Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

22 Julie Ds. André Agenbag Klassieke Diens

Lees preke

22 Julie 2018                                                                          Durbanville Gemeente: Klassieke Diens

Psalm 1                                              Gebed: Om te bid te midde van ‘n wêreld wat ons aandag aflei.

Inleidend: Die Spieël en Die Psalms

Spieël:    Ons kyk hoe ons lyk: Mense gebruik ‘n spieël om te grimeer, hare te kam of te skeer. Om te kyk vir ‘n nuwe plooi of ‘n moesie.

Psalms:  Waar ons in spieël kyk om te sien hoe ons lyk, kyk ons in die Psalms om uit te vind wie ons is.

Die Psalms maak ons bewus van ons hartseer, sonde en vreugde. Ons gebruik die Psalms om ons voor God te stel – so eerlik en deeglik as moontlik.

  • Ons kyk in ‘n spieël om te sien hoe ons lyk.
  • Ons kyk in die Psalms om te sien wie ons is.

Die Psalms is poësie en gebed

Die Psalms is ALTYD poësie en gebed. Wie die Psalms wil lees, geniet en daaruit groei, moet dít altyd in gedagte hou.

Poësie:

In my eerste Afrikaans-Nederlandse klas op Universiteit het Professor Humphrey Durandt Psalm 1 met ons behandel as ‘n voorbeeld van wat poësie regtig is. Poësie is taal wat met groot intensiteit en digtheid gebruik word.  Dit is taal wat nie bloot as versiering gebruik word nie. Nee, digters leer ons om raak te sien omdat ons oë begin verstar het omdat ons soveel staar sonder om regtig te sien. Digters leer ons om regtig te luister, met gespitste ore, omdat ons te veel geraas en geklets hoor. Poësie trek ons in tot by die kern, die hart van ons bestaan – dít wat regtig saakmaak.

Gebed:

Gebed is die taal wat ons gebruik in verband met God. Deur gebed gee ons uitdrukking aan wat ons ervaar, maar in die teenwoordigheid van God. Deur gebed gee ons uitdrukking aan wat ons graag of ten diepste wil hê, maar voor en in die teenwoordigheid van God. Gebed vereis dat ons God ontmoet, met God te make kry, met God praat en nie bloot van  God praat nie. Gebed konfronteer ons as’t ware met God. Deur gebed reageer ons op wie God is en wat God doen.

Gebed is om aandag te gee aan God – om te reageer op God

Ons lewens is so gejaagd en daar is soveel afleiding, dat ons meer as dikwels meer aan ander dinge aandag gee, as aan God. Psalm 1 is nie soseer ‘n gebed nie; maar eerder die voorbereiding tot gebed. Dit wil ons leer dat die bedding waarin ons gebedplantjies of bome geplant is, is om aandag te gee aan God. Om te reageer op God. Om ons diepste aandag nie te laat aflei, verdeel en versplinter deur die gejaagde en angstige roepstemme van die wêreld nie; maar deur die rustige, dieptes van God. Die samestelling van die Psalmbundel is alreeds ‘n aanduiding van die feit dat die Psalms gebede is wat reageer op God altyd die eerste woord het – God wat met ons praat. 

Die Psalmbundel is onderverdeel in vyf boeke

Boek I -       Psalms 1-41

Boek II -     Psalms 42-72

Boek III -    Psalms 73-89

Boek IV -   Psalms 90-106

Boek V -   Psalms 107-150

Maar daar is ook ‘n ander, bekende Bybelboek wat onderverdeel is in vyf boeke: Die Wet van die Here wat die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Bybel (Ou Testament) uitmaak.

Die Wet onderverdeel in vyf boeke

Boek I -      Genesis

Boek II -     Eksodus

Boek III -    Levitikus

Boek IV -    Numeri

Boek V -     Deuteronomium

So, hoe hou die Psalmbundel en die Wet, met onderskeidelik vyf boeke elk, met mekaar verband?

Twee hande met vyf vingers elk wat ineengevleg is: Die Wet en die Psalms

Deur die Wet / die Woord praat God met ons. Deur die Psalms antwoord ons. Praat ons met God. Gebed is dus altyd die TWEEDE woord. Gebed is om te antwoord op God. God PRAAT met ons deur die Wet en deur die Woord. Ons ANTWOORD deur gebed. God neem die inisiatief. Die begin van gebed is dus om te luister en om aandag te gee aan God. En DAN is gebed ons antwoord of respons op God. ‘n Mens sou die Wet en die Woord kon aanvul met die natuur, mense en gebeurtenisse as maniere waarop God met ons praat. Maar dit verg van ons om aandag te gee aan God en dit waarmee God besig is. Om geloofsonderskeiding aan die dag te lê ... sodat ons met ons lewens en deur gebed kan antwoord op God.

Psalm 1

1 Gelukkig is die mens wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie,

2 maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink,

3 So iemand sal wees soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.

4 So is die goddeloses nie. Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.

5 Daarom sal goddelose mense nie staande bly waar reg gespreek word, of sondaars waar regverdiges byeenkom nie.          

6 Waarlik, die Here sorg vir die pad van regverdiges, maar die pad van die goddelose mense loop dood.

Vers 1: Gelukkig is die mens wat nie wandel, staan en sit by dooie kaf nie

Gelukkig is die mens wat NIE die heel tyd hulle diepste en beste aandag aan die vals beloftes en angstige waarskuwings en gejaag van hierdie wêreld gee nie. Gelukkig is hulle wat nie wandel, staan en sit by vals hoop en die angstige gejaag na oppervlakkige en onmiddelike vreugde nie. Dis ‘n pad wat lei tot die dood. Die dood van die siel. En die liggaam. Let op die agteruitgang:

Wandel in die raad van die goddelose.

Staan op die weg van die sondaars.

Sit in die kring van die spotters.

Dis ‘n lewe wat tot stiltstand kom. Dit gaan dood. Daar is nie energie en beweging nie. Ek ken ‘n ware verhaal wat help om dit te illustreer. In een van my vorige gemeentes was daar ‘n oom, Pieter Fourie, wat op die ouderdom van 93 oorlede is en my voor sy dood vertel het van sy deelname aan die Slag van El Alamein in Egipte, tydens die Tweede Wêreldoorlog. Tydens dié veldslag, wat geduur het vanaf 23 Oktober tot 11 November 1942, het die Geallieerdes hulle pad teen ‘n berg uit oopgeveg. Toe hulle bo kom, vind hulle die Italiaanse soldate waar hulle in netjiese rye sit met hulle hande op hulle koppe en hulle besittings netjies langs hulle opgevou. Hulle het die stryd gewonne gegee. Hulle het oorgegee. Wanneer jy sit, het jy tot stilstand gekom. Jy is onaktief. Jy kan niks doen nie. Dis verby met jou. Só is dit met iemand wat eers wandel, dan staan en uiteindelik sit in die geselskap van hulle wat vals beloftes van vervulling en geluk maak: Hulle wat eerder die onmiddellike bevreding van behoeftes verkondig en leef vir die oomblik.

Vers 2: “... maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink...”

Ons het gehoor van die Vyf Boeke van die Wet en die Vyf Boeke van die Psalms.  Deur die Wet / Woord / Natuur / Lewe PRAAT God met ons. Die Psalms leer ons dat GEBED is om te reageer / antwoord op God wat eerste gepraat het. Atyd die eerste woord inkry. Dis om aandag te gee aan God. Nie oorweldig, versplinter te word deur die wêreld nie. Maar om jou diepste en beste aandag by dít te wat regtig saakmaak: God.

Vers 3: “‘n Boom wat op die regte tyd vrugte dra.”

“3 So iemand sal wees soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.” Hierdie winter het ek my pa deur die Namakwaland gereis om familienavorsing te doen. Een van die plase wat ons besoek het is die plaas Tweefontein in die Kamiesberge. Hierdie plaas was op die ou pad vanaf die Kaap na die Koperberge (Springbok) en is al vanaf 1761 in ons familie se besit. Vóór my besoek aan die plaas, het ek ’n ou foto (1895) in die hande gekry van die ou pioniershuisie wat op die plaas staan. Hierdie huisie word beskou as die beste bestaande voorbeeld van agtiende eeuse pioniershuisies in die Namakwaland. Julle kan sien dat daar ’n redelike groot peperboom voor die huisie staan en ook ’n vyeboom nader aan die kant van die huis. Toe ek in 2018 hier aankom was die peperboom steeds daar – enorm groot. Ook die vyeboom het steeds daar gestaan. Só is iemand wat lewe vanuit God en die Woord: ’n Boom wat by waterstrome geplant is en op die regte tyd vrugte dra. Só ’n persoon se gebedslewe en lewe sal floreer, want dit BEGIN by God. Dis VERANKER in God.

Vers 4: Kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word

“4 So is die goddeloses nie. Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.”

Kaf beteken niks nie. Dit hou geen vrug of voedingswaarde in nie. Dit waai weg. Dit versprei. Dit word deur die wind in alle rigtings gewaai. Dis die gebedlose en hooplose lewe van ‘n mens wat hulle diepste aandag gee aan die oppervlakkige, leë en angstige gejaag na wind. Lees gerus die gedig, Kremetartboom, van TT Cloete. Dit gee vir ons ‘n pragtige woordbeeld van die lewe wat God vir ons gedagte het:

Kremetartboom – TT Cloete (effe aangepas)

die kremetartboom is ‘n boom

hy laat nie sommer mense in hom klim nie

hy laat jou in hom óp kyk hy laat jou om hom loop

die olifante het hom bygekom sy bas gestroop

dit laat hom ongeroer

die kremartboom is ‘n boom

die ape mag in hom klouter

baljaar en hom bemors dit laat om ongeroer

hy laat die slang en vlermuis in hom boer

die leeus mag aan sy basis hul merk laat

hy bly maar wat hy is

die kremetartboom is ‘n boom

diep in sy sagte ou bruin bas

het harteloses hul éie harte uitgesny

dit laat hom ongeroer sy holtes is deur bye

vol van hulle blommesoet gemaak

die spinnekoppe span in hom hulle sterrerak en radar

die kremetarboom is ‘n allerboomste boom

hy is meer kaal meer stam as tak en blaar min vrug

meer aarde toe terug as ín die lug

mens sien hom as hy oud is raker raak

vol rimpels sag vol vog en sap

geen ander boom lyk naastenby

so enig bomelik soos hy

alleen die GrootVoet kan hom trap

sy swaar liggaam totaal toemaak

die kremetartboom is my boom

 

Terug