Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

18 Februarie 2018 Ds. Jana dickason

Lees preke

Sondag: 18/02/2018                       Oggenddiens by Durbanville Gemeente ( Kerk)

Teks:    1 Petrus 3:18-22

 

Gebed vir reën n.a.v Psalms 23 en 65 (Deel I)

Voorganger:       Aan U, o God, kom ‘n lofsang toe

Gemeente:         Aan U wat die gebed verhoor

Voorganger:       Saam met Dawid bely ons, dat omdat U ons Herder is...

Gemeente:         sal niks ons ontbreek nie

Voorganger:       En omdat U ons Skepper is...

Gemeente:         sorg U vir ons en die skepping

Voorganger:       Skepper God, U is met mag omgewe

Gemeente:         U laat deur u krag die berge vas bly staan

Voorganger:       U sorg vir die land en gee oorvloed

Gemeente:         U maak dit baie vrugbaar

Voorganger:       U het nog altyd vir ons gesorg, Here

Gemeente:         En daarvoor dank ons U met alles wat in ons is

Oomblik van stilte

Gebed vir reën n.a.v Psalms 23 en 65 (Deel II)

Voorganger:       Maar in hierdie droogtegeteisterde tyd,

is ons lofsang ook ‘n smeekgebed, Here!

Gemeente:         Maak die groot riviere vol water, Here!

                        Laat die koring welig staan!

Voorganger:       Alles is U werk! Maak die ploegvore vol water en die kluite nat!

Gemeente:         Laat hulle sag word van die reëns.

Laat alles welig groei.

Voorganger:       Kroon hierdie seisoen met u goeie gawes, Skepper God

Gemeente:        Laat die velde wemel van die kleinvee

                        Laat die vlaktes vol koring staan

                        Laat hulle tot U eer juig en sing!

Almal:               Amen

 

Preek

Agtergrond

Daar kom soms tye in mens se lewe waar jy keelvol raak. Jy besluit dat dinge te ver gegaan het en dat jy nie meer die ander wang gaan draai nie. Die tyd het aangebreek om terug te slaan – hetsy met woorde van bitterheid, of ‘n haatdraende gesindheid, of ‘n optrede wat spreek van geweld of vergelding, of deur ‘n wrok te koester. Maar so sal dit nie verder aangaan nie. Genoeg is genoeg. As ons eerlik is moet ons erken dat hierdie drang iewers by ons almal deurslaan. Selfs die geliefde Petrus skryf soos ‘n man wat geweet het waarvan hy praat. So ‘n reaksie teenoor mense wat ons op die een of ander manier te nakom is natuurlik ook heeltemal verstaanbaar.

Ons kan nie hoofstuk 3 lees sonder om bewus te wees van die agtergrond en die skrywe in hoofstuk 2 nie.

Dink maar aan die terneerdrukkende situasie van die slawe in daardie tyd. Sommige van hulle is selfs deur hul base, wat verkeerd opgetree het, geslaan! Daar was vroue wat met hulle mans moes saamleef wat aan die Woord ongehoorsaam was. Of wat van valse beskuldigings wanneer jy probeer het om goed te doen? Wat van skinderstories oor jou terwyl jy eintlik net aan God gehoorsaam was? Selfs Christene, wat bereid is om die ander wang te draai, kom soms op ‘n punt waar jy voel dat dinge nou hand-uit ruk, dat die lyding net té ondraaglik en té onregverdig word, en dat jy alle reg het om reg in eie hande te neem.

Hfst 2 som die inleidende deel van die brief op deur die lesers daaraan te herinner dat hul volgens hul aard en roeping as volgelinge van Jesus Christus ‘bywoners en vreemdelinge’ in die wêreld is.  As bywoners was hul soos mense wat nie in die status en algemene voorregte van die samelewing gedeel het nie – omdat hul as onbenullig gereken is, nie in tel nie, nie te vertroue nie.  As vreemdelinge was hul soos mense wat nie heeltemal ingepas het nie, wat opgeval het vanweë hul andersoortige gewoontes, waardes en lewenswyse

Hulle het lewens gelei wat mense laat vrae vra het. Hulle was goedhartig, hulle het vir ander omgegee hulle het nie die stroom en houding van selfsug en eie sukses gevolg, wat in hierdie tyd binne romeinse reik teenwoordig was nie. Hulle was bang en vervreemd, weens hulle en hulle navolging van Christus was onder ʼn vergroot glas geplaas. As ons na Hoofstuk 2 kyk sien ons dat Hulle werklik gely het.

In ons eie konteks waar ons amper al afgestomp raak oor die berigte van swaarkry, geweld en dood is dit nie maklik om nie te wil terug beklei met dieselfde geweldadige aksies nie.

Wanneer dit aan ons eie lywe begin raak, ja dit is sulke tye dat ons Petrus se eerste brief liewer uit die Bybel wil skeur. Want daar lees ons dat Jesus Christus…vir ons…ook só gely het. Veel méér as dit gely het. Ons sê die dinge gereeld vir mekaar, maar ongelukkig is dit so dat gelowiges, van die vroegste tye af al, maar altyd wil wegskram van die implikasies van Christus se lyding, ons sluit soms ons oë vir die kruis, of ten beste staan ons vir ‘n oomblikkie daarby stil, ‘n uur ‘n jaar op Goeie Vrydag hou ons ons asems op en stroop ons die kerk van alle versierings sodat net die kruis sigbaar is. En as dit te onuithoudbaar word slaag ons ‘n sug van verligting en slaan ons oë op na bowe, om die opgestane, verheerlikte Here te sien, omring in mag en luister, Regeerder vir ewig, die Een wat gelukkig darem nooit weer so lydend aan die kruis sal hang nie.

Luther het al geweet van gelowiges se weersin in hierdie verstaan van God. In April 1518 word hy na die Augustynse klooster in Heidelberg genooi om daar met die studente en dosente te kom praat. Die dag, is hy in sy gewone strydlustige bui en hy boor deur tot die mees radikale vrae wat aan teoloë en gelowiges gestel kan word. Doodernstig wil hy weet:

“Hoe kan ons God hoegenaamd ken? Kán ons God ken? Is dit moontlik om oor God te kan praat? Asof ons God ooit gesien het? Is ons gepraat oor God, ons teologie, ons geloofstaal, nie die mees arrogante, vermetele daad menslik moontlik nie? Is dit nie totale selfmisleiding en illusie nie?”

Dan die verduideliking. Luther se ongemak lê by, wat hy noem, die teoloë van glorie, van heerlikheid. Die Godskenners wat dink dit is maklik om oor God te praat. Al wat nodig is is om deur jou denke tot kennis van God te kom. Kyk na die skepping en kry daaruit jou kennis van God. Hierdie denke verwerp Luther as vermetelheid. Hy noem dit bespiegelinge.

En hy sê dan dat daar maar net één manier is om God te ken, en dit is deur die lyding en kruis van Christus. Wie God wil sien moet dáár gaan kyk, wie Hom wil hoor moet daar gaan luister, en wie hom wil ken moet daar gaan leer. En dis waar ons moet gaan leer om reg oor Hom te praat. Dit noem Luther die teologie (Godskennis) van die kruis, en dit staan lynreg teenoor die teologie van die heerlikheid. Hy gaan so ver om te sê dat die feit dat ons God slegs deur lyding en kruis ken, “dui op die diepe samehang tussen die lydende Christus, die Enigste Een in Wie God geken kan word, en lydende mense, die enigstes wat vir God kan ken.” (Smit)

Petrus noem in 1 Petrus 2 dat hierdie vereenselwiging met die onverdiende lyding van Christus “genade van God” (2:19-21). Dit is genade by God om onskuldig te ly wanneer ons goed doen, wanneer ons gehoorsaam is aan God en sy wil doen. Ons word – letterlik staan daar in die Grieks – “in Jesus se voetstappe” geroep om ook bereid te wees om onskuldig te ly, om so onsself te verloën, om lief te hê tot op die uiterste punt waar ons onsself dalk mag verloor, en om alles oor te laat aan Hom wat regverdig oordeel. Dit klink dalk nie soos die Blye Boodskap nie. Dit klink eerder na dwaasheid. Tog is dit waar. Dit is die kern van die evangelie, en dit is die kern van ons roeping as navolgers, nalopers in die voetstappe van Jesus. Dit is wat Martin Luther King agape noem – liefde vir die vyand, diens, medemenslikheid, selfopoffering, ter wille van die evangelie.

Vandag het ons in vers 18 gehoor, dat selfs Christus so gely het. Christus het onskuldig kom ly en die sondes van die wêreld op Hom geneem, hy het elke sondaar se sondige natuur, se bose dade en gedagtes op Hom geneem. Hy het gely sodat ons totaal en al vrygespreek kan word. ‘n Ongelooflike genade daad kan ontvang.

Ek sal nooit die woorde van Prof. Nici Koopman vergeet nie. In ons sistematiese teologie klas waar ons baie male gesels het oor die lyding van mense, hoekom slegte dinge gebeur, waar is God, laat hy dit te. En die enigste manier om oor die seer van die wêreld te gesels is om na die ongelooflike onselfsugtige liefdes daad van die kruis te draai. Christus was die onskuldige slagoffer wat gesê het: Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie, om só oortreders en die slagoffers met mekaar te versoen. Christus klim selfs in die skoene van die mense wat die onmenslike in ons oë doen, mishandeling, moord, ag julle weet van die geweldadige dinge wat ons so gereeld van hoor. Christus het die bose kom oorwin.

Gemeente hoor my reg, Christus was sondeloos, hy het gely sonder dat Hy dit verdien het, maar HET Jesus nie vir ons elkeen, in elkeen van ons se skoene geklim daardie dag op die kruis nie, selfs die gene wat in ons mense oë nie genade verdien nie, was ons nie vandag vry van ons laste, ons seer, ons sonde nie. Christus het die wêreld vergewe en nuutgemaak sodat ons as nuwe mense kan lewe.

Ek weet nie wie van julle weet van die jeugbeweging Imagine nie. Dis ‘n massiewe Christelike jeugfees gebore om die jeug aksie van 1984 op te volg. Ons gemeente vat elke jaar ‘n hele paar tieners daarheen. Op die heel eerste Imagine was Hettie Brits ‘n spreker. Sy het daardie aand getuig oor haar eie verkragting en hoe die Here haar absoluut daardeur gedra het. Sy vertel hoe sy later daardie persoon wat haar so onmenslik seergemaak het gaan besoek het en vir hom kon sê dat Sy hom vergewe. Sys sê by dat dit was nie in haar vermoëns om hom te vergewe nie, maar slegs in God en slegs deur Christus wat deur die kruisdood haar selfs kon nuutmaak en vryspreek van die pyn wat sy met so ‘n traumatise ervaring beleef het.

Gemeente, die punt wat ek probeer maak is dat daar gebeur soms inmenslike dinge met ons, Dinge wat ons dink nooit met my sal gebeur nie. Dinge wat ‘n mens dalk vooraf vra, moet tog net nie dat dit met my gebeur nie. Dinge wat ons vooraf dink ons nooit sal kan oorleef nie, maar ons doen. En sou so iets gebeur,  bankrotskap, mishandeling, die dood van ‘n kind, oorleef ons tog.

Die enigste rede, is ons Ons hemelse Vader wat die onmenslike die bose, die dinge wat ons vrees reeds kom oorwin het. Christus het kom ly sodat ons vernuwe word selfs te midde van ons eie seer en lyding.

Dis met die oneindige en onbeperkte oorwinning wat maak dat ons ten spyte van die seer en die lyding steeds met ‘n ewigheids hoop kan leef.

Dit gesê beteken dit nie mens moet stilbly wanneer onreg, van watter vorm ookal, teen jou gepleeg word nie, en net maar geduldig en gedweë al die slaë moet vat en daarna jouself ophelp en weer voortsleep totdat die volgende sarsie op jou neerreën nie. Nee. Dit gaan wel daaroor dat ons nie geweld met geweld moet vergeld nie. Waarmee dan anders?, as ons so tot ons uiterste gedryf word? Met die Woord en met die waarheid (1 Pet 3:14-16). Martin Luther het geweldige vertroue gehad in die oorredingskrag van die Woord en die waarheid in plaas van geweld Toe die wêreldse regerings in 1522 nie wou afsien van mag en geweld nie het Luther die Christene geantwoord op hul vraag: moet ons niks doen nie? ‘Nee, julle moenie met geweld antwoord nie. Julle moet drie dinge doen. Julle moet julle sondes herken. Julle moet nederig bid téén die regering van die pous. En julle moet julle mond die mond van die Gees van Christus laat wees…’

Ook Jesus het nie maar net toegelaat dat alles Hom welgeval of dat alle menslike haat of geweld Hom oorval sonder enige teenkanting nie. Hy het kwaad geword, strydgesprekke gevoer, vermaan, Hy het eenkeer selfs die tafels in die tempel se binnehof omgegooi het ons laasweek gehoor. Maar Hy het Homself nie oorgegee aan magsmiddele of aksies van teengeweld nie. Hy het die mense geleer en oor die waarheid getuig. En mense het sy stem gehoor. Meeste eers nadat Hy gesterf het, maar nietemin, hulle het sy grootste daad van selfopofferende liefde aanskou aan die kruis, sy woorde van vergifnis en verlossing gehoor aan die misdadiger langs Hom, en hulle het teruggedink aan alles wat Hy in sy lewe saam met hulle gesê het, dit wat Hy verkondig het, dit waarvoor Hy gestaan het. Liefde vir ander, al kos dit wat. Liefde vir ander, al kos dit álles.

Dietrich Bonhoeffer, nog ‘n Duitse teoloog, een wat vir sy oortuigings en woorde van waarheid aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog terreggestel is, het bekend geword vir sy konsep van “duur genade” teenoor “goedkoop genade”. Hy skryf in sy bekende boek “The cost of discipleship” dat die genade van Christus verniet is vir elkeen van ons, maar dat dit geensins goedkoop is nie. Dit stel radikale eise. Dit is van hierdie dissipelskap, hierdie “naloperskap” dat Bonhoeffer sou sê: “As Christus mense roep, roep Hy hulle om te kom sterf…” As ons dit nie werklik verstaan nie, en as ons nie bereid is om daarvolgens te leef, of te sterf nie, dan maak ons die genade goedkoop. As ons dink dat God ons net maar aanvaar soos wat ons is, in sonde ontvang en gebore, so gemaak en laat staan, en geen radikale verandering van ons lewens vra wanneer ons Hom begin volg nie, dan het ons ons kruis iewers langs die pad vergeet. As jy nie jou kruis kan opneem nie, en as jy nie radikaal anders begin leef nie, dan is jy nie bereid om God te leer ken soos Hy werklik is nie. En dan is jy nie gereed om saam te stap nie. Ons kan God slegs deur lyding en die kruis leer ken, en lydende mense is die énigste wat vir God kan ken.

Mag elkeen van ons die moed en die liefde hê om werklik vir God te ken en soos Christus te leef, en te ly. En getroos te word daardeur en te vertrou daarop dat ons in hierdie lewe, en in hierdie lyding, veilig versorg word deur Hom wat die Herder, bewaker en oorwinnaar van ons lewens is.

Seën: Die Here Jesus, ons Herder, ken julle en niemand sal julle uit sy hand ruk nie. Amen

Gemeente sing “Amen”

Terug