Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

22 Julie 2018 Ds. Jana Dickason Familiediens

Lees preke

22 Julie 2018                                                                           Durbanville Gemeente: Familiediens

Psalm 1                               

Verwelkoming en Afkondigings

Aanvangswoord

Votum:

Filippense 2:12: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe.”

Seëngroet:

Kersritueel

Loflied 1 : FLAM 66 - Op vaste fondamente

Loflied 2 : Dis so lekker om die Here te dien

Loflied 3 : This little light of mine                                                           

Kindermoment         

Dankoffers & Dankoffergebed         Voorskool - Gr 5 verdaag.

Toetredelied : Liedboek 163 - Soos ’n wildsbok

Skriflesing                   Psalm 1

Die Here lei die regverdiges

1Dit gaan goed met die mens

wat nie die raad van goddeloses volg nie,

nie met sondaars omgaan

en met ligsinniges saamspan nie,

2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,

dit dag en nag oordink.

3Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is,

wat op die regte tyd vrugte dra

en waarvan die blare nie verdroog nie.

Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.

4So is die goddeloses nie.

Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.

5Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie

en sondaars nie 'n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.

6Waarlik,

die Here lei die regverdiges op hulle pad,

maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

Woordverkondiging

Die boek “Psalms” in die Bybel is eintlik ‘n klomp gebede van Israeliete wat vir ons neergeskryf is.  Die Israeliete het na die tempel (amper soos die kerk) toe gegaan om die Here te aanbid.  Daar het hulle vir die Here liedere gesing (soos wat ons vandag nog doen).  Partykeer was hulle baie hartseer.  Dan het hulle treurige liedere gesing.  Soms het hulle in hul liedere vir God gevra om hulle te help.  Ander kere was hulle baie bly.  Dan het hulle vrolike liedere gesing om die Here te loof.

Party psalms is liedere wat iemand alleen kon opsê as hulle wil bid.  Ander Psalms is gebede wat ‘n klomp mense saam gesing het.

Nog ander psalms is lesse waarmee die priesters (soos dominees) mense wat na die tempel toe gekom het, wou leer.

Die psalms leer ons dat ons altyd vir God kan vertel hoe ons voel, maak nie saak hoe hartseer of bly ons is nie

As inleiding maak Psalm 1 verder twee sake duidelik: (a) Die lewe van geloof en aanbidding (soos in die Psalms verwoord) is nie 'n wêreldvreemde aangeleentheid nie, maar 'n lewe wat ten diepste verweef is met etiese gedrag.  'n Lewe voor God is eerstens 'n lewe van gehoorsaamheid aan sy Wet - óf beter gestel aan Sy wil.  (b).  Slegs die wat binne God se wil leef, kan as waarlik gelukkig beskou word.

Ps. 1 is dan ook ’n Wysheidpsalm wat oor die vreugde van die Wet handel. Om die Wet van die Here na te kom, is volgens die Psalm die basis van opregte geluk en die kenmerk van ware wysheid (vers 1).  Let wel: Wysheid is nie bloot kennis of intelligensie nie, maar ’n lewensoriëntasie.  In die Ou Testament is wysheid ontsag [vrees] vir die Here

Wat is geluk?

Ons almal strewe tot daarna om gelukkig te wees, maar wat is geluk. Ons vul ons lewe met kennis oor die onderwerp van positiewe sielkunde, ʼn “sê ja” teologie en lewens uitkyk, ons kyk Ted – talks om sukses vir ons te herdefinieer.  Tog is die lewe nie altyd so maklik nie, en wanneer dit moeilik gaan, wanneer jy jou werk verloor, of iemand naby aan jou, dalk jy self, siek is of jy net nie meer ʼn lus vir die lewe het nie, dis dan wanneer die ‘sê ja teologie en die nuwe definisie van sukses baie moeiliker raak om te glo, wat nog te praat van toepas.

Psalm 1 leer vir ons dat ons geluk sal vind wanneer ons na die woord van die Here luister, wanneer ons die wet toepas.  Nou dit mag dalk vir ons soo ʼn baie konserwatiewe uitkyk klink. Soos ʼn baie wettiese benadering tot die lewe, ek meen ons almal weet alles is nie wit en swart in die regte lewe nie, die konteks van vandag verskil hemelsbreed van die Bybel se konteks af.

Kom ons kyk bietjie anders daarna, want ons geloof raak ʼn hartseer saak as ons slegs die Bybel as ʼn reëlboek begin sien, wat ons help score hou van alles wat ons goed en sleg doen.

Om geseënd te wees, is ’n gawe van God. Die Tora – die eerste 5 boeke van die ou testament, wat ook baie van die sogenaamde reëls en wette waarna ons verwys bevat, is eintlik ‘n boek van geluk en seën. Want geluk en seën word nie net in materiële dinge gevind nie, maar ook in die geestelike gawes wat ons ontvang. Psalm een herinner ons daaraan dat ware welsyn en voorspoed die eggo van ’n regverdige lewe is.

Die riglyne wat God vir ons gee in die Bybel, waarvolgens ons ons lewens moet leef as gelowiges, is nie sodat Hy mag oor ons kan uitoefen en ons probeer beheer nie, maar eerder sodat ons  saam a gelowiges en as die beeld vn God ʼn regverdige en geseënde lewe vir almal kan bied. Sodat die seer en die vreedheid van die lewe nie ons takke sal knak nie, maar dat ons soos hierdie boom waarvan psalm 1 prat, sterk sal groei.

Psalm 1 gebruik twee beelde: Boom en kaf

Dié twee beelde beskryf die aard en waarde van die twee verskillende tipes mense.

Boom (vers 3): Lewenskragtig (dra vrug en die blare is groen), betroubaar (regte tyd) en gevestig (geplant).  In Palestina is enige boom by water letterlik ’n oase 

Kaf (vers 4): Nikswerd byproduk van die dorsproses.  Droog, sonder wortels - dit is gewigloos en hoogstens ’n brandgevaar.  Waar wind bome stimuleer om sterker en dieper wortels te groei, verstrooi dit doodgewoon die kaf.

Let wel - daar is nie ’n middelpunt volgens Psalm 1 nie, jy is óf 'n boom óf jy is kaf.

 Die storie van Shangri - La

In sy bekende boek Lost horizon, skryf James Hilton oor die geluksvallei Shangri-La wat hoog bo in die Himalaja lê. Hy vertel van die mense wat daar woon wat baie, baie oud word en absolute vrede en vreugde ervaar. Hulle bekommer hulle oor niks en die berglug genees elke wond of siekte binne enkele oomblikke.

Heelwat jare gelede het ’n TV-kameraman saam met ’n paar ander televisie mense ’n reis aangepak, op soek na Shangri-La.  Die gedagte aan so ’n avontuur, het by hom opgekom toe iemand beweer het dat James Hilton se storie miskien nie heeltemal ’n produk van sy verbeelding was nie.

’n Groep Sweedse bergklimmers het glo ’n paar weke in die werklike Shangri-La deurgebring, en hoewel dit nie die idilliese plek van James Hilton se verbeelding was nie, was dit tog ’n wonderlike plek.

Die kameraman en sy groep het met die hulp van gidse die allerverskriklikste toestande aangedurf – net om dié plek op film te kon gaan vaslê. Van die mense het omgedraai, maar die kameraman en twee van sy vriende het deurgedruk ... totdat hulle uiteindelik die vallei van Shangri-La bereik het.

Maar wat ’n teleurstelling! In plaas van ’n immergroen landskap met pragtige, veelkleurige blomme al langs die paadjies, het ’n koue, barre, klipperige en onherbergsame toneel hulle begroet. ’n Paar kinders het hulle opgewonde uit Steentydperk huisies tegemoet gestorm.  En hulle het aanhoudend geglimlag!

Die kameraman vertel dat hulle teleurstelling geen perke geken het nie. Al die opoffering en pyn, al die stories en drome, al die moeite en geld ... net om die absolute armoede van mense in ’n belaglike, piepklein en vergete dorpie te beleef. Maar terwyl hulle daar gerus het voor hulle die terugtog sou aanpak, het hulle teleurstelling algaande plek gemaak vir verwondering …

Die mense van Shangri-La het so maklik gelag, hulle min besittings so maklik met ander gedeel. Hulle was glad nie bekommerd oor môre nie, ja, nie een keer het hulle ’n bekommerde gesig gesien nie. Daar was by dié televisiespan geen twyfel nie dat die plooie op die geel gesigte van hierdie vallei se mense die gevolg van baie gelag was!  ’n Stukkie hemel op aarde!

Terug in Amerika het die kameraman sy eie huis na Shangri-La herdoop. Want, só het hy aan familie en vriende verduidelik, geluk is ’n geestestoestand. Geluk is nie iets wat jy ontdek of ’n stukkie geluk wat na jou kant toe val nie. Nee, geluk is ’n manier van leef.

Om Geseënd te wees is ʼn gawe van God.

Gelowiges leef i presies dieselfde wêreld as ongelowige. Ons lewe in ʼn wêreld waar mense maklik skinder, maklik steel, jok, oordeel, wrokke dra en selfs moord pleeg. Vir party van ons is dit juis omdat ons hierdie dinge gereeld self beoefen het en selfs nogsteeds doen, wat maak dat ons ons lewens aan die Here gegee het en besluit het om die pad van ʼn gelowige te stap. Maar as ons bome wil wees wat werklik groei moet ons begin leef soos geseënde mense, soos regverdige mense. Ons moet leef sodat ons lewe die 5de evangelie is. Ons lewe moet getuig van die genade en gawes wat God vir ons gee. Ons is vandag die goeie boodskap. Ons moet die regverdige lewe leef.

Daar is ’n bekende storie wat ons baie kan help om hierdie beter te verstaan.

Daar was ’n boer wat elke jaar ’n blou lint-toekenning gekry het as die beste koringprodusent. Sy koring was van hoogstaande gehalte.

Een jaar het ’n landbou-verslaggewer ’n onderhoud met hierdie boer gevoer en iets verstommend by hom geleer. Die verslaggewer het ontdek dat die boer sy koringsaad met sy bure deel. Hy was so oorbluf dat hy dadelik gevra het: “Hoe kan jy jou beste koringsaad met jou bure deel as hulle ook elke jaar vir hierdie kompetisie inskryf?”

“Meneer,” het die boer rustig geantwoord, “het jy nie geweet dat die wind die stuifmeel van die ryp wordende koring optel en dit van veld tot veld dra nie? As my bure ondergemiddelde of swak koring sou produseer, sou die kruisbestuiwing my koring se kwaliteit stelselmatig verlaag. As ek dus goeie koring wil produseer, moet ek my bure help om ook goeie koring te verbou.”

Hierdie storie sê daar is twee maniere om te beweeg in hierdie lewe: Die een is as jy toelaat dat mense jou aftrek na hulle vlak van leef en liefhê – dít is afwaartse beweging. Die tweede is as jy mense optrek na jou Jesus-manier van leef en liefhê – dís hemelwaartse beweging. En dít is hoe ons as Christene moet leef.  Kom ons deel die koringsaad van God se liefde aan die hele wêreld uit, soos Filippense 2:12 van ons vra: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe.”

Ons kan nie ‘n gelukkige lewe lee fen nie ook ‘n regverdige lewe leef nie, want dan is ons soos die kaf, wat die winde van die lewe op enige moment kan wegwaai om te verdroog iewers in die vreemde. Mag elkeen van ons groei en vrugte dra wat getuig van ‘n regverdige en geseënde lewe, dus ‘n lewe wat met elke aksie sê, ek leef in afhanklikheid van die Here, en in Hom vind ek my geluk en vrede.

Gebed                                            

Slotlied: Liedboek 190 - Grote God aan U die eer (v. 1+3)                    

Seën:            
Liedboek 314: Amen

Terug