Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

23 September 2018 Ds. Rian Verster Klassieke Diens

Lees preke

Sondag 23.9.2018

Klassieke Diens

Teks: Psalm 73

Tema: Om ons twyfel te bid.

1. Die voordeel van die Psalms is dat die digters ons help om te verstaan dat ons met die Here oop en eerlik mag wees oor ons belewenis en emosies.

Ons geslag het grootgeword met ‘n duidelike bewustheid dat jy voor God met groot respek moet lewe. Dat jy nie in jou emosies vir God sal bevraagteken en veral nie teen Hom in opstand sal kom nie.

Die Psalmdigters se voorbeeld help ons om te verstaan en om die vrymoedigheid te neem om oop en eerlik met God ons diepste gevoelens te deel. Twyfel is een van die emosies wat verwydering tussen ons en God bring. Want twyfel in God beteken dat die fondament, die vastigheid, sekerheid waarop ons gestaan het onder ons uit is!!

2. Daarom as ons die Psalm lees sonder dat dit ons bring tot ‘n bewustheid van ons eie twyfel sal dit nie veel help nie. Om oor iemand anders se twyfel te lees raak ons nie. Dit is in die ontdekking van ons eie twyfel terwyl ons lees dat die Psalm vir ons betekenis kry en ons help, vir ons ‘n voorbeeld word van hoe ons met ons eie twyfel kan doen.

Die eerste sin van Ps 73 is ‘n belydenis.

Hierdie belydenis staan op duidelike historiese feite. Oor baie lang tye in Israel se geskiedenis is dit duidelik dat God vir Israel goed is. Die skepping, Sy verbond met mense, van die begin af, Abraham, Isak en Jakob. Israel se bevryding uit die Egiptiese slawerny, versorging op die woestyntog, ‘n eie beloofde land Kanaan en deurgaans Sy verbondstrou en liefde.

3. As die digter dan in vers 2 sê dat Hy begin twyfel het in God se goedheid is dit eintlik baie diep seer.

Want sy belewenis is dat teenoor die duidelike historiese bewyse van God se goedheid kan hy dit nie meer glo nie. Dit kan ook wees dat hy oortuig is dat God goed is vir Israel, maar dat God nie oor hom bekommerd is nie. Hierdie twyfel het hy nie gesoek nie, hy is nie moedswillig nie. Iewers het hy net ontdek hy kan God nie meer vertrou nie.

En die rede vir hierdie diep twyfel:- hy was jaloers op die voorspoed van ander.

Wat gebeur met ons verhouding met God in die tyd waarin ons leef of dalk die omstandighede waarin ons, self op die oomblik is?

Uit die hoek waaruit die digter kyk sien hy die hooghartige, ryk goddeloses so:- vers 4-12.

Let op die taal – hulle het geen kwellings nie, sterk en gesond, nie sorge en teëspoed nie. In plaas daarvan dat hulle nederig en danbaar sou wees, is hulle trots, geweldenaars, doen net wat hulle wil, pleeg geweld en het ook nie eers gesag vir God nie.

Ons ken hierdie soort mistasting! Niemand van ons is jaloers op die armes nie, niemand van ons het ‘n begeerte om in ‘n informele woonbuurt te gaan woon nie.  Niemand van ons wil met ‘n fiets of Taxi werk toe ry nie! Nee ons jaloesie is boontoe na die wat dit oënskynlik beter het as ons. Uit ervaring weet ons egter dat dit nie help om ander se sogenaamde goeie lewe of voorspoed te begeer nie, want “elke huis het sy kruis.”

4.Dit is ook die digter se ontdekking in vers 15-21.

Die digter se twyfel word nog verder afgedruk as hy in vers 13 en 14 sê:- dat ek die kwaad vermy het en met ‘n eed my onskuld verklaar het het niks gehelp nie. Want sê hy hy ervaar dat elke nuwe dag vir hom teenslae bring en elke nuwe more straf.

Hier is die draaipunt in die digter se ervaring.

En uit hierdie ervaring besef hy dat die hoek waaruit hy kyk nie die enigste manier is om na sy eie omstandighede en die van ander te kyk nie. Die verrassende is dat hy besef dat op die manier wat hy kyk, die hoek waaruit hy kyk is eintlik verraad teen die mense wat aan God behoort. Maar tog, in sy diep nadenke bly dit vir hom nog bitter moeilik!

5. Vers 17, “totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het.” Hy verwys waarskynlik na sy besoek aan die Tempel. Dit is ‘n wondewerk dat hy Tempel toe gegaan het, want ons weet uit eie ervaring as ons verhouding met God om watter rede ookal ‘n knou gekry het is die erediens die laaste plek waar ons wil wees.

Maar in die Tempel, in die erediens, in God se teenwoordigheid in die gebed, die gesprek met God word ons koppe weer reg gedraai. Help die Here ons om nie net uit ons hoek na die lewe te kyk nie, maar uit Sy hoek.

In die lees van vers 18 -20 wil ek half die gevoel kry van: net so, kry vir julle, julle wil mos! Laat julle bietjie “suffer!” ‘n Lekkerkry oor ander se swaarkry en lyding.

Maar as Nuwe Testamentiese gelowiges het ons by Jesus net mooi die teenoorgestelde geleer – uitreik na die sondaars en lydendes, omgee vir die wat swaarkry, dis wat Jesus gedoen het.

En by  Paulus leer ons om saam met die sondaar onder sy sondelas in te buk en hom te help om dit te dra, Gal.6:1-2.

In sy ontmoeting met God kry die digter nie net ‘n ander kyk op sy medemens nie, maar ook ‘n beter verstaan van homself en sy twyfel.

Mens wil van 23 af die idee kry dat alles vir die digter nou weer reg is, sy twyfel opgeklaar, sy verhouding met God herstel, hy is weer gesond – liggaam en gees. Maar dit is nie heeltemal so nie, want vers 26 sê: “Al is ek afgetakel na liggaam en gees ….” Dit is belangrik om dit raak te sien, niks het nog verander nie, maar in sy krisis het die lig deurgebreek dat ook in hierdie slegte omstandighede is hy onder God se sorg.

In ‘n tyd en in ‘n samelewing waarin jou lewe, jou bestaan bepaal kan word deur ‘n gedurige, jaloerse vergelyking tussen jou en ander is dit ‘n wonderwerk en ‘n wonderlike genade as die Here jou die ontdekking laat maak dat Hy jou in die krisis en nood en twyfel steeds liefhet en steeds vir jou sorg en met jou op pad bly sodat jou twyfel vervang word met ‘n verdere belydenis: Tog was ek nog altyd by U, U vat my aan die hand, U lei my met U raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem!

Die Heidelbergse Kategismus vra in vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Dat ek in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan Jesus Christus, my getroue Saligmaker  behoort!

 

Terug