erstig gewond. In die lugambulans (helikopter) praat die sterwende Garp en sy vrou met mekaar. Sy vrou, Hele sê vir hom, “We are taking you to the hospital in Boston. Everything will be fine.” Garp antwoord, “Helen, remember” Sy antwoord, “What my love?” Garp: “Everything Helen.” Helen: “Yes, my love.” Garp (sterwend): “I am flying, Helen.” Helen: “Yes, my love.”

Of ‘n mens se HELE lewe vorm die loflied; of NIKS aan jou lewe is ‘n loflied nie. Om as ‘n loflied te leef is om jou hele lewe na God te bring, opreg en eerlik, sodat God dit kan genees, herstel, jou sonde kan vergeef en jou kan heelmaak.

Maar hoe kan my lewe so ‘n loflied wees? Waar begin ek?

Om die Here te loof (barrak) is om te kniel

Daar is twee woorde wat in die Afrikaanse vertaling van die psalms gebruik: Loof en Prys. In Ps 103 word die woordjie “loof” herhaaldelik gebruik. In Hebreeus is dit barrak. Hierdie woordjie beteken ook “om te kniel.” Om jouself voor God in afhanklikheid en eerbied te stel. Dit is om te erken dat God die Bron van die lewe is. En dat ALLE lewe van God af kom (Ps 36:10).

Dít is waar ‘n lewe begin wat ‘n loflied wil wees: Deur te kniel in afhanklikheid voor God wat die Bron van die lewe is.

Onmiddelik nadat die Psalmskrywer  begin, maak hy dit duidelik hy met sy hele siel, met ALLES in hom die Here wil loof. Dit beteken dat ‘n lewe wat ‘n loflied wil wees, innig, eerlik en opreg op God gerig moet wees. Hier is nie plek vir pretensies nie.

En dan gee die Psalmskrywer ‘n geheim: Moenie enige van die Here se weldade vergeet nie. Ons moet ONTHOU wat die Here alles vir ons doen. Ons moet die goeie onthou. En ons moet, soos TS Garp se Helen, ook die slegte dinge onthou wat deur die Here se liefde, genade en vergifnis verander is in goeie dinge. Die Psalmskrywer noem die goeie dinge wat hy onthou so in ‘n ry op:

Sonde word vergewe (vers 3)

Siekte word genees (vers 3)

Lewens word gered (vers 4)

Liefde en ontferming word as goddelike eienskappe aan ons oorgedra (vers 4)

Die gawe om die goeie te kan geniet (vers 5)

Jeugdige krag, soos dié van ‘n arend (vers 5).

Om lofliedere te wees, vra van ons om te ONTHOU. Om raak te sien wat die Here vir ons doen. En as ons op ons knieë is, sien ons alles van naby. Sien ons hierdie dinge beter raak.

Die innerlike reis

Die digter, Rainer Maria Rilke het gesê, “Die enigste reis is die innerlike reis.” Om lewende lofliedere te raak wat met egte, geïntegreerde lewens antwoord op die Here, beteken om op reis te gaan. ‘n Innerlike reis. ‘n Reis wat van binne af getransformeer en nuut gemaak word. En dit alles begin by God, die Bron van die Lewe. In Ps 103 word God by uitnemendheid geskets as vol barmhartigheid. Barmhartigheid kan ook beskryf word as medelye, erbarming, deelneming, deernis en empatie. In die Nuwe Testament hoor ons dikwels hoedat die deernis (Compassion) van Jesus uitgebeeld word met die woorde, “En Jesus het hom/haar innig jammer gekry.” Dít is die Bron van die Lewe: God, die Een wat ALTYD vol deernis, liefde en genade is. Wanneer ons op ons knieë voor Hom staan om Hom te loof, VERANDER sy deernis ons. Verander dit ons in heel, vry, toegewyde mense: Lofliedere.

“Hoe seker swaartekrag se wet” – ‘n Gedig deur Rainer Maria Rilke

Hoe séker vat swaartekrag se wet-

sterk soos die strome van die oseaan –

alles vas – selfs die sterkste ding –

en trek dit na die hart van die wêreld toe.

Elke dingetjie –

elke klippie, bloeisel, kind –

word op die regte plek gehou.

Dis net ons wat in ons arrogansie

wegdruk van waaraan ons behoort

op soek na ‘n soort leë vryheid.

Indien ons sou oorgee

aan die aarde se wysheid

sou ons opstaan, gewortel soos bome.

Maar ons verstrik onsself

in ons eie knope

en worstel, eensaam en verward.

Daarom begin ons om soos kinders

weer te leer van dingetjies

want hulle (hierdie dingetjies) is in God se hart;

hulle het Hom nooit verlaat nie.

Dít is die dingetjies wat ons kan leer:

om te val

om ons swaarte te vertrou.

Selfs ‘n voëltjie moet dit doen

voor sy kan vlieg.

Om te loflied

Om ‘n loflied te wees, is altyd om met jou lewe te antwoord op God.

Dit beteken jy moet laat los.

Jy moet jou swaarte vertrou en val.

Tot op jou knieë.

Voor die lewende God.

Waar jy jou diepste en egte self is.

Waar jy onthou:

Alles.

Alles wat die Here vír jou en ín jou gedoen het.

Ook ín en vír die wêreld.

Dan bid jy nie maar net nie.

Dan ís jy die gebed: ‘n Loflied tot eer van die Here.

 

 

Terug