Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

25 Mei 2017: Ds. André Agenbag

Lees preke

25 Mei Hemelvaartsdiens         

Handelinge 1:1-11, Eksodus 16:21-30

Jesus het ‘n merkwaardige lewe gevul met liefde gelewe. Hy het gely, Hy is gekruisig, Hy is begrawe, Hy het opgestaan uit die dood en Hy het opgevaar na die hemel. Hy sit aan die regterhand van God en dit is wat ons vanaand hier vier wanneer ons hierso so saam is. Baie Welkom.

Ek moet sê dat dit vir my wonderlik is om weer ‘n kerkklok te hoor lui. Ek is nou al ‘n stukkie meer as 20 jaar in die bediening en orals waar ek nog in gemeentes was, was dit verbied om die kerkklok te lui. Die omringende gemeenskappe het beswaar gemaak teen kerkklokke want hulle reken dit druis in teen hulle menseregte. So dit is wonderlik om ‘n kerklok te hoor!

En dit is natuurlik nie net ‘n tradisie nie. Dis staan vir iets. Dit roep die gemeenskap uit. Dis ‘n getuienis op sigself. Om die gemeenskap te roep om saam met ons te bely vanaand in hierdie erediens. Dat Jesus Christus die Here is. Hy het opgevaar na die Hemel. Hy sit aan die regterhand van die Vader.

Ek het gesê dat die Hemelvaart van Jesus in ‘n sekere sin die heel belangrikste datum / dag in die kerklike jaar is. As ons luister na die Apostoliese Geloofsbelydenis, hoor ons dat daar oor elke deel van die belydenis in die verlede tyd gepraat word. Ons hoor en ons bely dat Jesus ontvang is van die Heilige Gees. Hy is gebore uit die maagd Maria. Hy het gely onder Pontius Pilatus. Hy is gekruisig. Hy het gesterf en hy is begrawe en hy het ter helle neergedaal. Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dode en Hy het opgevaar na die Hemel. Maar dan in die teenwoordige tyd: en Hy sit aan die regterhand van God die Vader. Die enigste artikeltjie wat met Jesus verband hou wat in die teenwoordige tyd is. Hy sit nou aan die regterhand van die Vader. Hy regeer nou.

Natuurlik sal ‘n kind vra, “Nou waar is die hemel?” Ons almal het as kinders gedink dit moet op wees, op ‘n manier moet dit daar bo wees. Maar nie een van die ruimtereisigers het het nog teruggekom en gesê hulle het die hemel daarbo in die uitspansel of iewers in die atmosfeer gesien nie. Jesus se hemelvaart wil vir ons sê: Jesus het na God toe gegaan.

Jesus is by God. Jesus neem ten volle deel aan die lewe van God. Dit kan net so wel hier om ons wees. Jesus regeer, dis wat ons vandag bely. Maar as ons om ons kyk, dan kan ons onsself afvra: “Lyk hierdie wêreld soos ‘n wêreld waaroor God regeer?” Baie beslis nie. Kyk maar net na wat in die wêreld aan die gang is. Vroeër die week was daar ‘n selfmoord bomaanval in Manchester wat ‘n klomp mense uitgewis het. Ons weet wat die geskiedenis van ons land is en hoe dat ons almal baie bekommerd is oor korrupsie en ongeregtigheid in ons eie land.

Toe ek vanoggend hiervandaan terug ry na my huis na afloop van die nagmaalsgeleentheid wat ons elke Donderdagoggend hou, besluit ek dat ek wil sien hoe my wêreld lyk, die wêreld waarbinne ek vandag Hemelvaart vier. Ek ry terug Aurora toe. Toe ek hier uitry, sien ek ‘n pragtige mooi Mercedes wat by my verby ry. Dis die eerste ding wat ek raaksien. Skaars 30 tree verder, half nege in die oggend, draf ‘n dame om fiks te word en ek neem aan dis iemand wat nie nodig het om te werk nie want nie almal kan op ‘n Donderdag half nege die oggend die luukse hê om vir fiksheid te gaan draf nie. Maar net 30 meter verder, toe ek om die sirkel by die Kinderhuis ry, sien ek die klomp asblikke wat daar staan soos wat dit maar moet. En hier hang ‘n dromkrapper letterlik halflyf in ‘n drom en ek dink, “Dis nou deel van die werklikheid!” Net ‘n paar treë terug het ek iemand gesien draf, en het ek ‘n luukse voertuig gesien... en nog vyftig meter verder iemand wat uit die mis inkom nadat hy deur ‘n taxi, afgelaai is. Ek weet nie hoe vroeg of hoe laat hy moes opstaan om dit te doen nie. Hy dra so ‘n verslete sakkie saam met hom; sy kos vir die dag is seker daarin. Nog so 50 meter verder stap ‘n afgetrede dame, seker oppad na haar aftree-oord. Die dame is vol lewe, sy stap flink, wil haarself fiks hou. Dis alles deel van die eerste 500 meter wat jy ry nadat jy die kerkgebou verlaat het. Dís wat ek alles raakgesien het die oggend van Hemelvaart.

As ons dan nou vanaand Hemelvaart vier, dan sê ons dat Jesus in en oor hierdie wêreld regeer. Op ‘n manier is dit vir ons nodig om vanaand ‘n oomblik stil te word en te vra wat beteken dit dat Jesus regeer in hierdie wêreld. Paulus sê in Kol 3, “Strewe na die dinge daar bo by Christus is.” M.a.w ten spyte van die werklikheid, ten spyte van gebrokenheid, ten spyte van my en jou sonde en die dinge wat verkeerd loop, moet ons strewe na die dinge wat daar bo is.

Vers 2.  “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie die dinge op aarde nie.” Hy maak seker dat ons verstaan wat hy bedoel. Hy herhaal homself en verduidelik hoekom hy dit sê. ‘n Mens kan nou maklik dink hierdie persoon soek ‘n plek om na toe te ontvlug. Die wêreld is te gebroke en te stukkend. Kom ons ontvlug en dink aan die nuwe Jerusalem. Maar dis glad nie wat Paulus in gedagte het nie. Hy sê: Rig julle gedagtes op die dinge daarbo want julle het gesterwe en julle lewe hier op aarde is saam met Christus verborge in God. Met ander woorde: Om te lewe te lewe hier op aarde vir die kinders van God, beteken ‘n ou lewe het gesterf.

Hierdie wêreld beteken die ou lewe het verby gegaan, die ou lewe is verby. Ons het gesterwe, die ou lewe is verby. Die lewe wat ons nou lewe, is verborge in God. Ons lewe is letterlik weggesteek in God, verberg in God. Beteken Hemelvaart dat ons wegkruip in die Here, dat ons nie die harde dinge kan raaksien nie? Dat ons wil wegkom uit ‘n wêreld wat ons eintlik bang maak en bedreig? Paulus wil eintlik sê, “Nee dis nie wat Hemelvaart is nie. Dis nie ontvlugting nie. Daar is ‘n ander manier van kyk. Daar’s ‘n ander Heerser as die heersers oor die wêreld, die laaste sê behoort nie aan die wêreld en sy korrupte politieke leiers nie, die laaste sê behoort aan Jesus wat regeer. Die ou lewe is verby, dit is nou verborge in Christus. Ons lewens behoort aan God, God verberg ons, ons lewens is opgeneem as te ware in die lewe van God.”

Maar ken God ons? Verstaan God ons? Is dit reg om te voel dat die Here my verstaan? Dat Hy my regtig ken? Dis ‘n moeilike vraag, want selfs as jy die makliker weergawe van hierdie vraag vra, kom jy agter dis nie so eenvouding nie: Luister ons as mense na mekaar? Dink net ‘n bietjie hoeveel mense ons paaie kruis wat net oor hulle self praat! Hoeveel keer beland jy nie in ‘n gesprek waarin jy omtrent nie ‘n woord in kry nie? Die persoon met wie jy praat is heeltyd besig om oor haar of homself te gesels, so asof jy nie saak maak nie.

Steur ons onsself aan gewone mense of steur ons onsself net aan belangrike mense? Sielkundiges sê ons lewe in ‘n tyd wat gekenmerk word deur mense wat narsisties is. Een van die eienskappe van narsistiese mense is dat hulle verskriklik lief is vir hulself; dat hulle dink dat ander mense benede hulle is want, “Dis net indrukwekkende en hoogs intelligente mense wat my sal verstaan.” Narsisme is ‘n algemene verskynsel in vandag se wêreld.

Ek dink aan ‘n fondsinsamelingsgeleendheid so ‘n jaar of twee gelede. Ek wil nie te spesifiek raak nie, maar die persoon wat die geleentheid hanteer het is ‘n baie bekende publieke figuur. Iemand wat baie bewus is van sy status en sy belangrikheid. Iemand gaan toe en stel my aan hom voor en sommer van die eerste oomblik af het ek besef hy stel nie in die minste in my belang nie. Hy het my hand geskud en dadelik oor my skouer gekyk of daar nie iemand belangriker is wat besig is om by die vertrek in te kom nie. Ek het baie akuut gevoel dat dit vir hom ‘n hoogs vergeetbare ontmoeting was en dat ek glad nie ‘n indruk op hom gemaak het nie. Wanneer ons met mekaar te doen kry, is ons bereid om toe te gee? Wanneer ons interaksie met mekaar het, is ons bereid om beïnvloed te word deur ander mense, is ons bereid om aangeraak en verander te word deur ander mense -  selfs dié wie ons dink benede ons is?

Hoe is God dan as mense so is, as mense dit so moeilik vind om na mekaar te luister? As dit so moeilik is vir mense om diegene wat hulle dink minder belangrik as hulle is, regtig ernstig op te neem. As mense dit so moeilik vind om regtig toe te gee aan ander mense, en dit so moeilik vind om deur hulle beïnvloed, beweeg en verander te word - hoekom sou God dan so ‘n persoon wees? Sal God luister, sal God hom steur aan ons? Neem God ons as mense - vir my en vir jou - ernstig op en is God bereid om toe te gee? Is God bereid om deur jou beïnvloed te word? Ons almal word groot met die idee dat ‘n mens na God moet luister. Ons lewe is eintlik ‘n fyn instelling op die ritmes van die hardklop van God, maar luister God na ons? Voel jy asof God na jou luister? Asof God genoeg vir jou omgee om ernstig na jou te luister? Die Bybel se op honderde maniere: Ja, ja, ja!

Een van die bekendste skrifgedeeltes is die Christus Lied in Filippense 2, waar Paulus sê: “Hy wat in die gestalte van God was het sy bestaan op godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan hy hom moes vasklem nie,” Daarmee het hy bedoel dat Jesus nie gekroek het toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het nie. Al was hy die Seun van God, volledig God en volledig mens, was dit moontlik ‘n versoeking dat hy kon kies om die pyn en lyding ‘n bietjie makliker te maak deur aan sy goddelikheid vas te hou, maar hy het dit prys gegee. Hy het homself volledig menslik ingedompel in die menslike kondisie soos jy en ek. Dis die tipe God wat ons leer ken deur Jesus Christus. Hy gee Homself vir ons en Hy gee al sy Goddelike voorregte wat hom in staat sou stel om lyding en swaarkry vry te spring vrywillig weg. Dis die tipe God wat ons aanbid, sê die Bybel. God neem in Christus die gestalte van ‘n mens aan.

Ons belydenis van die Hemelvaart is ‘n belydenis in die teenwoordige tyd: Jesus sit nou aan die regterhand van God. Maar Hy sit aan die regterhand van God as die opgestaande Jesus. Die Jesus wat opgevaar het na die Hemel. Hoe lyk die opstandingsliggaam van Jesus? Dit is ‘n baie interresante gesprek. Ek dink dis belangrik dat ons daaroor nadink.  Dat ons verstaan wie hierdie Jesus is wat nou sit aan die regterhand van die Vader sit. Want die Bybel sê die Jesus wat opgestaan het uit die dood, het steeds die merktekens van die kruis gedra. Mense kon aan hom vat. Hulle hande in sy wonde druk, hulle kon sien wat hy eet, hulle het saam met hom etes geniet. Maar aan die anderkant het Jesus ook verskyn en verdwyn. Hy was in ‘n bo-vertrek saam met die dissipels, die vertrek was gesluit. Die een oomblik was Hy nog daar, en die volgende oomblik was Hy nie meer daar nie. ‘n Totale geheimenis. Die Bybel probeer hier vir ons sê: In die opstanding van Jesus het ons met iets veel groters te make as wat ons ooit sal kan verstaan. Dis belangrik dat die Bybel vir ons sê dat hierdie Jesus wat opgestaan het, hierdie Jesus wat met sy verheerlikte liggaam verskyn het en opgevaar het na die Hemel en steeds die merktekens van die kruis gehad het, steeds liggaamlike eienskappe vertoon. Hoekom is dit belangrik?

Omdat dit vir ons sê dat die Jesus wat aan die regterhand van die Vader sit op ‘n baie besliste manier mens is, al is hy ten volle God. En dat Jesus iets van ons menswees na die troon geneem het en dat God in ‘n sekere sin toegelaat het dat ons as mense hom beweeg en beïnvloed en vir altyd op ‘n manier anders maak of ten minste nog duideliker in ons oë maak wie hy regtig nog altyd was. Jesus die mens, die opgestaande mens sit aan die regterhand van die Vader. Hy regeer. Hy dra ons menslike behoefdes en begeertes en onsekerhede.

Wat is dit wat Jesus alles doen aan die regterhand van die Vader?  Calvyn help ons baie wanneer hy sê: As ons wil verstaan wie Jesus is, dan moet ons nadink oor die Bybel se perspektief oor drie groot rolle wat Jesus vervul het. Ons almal het daarmee groot geword en ek dink dit help ons vandag nog steeds.  Jesus as priester, profeet en koning en elkeen van daardie rolle wat Jesus vertolk, spreek ‘n diep behoefte by ons aan.

Ons eerste nood is die nood dat ons nie weet nie. Ons het nie raad nie. Ons het nie raad met onsself nie, ons het nie raad met ons toekoms of met ons kinders of kleinkinders nie. Ons het nie raad met ons verhoudings nie. Ons word mislei want ons het ‘n behoefte aan kennis, aan leiding, insig en helderheid. Ons het behoefte aan ‘n profeet en ‘n opgestane Jesus. Die Jesus wat hemel toe gevaar het is daardie profeet. Die profeet wat ons deur sy woord en deur sy Gees lei. Kennis gee, lei in die waarheid.

‘n Tweede nood is die nood dat ons alleen is. Wie voel nie dikwels in ‘n groot geselskap alleen en eensaam nie? Afgesny van ander, van vriende en hul naastes? Dat ons in ‘n wêreld leef wat vreeslik baie van ons verwag. Veral omdat ons onafhanklik moet lyk, in beheer. Terwyl ons so dikwels besef dat ons so kwesbaar en weerloos is en soveel minder in beheer van ons lewens as wat ons dalk sal wou hê ander mense moet weet. Ons het pynlike ervarings, pynlike herinnerings en skuld. Ons almal het ‘n diep behoefte aan die heling van verhoudings, van ons harte. Ons het die behoefte aan versoening met ander en onsself. Behoefte aan genesing, nuwe lewens moontlikhede. ‘n Behoefte aan iemand wat omgee, wat daar is, wat ons bystaan. Die behoefte aan ‘n priester, Jesus is daardie priester. Die Een wat versoening bring, die Een wat ons eensaamheid ophef met mense wat ons omring. Die gemeenskap van die geloof, mense wat regtig vir ons omgee.

Ons eerste nood is dat ons nie weet nie, maar Jesus die profeet lei ons deur sy Gees, deur sy woord en die waarheid. Die tweede behoefte wat ons ervaar is dat ons alleen en eensaam is. Dat ons die behoefte het om te versoen te word met mekaar en met die mense om ons. Jesus die priester wat aan die regterhand van die Vader sit, doen dit vir ons. Jesus bring ons in versoening met mekaar.

’n Derde gebrokenheid wat ons het is die ervaring van magteloosheid. Uitgelewer aan die magte en kragte en invloede wat in ons lewens beheer uitoefen. Wat skynbaar met ons kan maak wat hulle wil. Soms is hierdie magte persoontlike magte. Mense wat fisiek geweld teenoor ons uitoefen. Mense wat deur ons ervaar word as liefdeloos teenoor ons. Onbarmhartig. Maar soms is hierdie magte wat ons lewens beheer vir ons onpersoonlike magte. Dink aan siekte. Almal is êrens op ‘n punt siek. Die magte van die dood. Soms is dit magte binne onsself wat binne ons woed. Ons eie begeertes, ons eie versoekings, sonde en verslawings. Ons vrees hierdie magte. Ons het ‘n behoefte aan bystand, aan hulp aan krag en ondersteuning, redding, iemand wat vir ons moed kan gee. ‘n Koning, en Jesus die koning is presies dit.

Jesus neem ons menswees na die Vader toe want Jesus is mens wat opgestaan het uit die dood. Ons sal nooit weer kan sê God verstaan ons nie. Hy verstaan elkeen van ons. Daardie selfde God wat ons verstaan heers oor die heelal. Ek wil afsluit met die pragtige woorde van Wilhelm Jordaan in sy “Blyde nuus van geloof.” Hy sê: “Ek glo aan hierdie Jesus wat opgevaar het na die Vader en van daar die sagte oordeel bring omdat Hy nader aan my is as wat ek aan myself is. My kern ken verby die vel tot in die chemie van die siel, wat weet hoe diep my blindheid is en my vashou styf teen die braille van sy lyf.” AMEN

Terug