Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

24 Junie 2018 Ds. André Agenbag Klassieke Diens

Lees preke

24 Junie 2018                                                                                     Durbanville Gemeente: Klassieke Diens

Psalm 9:9-20          

Inleidend: Het jy al ooit magteloos gevoel: Sonder ‘n sê?

Die meeste van ons wat al ‘n bietjie ouer as die nuwe geslag is, het groot geword met die uitdrukking, “Kinders moet gesien word; en nie gehoor nie.” Ek onthou dat dit my as ‘n seuntjie nogal gefrustreerd laat voel het. Ek het gedink, “Maar ek is tog deel van die familie! Waarom het ék nie ook ‘n sê nie?!”

Dink maar aan al die verskillende situasies waar jy al gevoel het, “Maar ek het my stem hier verloor; ek het óók ‘n stem! Ek het ook iets te sê. My standpunt tel mos ook!” Sulke ervarings van stemloosheid is eintlik ervarings van magteloosheid en uiteindelik moedeloosheid. Dit gebeur by die werk en in ons huwelike, ons liefdesverhoudings, ons familieverhoudings, in die politiek – orals waar mense met mekaar te doen het.

En as ons billik wil wees, dan sal ons besef dat hierdie ervarings nie net met mý en mý groep gebeur nie, maar ook met ánder mense en ánder groepe. En ons sal besef dat dit nie net vandag gebeur nie, maar ook regdeur die geskiedenis.

Ons sal óók sal besef dat dieselfde mense wat die een oomblik nog aan die ontvang kant van magsmisbruik gestaan het, die volgende oomblik die korruptes en misbruikers van mag kan word. Hierdie verskynsel loop soos ‘n donker draad deur die geskiedenis. Dink maar aan die wipplank van maghebbery in ons eie land oor die eeue heen. Soms is die skoen aan die een voet, soms aan die ander.

Uiteindelik gaan die ervaring van stemloosheid daaroor dat ten minste twee partye hulleself vasloop in ‘n situasie van ongelykheid. Situasies waar die een party oor aansienlik meer mag as die ander party beskik. Waar daar ‘n baie oneweredige verspreiding van mag is. Kom ek gee ‘n eenvoudige, nie-politiese voorbeeld uit die werksplek. ‘n Apteker vertel my van die uiters onbillike wyse waarop een van die onkoloë in hulle multimijoen-rand onderneming met die werknemers omgaan. Maar omdat hy die eienaar is en oor geweldig baie mag in daardie situasie beskik, waag niemand dit om enige kritiek jeens hom uit te spreek of die onbillikheid aan te spreek nie. Almal karring maar gefrustreerd, magteloos en moedeloos aan.

Om stemloos te voel, is om magteloos te voel en uiteindelik is dit om moedeloos te voel.

Psalm 9 is soos ‘n hofsaak: ‘n Geding tussen twee partye

Die meeste skrifverklaarders is dit eens dat Psalm 9 en 10 eintlik saam hoort. Die eerste rede hiervoor is dat die twee Psalms sáám ‘n Akrostiese Psalm vorm. Dit beteken dat elke tweede sin begin met die volgende letter in die Hebreeuse alfabet. Hierdie ritme vloei vanuit Psalm 9 oor na Psalm 10. Verder is daar ook nog die feit dat die twee Psalms sáám veel meer sin maak as afsonderlik.

Tradisioneel word Psalm 9 beskryf as ‘n lof- of dankpsalm, terwyl Psalm 10 ‘n klaaglied is. Indien jy so ‘n arendsblik oor die Psalm gooi, merk jy op dat die hele Psalm uit die perspektief van die klaer geskryf word. Maar wie is die klaer? Die klaer word deur die loop van Psalms 9 en 10 op verskillende maniere beskryf:

  • Ek (Die klaer skryf in die eerste persoon) (9:1,2,3,4,5)
  • Mense in nood (9:10, 19)
  • Onskuldiges (9:13; 10:7)
  • Hulpeloses (10:2,9,17)
  • Behoeftiges (9:19)
  • Die ongelukkiges             (10:14)
  • Die armes                                                 (10:10)
  • Weeskinders (10:14, 18)
  • Hierdie klaer(s) leef in rees (10:18)
  • Onderliggend aan almal is daar duidelik ‘n situasie van dramatiese sosiale ongelykheid.

‘n Volgende vraag wat ons in hierdie hofsaak kan vra, is: Wie word aangespreek? Die antwoord is, God. God is die een wat regdeur Psalms 9 en 10 aangespreek word. Maar dit is duidelik dat die klaer ook die aangeklaagdes in gedagte het. Die klaer wil hê dat daardie mense in die gemeenskap wat verantwoordelik vir die sosiale ongelykheid is, hierdie klag moet aanhoor. En omdat die Psalms by herhaling in die aanbidding gebruik was, was daar die hoop dat Psalms soos hierdie uiteindelik die samelewing sal verander en meer regverdig sal maak.

Maar, wie word hier aangekla? Net soos met die klaer, is daar nie net een enkele omskrywing van die aangeklaagdes nie:

  • Die nasies (9:6,9,16,18)
  • Skuldiges (9:6,17,18)
  • Haters (9:14)
  • Goddeloses (10:2,3,13,15)
  • Misdadiger (10:15)

Al die partye in die hoofsaak

Dit is dus duidelik dat nóg die klaers, nóg die aangeklaagdes uit ‘n enkele groep of party kom. Skrifverklaarders praat van “leë” of “oop” metafore. Dit beteken dat al hierdie woorde wat gebruik word om die klaers en aangeklaagdes te beskryf óóp is vir interpretasie. Maar die goue draad wat deur die hofsaak loop, is dat die klaers almal die stemloses is wat aan die ontvangkant van groot sosiale ongeregtigheid en ongelykheid staan. Psalms 9 en 10 gee dus ‘n stem aan die stemloses. Dit is letterlik ‘n daad van weerstand teen die ongeregtigheid en ongelykheid wat daar in die samelewing heers. En verder word dit in die eerste verse van Psalm 9 reeds duidelik dat daar ook ‘n derde party in hierdie hofsaak is: God. En dit is hierdie Derde Party wat die groot verskil maak!

Die eerste party: 9:1-18

Die klaer begin deur te getuig van God se magtige reddingsdade in die verlede. Die rede hiervoor is dat God op die troon gaan sit het, en “as betroubare regter, het U aan my reg laat geskied” (9:5). Daar was dus voorheen situasies van ongelykheid en ongeregtigheid tussen die klaers en die maghebbers. En daar is nou reeds ‘n geskiedenis van God wat as die derde party en regter verseker het dat daar reg geskied het. God kan vertrou word, mense wat in gevaar verkeer kan in God ‘n toevlug en skuilplek (9:10,11) vind omdat Hy ‘n billike vonnis oor die aangeklaagdes, die maghebbers vel (9:9).

Maar daar is reeds erosie: 9:14

Die klaer het dus begin deur terug te kyk en die Here te loof vir sy magtige reddingsdade in die verlede. Maar dit is duidelik dat die huidige situasie van die klaers weer verval het in sosiale ongeregtigheid, “Wees my genadig, Here, aanskou die ellende wat my haters my aangedoen” (9:14). Dit is mos hoe dit in ons sondige en gebroke wêreld werk. ‘n Regverdige bedeling kan in ‘n oogwink verval in korrupsie en onreg. Daar is niks nuuts onder die son nie. Dit was nog altyd so, en dit sal weer so wees in die toekoms.

Gryp tog in, Here! 9:20, 21

Daarom roep die klaer uit na die Here om in te gryp. En die klaer verwys twee keer na die maghebbers as mense, want hierdie maghebbers het begin om hulleself bó ander mense te verhef- ook bo God en die wet. Is dit nie maar orals so waar ongeregtigheid en korrupsie oorneem nie? Mense wat hulleself bó ander mense, God en die wette van die land verhef: “Ons sal ons geld en mag gebruik om nie toerekeningsvatbaar te wees nie. Nie God óf die mense van hierdie land, óf die wette het oor my gesag nie.” Nee, sê die klaer: “Vervul hulle so met vrees, Here, dat hulle erken dat hulle net mense is” (9:21).

Verdere Erosie: Die Klag van die hulpelose: 10:1-2

Nou bekla die klaer sy lot by God. Die pragtige woorde in Psalm 9:2,3 word nou byna weerspreek, “Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood?” (10:10). Daar word verwys na die aangeklaagdes as goddeloses, mense wat hulleself nie aan God onderwerp nie, mense wat hulleself verryk ten koste van ander (10:3).

‘n Onverwagse Wending: 10:4-9. Die goddeloses kry kans om hulle sê te sê

Ons word egter verras deurdat die goddeloses nou ‘n stem kry in die hofsaak. Dit is iets wat bitter min in die Bybel gebeur. Maar hier gebeur dit! Enersyds is dit interessant dat die klaers wat in die samelewing stemloos is nou ‘n stem gee aan húlle wat al die onderdruktes se stemme stilmaak. Andersyds is dit egter nie die goddeloses sélf wat aan die woord is nie. Hulle word aangehaal by monde van die klaers. Onthou, die klaers is húlle wie stemloos geword het in die ongelyke en onregverdige samelewing. Die debatte, gesprekke en agendas word totaal deur die goddelose maghebbers gedomineer en beheer. Die onderdrukte klaers word tot stemloosheid gedwing. In ander samelewings word boeke verbrand om die onderdruktes se stemme stil te maak, of die media se vryheid word ingeperk sodat die maghebbers die enigste stem in die samelewing het. Húlle verduidelik wat “régtig” aan die gang is en hoe die geskiedenis vertolk moet word. Hier, in Psalms 9 en 10, is die stemloses egter in beheer. Húlle bepaal die gesprek. Hulle bepaal die raamwerk waarbinne die gesprek plaasvind. Hulle beskik hier oor die mag om die goddelose maghebbers te ontmasker vir die onregverdiges wie hulle werklik is. En hulle doen dit verál deur daarop te wys dat die aangeklaagdes weier om hulle te onderwerp aan ‘n Derde Party – aan God (óf die reg en die wette van die land).

Die Here het vergeet! 10:11

Die klaer bly egter weerloos en eerlik oor hulle ervaring in hierdie situasie van ongeregtigheid, “God steur hom nie aan die ongeregtigheid nie. Hy kyk weg. Hy sal dit nooit raaksien nie.” Die klaer se enigste hoop is die Derde Party wat op die regterstoel sit en regverdig oordeel. Maar die klaer ervaar dat hierdie regter afwesig is, én die klaer neem die vrymoedigheid om dit te sê. En hierdie vrymoedigheid van die klaer om te kla, is die vrymoedigheid van die stemlose om tóg te praat, om met Gód te praat. Dit beteken dat daar nog hoop is by die klaer om die Regter te oorreed om tóg tot die stryd toe tree en regspraak te lewer.

‘n Tweede Onverwagse Wending: 10:12 Kom tog, Here! Toon u mag, o God!

Daarom roep die klaer opnuut uit na die Derde Party, na die Here. Die klaer doen dit omdat daar ‘n geskiedenis van regspraak en reddingsdade uit die hand van die Here is.

Iets nuuts gebeur: Die magsbalans word herstel. Geregtigheid geskied: 10:13-18

Die klaer maak aanspraak daarop dat daar iets nuuts in ‘n totale uitsiglose situasie kan gebeur. In die Nuwe Testament word dit die Evangelie genoem: Goeie Nuus. Nuwe lewe, vrede, geregtigheid en verlossing is moontlik wanneer die Derde Party, God, ingryp en luister na die geroep van die stemloses.

Die wonder van Bartimeus. Nie die herstel van sy gesig nie; maar van sy stem! Markus 10:46-52

‘n Voorbeeld uit die Nuwe Testament van ‘n soortgelyke verhaal, vind ons in Markus 10, in die verhaal van die herstel van die gesig van die blinde Bartimeus.

Bartimeus sit langs die pad toe Jesus en sy dissipels in Jerigo aankom. In Mark 10:47 lees ons dat hy uitroep, “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” Maar dan lees ons in vers 48 dat die mense met hom raas en sê dat hy moet stilbly. Hulle maak die stemlose wat wil praat se stem stil. Maar in vers 49 lees ons dat Jesus hom nader roep. Die dissipels roep die blinde, stemlose Bartimeus toe nader en sê vir hom “Hou moed! Staan op! Hy roep jou!” En Jesus vra vir hom, “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Bartimeus antwoord, “Rabboeni, dat ek kan sien.” Ons lees dat Jesus vir hom sê, “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered. Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan” (Mark 10:51,51).

Dit is ‘n wonder dat die blinde Bartimeus weer kon sien, maar die eintlike wonder is dat ‘n stemlose ‘n stem gekry het. En dít het sy lewe verander. En onmiddelik het hy begin om agter Jesus aan te gaan.                               

Willem Boshoff – Die Blinde Alfabet

Die Suid-Afrikaanse konseptuele kunstenaar, Willem Boshoff, het al wêreldwyd installasies van sy kunswerk, “Die Blinde Alfabet” gedoen. Hy het op universiteit ervaar hoedat taal gebruik word om sekere mense in te sluit en ander uit te sluit. In ‘n persoonlike gesprek teenoor my het hy gepraat van woorde wat eindig op “isms” en “ologies.” Hiermee het hy verwys na ingewikkelde woorde waarmee sommige mense mag en beheer uitoefen oor ander wat nie oor dieselfde woordeskat beskik nie. As kunstenaar is hy deur hierdie ongeregtigheid aangespreek en het hy die versamelaar van meer as 200 woordeboeke geword. Hy het aan my vertel dat hy die omvattende Oxford Woordeboek van 14 volumes van voor tot agter deurgelees het! Hy was op soek na ‘n manier om hierdie ongelykheid uit te wis. Om die skoen aan die ander voet te sit.

En toe begin hy sy projek: Die Blinde Alfabet. Die Blinde Alfabet is ‘n woordeboek waarin elke woord in die vorm van ‘n klein beeldhouwerk uit hout gemaak word. Elke “houtwoord” word dan ‘n afsonderlike boks geplaas wat half deurskynend aan die kante is met ‘n deksel op. Bo-op die deksel word die woord dan in Braille geskryf met die tipiese verduideliking daaronder – óók in Braille. Die uitstalling word dan in ‘n kunsgallery geplaas met geen poging om die besoekers te help om te weet wat hulle moet maak om toegang tot die kunswerke te verkry nie. Dit word eerder moeiliker gemaak deur die bordjies wat gewoonlik in kunsgallerye aangebring word: “Stilte, asseblief!” En: “Moet aan niks vat nie!” Hyself beweeg dan so onopsigtelik as moontlik tussen die toenemend gefrustreerde besoekers deur en hoor hoe hulpeloos en onseker hulle is. Gewoonlik is die skoen egter aan die ander voet, aangesien blinde kunsliefhebbers feitlik geen normale toegang tot kuns het nie, en volledig afhanklik is van mense wat kan sien. Hy het egter voor die tyd met ‘n groepie blinde persoon afgespreek om dan tussen die kunswerke deur te loop en met groot vaardigheid die Braille te lees, die bokse se deksels af te lig en die “houtwoorde” met hulle hande te “lees.” Die blindes roep ook opgewonde na mekaar uit om te kom deel in die vreugde wat hulle in hierdie of daardie “houtwoord” vind. Uiteindelik word die ys gebreek wanneer ‘n siende persoon die nederigheid aan die dag lê om ‘n blinde persoon se hulp te vra. En op daardie oomblik verander die speelveld. Nou is die blindes in beheer en die siendes afhanklik. Uiteindelik kan almal deel in die vreugde van die kuns, maar die sleutel tot die skoonheid en vreugde was die “stemloses” en die vermoë van dié wat gewoonlik in beheer is om aan hulleself te sterf, en nederig te vra om hulp.

Slot: ‘n Stem vir die stemloses en die Godvraag

Psalm 9 en 10 gee ‘n stem aan die stemloses (hulpeloses, armes, verontregtes, onskuldiges ens). ‘n Stem om by herhaling gehoor te word tydens die eredienste. ‘n Stem wat gehoor moet word deur die magtiges en die onderdrukkers. ‘n Stem wat die stemloses aanmoedig om nie moed te verloor nie, maar om aan te hou roep om geregtigheid. Maar ook ‘n stem om aan te hou roep na die ingryping van die Derde Party: God. Dit is ook ‘n stem wat die samelewing en dié wat in beheer of bevoorreg is oproep om die Godvraag te vra: Waar is God in hierdie verhaal? Waar is God in hierdie samelewing? Of soos wat daardie armbandjie van so ‘n paar jaar gelede gevra het: “Wat sou Jesus doen?” Uiteindelik gee Psalm 9 en 10 ‘n stem aan die stemloses, nie net om hulle te bemoedig nie, maar om die onregverdige wêreld waarin hulle woon regverdig te maak, om geregtigheid te laat geskied deur gestaltes van ongeregtigheid soos korrupsie en magsmisbruik te ontmasker en uit te wis: Om deel te neem aan die koms van God se nuwe wêreld.

(Aan diegene wat meer in hierdie kunstenaar en sy Blinde Alfabet belangstel, kan die volgende skakels meer inligting verskaf):

https://www.willemboshoff.com/

http://www.art.co.za/willemboshoff/blind.php

https://www.artsy.net/artwork/willem-boshoff-blind-alphabet

https://www.bloemfonteincourant.co.za/guided-tour-by-society-for-the-blind-and-artist-willem-boshoff/

 

Terug