Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

17 Junie 2018 Ds. André Agenbag Familiediens

Lees preke

17 Junie 2018                                                                                     Durbanville Gemeente: Familiediens

1 Samuel 16:1-13                                            “Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

 

Verhale is die poorte van genade:

Verhale ontsluit die egtheid en omvang van menswees en persoonlike verhoudings

Sommige mense ken die reëls van rugby uit hulle koppe uit. Reëls gaan mos oor reg en verkeerd. Wat is toelaatbaar en wat is nie? Maar kennis van die reëls maak nog lank nie goeie rugbyspelers van mense wat die reëls baie goed ken nie. Iemand wat oor ‘n skitterende kennis van die reëls van die spel beskik, kan dalk ‘n goeie skeidsregter word, maar selfs dán word daar méér geverg. Méér as die blote kennis van die spelreëls. Ja, goeie rugbyspelers en goeie skeidsregters kén die reëls. Dit is eintlik ‘n gegewene. Maar goeie rugbyspelers en skeidsregters het ook ‘n diep aanvoeling vir die spel. Hulle verstaan die hart van die spel. En eintlik verstaan hulle die hart van die spel met hulle liggame, nie bloot net met die verstand nie. Om die waarheid te sê, sommige van die beste rugbyspelers was nie juis bekend vir hulle duiselingwekkende intellektuele vermoëns nie. Nee, hulle het ‘n goeie begrip vir die reëls, maar hulle verstaan die hart van die spel, en hulle verstaan dit met hulle hele wese, ook hulle liggame.

Só is geloof en spiritualiteit ook. Baie mense soek gedurig na absolute helderheid oor die reëls: Wat is reg en wat is verkeerd? Soms word hulle hele geloofslewe opgeneem in ‘n byna obsessiewe beheptheid hiermee. In die proses verloor hulle soms die hart van die geloof. Want ons geloofslewens is méér as die blote toepassing van reëls en wette. Op ‘n manier moet ons kan uitkom by die vervulling en die diepste bedoeling van die wette, of Die Wet.

Een van die beste maniere om groter reg aan die volle omvang van iemand se lewe te laat geskied, is om verhale van die persoon te vertel wat te sê wie die persoon was en wat met hom of haar gebeur het. Die verhaal van Dawid is waarskynlik die mees omvangryke verhaal van enigiemand in die hele Bybel. Sy hele lewe word vir ons, nie deur wette of reëls nie, maar deur verhale ontsluit. Ons hoor ook nie net die mooi verhale wat van Dawid se geloof, integriteit en goeie leierseienskappe vertel nie. Ons hoor verhale van egbreuk, magsbeheptheid en selfs moord. En tóg is die verhale van Dawid vir ons poorte van genade. Dit wys vir ons watter rol God gespeel het in die volle spektrum van Dawid se lewe, wanneer dit goed gegaan het, maar ook wanneer ons vir Dawid in die diepste duisternis, ook dié van sy eie sonde sien.

Neem byvoorbeeld vir koning Omri. Daar is net 17 verse in die hele Bybel wat na Omri verwys. En tóg was hy die mees suksesvolle koning in die geskiedenis van Israel. Onder Omri was Israel se grondgebied die grootste, die ekonomie die sterkste en die weermag die magtigste. Waarom dan slegs 17 verse? Want koning Omri was nie ‘n man van God nie. Dawid was veel minder suksesvol as koning Omri. En tóg verwys die Ou Testament meer as 600 keer na Dawid. Waarom? Koning Dawid, met al sy gebreke en sy veel minder suksesvolle koninkryk, was ‘n man van God... ‘n sondaar, ja – maar ‘n man van God.

Ons kan met wêreldse oë na iemand kyk, óf ons kan met die oë van die hart (deur die oë van God) na iemand kyk. Die reëls en die wette help, maar uiteindelik is dit vervulling daarvan in die werklike lewe van ‘n mens voor die aangesig van God wat wys of iemand by die hart van die geloof uitgekom het.

Kom ons toets hierdie twee benaderings deur uit twee verskillende perspektiewe te kyk na die verhaal van Dawid se salwing as koning van Israel.

 

Ons kyk met menslike, wêreldse oë: Wat gaan hier aan? Wat sien ons?

‘n Eerste kyk na die verhaal sou kon begin met die profeet Samuel se besoek aan die dorpie, Betlehem. Ons beskik oor agtergrond kennis wat nie tot die ander karakters in die verhaal se beskikking is nie. Ons weet waarom Samuel die dorpie besoek: Hy wil die volgende koning salf.

Die leiers van die dorp kom Samuel tegemoed en vra hom bekommerd, “Kom u in vrede?” want die besoeke van profete het nie noodwendig altyd goeie gevolge ingehou nie. Samuel sê, “Ja. Ek het gekom om vir die Here ‘n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe.”

Samuel het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer toe genooi. Soos wat hulle inkom, kyk Samuel hulle deur en sien hoe indrukwekkend hulle is. Die eerste, Eliab is lank en mooi en ‘n mens kan net dink oor watter eienskappe die ander ses beskik het! Maar nie een van hulle is een wat koning sal word nie. Samuel vra toe vir Isai, “Is dit al jou seuns dié?” En hy het geantwoord, “Die jongste is nog oor oor, maar hy pas nou skape op.”

Die jongste se naam word nie eens genoem nie. Hy het die eenvoudigste werk: Om skape op te pas. Mens kan amper sê: Hy werk waar hy die minste skade kan aanrig. Hulle laat hom haal. Hy word gesalf tot koning. Sy naam was Dawid.

Indien ‘n mens só na die verhaal kyk maak dit eintlik nie sin dat die jongste seun, die een wat die mins indrukwekkende van almal was, tot koning gesalf sou word nie. So, kom ons kyk vanuit ‘n tweede perspektief na die verhaal. Kom ons kyk met God se oë...

Ons kyk met God se oê: Wat gaan hier aan? Wat sien ons?

Die storie begin met DIE HERE wat vir Samuel sê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het?” Die Here is dus agter alles. En hierdie koning gaan GOD se koning wees, want die Here sê vir Samuel, “Ek stuur vir jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My ‘n koning.”

Samuel vra toe: “Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.” En die Here sê vir hom: “Neem ‘n vers saam en sê: ‘Ek het gekom om vir die Here ‘n offer te bring.’ Nooi dan vir Isai na die offer toe. Hy sal jou meedeel wat jy moet doen. Salf vir My dié een wat Ek jou sal beveel.”

En só gaan die seuns, die een na die ander, voor Samuel verby. Toe die indrukwekkende Eliab verby kom, dink Samuel, “Die gesalfde van die Here staan hier voor die Here. MAAR die Here sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

Ons hoor by die verteller, “Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: ‘Die Here het nie een van hulle gekies nie.’” Hier is die sleutel wat die verhaal oopsluit: God kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Wanneer ons die Godvraag vra, kry ons heeltemal ander antwoorde, as wanneer ons dit nié doen nie!

God se plan vir sy volk: ‘n Koninklike Priesterdom

As ons deur God se oë na die verhale van die Bybel kyk, sien ons wat God se plan met sy volk is. Ons lees bv in Eksodus 19:6, “Julle sal vir my ‘n koninkryk van priesters wees.” Hierdie roeping loop soos ‘n goeie draad deur, nie alleen die Ou Testament nie, maar ook die Nuwe Testament. 1 Petrus 2:5, “Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” 1 Petrus 2:9,“Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”

Priesters het eintlik maar net twee dinge gedoen: Hulle het die mense by God verteenwoordig en hulle het God by die mense verteenwoordig. Hulle het dus God en mense bymekaar gebring: Waar hulle hoort! Dis tog waaroor die verbond gaan: Ek sal vir julle ‘n God wees en julle sal my volk wees. Priesters bid vir mense. Hulle dra mense se belange op die hart en bring hulle werklikhede, bekommernisse, sondes en vreugdes na die Here toe. En Priesters neem God na die mense toe. Hulle verteenwoordig God se liefde, vergifnis, genade en genesing by mense. Hulle herinner mense voortdurend daaraan dat God ‘n lewende God is en belangstel in die volle spektrum van die menslike bestaan. Priesters herinner mense om altyd die Godvraag te vra, selfs wanneer dit sleg gaan, alles in die donker is en dit voel asof daar geen uitkom is nie. Die Godvraag: Waar is God in hierdie verhaal?

Om priesters te wees, is om ALTYD te vra: “Waar / Hoe is God in hierdie verhaal?

Ons almal kan verhale vertel van waar selfs gelowige mense se lewens in ‘n afwaartse spiraal beland en later só stukkend is, dat hulle lewens en vasgeloopte verhoudings onherstelbaar lyk. Wanneer dít gebeur, kan mense se trots byvoorbeeld veroorsaak dat versoening en vergifnis nie alleen uitbly nie, maar selfs al meer onwaarskynlik word. Die een se onvergewingsgesindheid en selfregverdiging gee onophoudelik aanleiding tot dieselfde gedrag by die ander. Hierdie spiraal van gebrokenheid kan vir selfs vir geslagte aanhou. So, wat is die Goeie Nuus, die Evangelie dan? Die Goeie Nuus gebeur wanneer die Godvraag gevra word: Waar is God in hierdie verhaal?

Dit kan byvoorbeeld beteken dat iemand kan vra, “Wat sou Jesus in hierdie situasie doen?” Dalk sou Jesus die minste wees en onvoorwaardelik vergewe – die een wat bereid is om die minste te wees deur te sê, “Ons het mekaar êrens langs die pad gemis, ons het mekaar misverstaan en seergemaak.” Dalk verg dit van een van die partye om te sterf aan hom of haarself: Kom ons bely teenoor mekaar waar ons teenoor mekaar gesondig het. Ek is jammer oor my aandeel in die vervreemding. Kom ons soek saam na God in hierdie situasie. Kom ons wees sag, vergewingsgesind en liefdevol teenoor mekaar.

En net so skielik as wat alles begin het, kan dit eindig. Net so verwoestend as wat die konflik en die vertrouensbreuk was, kan dit omgesit word in versoening, vreugde en vrede! Dít is die Goeie Nuus!

 

Terug