Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

25 Februarie 2018 Ds. Rian Verster

Lees preke

Sondag 25.2.2018

Klassieke Diens

Teks.  Rom.4:13-25

1. Die teks handel oor die verhouding tussen gehoorsaamheid aan die Wet (dit is die Ou Testamentiese wetgewing nie net die 10 gebooie nie), en geloof. Paulus beredeneer in die teks die belangrikheid vir mense, vir ‘n Gemeente dat hul verhouding met God nie bepaal word deur die wet te onderhou nie, maar deur geloof!

Let op:

Dit was die manier waarop Ou Testamentiese gelowiges verstaan het hoe hul verhouding met God bepaal is.

Dit was ook die manier waarop Wetgeleerdes uit die Joodse tradisie in die Nuwe Testamentiese tyd hul geloof beoefen het. Ons sien dit o.a. by die Fariseers waarvan Paulus ook een was.

Die Evangelie van Jesus Christus het egter vir Paulus tot ander insig gebring. Hy het ontdek, mens se verhouding met Jesus Christus is ‘n geloofsverhouding. En dit is ‘n genadeverhouding!

2. Ons kry die idee uit die teks dat Abraham wat hier voorgestel word ‘n onverskrokke, vaste geloof gehad het.

Dis te verstane dat Paulus vir Abraham hier so voorstel. Hy wil vir die Gemeente in Rome een punt duidelik maak en dit is dat geloof en nie wetsgehoorsaamheid nie hul verhouding met Jesus Christus bepaal.

Die manier waarop Abraham hier voorgestel word kan egter vir ons probleme skep juis omdat hy voorgestel word as iemand met ‘n onverstoorde geloof. Die vraag wat opkom is: is geloof regtig so eenvoudig, so maklik, so sonder aanvegting? En die antwoord is nee, ek ervaar dit nie so nie.

Kyk ons fyner na Abraham en Sara se lewe is dit duidelik dat hul geloof ook skadukante gehad het, glad nie so sonder probleme was nie.

Ons kyk net na een insident:

Van al God se wonderlike beloftes aan Abraham kon daar niks kom as hulle nie ‘n kind, ‘n seun kry nie! En die kind word nie gebore nie. Soveel so dat Abraham na sy eie verstorwe liggaam kyk – ‘n liggaam wat so te sê dood was en Sara se moederskoot wat ook reeds dood was (Nuwe Direkte Vertaling).

En toe maak Abraham en Sara ‘n eie plan. Ons ken almal die geskiedenis, Abraham verwek ‘n kind by Hagar, Sara se slavin en Ismael word gebore. Beteken dit dat Abraham en Sara hul geloof in God verloor het? Nee, hulle het net gedink: ons sal moet hand bysit en die Here help, want Hy het nie rekening gehou met ons ouderdom nie!

God se antwoord aan Abraham en Sara was, nee, dit is nie wat ek bedoel het nie, oor ‘n Jaar sal Sara ‘n kind hê.

3. Dit is waarom die teks vir Lydenstyd belangrik is.

Gehoorsaamheid aan die Ou Testamentiese wetgewing is nie vir ons so belangrik nie, ons weet tog dat ons uit genade gered is. Geloof is om jou aan God se genade toe te vertrou!

Ons probleem is dat ons verlei word in die konteks waarin ons lewe, om te dink dat ons in ‘n groot mate ons eie heil moet uitwerk. En soos wat ons ons eie geluk en voorspoed kan koop is ons nie oop vir dit waarmee die Here besig is nie. Want ons is ingestel op onsself, ons koop ons eie geluk. En dit terwyl ons al in God se gesprek met Abraham gelees het dat God se bedoeling met Abraham is nie net sy eie nuwe lewe en voorspoed nie, maar dat Hy in Abraham al die nasies wil seen!

Ek bely, ek leef nie elke dag met die bewustheid dat die Here deur my, deur ons, deur die Gemeente en die kerk by die nasies, by die mense rondom ons wil uitkom om hulle te seen. Dit is lyding, want dan word ons direk konfronteer met die realiteit in die wêreld waarin ons lewe. Dan kan ons nie ons koppe wegdraai vir die lyding, pyn en moedeloosheid en wanhoop rondom ons nie.

Geloof moet ons help om in ons eie lyding en pyn ook die lyding en pyn rondom ons te sien en met medelye te leef. Vertrouend op die Here dat Hy sal voorsien, teen alle verwagting in, vir my en my medemens!

Ons eie planne, ons ingesteldheid op onsself het nie altyd die gewenste resultate nie.

Daar is ‘n tragiese geep uit die Abraham verhaal. Toe Isak gebore is was dit nie lank nie toe is daar wrywing tussen Sara en Hagar, soveel so dat Sara vir Hagar met kind en al wegjaag. Ons lees dat Hagar op ‘n stadium van pure moedeloosheid en wanhoop vir Ismael neergesit en weggestap omdat sy nie verder kon sien hoe dat haar kind sterf nie.

Die gesin deur wie God die nasies wil seen, die gesin wat die wonderwerk van ‘n kind van God ontvang het, is harteloos genoeg om ‘n ma en kind te verwerp en aan hul lot oor te laat.

Kan ‘n Gemeente en die kerk dit ook doen?

4. Daarom is geloof nie ‘n arrogante, selfregverdigende houding waarmee ons teenoor God lewe nie.

Geloof is ‘n pynlike bewustheid dat ons ten volle van die Here afhanklik is vir ons verlossing. Geloof beteken om te bly volhard in die hoop en verwagting – teen alle realiteit in dat die Here Sy beloftes sal hou. As dit lankal duidelik is dat dit wat ons verwag of waarna ons uitsien nie meer menslik moontlik is nie, te bly vasklou aan die Here omdat Hy die Here is!

Geloof is om te bly glo dat die Here uit die doodsheid, ook ons eie doodsheid, lewe kan gee.

Abraham en Sara se “doodsheid,” en

Rom. 4:25, “God het vir Jesus uit die dood opgewek.

NAGMAAL: Vers 23-25.

Jesus se kruisiging, dood en opstanding is die grond vir ons geloof, waarborg vir ons verlossing! Geloof is om rustig te wees in die wete dat Jesus dit vir ons gedoen het.

Maar hierdie geloof is nie maklik nie, dit is konfrontasie met die onmoontlike, waagmoed om God te vertrou.

Die nagmaal help ons hiermee – dit help ons teen wanhoop en twyfel en versterk ons geloof.

Calvyn – die doop en nagmaal versterk ons geloof en sluit ons in in God se genade. Hier beleef ons God se trou!

Terug