Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

22 April 2018 Dr. Tinus van Zyl

Lees preke

22 April 2018 – Goeie Herder Sondag

Klassieke diens: Nagmaal

Skriflesing:    Psalm 23

Soos ‘n ou gereformeerde dominee het my preek vanoggend drie punte:

  1. Die Goeie Herder gee vir ons die lewe
  2. Die Goeie Herder ís die lewe
  3. Hierdie lewe is lewegewend
  1. Die Goeie Herder gee vir ons die lewe

Psalm vir begrafnisse

‘n Mens dink aan Psalm 23 as ‘n Psalm wat langs siekbeddens gelees word en waaroor daar gepreek word by begrafnisse, omdat dit so ‘n wonderlike troosvolle Psalm is. Dit maak dat ‘n mens die Psalm assosieer met siekte en dood.

Psalm van lewe

Maar ‘n mens moet onthou dat Psalm 23 eintlik oor die lewe gaan. Die Goeie Herder gee lewe deurdat Hy die skape bring by weivelde waar kos is om te eet en by riviere waar daar water is om te drink.

Die Goeie Herder laat die skape rus, sodat hulle nuwe lewenskrag kan kry. Met sy stok en sy staf begelei hy die skape en beskerm hy hulle teen die wilde diere wat hulle wil aanval en doodmaak.

So hou die Goeie Herde sy skape aan die lewe. Die Goeie Herder gee lewe vir sy skape.

 Lewe in oorvoed

 Maar dis nie al nie. Psalm 23 gaan nog verder. Die Goeie Herder gee nie net lewe nie, maar Hy gee lewe in oorvloed.

 Die Psalmdigter sê dat God hom laat aansit by ‘n feesmaal, hom ontvang soos ‘n eregas, hom oorlaai met hartlikheid. Sy beker word nie net gevul nie, maar dit loop oor.

 Die hartlikheid, goedgunstigheid en welwillendheid waarmee die Here lewe skenk aan die digter, is oorvloedig. Dit is lewe in oorvloed.

 Dit is waarvoor Jesus ook sê dat Hy gekom het, as Hy in Johannes 10 sê dat Hy die Goeie Herder is: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

 Die Goeie Herder is die lewe

 Maar die Goeie Herder gee nie net lewe nie, die Goeie Herder ís ook die lewe.

 Te midde van gevare

 Die rede hoekom Psalm 23 so ‘n troosvolle Psalm vir gelowiges deur die eeue was, is omdat die digter dit so mooi verwoord dat die lewe wat die Goeie Herder gee, gee Hy te midde van gevare en moeilikhede, binne-in die hartseer en swaarkry van die lewe.

 Nie sorgeloos nie

 Psalm 23 is nie ‘n Psalm van iemand wat ‘n sorgelose lewe van voorspoed en welvaart beleef nie.

 Vroeë Dawid

 Kommentare vermoed dat Dawid die outeur was omdat die styl van die poësie baie soortgelyk is aan Dawid se skryfstyl.

 Maar as Dawid wel die outeur was, dan het Hy dit in alle waarskynlikheid geskryf in sy vroeë lewe, toe hy ‘n vlugteling en ‘n banneling in die woestyn was, wat verwerp is deur sy geliefde koning Saul en daagliks in vrees vir sy lewe geleef het.

 Iemand wat daagliks in nood is

 Hierdie is nie die Psalm van die latere Dawid – ‘n koning wat in weelde en gemak in die paleis leef nie. Hierdie is die Psalm van iemand wat daagliks in die dal van doodskaduwee leef, iemand wat egte vrees vir gevaar ken en wat werklike teëstanders het: vyande wat sy lewe wil beëindig.

 Diepste belydenis in kern

 In die kern van die Psalm, maak die digter sy diepste belydenis: Ek sal geen onheil vrees nie. Hierdie belydenis staan rug aan rug met die belydenis dat die Here sy Herder is.

 Onheil vrees vs Herder vrees

 Die Hebreeuse woord vir Herder – ra’ah – klink soos die Hebreeuse woord vir onheil – ra’.

 Die digter bely dus: Al leef ek daagliks teenoor in aangesig van gevaar en nood sal ek nie die onheil – ra’ – vrees nie, maar sal ek net Here, my Herder – ra’ah – vrees.

 Hierdie is ‘n belangrike belydenis, want dit is so maklik in die aangesig van gevaar en nood, om die onheil te vrees, eerder as die Goeie Herder, wat die lewe gee, te vrees.

 Moenie vashou aan kos en water nie

 Die digter help ons om te onthou dat alhoewel die Goeie Herder lewe gee – kos om te eet, water om te drink, rus en lewenskrag, beskerming teen gevaar – moet ons nie vasklou aan die lewe nie – die kos, water, rusplek en beskerming nie.

 Hou vas aan Herder

 Nee, ons moet vasklou aan die Herder wat hierdie dinge skenk, wat die lewe gee. Want die Goeie Herder géé nie net lewe nie, maar die Goeie Herder ís ook die lewe.

 Brood van die lewe

 In Johannes 6 lees ons dat Jesus, nadat hy vir die skares brood gegee het om te eet, sê: Ek is die brood van die lewe. En in Johannes 4 sê Jesus vir die Samaritaanse vrou by die put, dat as ‘n mens die water drink wat uit hierdie put kom, sal jy weer dors raak, maar as jy die water drink wat Jesus gee, sal jy in alle ewigheid nooit weer dors kry nie.

 Ek kom niks kort nie

 Daarom kan Dawid bely: Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie. Want die Goeie Herder gee nie net kos, water, rusplek en beskerming om van te lewe nie, maar die Goeie Herder ís die lewe, die oorvloedige lewe.

 Selfs in grot

 En daarom kon Dawid bely, ook toe hy in ‘n grot in die woestyn wegkruip, met ‘n weermag van vyande wat hom soek om hom dood te maak: Ek kom niks kort nie.

 Psalm 16

 Dit laat ‘n mens dink aan Psalm 16, waar Dawid bely:

“Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.

By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.”

 Hierdie lewe is lewegewend

 Kon Dawid die psalm onthou?

 Ek wonder of Dawid ook hierdie Psalms, Psalm 16 en Psalm 23, kon sing later in sy lewe? Ek wonder of Dawid hierdie Psalms se wysies nog kon onthou en hulle nog kon neurie, toe hy ‘n magtige koning was, wat oorloë teen ander volke gemaak het om die rykwydte van sy mag te vergoot?

 Batseba en Urija

 Het koning Dawid nog Psalm 23 onthou, toe hy ‘n voorspoedige koning was wat in luukse weelde in die paleis geleef het, en wat vir Batseba kon begeer en haar vat, en dan haar man, Urija, laat doodmaak.

 Ek wonder

 Ek wonder of Dawid toe nog steeds kon sing: “Ek kom niks kort nie”? Ek wonder of Dawid toe nog kon neurie: “Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.”

 Ek wonder of Dawid nie in sy slaap nagmerries gekry het dat die Here voor Dawid ‘n tafel dek vir Urija en vir Urija voor Dawid se oë laat aansit by daardie feesmaal nie?

 Ek wonder of die woorde: “Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe,” nie dalk by Dawid gespook het nie? Miskien het hierdie woorde hom agtervolg soos ‘n reëltjie uit ‘n liedjie wat oor en oor deur jou kop gaan, soos ‘n plaat wat vasgehaak het, en wat jy net nie uit jou gedagtes kan uitkry nie.

 Dawid moes goeie herder wees

 Want sien, toe Dawid koning word, toe was hy veronderstel om die volk se Goeie Herder te wees. Die koning van Israel was letterlik gesien as die verteenwoordiger van God, die herder van die volk, wat namens God moet sorg vir die volk, die volk moet beskerm teen gevaar en vir die volk lewe moet gee.

 Hoe meer hy kry, hoe meer begeer hy

 Maar ironies genoem, hoe meer Dawid gekry het, hoe meer het hy begeer. Soos Dawid se mag en voorspoed vermeerder het, het sy oorvloedige blydskap in die lewe wat die Here vir hom gee, verminder. Hoe meer hy uit die uit lewe gekry het, hoe minder lewe het hy aan ander geskenk.

 Gee nie lewe nie, maar neem lewe

 En in plaas daarvan om lewe te gee, het koning Dawid lewe geneem. Koning Dawid, die herder van die volk, het vergeet van die Here, sy Herder, wat vir hom die lewe gee en vir Hom die lewe ís.

 Dawid het gegryp na die lewe en sodoende verleer om die lewe uit God se hand te ontvang. Hy het meer en meer goeie dinge begeer, eerder as om ‘n goeie lewe te begeer.

 Hy wou meer en meer uit die lewe kry, eerder as om meer en meer lewe aan ander te gee. Hy het gesoek na ‘n lewe van oorvloed, eerder as om te strewe na God se oorvloedige geregtigheid, goedheid en troue liefde.

 Jesus neem nie lewe nie, maar gee sy lewe

 En daarom, as Jesus verklaar dat Hy die Goeie Herder is, dan sê Hy dat Hy nie gekom het om lewe vir homself te neem nie, maar om sy lewe af te lê ter wille van die skape. Die Goeie Herder gee lewe, die Goeie Herder ís lewe, en hierdie lewe is die soort lewe wat nie lewe vat nie, maar wat lewe gee.

 Ook vir ander skape

 En Jesus gaan selfs verder in Johannes 10. Hy sê: “Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder.”

 So dis nie eers net dat Jesus die Goeie Herder is, wat sy lewe aflê vir sy eie skape nie. Nee, Jesus is die Goeie Herder, wat sy lewe aflê, ook vir ander skape wat nie tot hierdie kraal behoort nie; vir ander mense wat nie deel van hierdie volk is nie.

 Lewe wat nie gryp vir myself nie, maar weggee

 Die lewe wat die Goeie Herder gee, die lewe wat die Goeie Herder ís, is die soort lewe wat nie lewe vir myself gryp of lewe vir my eie mense probeer verseker nie, maar dit is dié soort lewe wat lewe aan ander gee, ook aan dié wat nie deel van hierdie kraal is nie.

 Lewegewend

 Die lewe wat die Goeie Herder gee, die lewe wat Jesus gee, is lewegewende lewe.

 Geheim van lewe

 Die Goeie Herder kom wys vir ons die geheim van die lewe. En die geheim van die lewe is dit: Hoe meer jy uit die lewe probeer uitkry, hoe meer jy van die lewe probeer vat vir jouself of vir jou eie mense, hoe minder van die lewe het jy. Maar hoe meer lewe jy gee aan ander, ook aan mense wat nie deel jou groep is nie, hoe meer oorvloedig raak jou lewe.

 Soos brood en water

 Soos die brood wat aanhou vermeerder soos die dissipels dit breek en uitdeel vir die mense, soos ‘n fontein van lewende water wat in ‘n mens opborrel en wat vir ewig aanhou water gee, so is die lewe wat Jesus gee, dit raak net meer soos wat dit weggegee word, en dit hou aan tot in ewigheid.

 Jesus se lewe loop oor

 Jesus is die Opstanding en die lewe. Deur sy lewe weg te gee, het sy lewe nie verminder nie, maar het dit net meer oorvloedig geraak. Sy lewe het oorgespoel in sy dissipels, en in miljoene gelowiges oor tweeduisend jaar en dit spoel ook oor tot in ons, sodat ons ook vandag hierdie oorvloedige, ewige lewe in ons het, wat nooit minder kan raak nie, maar wat net vermeerder soos ons meer en meer daarvan weggee aan ander. Amen.

 

 

Terug