Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

17 Mei 2018 Ds.André Agenbag Pinksterdiens

Lees preke

Donderdag, 17 Mei 2018                                                       Durbanville Gemeente: Oggenddiens

Lukas 4; Fil 4:4-9

Lewensvreugde laat ons in opstand kom teen die vernietiging en vernietigers van lewe

Ons Pinksterweek opgesom tot dusver:

Maandag: Vreugde is om verenig te word met dít wat ons liefhet

  • Vreugde is nie sommer ‘n ding wat uit die lug val nie. Almal word ook nie bly oor dieselfde goed nie. Vreugde het diepte en daar is veel meer aan vreugde as wat ons dink. Vreugde is deel van en uiteindelik die uitdrukking van ‘n vol en goeie lewe.
  • Daarom moet vreugde gevind word in iets spesifieks: “Vreugde is om verenig te word met dít wat ons liefhet.”
  • Die voorwerp van die vreugde moet ook as goed vertolk word; Daarom sê Dawid in Psalm 16: 2 “Daar is vir my niks goeds nie, behalwe by U”
  • Die voorwerp van vreugde moet verstaan word as ‘n geskenk: Gratis en onverdiend. Om dít te kry wat jy dink jy verdien, of wat jou toekom, skep maar net ‘n houding van, “Die wêreld skuld my iets.” Dit skep nie volhoubare vreugde nie, maar eerder frustrasie, onvergenoegdheid en selfs angs.
  • Vreugde is 'n emosionele ingesteldheid (attunement) tussen jouself self en die wêreld sodat 'n deel daarvan (soms selfs 'n kleinerige deeltjie daarvan) ervaar word as 'n seën / blessing. 

Dinsdag: Vreugde is om jou te verheug in die fees van die lewe.

Dit is ‘n vervlakking om die hart van geloof te verstaan as die oplossing vir probleme. Om dit wat verkeerd is reg te maak. Te verlos en bevry. Natuurlik wíl God ons bevry, verlos en genees. Maar die beginpunt moenie sonde en ellende wees nie. Dan skets dit geloof as ‘n reddingsplan, as ‘n mediese fonds, iets wat ‘n verkeerde, stukkende of siek ding wil reg maak. ‘n Mens kan selfs van ‘n beheptheid met sonde en dit wat verkeerd is praat. Die vraag is net: Hoe kan Christene dit dan anders hanteer?

Geloof is die fees van die lewe, nutteloos maar vreugdevol, en gebed is die lofprysing vir die vreugde van bestaan. M.a.w ons glo nie in die eerste plek omdat ons geloof, ons godsdiens, ons spiritualiteit ‘n nut het, of die oplossing vir ‘n probleem is nie, maar om ons bestaan te vier.

Want ons weet dat alles wat ons ontvang, wat ons het en beleef is seëninge. Dit is nie vanweë ons toedoen nie; dis gawes van die Gewer.

En ons weet dit hou nie vir altyd nie; ons moet dit geniet; maar ons moet nie probeer om dit te besit of daaraan vas te klou nie: Vreugde is om die fees van die lewe te vier.

Hierdie vreugdesviering van die lewe gee daaraan ‘n soort ligtheid: ‘n Vreugdevolheid, ‘n dankbaarheid.

Woensdag: Vreugde is om vreugdevol te leef te midde van swaarkry: ‘n Helder hartseer

Een van die tradisionele maniere waarop daar gepraat word oor die verhouding van God tot lyding is om twee konsepte teenoor mekaar op te stel:  God is óf ‘n God van liefde, óf God is in beheer. Want as God die een is, kan God nie ook die ander wees nie. En dan moet ons elkeen maar besluit hoe ons daardie vraag gaan beantwoord.

Die geheim is egter dat God groter as hierdie vraag of skema is. Want God is liefde en liefde is dieper as vreugde én liefde is dieper as hartseer. Ons moet die liefde najaag. Want dit is wie God is. Wanneer ons liefhet, is ons soms hartseer en soms bly. Maar die liefde maak van die vreugde ‘n diep vreugde, ‘n vreugde wat kan standhou selfs wanneer ons hartseer is te midde van swaarkry.

Ons het die aanhaling van die digter Rainer Maria Rillke gehoor: “Wees geduldig met al die onopgeloste vrae in jou hart en probeer om daardie vrae lief te kry... Moenie nou die antwoorde soek wat nie nou vir jou gegee kan word nie want jy sal nie instaat wees om daarmee te leef nie. En die punt is om dit alles te leef. Nou moet jy eers die vrae sélf leef. Miskien sal jy dan geleidelik, sonder om dit agter te kom, êrens eendag in die toekoms in die antwoord leef.”

Donderdag: Lewensvreugde in opstand teen die vernietiging van lewe

Vreugde vanuit:

Die genadejaar as vreugdesjaar geleef vanuit die Bron van die Lewe

Jesus se bediening begin met ‘n preek in die sinagoge in Nasaret. En dit begin op ‘n wonderlike, vreugdevolle noot: Jesus gebruik een van die mooiste sinne in die hele Bybel: “Ek is gestuur om die genadejaar van die Here aan te kondig!” Dis mooi nê? Die era van genade het nou aangebreek. Die era van God se goedheid en liefde. God se wêreld.

Kom ons gaan terug na waar hierdie projek pragtige projek begin het. Jesus se eerste woorde in die sinagoge was om op te staan en uit die boek van Jesaja voor te lees en natuurlik die woorde op Homself van toepassing te maak. Hy sê, “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het.” Die Bron van hierdie genadejaar-projek van Jesus is God self, die Bron, die Oorsprong van alle dinge.

‘n Mens sou kon praat van vreugde vanuit! En ás God dan nou die Bron van die Lewe is, soos wat Psalm 36:10 sê, die Lewe sélf; en ás God die Bron van die Liefde is, soos wat 1 Jn 4:16 sê, die Liefde self; dán is hierdie Jesus die Draer en die Beliggaming van die genadejaar. Sy hele lewe gaan die uitleef van die genadejaar wees. Met ons Pinkstertema in gedagte, sou ons selfs van die genadejaar as die vreugdesjaar kon praat. Binne die raamwerk van ons Pinksterreeks wil ek sê: Met sy genadejaar-lewe beliggaam Jesus ‘n lewe wat vreugdevol is en floreer!

Maar ons almal wat al ‘n bietjie geleef het, sal weet dat as iemand gestuur word om ‘n genadejaar aan te kondig, dan was daar ‘n rede voor. Dan was dit regtig nodig! Want wanneer mense ophou om te leef vanuit die Bron van die Lewe en die Liefde hou hulle op om te floreer, dan verwelk hulle.

Dit is natuurlik baie wys om te besef dat God altyd groter en anderkant ons prentjies, beelde of verstaan van God is. Dis belangrik om te besef dat die god in jou kop nooit presies dieselfde kan wees as die God wat die Bybel bv die Skepper of die Bron van die lewe noem nie.

Jou god is jou diepste verbintenis. Dít wat vir jou die heel belangrikste is. Dít waarvoor jy die liefste is. Maar daar is sóveel kandidate vir ons diepste verbintenis, toewyding en liefde! En dikwels bots die verskillende “gode” in ons kop met mekaar.

En daarom is daar ‘n botsing: Tussen die gode

Aquinas het gesê vreugde is om verenig te word met dít waarvoor ons lief ... of dalk selfs die liefste is. Maar die kandidate wat wedywer om ons liefde is veelvuldig! Mens sou kon sê dat dit ‘n stryd is.

Só was die vroeë christene baie beslis gekonfronteer met die stryd tussen die Keiser wat geëis het dat hy as Here aanbid bid word en die vroeg-Christelike belydenis dat Jesus die Here is. Die vroeë christene het dan teen die stroom op bely dat Jesus inderdaad heers, dat Hy die Here is. Die Here van ‘n ander soort Ryk as dié van die Keiser en van Rome.

In die Bergrede preek Jesus self: “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

En veral die Ou Testament praat dikwels en skerp afwysend van die aanbidding van afgode.  B.v Psalm 16, “Die afgode in die land, so aantreklik vir baie – met hulle wil ek niks te doen hê nie. Elkeen wat ‘n ander god vereer, sal baie smart beleef.”

Vreugde téén

Jurgen Moltmann verwoord hierdie stryd ietwat anders: Hy sê dat blydskap in die vreugde van die lewe ons laat protesteer teen die vernietiging en die vernietigers van lewe (Vreugde téén).

Daar is dus 'n wilsbesluit ter sprake. Onder vreugde lê daar 'n wilsbesluit: Om jouself te beywer en verheug in Die Goeie. Deur hierdie wilsbesluit wil jy jou teen aspekte of kenmerke van die wêreld waarin jy jouself nie kan verheug of behoort te verheug nie...

Daar is talle voorbeelde in ons eie omgewing van die vernietiging van lewe:

  • Materialisme
  • Druk om te presteer
  • Die druk mooi en maer te wees
  • Die druk om in beheer, onafhanklik en selfgenoegsaam te wees

Hartseer oor die vernietiging van lewe is niks anders nie as die diep verlange dat die lewe bevry sal word tot egte vreugde en blydskap. Anders sal ons dit bloot aanvaar dat die lyding van onskuldiges en die vernietiging van lewe nou maar een maal ons lot in die lewe is. Medelye is dus die keersy van ‘n lewende vreugde. En eerder as om God te beskuldig vir die lyding in die wêreld, skaar ons onsself aan die kant van God, die Bron van die Lewe en die Bron van die Liefde deur in God se Naam te protesteer teen lyding asook hulle wie dit veroorsaak.

En daarom moet daar ‘n verstelling van vreugde wees:

Vreugde vir... die regte goed

Hierdie stryd tussen die gode in ons kop; hierdie stryd tussen dinge wat meeding om ons diepste verbintenis, toewyding en liefde vra van ons om te kies wie of wat ons die Bron of Bronne van ons vreugde sal maak. Iemand praat hiervan as ‘n “reordering of desire;” ‘n Verstelling van begeerte: ‘n Verstelling van dít wat ons bly maak.

Onthou hoedat ons vroeër gehoor het dat vreugde van mens verg om iets spesifieks te hê wat jou vreugdevol of bly maak; en dat Aquinas hiervan praat as dít waarvoor ons lief is; en dat ons toe gehoor het hoedat ons slegs werklike vreugde kan hê indien ons weet dat dít wat ons bly maak goed is. Ons moet bly raak en vreugde vind in die regte goed! Dis die opdrag om 'n sekere situasie in die regte lig te sien.... (Vreugde vír...)

Die Genadejaar is ‘n dieper verbintenis as die soeke na vreugde.

(Dis om jou vreugde in die Liefde te soek)

Die koms van die genadejaar, is die koms van die vreugdejaar en orals waar dit posvat, floreer almal. Jesus se aanhaling uit Jesaja sê só mooi dit lyk wanneer mense begin floreer:

  • Die Goeie Nuus word aan die armes verkondig;
  • Gevangenes word vrygelaat;
  • Die gesig van blindes word herstel;
  • Onderdruktes word na vryheid gestuur.

Maar vóórdat ons dink dat die genadejaar sowel as florering en vreugde bloot oor hierdie wonderwerke en die verligting van pyn en lyding gaan, moet ons onthou dat hierdie Jesus wie die genadejaar, ‘n florerende lewe beliggaam het, ook pyn en verwerping ervaar het; ook geween het by die afsterwe van sy vriend Lasarus, ook gevra het dat die lydensbeker by Hom verby sal gaan.

Op die ou einde was die mense maar ook net agter die oppervlakkige gedeelte van die koms van die genadejaar aan: Die wonderwerke, die genesings, die vermeerdering van die brood en so aan. Toe Jesus sy lyding en sterwe aankondig, het sy gewildheid dramaties afgeneem en daar staan dat die godsdienstige leiers begin saamsweer het om Hom om die lewe te bring.

Jesus se florerende lewe en die koms van die genadejaar was nie ‘n goedgaan-lewe nie. Dit was ‘n lewe wat ten diepste verbind was tot God, die Bron van die lewe; ‘n lewe gekenmerk deur onvoorwaardelike liefde. En daardie lewe het blydskap én hartseer geken.

TT Cloete het êrens gesê, “Ek dink as jy net geluk en vreugde ken, net voldoening, net vervulling, sal jou bestek maar klein wees.”  (‘n Dun vreugde)

Vreugde as opdrag

Vreugde is dus ‘n opdrag om jou in die regte goed te verheug. As jy egte vreugde wil hê - verheug jou in die regte goed! Fil 4:4-8, “4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. 9 Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”

Vreugde is dus ‘n keuse (opdrag):

  • Verheug jou TEEN vals Bronne van Hoop;
  • Verheug jou TEEN die dun beddings van vlietende vreugde wat nie laat blom nie, maar laat verlep.
  • Verheug jou TEEN hulle wat met hulle vals beloftes en leuens die lewe vernietig.
  • Verheug jou VANUIT die Bron van die Lewe (Of verheug jou IN die Here)
  • Verheug jou VIR die genadejaar / die vreugdejaar / die seëninge / die gawes wat onverdiend uit die Bron van die Lewe vloei.

“En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil 4:7).

Amen

 

 

 

Terug