Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

20 Augustus 2017: Ds. André Agenbag

Lees preke

Teks: Genesis 2:18-23

Geslagsgelykheid

Inleiding: Wie is ons rêrig?

Jare gelede het ek ‘n oulike boekie gelees met die titel, “Will the real me please stand up?” Sal die ware ek asseblief opstaan? Wie is die ware ek? Wie is jy regtig? Hoe het jy geword wie jy is? Die Psalmskrywer (8:5) vra, “Wat is die mens dat dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” Wie is ek? Wie is jy? Hoe het ons hier gekom? Watter dinge het ons gevorm? Daar is soveel faktore wat veroorsaak het dat ons vanoggend is wie ons is. Goeie dinge en slegte dinge. Daar is mense wat ons met blydskap, dankbaarheid en nederigheid onthou en aan ons wie ons hulde kan bring as mense wat ‘n groot rol gespeel het in ons lewens. Natuurlik is daar ook mense oor wie ons minder aangename herinneringe het.

En hier staan ek voor julle. Ek is ‘n man. ‘n Manspersoon. Maar tog is dit ook nie so eenvoudig om te weet wat ‘n man is nie, nê? Deur die jare het ek al soveel verskillende soorte mans ontmoet. Mans wat sóveel van mekaar verskil, dat ‘n mens kan wonder of ons tot dieselfde spesie behoort. Daar ís nou maar net eenvoudig enorme verskille tussen ons as mans. So ook met die vrou.

Hoe is ek die man wat ek is? Is my manwees blote biologie? Want dit lyk asof die wetenskap ons ook nie eintlik van maklike antwoorde kan voorsien nie. Ook die wetenskap het nie eenvoudige antwoorde vir wat ‘n man of ‘n vrou dan nou eintlik is nie. Baie dinge het ons gevorm: As mense; as man as vrou. Die mense wie ons vanoggend hier is.

My ervaring as student

My manwees is baie sterk uitgedaag toe ek in die vroeë negentigerjare ‘n teologiestudent by die Kweekskool op Stellenbosch was. Ons was ‘n unieke klas. As gevolg van die besluit van die Algemene Sinode in 1990 om die vrou tot die amp van ouderling (en dus leraar) toe te laat, was daar in ons klas van 27 studente nie minder nie as 6 vroumense! Ongekend in die geskiedenis van die Kweekskool! ‘n Paar van die vroue het al teologie begin studeer nog voordat die kerk vroue tot die amp van leraar toegelaat het. Van hulle het in die geloof gaan studeer in 1988 en 1989. In die geloof dat die NG Kerk vroue uiteindelik tog sal toelaat tot die amp van ouderling en leraar. En daar was ‘n hele klomp vroue wat in die sewentiger en tagtigerjare teologie gaan studeer het, maar net nooit dominees kon word nie, omdat die NG Kerk nie vroeër, soos hulle gehoop het, vroue tot die bediening toegelaat het nie.

Ons klas was deur die loop van drie jaar deurdrenk van konflik! Vanjaar toe ek deur die gange van die Kweekskool wandel, loop ek weer by een van ons klaskamers verby. Daar loop ek toe een van die opsigters raak wat nog steeds na al die jare by die kweeskool werk. Hy sê vir my, “Hierdie is mos die klas waar julle so vreeslik baklei het!” En dit is so, vriende. In daardie klas was die konflik baie erg, want hierdie ses vroue het geweier om te aanvaar dat vroue minderwaardig is. Hulle het op elke punt daarop gestaan dat mans en vroue voor God gelyk is. Daarom het hulle aangedring daarop dat vroue en mans presies 100% gelyk is.

Wanneer jy saam leef en studeer vir drie jaar, kom jy agter dat manlike meerderwaardigheid dieper lê as wat jy dink. Wanneer ses hoogs intelligente, sterk vroue die klas die heeltyd hieraan herinner, kom die goed wat onder die oppervlak is te voorskyn. Sekerheid wat eintlik onsekerheid is. Die chauvinisme. Die manier waarop ons die Bybel nog altyd gelees het. Uiteindelik het hierdie ses vroue ons almal gehelp om beter dominees te word. Om beter te verstaan wat dit is om mans te wees.

Dis eintlik pynlik vir my as man om oor geslagsgelykheid te praat

Want ek is nie ‘n vrou nie. En op ‘n eerste vlak staan mans tog nie aan die ontvangkant van geslagsongelykheid of geslagsdiskriminasie nie. Tóg dink ek dat chauvinisme nie goed is vir mans nie. ‘n Chauvinistiese wêreld, ‘n manswêreld, ‘n patriargale wêreld is ook nie goed vir mans nie. Baie van ons mans sal weet dat dit nie altyd goed of lekker was vir ons om in ‘n “man’s world” te leef nie.

Ek onthou die keer wat ek die eerste keer pyn ervaar het omdat ek ‘n seuntjie was. Ek was dertien jaar oud en gekies vir my provinsie se Cravenweek rugbyspannetjie. In die kleedkamer na die eerste oefening kondig die hoofkeurder toe aan dat ek die span se kaptein sal wees. En daar gaan ek aan die grens! Van blydskap. Ek onthou hoe verleë en skaam ek was omdat ek gehuil het. Jy het net geweet ‘n man behoort nie só te reageer nie. Dis waar ek die eerste keer gevoel het: Iets van hierdie wêreld help my nie om ‘n seun of ‘n man te wees nie.

Geslagsongelykheid is kultureel bepaald en subtiel

Daarom is dit vir ons moeilik om gekonfronteer te word met geslagsongelykheid. Ons het dit aan moedersknie ontvang; amper met moedersmelk! Dat mans belangriker is; dat mans meer gesag het as vroue. Veral in ‘n wêreld waar dit deel van die godsdiens is. Dink maar net ‘n bietjie hoe ons kerke ons geleer het dat mans belangriker is as vroue. Die man moet die hoof van die huis wees en daaruit volg daar ‘n soort volgorde van hoe alles werk. En só word ons wie ons is. Later is ons glad nie meer bewus daarvan dat ons chauvinisties is nie. Dat ons neersien op vroue nie. Ons dink dat dit so behoort te wees. Dit was dan nog altyd so!

Die manier waarop ons die Bybel leer oefen ‘n groot invloed uit

Die manier waarop ons die Bybel leer oefen ‘n groot invloed uit op die manier waarop ons die verhouding tussen mans en vroue verstaan. Uiteindelik raak dit nie net ons oortuigings nie, maar ook ons gedrag. Die wette wat ons maak. Die besluite wat ons neem. Die besluite oor wie in die ampte mag dien of nie. Wie die roeping wat hulle van die Here ontvang het mag uitleef of nie. Wie watter tipe salarisse mag verdien.

Geleerdes in die sosiale wetenskappe sê vir ons dat dit wat godsdienste vir ons leer oor die rol van die man en die vrou ‘n direkte invloed uitoefen op dinge soos gesinsgeweld en verkragting. Wat ons leer by ons godsdienste t.o.v manlikheid en vroulikheid is dus geen onskuldige saak nie. Dis nie bloot maar net ‘n privaat oortuiging wat jy vir jouself kan hou nie. Ons maak geslagte mense groot om hulleself en die teenoorgestelde geslag op ‘n bepaalde manier te verstaan. Om ‘n sekere soort godsdienstige regverdiging te kry vir hoe hulle teenoor mekaar optree. Veral dan nou, mans teenoor vroue. Verskeie geslagte oor eeue heen het geglo die man moet die vrou dissiplineer. Mans is geleer: dis goddelik gesanksioneer om ‘n vrou te slaan want die Bybel sê jy moet dit doen! Daar is ‘n verband tussen godsdiens en hoe jy uiteindelik leef. Daarom moet ons die pynlike goed maar aanvaar. Godsdiens het geweld-ige implikasies!

Die Kerk se Amptelike Posisie

Kom ons kyk na die NG Kerk se pad met die rol van die vrou.

1944: Die vrou as hulpdiakones.

Vroue kon nog nie op die kerkraad dien nie. Maar hulle kon ‘n komitee van hulpdiakonesse vorm. Altyd met ‘n manspersoon as voorsitter.

1974: Skeppingsorde: Dit kan nie verander word nie.

Die verskille tussen mans en vroue asook tussen verskillende volkere is so gegee deur die skepping.

  • Die vrou is nie toegelaat tot die amp nie; want die man is eerste geskape; die vrou het die sondeval veroorsaak; en die skeppingsorde sê die vrou is daar om die man te dien.
  • Dit word gekoppel aan ‘n sekere lees van die Bybel wat leierskap verstaan het in HEERSENDE en amptelike terme.

1978: ‘n Paar ontwikkelings vind plaas

  • In plaas van reekse tekste; kyk die kerk nou na die groot lyne wat deur die hele Bybel loop. Doen die moeite. Kyk na die groot prentjie. Soos dat almal na die beeld van God geskape is. Dat dit nie saak maak of iemand man of vrou is nie, ens.
  • Daar word nou gewys hoe die sosiale en historiese agtergrond ‘n invloed op die gewoontes en praktyk van elke dag uitgeoefen het.
  • Die sondeval word nie meer gesien as toepaslik op die verstaan van die rol van die vrou nie. Die sondeval gaan nie oor vrouwees nie; maar oor die mens wat weier om in God se opdrag te bly.
  • En verder word daar gesê dat die sondeval mos nou nie die finale sê het nie. Die amp kan nie geskei word van die genade wat God in Jesus Christus skenk nie.
  • Christus word nou die ankerpunt van die amp – en nie die skepping nie.
  • Die dienskarakter van die amp word vir die eerste keer uitgelig.
  • Galasiërs 3:28: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een.”

1982: Die vrou as diaken

  • Swygtekste (1 Kor 14:34-35; 1 Tim 2:11-15) wat sê dat vrou moet stilbly in die erediens, sowel as al die ander tekste word binne ‘n konteks van manlike oorheersting verstaan. M.a.w ons moet dit nie net so, eenvoudig en letterlik verstaan nie.
  • Die lang lyne in die Skrif en die Skrif as geheel moes dus die lig werp op die vraag of die twee swyggebodtekste algemeen en vir alle tye geldend tekste vir die kerk neerlê en of Paulus riglyne neergelê het wat vir ’n spesifieke situasie gegeld het en ruimte daarvoor laat om in ander tye op ’n ander manier gekonkretiseer te

Twee interessante bydraes:

  • Die gesprek oor die dra van die hoed in die erediens het ‘n groot bydrae tot die gesprek gelewer omdat dit die belang van konteks en kultuur by die lees van die Bybel tuisgebring het. In die laat sewentigerjare het vroue al hoe minder begin om hoede te dra na formele, sosiale geleenthede. In die oë van die samelewing hoef vroue dus toe nie meer hoede te dra om as respekvol geklee beskou te word nie. Hierdie oortuiging het oorgespoel na die kerk en aanleiding gegee tot die manier waarop konteks en kultuur ook betrek is by die wyse waarop die Skrif vertolk is t.o.v geslagsgelykheid.
  • Die Ring van Pretoria

Ring van Pretoria sê kort voor 1982 dat die eise van die middestad die gemeentes al meer daartoe dwing om vrouelidmate as diakonesse te gebruik.  Hierdie ring het versoek om in die lig van die bogenoemde eise dringend aandag te gee aan die prinsipiële oorweging van die vrou in die amp van diaken. Dit is m.a.w ’n praktiese nood (nie genoeg manlike diakens nie) wat bygedra het tot die uiteindelik toelating van die vrou tot die amp van diaken.

1990: Die vrou as ouderling en leraar

  • Met die toelating van die vrou tot die amp van diaken reeds agt jaar in die verlede, het die Algemene Sinode in 1990 besluit om vroue tot die amp van ouderling (en dus leraar) toe te laat. By hierdie sinode het ‘n ouderling egter ‘n gravamen (beswaarskrif) ingedien wat deur sy streeksinode as hulle eie beswaarskrif aanvaar is. Hierin sê hy die volgende: Die toelating van vrou tot die diakenamp (L.W die besluit wat reeds agt jaar gelede geneem is) is nie “volgens die Bybel nie.” Verder beweer hy dat die emansipasie van vroue sal lei tot “die vervrouliking van die man en die vermanliking van die vrou... wat weer lei tot groter homoseksualisme en lesbianisme in ons tyd.”
  • Die Algemene Sinode besluit egter steeds om vroue voortaan ook tot die amp van ouderling (en dus ook leraar) toe te laat.
  • Mense het gevra of dit enigsins sin het om vroue tot die amp toe te laat, want wie gaan nou ‘n vrou beroep? Waar gaan hulle werk kry? Wel, vandag is daar talle vroue wat al oor baie jare ongelooflik belangrike rolle orals in die kerk gelewer het!

Die NG Kerk se uitspraak in 2002

  1. Die Algemene Sinode bevestig onvoorwaar­delik dat diskriminasie teen die vrou sonde was en is; bely sy eie aandeel, bewustelik of onbewustelik, aan optredes wat onbillik en kwetsend teenoor vroue in die kerk kon wees; moedig predikante, kerkrade en lidmate aan om sensitief te wees vir neerbuig­end­heid en vooroordele teenoor vroue; onderneem om meganismes aan die gang te sit om ernstig aandag te gee aan die saak.
  2. Die Algemene Sinode verklaar die bevoorde­ling van een geslag bo 'n ander as teen die wil van God. Die Algemene Sinode spreek hom uit teen alle vorme van strukturele onreg, diskriminasie, mags­misbruik en geweld. Die Algemene Sinode onder­neem om inklu­siewe taal te gebruik in sy/haar kom­munikasie, en doen 'n beroep op alle ander kerk­vergaderinge om dieselfde te doen. Die Algemene Sinode spreek hom uit teen alle vorme van ge­weld, in die besonder verkragting, kinder­moles­tering en gesinsgeweld, en betuig sy bewoënd­heid met sodanige slagoffers. Die Algemene Sinode is onder die indruk dat dit 'n baie groot probleem in die Suid-Afrikaanse samelewing is. Die Algemene Sinode versoek gemeentes om lidmate te begelei, te troos en by te staan, en sensitief te maak vir die probleem.

Geslagsgelykheid in ander literatuur

Lina Spies skryf in 2014 ‘n artikel met die volgende titel in ‘n Afrikaanse teologiese tydskrif, “Van weerloos tot weerbaar: Die Afrikaanse vrouedigter binne patriargale konteks.” Sy vergelyk haar loopbaan met die dié van Elizabeth Eybers, wat soos sy ook een van ‘n gesin  drie susters was. Maar waar Eybers ma-wees geken het, was sy kinderloos.

Vaderloos

Mark 3:31−35

Ek wonder of ek jou liewer
kon gehad het as wat ek jou het
as ek jou sidderend van pyn
deur my oopgespalkte bene
in hierdie brokkelrige wêreld ingestoot het?
Ek weet van jou pyn
oor jou kind wat om jou selfbehoud
moet groot word met ’n afwesige vader
wat net oor naweke sy opwagting maak.

Nou wonder ek of dit jou sal troos
as jy die ander Jesus ontmoet
wat ek leer ken het op my lewenspad?
Dié Jesus wat omgegee het vir vrouens sonder man,
geteister deur die konvensies van sy tyd:
Marta en Maria van Betanië
en die Samaritaanse vrou by die put;
almal wat hy wou laat drink van die water
wat die diepste dors van menswees les;
die Joodse rabbi wat ook buite die sinagoge
op ’n heuwel of uit ’n vasgemeerde boot
die Tora se eis om die liefde gepredik het.

Dis daar waar ek glo dat jy hom sal vind
in die vrye natuur,
nie by sy moeder en sy broers
wat hulle eenkant gehou
en morrend laat weet het
dat hulle hom soek nie,
maar te midde van sy luisteraars
in ’n kring om hom geskaar
van wie hy gesê het:

‘Hulle is my moeder en my broers en my suster.’

Hierdie Jesus hou die sleutel: Beeld van God

Jesus het vir ons kom wys wat ampswerk is. Hy het nie sy identiteit gevind in geykte geslags- of godsdienstige rolle nie. Hy was ‘n ongetroude man. ‘n Jood wat die hele Joodse stelsel wou hervorm na die diepste bedoeling daarvan: Liefde vir God, naaste en self. Jesus se ampswerk was om altyd die Een te wees wat lei deur te dien. Ampswerk maak nie van ons mense wat magtig of onaantasbaar is nie. Jesus was ‘n leier en het sy ampswerk gedoen deur sy lewe weg te gee vir ander wat dit nie verdien nie.

Slot: Vandag

Vandag is al ses die vroue na meer as twintig jaar steeds in die bediening. Almal ongelooflike werk verrig as gemeentedominees. Van hulle het al verskeie boeke geskryf. Twee werk in die buiteland, onderskeidelik as teologieprofessor in die VSA en hospitaalkapelaan in Amsterdam, Nederland. Van hulle het oor ‘n lang tyd bydraes van onskatbare waarde gelewer in hulle ringe, streeksinodes en op ons Algemene Sinode. Vandag bring ek hulde aan julle!

Amen

Terug