Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

19 Augustus 2018 Dr. Tinus van Zyl Klassieke Diens

Lees preke

19 Augustus 2018

Klassieke diens

Psalm 51 – Praying our sin

 

 

Skriflesing:    Psalm 51

Tannie op dorp

Die storie word vertel van ‘n tannie op ‘n klein plattelandse dorpie wat altyd gesê het: “Ek is maar net ‘n sondaar.” En toe die dominee eendag by haar gaan huisbesoek doen, toe sê hy: “Ek hoor tannie is ‘n sondaar.” Waarop die tannie ontsteld antwoord: “Wie sê so?”

Dawid en Batseba

Dis merkwaardig as ‘n mens die verhaal van Dawid en Batseba lees in 2 Samuel 11-12, hoe ver Dawid gaan om sy sonde toe te smeer. Om die waarheid te sê, dit is Dawid se mislukte pogings om sy owerspel toe te smeer, wat uiteindelik daartoe lei dat hy vir Urija, Batseba se man, laat doodmaak. En so lei een sonde tot ‘n volgende sonde, so lei owerspel tot moord, omdat Dawid nie onmiddelik sy sonde bely nie, maar probeer om dit weg te steek.

Hoe dikwels

Hoeveel keer het dit nie al met mense gebeur nie? Dat as hulle net dadelik hulle sonde erken en bely het, dan kon dinge dalk nog anders uitgedraai het, maar nou, in ‘n poging om ‘n beeld van onskuld voor te hou, in ‘n poging om hulle goeie naam te beskerm, om nie in die skande gesteek te word nie, grawe hulle net hulleself al hoe dieper in die gat van sonde.

Tipies soos die mens

En tipies soos die mens is, sien Dawid die sonde baie makliker raak in iemand anders as in homself. Toe die profeet Natan vir hom ‘n opgemaakte storie vertel van ‘n ryk man wat te suinig was om een van sy lammers te slag vir ‘n besoeker en toe ‘n arm man se enigste hanslammetjie geslag het, was Dawid baie vinnig om te oordeel oor daardie sondige man : Laat hom doodmaak!

Jy is die man

Waarop Natan antwoord: Jy is dié man! Natan het baie goed verstaan hoe sonde werk. As hy reguit vir Dawid beskuldig het, sou Dawid allerlei verskonings en verontskuldigings gehad het. Maar toe Natan voorgee om van iemand anders te praat, was Dawid baie gou om die persoon se sonde te veroordeel. Is ons nie almal so nie?

Is ons nie maar almal so nie? Ons herken die sonde so maklik as dit iemand anders is wat dit pleeg. Maar as dit ekself is, dan kom rasionalisasies en selfregverdigings baie makliker as skulderkenning en sondebelydenis.

Selfs wanneer ons bely

En selfs wanneer mense hulle sonde bely, dan voer hulle nog dikwels ‘n verskoning of ‘n regverdiging in die sondebelydenis in: Ek is baie jammer, maar ek kon nie anders nie; of: Ek is baie jammer, maar hy het my aangehits; of: Ek is baie jammer, maar ek was nie die enigste een nie; of: Ek is baie jammer, maar as jy weet wat hulle gedoen, dan sou jy dieselfde reageer het.

Benadeel onsself

Die ironie is dat ons net onsself benadeel deur sondebelydenis te probeer ontduik. In Psalm 51 lees ons wat God alles vir ons kan en wil doen as ons ons sonde bely: God kan ons vergewe, God kan ons vernuwe, God kan vir ons ‘n rein hart skep, God kan ons met vreugde en blydskap vul, God kan ons lei om sy wil te doen, God kan ons standvastig maak, God kan ons leer om sy Naam te loof.

Wonderlike dinge wat God doen

Al hierdie wonderlike dinge en nog meer kan en wil God alles vir ons doen. En wat is die voorwaarde? Wat moet ons doen, sodat God al hierdie dinge vir ons sal doen? Niks! God begeer geen offers nie, sê Dawid. Ons hoef nie eers hierdie of daardie offer vir die Here te bring voordat God ons sal vergewe nie.

Net berou

‘n Hart vol berou sal nie deur die Here weggewys word nie, sê Dawid. Daar is geen offer nodig nie. Geen geskenke; niks gunse is nodig, sodat God ons sal vergewe nie. Al wat God begeer is dat ons onsself sal oopstel sodat God ons kan vergewe, verander en vernuwe.

Onverdiend

Al wat God verlang, is dat ons God se vergifnis sal ontvang. En wanneer jy vergifnis en genade ontvang, dan raak jou hart sag, dan vul met dit jou gees met berou oor jou sonde en dankbaarheid vir God se genade, vreugde oor God se verlossing.

Traag om te bely

Dit is so vreemd dat ons mense so traag is om ons sonde te bely. Dis so vreemd dat ons eerder sal vasklou aan ons sonde en ons flou verskonings, as om die lewensveranderende vergifnis en genade van God te ontvang, wat nuwe mense van ons maak.

Bang om nuwe mense te word

 Maar miskien is dit juis waar die probleem lê. Miskien is ons bang om nuwe mense te word. Miskien voel dit te onbekend en bedreigend vir ons om te dink dat ons lewe sal verander. En daarom klou ons eerder vas aan dit wat bekend is, aan ons ou manier van doen, aan ons ou manier van lewe, want ten minste weet ons dan wat om te verwag.

Hoe werk dit vir jou?

Die reguit vraag wat ons vir onsself moet afvra, is: Hoe werk dit tot dusver vir ons uit? Hierdie ou manier van doen, hierdie ou manier van lewe? Is dit besig om vir ons te werk?

Dit werk vir hulle!

Party mense sou dalk kon redeneer: Ja, om sondig te lewe werk baie beter uit as om goed en regverdig te lewe. Kyk net na die losbandige mense wat doen net wat hulle lyf begeer – kyk hoeveel genot het hulle! Kyk na die magtiges wat net al hoe meer mag gryp en die rykes wat net al hoe ryker word – alles werk vir hulle uit! Kyk na koning Dawid – hy gryp ‘n mooi vrou, hy vermoor haar man – en hy kom weg daarmee!

 En tog

 En tog, as ons Psalm 51 lees, dan bid en vra Dawid vir God om hom weer met blydskap en vreugde te vul. Hy smeek dat hy weer die geluk van God se verlossing sal beleef.

 Geen vreugde

 So dit wil voorkom asof Dawid, wat alles kon kry wat sy hart begeer – hy was op die hoogtepunt van sy mag as koning, hy het in weelde geleef, hy het talle vroue en byvroue tot sy beskikking gehad – en tog was dit nie vir hom genoeg nie, tog het hy nie blydskap en vreugde belewe nie.

 Geen sin om vas te klou nie

 En wanneer Natan vir Dawid konfronteer met die beeld van ‘n suinige ryk man, wat geen meer vreugde vind in sy rykdom nie, want nie eers een lammetje kan slag om dit te deel met ‘n besoeker nie, en wanneer Dawid besef dat dit is wie hy geword het – iemand wat geen meer vreugde kan vind in die oorvloed tot sy beskikking nie – dan besef hy dat daar geen meer sin daaraan is om aan die ou Dawid vas te klou nie, want dit is ‘n leë, ongelukkige Dawid.

Skep ‘n rein hart

 En dan bid Dawid tot God: Skep vir my ‘n rein hart. Die woord “Skep” wat Dawid gebruik – barah – is dieselfde woord wat in Genesis 1 gebruik word om te beskryf hoe God die hemel en die aarde geskep het. Dawid vra dus nie vir God om net ‘n klein verstellinkie aan sy lewe te maak nie. Dawid vra om totaal en al van vooraf nuutgemaak te word, om herskep te word.   

Wil nie heeltemal verander nie

 Hoe dikwels bid ons tot die Here om ons sonde te vergewe, maar om tog nie ons sonde heeltemal weg te vat nie. Hoe dikwels bid ons vir die Here om ons te verander, maar net ‘n bietjie. Ons wil nie heeltemal nuutgemaak word nie. Ons wil nie her-skep word nie. Dit klink te ingrypend, te radikaal, te handomkeer.

 “Damage control”

 Eerder as om herskep te word, eerder as dat ons sonde heeltemal weggeneem word, eerder as om totaal en al nuwe mense te wees wat vry is van die sonde, bid ons dat die Here maar net ‘n bietjie “damage control” sal doen, dat God maar net ‘n paar pleisters sal plak, terwyl ons voortploeter as sondaars.

Reeds vergewe

Die groot ironie, die groot grap, liewe vriende, is dat ons reeds nuwe mense is. Ons is reeds vergewe. Ons is reeds nuwe skepsels danksy God se oorvloedige en ryke genade, wat altyd ons mense se aksies voorafgaan. So as ons nie ons sonde wil bely nie, as ons nog vasklou aan ons verskonings en aan ons ou manier van lewe, dan doen ons eintlik iets baie snaaks.

Kuiken

Wanneer ons nie ons sonde wil bely nie, dan is ons soos ‘n kuiken wat uitgebroei het, maar wat nog nie gereed is om ‘n hoender te wees nie. Nou probeer die kuiken terugklim in die stukkende eierdop. Nou gaan lê die kuiken doodstil in ‘n hopie, met dopskerwe oor sy oë, en dink as hy net stil lê, dan kan hy maak asof hy ‘n eier is.

Lagwekkende prentjie

Wat ‘n lagwekkende prentjie moet ons nie vir God wees wanneer ons nog vasklou aan die sonde wat God reeds vergewe het nie?! Wat ‘n lagwekkende prentjie moet ons nie vir God wees as ons nog vasklou aan die ou mens wat ons lankal nie meer is nie?!

Hoekom verander?

Maar, liewe vriende, daar is ook ‘n ander rede hoekom ons somtyds traag is om ons sonde te bely. Somtyds is die probleem nie soseer dat ons vasklou aan ons sonde nie, maar eerder dat ons dink ons het nie sonde nie, ons dink nie ons het nodig om te verander nie.

 “Gewone Christene”

Somtyds vind “gewone”, “ordentlike”, Christene dit moeilik om hulle sonde te bely, want hulle het nog nooit owerspel gepleeg, of moord gepleeg, soos koning Dawid nie. Maar Jesus het die wet kom radikaliseer in sy bergpreek in Matteus 5, deur te sê:

 21 “Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank.”

 27 “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”

Wat is sonde?

Hierdeur laat Jesus vir ons op ‘n nuwe manier dink oor wat sonde is. Sonde is nie die oortreding van ‘n reël of ‘n wet nie. Dit is gewoonlik die eerste verskoning wat mense gebruik as hulle nie hulle sonde wil bely nie: “Ek geen wet oortree nie. Ek het by al die reëls gehou.”

Opsomming van die wet

Die maklikste manier om te weet wat sonde is, is om te dink aan Jesus se opsomming van die wet. Om God te lief te hê met alles in jou wese en om jou naaste lief te hê soos jouself. Dit is God se wil. Hierin word die wet en al die profete saamgevat, sê Jesus.

Verbreking van liefde

Sonde is dus alles wat my liefde vir God en my liefde vir my naaste skade aandoen. Enige iets wat ek doen, of enige iets wat ek versuim om te doen, en waardeur ek nié liefde aan God of aan my naaste bewys nie, is sonde.

Sondebelydenis

Daarom is die eeueoue sondebelydenis van die kerk so perfek verwoord:

Genadige God, ons het teen U gesondig in denke, woorde en dade deur dit wat ons gedoen het en wat ons ongedaan gelaat het.

Ons het U nie met ons hele hart liefgehad nie. Ons het nie ons naaste soos onsself liefgehad nie. 

Sonde vs liefde

Sonde is die teenoorgestelde van liefde, die afwesigheid van liefde, die weerhouding van liefde, die blokkering van liefde, die weiering van liefde.

Onreg

En onreg is wanneer hierdie liefdeloosheid nie net tussen twee persone gebeur nie, maar wanneer dit in die samelewing versprei word deur onregverdige wette, ongenadige instellings, uitsluitende gebruike, diskrimenerende besluite.

Sion

Dawid se sondelydenis bly nie net by sy eie, persoonlike sonde teenoor Batseba en Urija nie. Dawid bid ook dat Sion weer God se liefde en goedheid sal ondervind. Want as Jerusalem weer God se liefde en goedheid ondervind, dan sal hulle weer liefde en goedheid aan mekaar bewys, en dan sal hulle offers weer vir God aanneemlik wees.

Rami Nashashibi

Ek luister gister na ‘n praatjie waarin ‘n Moslem, Rami Nashashibi, ‘n aktivis wat werk vir sosiale geregtigheid, sê dat alhoewel Islam glo dat God regverdig en genadig is, bid hulle nooit vir God se gergetigheid nie, maar altyd vir God se genade. Want ons weet dat as God sy regspraak sal lewer, dan gaan ons almal skuldig staan.

Liefde

Christene kan volledig hiermee identifiseer. Ons almal weet hoe gebrekkig ons liefde is – of dit nou op ‘n persoonlike vlak is – in ons familieverhoudings, of op ‘n professionele vlak – in ons werksomgewing, of op ‘n sosiale, publieke vlak – in ons verhouding met ons medeburgers.

Goeie nuus

Die goeie nuus is dat ons ‘n God van vergifnis en genade aanbid. Die goeie nuus is dat ons ons sonde – ons gebrekkige, gebroke liefde – teenoor God kan bely. Die goeie nuus is dat wanneer ons ons sonde bely, dan word ons lewens verander en vernuwe – dan kom skep God ‘n nuwe hart in ons – ‘n sagte hart vol liefde.

Wie kan dit weerstaan

Wie kan so ‘n goeie God weerstaan? Wie kan hierdie vergifnis en genade weerstaan? Kom ons gryp dit aan! Kom ons bely ons sonde! Amen.

Video:   West Wing, waarin die Amerikaanse president besluit om te erken dat hy iets verkeerd gedoen het

Wet

34 Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35 en een van hulle, 'n wetgeleerde, het Hom met 'n vraag probeer vastrek. 36 “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37 Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38 Dit is die grootste en die eerste gebod. 39 En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40 In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Stilgebed:      Wat, spesifiek, wil ek vanoggend bely?

 

Vryspraak     

8 Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. 9 Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. 10 Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, 11 want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.

12 So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Vryspraak  Elkeen wat in ware berou kom na Here Jesus Christus, verklaar ek vrygespreek in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

 

Terug