Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

21 Oktober 2018 Ds Wynand Breytenbach Klassieke Diens

Lees preke

KLASSIEKE DIENS

SONDAG 21 OKTOBER

 

Preek

Ek het in graad 3 my eerste geveg gehad. Vuis geswaai na ‘n seuntjie waarvoor ek kwaad geraak het omdat hy vir my iets gesê het.

My pa is oorlede daai Mei in ‘n motorongeluk en die raad aan my Ma van die sielkundige was dat ek so gou as moontlik weer in my roetine by die skool moet kom so ek was daai selfde week weer skool toe na ‘n paar dae se rus en rou by die huis. Natuurlik het hulle dit dieselfde dag wat ek terug was afgekondig in die saal en ek het uitgebars in trane en uitgestorm badkamer toe soos enige 8 jarige sou. En alhoewel die kinders by die skool hard probeer simpatiseer en troos het was die hartseer te erg.

Daai dag se pouse het daar ‘n pel by my kom sit en met my gepraat oor die saak.

Hy het vir my gesê “jammer om te hoor van jou pa se dood, ek weet hoe jy voel”. Alhoewel sy pa nog geleef het. Ek was so kwaad, op 8 jaar oud, vir die seuntjie wat gejok het dat hy weet hoe ek voel. Ek weet nou dat hy my net wou troos, maar toe wou ek niks met hom te doen hê nie omdat dit vir my gevoel het soos ‘n leun. Ek het hom toe geslaan in die gesig uit woede uit. Soos ek terug kyk weet ek dit was omdat ek nog met die rou proses besig was, maar toe was dit omdat hy gesê het hy verstaan en ek het geweet hy doen nie.

Ek wou net verstaan word in daai tyd. Of ten minste moes mense verstaan dat hulle nie kon verstaan nie. Veral nie mense wat nog nie iemand verloor het nie. Indien my pel se pa ook oorlede was sou sy troos geloofwaardig wees en sou ons dalk saam kon sit en huil in plaas daarvan dat hy nou volgens my vir my gejok het.

Mense sukkel om met die wonde van die lewe te worstel. Ons sien iemand anders se pyn, maar ons weet nie wat om daarmee te maak nie. Soos die seuntjie my pyn gesien het. Nie eers gepraat van wat ons met ons eie pyn maak nie.

Na die eerste wêreld oorlog sou mens dink dat daar baie pyn was onder die mense wat deur die tragiese verhaal moes leef. Mense wêreld wyd sou kon vra na hierdie verskriklike tyd of daar ooit nog iets sou kon wees soos die “goeie nuus” in die Christendom. Hoe lyk goeie nuus vir mense wat nou jare se mens slagting en brutale oorlog aanskou het en hoe sê mens vir die mense wat daar betrokke was van ‘n God van liefde sonder om hulle te laat voel soos ek gevoel het toe ek die seuntjie geslaan het?

In daardie post-oorlog tyd het baie mense die dominees begin eenderse vrae vra. Rev. Edward Shillito in Engeland het self ook die vraag gevra en hoe dit kan gebeur dat hy nou vir mense moet antwoord oor wat die goeie nuus is.

‘n Gedeelte van sy breë antwoord was dat nie eers God homself van die pyn van menslike lyding ontneem het nie. Die tweede persoon van die Triniteit het self op die kruis ‘n gruwelike ontmoeting met pyn en kwelling gehad en sy samevatting was dat ons een van die enigste gelowe ter wêreld is wat ‘n God dien wat gely het as ‘n mens. Om hierdie vreemde gedagte van ‘n God wat ly te probeer vasvang het het hy ‘n gedig geskryf met die naam:

Jesus of the Scars

If we have never sought, we seek Thee now;
Thine eyes burn through the dark, our only stars;
We must have sight of thorn-pricks on Thy brow;
We must have Thee, O Jesus of the Scars.

The heavens frighten us; they are too calm;
In all the universe we have no place.
Our wounds are hurting us; where is the balm?
Lord Jesus, by Thy Scars we claim Thy grace.

If when the doors are shut, Thou drawest near,
Only reveal those hands, that side of Thine;
We know today what wounds are; have no fear;
Show us Thy Scars; we know the countersign.

The other gods were strong, but Thou wast weak;
They rode, but Thou didst stumble to a throne;
But to our wounds only God’s wounds can speak,
And not a god has wounds, but Thou alone.

—-Rev. Edward Shillito

Vandag se teks lei ons op ‘n ontdekkingsreis na die hart van ‘n God wat medelye het met ons. Wat verstaan hoe ons voel omdat Hy al self deur die pyn was. Self die skaamte aan Sy lyf gevoel het aan ‘n kruis.

Net nadat ons sien hoe God alles van ons weet,  Al ons wonde, Al ons twyfel, Al ons tekortkominge, sien ons hoe Jesus vir ons ‘n pad oop gemaak het tot in die teenwoordigheid van God, daar waar daar vrede en rus is. Die perikoop is juis daarop gefokus om ons te help verstaan dat God ons in sy rus wil nooi, tenspyte van ons wonde en dat daar definitief tye gaan wees waar ons nie waardig genoeg voel om in Sy rus te wees nie.

In die teks let ons ‘n paar elemente van hierdie God op:

12 Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 

  • In vers 12 sien ons hoe dit die Woord van God is wat ons leer van God se bedoelings met ons.
  • Dat dit in die Woord is waar ons moet gaan soek vir die antwoorde op moeilike vrae soos wat ek gehad het toe my Pa oorlede is of Rev. Edward Shiillito toe hy nie geweet het wat om te antwoord vir die mense na die oorlog nie.
  • Vers 12 sê dat die Woord beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 
  • Ons sien ook ongelukkig elke eeu hoe gevaarlik dit is om die Bybel te gebruik vir jou eie gewin waar dit mense onderdruk en seermaak.
  • Hoe ons soms mense seer maak deur te maak asof ons ware medelye het byvoorbeeld.

13 Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

  • Dit was vir my eens ‘n op ‘n tyd ‘n groot verleentheid om te dink dat God al my wonde sien (Wonde is hier ‘n oorkoepelende term vir al my foute, seer en pyn). Amper asof ek hom in die steek laat.
  • Dit sê in vers 13 dat God alles van my weet. Ook daai dele wat ek vir niemand wys nie. Nie eers myself nie.
  • Maar dit het ‘n bevrydende gevoel geraak hoe meer ek agter gekom het wat Jesus vir ons gedoen het deur Sy kruisiging en dat ons ‘n gekruisigde Jesus volg wat opgestaan het.
  • Ek wil tog nie hê iemand moet my kies omdat hulle dink my beste voetjie wat voor is is my enigste voetjie nie. Ek wil hê hulle moet alles van my weet en my dan kies. Ten spyte van my foute.
  • Baie keer soek ons perfekte mense om ons te red, maar eintlik voel ons meer tuis by mense wat hulle gebrokenheid erken.
  • Een van my geliefkoosde orkeste is Straatligkinders en hulle het lirieke wat baie aanklank vind by jongmense. Dit sê: Ek is te vuil vir die kerk en te skoon vir die wêreld.
  • Net so voel hulle soms dat hulle nie hulle wonde by die kerk kan kom wys nie, die mense gaan hulle teveel oordeel.
  • Iemand het eendag gesê dis nie die ongelowiges wat die kerk seermaak nie, dis die Christene wat nie soos Christene leef nie wat die kerk seer maak. (Dis nie die ongelowiges wat die probleem is nie, dis die Christene wat nie soos Christene leef nie.)
  • Niks is verborge aan God nie, maar ons steek graag almal ons wonde weg van mekaar want ons het nie die vrymoedigheid om dit hier te wys nie.

14 Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 

  • Dan kom die Hoëpriester in die prentjie.
  • Interessante storie oor Hoëpriesters wat ‘n tou om hulle lywe gesit het vir in geval hulle nie rein genoeg was nie en dood neergeslaan het in die Allerheiligste.
  • Natuurlik het hulle ‘n Tempel model gehad waar hulle geglo het God is net teenwoordig in die tempel gebou/kerk en nie ‘n Jesus model waar God teenwoordig is deur Sy Gees oral waar ons gaan nie.

15 Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het       nie gesondig nie. 

  • Die verskil met Jesus as ons hoëpriester is, behalwe dat hy self nie hoef offers te gegee het om sy sondes te vergewe nie en dat Jesus die finale offer was, dat hy ware medelye het met enige iemand tot die dood toe.
  • Die kruis maak dat Hy ware mededeelsame medelye kan hê in al ons wonde tot die dood toe.
  • Iets wat interessant is wat ek opgelet het tydens die Hemelvaart tyd is dat Jesus Hemel toe is met Sy wonde.
  • Die dissipels erken vir Jesus nie aan sy perfektheid in Luk24 nie, inteendeel is dit wat maak dat hulle hom nie erken nie, totdat Hy Sy wonde aan hulle wys.
  • Hy vaar ook Hemel toe met sy wonde. Hy is welkom in die teenwoordigheid van God met Sy wonde net soos in hierdie verhaal waar hy reeds Hemel toe is as ons Hoëpriester.
  • ( Finaal? As ‘n huis afbetaal het hoef ons mos nie weer nie? Dit voel soms of Christene oor en oor wil hê God moet hulle red nadat hulle reeds gered is.
  • Sommige kerke wat elke Sondag dieselfde gelowiges doop en hulle hande laat opsteek om weer en weer gered te word. )

16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

  • Juis omdat ons in die eerste deel gehoor het God sien al ons wonde kan ons met vrymoedigheid in God se teenwoordigheid in met geen skaamte.
  • Ons is met ons wonde welkom by God.
  • Jesus het medelye met ons swakhede, omdat Hy ook versoekings beleef het.
  • Baie keer voel ons ons kan nie die troon/ God se teenwoordigheid met vrymoedigheid benader nie as gevolg van ons eie wonde. Ons eie gebrokenheid.

Ek sien talle kere hoe ek en die kerk mense laat ongemaklik maak voel wanneer ek voortsit dat ek perfek is. Dit skep ‘n atmosfeer waar daar nie diep en eerlike gemeenskap kan plaasvind nie.

‘n ouer man het in die week vir my gesê ons moet eintlik die standaarde van die kerk verlaag omdat dit nie die beste mense is wat hier bymekaar kom nie, anders het ons nie vir God nodig gehad nie, dis die mees gebroke mense wat hier bymekaarkom.

God het medelye met daai klein seuntjie wie sy Pa verloor het want hy het al ‘n seun verloor.

God het medelye met daai mense wat deur die oorlog gegaan het, want hy het al ‘n seun verloor.

As gevolg daarvan dat ons ‘n God dien wat self gely het kan ons ‘n kerk wees wat deur ons gebrokenheid vreemdelinge, weeskinders en weduwees (wat almal oorkoepelende samevattende terms is van vir wie die kerk moet wees) laat welkom voel by ons.

Paar vrae wat by my opgekom het:

Wat doen dit aan my om te dink aan God wat self gely het?

Hoeveel begrip het ek met mense se wonde?

Hoeveel geduld het ek met my eie tekortkominge/wonde?

Oomblik van Stilte.

Mag ons oopgebreek en broos staan voor God met al ons wonde.

Mag ons leer om soos God medelye te hê met mense in tye waar ons nie weet wat ons moet sê nie.

Mag ons ook weet dat God met ons deelnemende medelye het met ons wonde

Amen

Terug