Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

17 Februarie 2019 Dr. Tinus van Zyl Familiediens

Lees preke

Familiediens – 17 Februarie 2019

Reeks: Drie maal God

Tema: God van genade

Skriflesing:    Efesiërs 2:1-10

Moeilike begrip

Genade is ‘n moeilike begrip. Moet ‘n mens altyd genadig wees?

Ouer

‘n Ouer kan nie altyd net genadig wees – daar moet ook plek wees vir die verdienste van harde werk, die beloning van gehoorsaamheid, die gevolge van foute en selfs die straf van ongehoorsaamheid.

Onderwyser

‘n Onderwyser kan nie altyd genadig wees nie. As jou taak elke keer laat ingehadig word, as jy elke keer jou boeke vergeet, as jou werk nooit op datum is nie, as jy die toets druip, dan moet daar gevolge wees.

Werkgewer

‘n Werkgewer kan nie altyd genadig wees nie. As jou werk van ‘n swak gehalte is, of dit is agter skedule, of jy hanteer nie kliënte professioneel nie, of jy belemmer die funksionering van die span, dan moet dit aangespreek word en jy moet daaraan werk.

Regter

‘n Regter kan nie genadig wees nie. As daar iemand in die hof verskyn, wat gesteel het, of iemand skade aangedoen het, of iemand vermoor het – al is die oortreder se omstandighede hoe moeilik of sy verhaal hoe hartseer – die regter moet nog steeds reg laat geskied.

Kerk

Selfs die kerk kan nie altyd genadig wees nie. Daarom, as ‘n lidmaat van die NG Kerk word, onderwerp jy jouself aan die opsig en tug, die toesig en dissipliniëring van die kerk. Die kerk het die reg om vir jou te sê: Jy kan nie doen wat jy nou doen nie. Die kerk het reg om jou te vermaan. Die kerk het die plig om jou reg te help as jy die pad byster raak.

Familie

Selfs ook in familieverhoudings – tussen ‘n man en vrou, tussen ‘n broer en suster, daar kan nie net altyd genade wees nie. Daar is ook ‘n tyd en ‘n plek om te sê: Hier is ‘n grens, en as jy weer hierdie grens oorsteek, dan gaan ons verhouding skade ly. Daar is ook ‘n plek en ‘n tyd om te sê: Wat nou hier gebeur het, is ‘n onreg, en ons kan nie langer daaroor swyg nie. Dit moet nou reggestel word.

Nie beginsel nie

Ons verstaan genade verkeerd as ons aan genade dink as ‘n ewige beginsel, as ‘n absolute waarheid, as ‘n wet of ‘n reël. Genade is nie ‘n wet of ‘n beginsel wat in alle omstandighede en situasies op dieselfde manier geld nie.

Karakter van God

Genade is die karakter van die lewende God – die Vader, Seun en Gees. En dit is ook nie die enigste eienskap van God nie. Dieselfde God wat genade is, is ook geregtigheid. En in die wese en die karakter van God, is daar geen teenstrydigheid tussen God se geregtigheid en God se genade nie.

Onderskeiding

Maar in ons lewens is dit ‘n fyn onderskeidingsproses om te probeer uit-figure – hoe lyk God se genade in hierdie situasie, in hierdie verhouding? En hoe lyk God se geregtigheid in hierdie situasie, in hierdie verhouding?

Nie altyd dieselfde nie

Omdat genade nie ‘n beginsel of ‘n wet is nie, maar die karakter van die lewende drie-enige God, werk God se genade nie in elke situasie en verhouding dieselfde nie. Dit beteken nie altyd dieselfde ding nie.

Nie demokraties nie

En baie belangrik, genade is nie demokraties nie. Genade is nie ‘n reg nie. Daar is nie ewe veel genade vir almal nie.

Persoon in nood

God bewys in die eerste plek genade aan die persoon in nood, die een wat verontreg word, die een wat benadeel word, die slagoffer van magsmisbruik en geweld.

Weduwee

So as ‘n weduwee in die Ou Testament – iemand met geen mag, geen status, geen regte en geen bronne tot haar beskikking nie – na die stadspoort sou gaan, en sê dat sy onregverdig behandel is deur mense met mag, met status, die mense met regte en bronne – en die regters in die stadspoort sou ‘n oordeel fel dat sy reg is en dat dat haar onderdrukkers verkeerd is, dan sou sy God prys vir God se goedheid en guns – dat God benade betoon het aan ‘n weduwee aan wie niks toekom, wat niks verdien het nie.

Onderdrukkers

Maar die mense wat haar onderdruk het, hulle met mag, status, regte en bronne, hulle kan nie dan nie by God kla en vir God vra: Waarom is U ons nie genadig nie? Waarom bewys U nie ook genade aan ons nie? God se genade word juis daarin bewys dat hulle onreg en sonde teen die weduwee veroordeel en verdoem word.

Gaan nie oor my nie

Die fout wat ons maak met genade, is dat ons dink genade gaan oor my. Ons gaan selfs so ver om te dink: Ek verdien darem ‘n bietjie genade. Maar genade beteken juis dat ek niks verdien nie. Ek verdien eintlik straf en verdoemenis.

Vir stukkendes

En tog is daar genade. Maar die genade is nie bedoel vir my alleen nie. God se genade is daar om stukkende mense se wonde te verpleeg, om onderdruktes op te help, om gevangenes te bevry.

William Wilberforce

William Wilberforce het nie Amazing grace geskryf om te kan sing hoe dankbaar hy is dat daar genade vir hom is nie, maar hy het dit gebruik in sy twintigjaar-lange stryd in die Britse parlement teen slawe-handel, om sy broers te oortuig dat hulle aan die slawe genade moet bewys, soos God genade aan ons bewys.

Accra

In 2004 was die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde kerke in Accra in Ghana bymekaar om die ekonomiese ongelykhede van die wêreld te bespreek. Tydens die konferensie het hulle op ‘n uitsappie gegaan na ‘n eetsaal waar die skeepsbemanning destyds saam geëet het en ook eredienste gehou het.

Onder vloer

Onder die vloer van die eetsaal was ‘n kelder waar al die slawe wat gekoop en verkoop word, met kettings vasgebind was. So, terwyl gelowiges lofliedere gesing het oor God se genade vir hulle, was die slawe letterlik onder hulle voete vasgeketting.

Doen ons dieselfde?

Doen ons vandag dalk dieselfde? Sing ons liedjies oor God se genade vir ons, terwyl ons nie blokkie genade wil afbreek vir iemand wat werklikwaar verontreg word nie?

Vergadering

Hierdie week sit ek in ‘n vergadering van seker 25 mense. Ons praat oor die hele gay debat in die NG Kerk en hoe dit in Mei maand op die sinode hanteer gaan word. Almal in die vergadering is straight, behalwe een persoon.

Wees genadig!

Die mense argumenteer dat ons die kwessie baie versigtig moet hanteer en dat ons nie ons lidmate in die proses moet seer maak nie, want dit is regtig ‘n moeilik kwessie vir hulle waarmee hulle ernstig worstel. Ons moet geduldig en genadig wees met ons lidmate.

Dis nie hulle stryd nie

Maar hulle is nie die mense wat worstel nie. Hulle is nie die mense wat seergemaak word nie. Dit is nie vir hulle moeilik nie. Dit is die gay lidmate wat hiermee worstel, wat seergemaak word, vir wie dit ‘n lewenstryd en ‘n geloofstryd is.

Onderdrukkers vra genade

Met soveel ander kwessies maak ons so – ons vra vir genade, maar eintlik is óns die oortreders, die maghebbers, die mense wat die seer veroorsaak. En ons veroorsaak nie die seer deurdat ons doelbewus mense benadeel nie. Maar ons veroorsaak die seer deurdat ons dinge aanvaar soos dit is en niks daaroor sê nie.

Almal is onderdrukker en slagoffer

En nou hier is die ding, wat dinge éérs ingewikkeld maak. Almal van ons, almal van ons, is in een situasie die oortreder en in ‘n ander situasie die slagoffer. Almal van ons is in een verhouding die skuldige en ‘n ander verhouding onskuldige.

Geen situasie is clean cut nie

En dit raak selfs meer kompleks is dit, want in elke situasie, in elke verhouding, is dit nooit so dat een party volledig skuldig is, volledig die oortreder is, en die ander party volledig onskuldig is, volledig die slagoffer is. Die lewe is te ingewikkeld daarvoor. Sonde is te skelm en te subtiel daarvoor.

Almal het aandeel!

In elke situasie, in elke verhouding, is daar meer as een skuldige. En daarom die wonderlike ding, die genade, dat ons in die kerk kan bely dat ons almal, ons almal, aandeel het aan die sonde van die wêreld en vir die Here om vergifnis moet bid.

Nie een kwessie in land nie

Daar is nie een kwessie in hierdie land, waaroor ek en jy volledig onskuldig staan nie. Armoede en werkloosheid – ons deel die skuld daaraan. Korrupsie en gierigheid – ons deel die skuld daaraan. Haat en rassisme – ons deel die skuld daaraan. Besoedeling, droogte en aardverwarming – ons deel die skuld daaraan. Seksuele teistering en mishandeling van vroue en kinders – ons deel die skuld daaraan.

Kultuur

En om te sê ons deel die skuld, beteken nie noodwendig dat jy self die reëltjie oortree nie. Maar ons almal dra by tot ‘n kultuur waarin hierdie sonde posvat en groei.

Saadjie

En selfs al kan jy met ‘n absolute rein hart en ‘n skoon gewete sê dat jy alles in jou vermoë doen om teen hierdie sonde te veg, weet jy ook dat die saadjie van daardie sonde lê ook in jou hart – die saadjie van selfsug en gierigheid, die saadjie van liefdeloosheid en rassisme, die saadjie van gemak en luukse, die saadjie van wellus en magsmisbruik. Dit is net genade dat die saadjie nie ontkiem en groei nie.

Kerk bely gereeld sonde

Ek dink die mees wonderlike ding van die kerk – die één ding wat die kerk heeltemal anders maak as die wêreld – is die feit dat ons op ‘n gereelde basis ons sonde voor God bely.

Ook versuim

En nie net die dinge wat ons verkeerd gedoen het nie, maar ook die dinge wat ons eintlik moes gedoen het, maar wat ons versuim het om te doen. Want meestal is dit ons grootste sonde. Nie die dinge wat ons gedoen het nie, maar dit wat ons nie gedoen het nie.

Mense weet nie hoe om te bely nie

Die wêreld daarbuite weet nie meer hoe om hulle sonde te bely nie. Almal soek net iemand om te blameer. As daar iets fout gaan in ‘n maatskappy of ‘n skool, dan soek almal iemand om te blameer. Kom ons fire die hoof, die CEO. Of kom ons blameer die politici of die media. Maar niemand wil introspeksie doen en vra: “Hoe het ons fouteer?” en “Wat kan ons beter doen nie?” nie.

Blameer is makliker

Dis baie makliker om te blameer as om jou sonde te bely. En om jou sonde te bely beteken nie dat jy die enigste een is wat gesondig het nie. Maar dit sê dat jy jou aandeel aan die sonde van die wêreld erken.

Chesterton

Dit is soos die skrywer G.K. Chersterton wat 100 jaar terug geantwoord het op ‘n vraag van ‘n koerant: Wat is fout met die wêreld? Waarop hy toe ‘n brief instuur wat net sê: Ek is. G.K. Chesterton.

Calvinisme

So paar jaar terug skryf ‘n joernalis en hy sê hy was nie eintlik mal oor die swaarmoedig Calvinsime van destyds waarin almal so bewus was van hulle sonde nie. Maar, sê hy, deesdae dink hy ons kan dalk weer doen met ‘n tikkie Calvinisme.

Laat sak kop in skaamte

Hy wens dat iemand wat vandag bedrog gepleeg het of een of ander iets verkeerd gedoen het, net weer ‘n slag sy kop in skaamte sal laat sak en sê: “Ek het teen julle en teen die Here gesondig.” Sonder verskonings of selfregverdigings.

Swak belydenisse

Niemand kan mos meer deesdae ordentlik jammer sê nie. Selfs wanneer mense jammer sê, blameer hulle eintlik die ander persoon. Byvoorbeeld: “Ek is jammer as my woorde jou ontstel het.” Waarmee jy eintlik sê: “Ek is nie jammer oor wat ek gesê het nie. Maar ek is jammer dat jy so stupid is dat my woorde jou geaffronteer het en my nou gedwing het om hierdie belydenis te doen wat ek eintlik glad nie wil doen nie, jou idioot.”

Genade van sondebelydenis

Om jou sonde te kan bely, sonder om enige verduidelikings of verskonings of selfregverdigings te gee, is ‘n ongelooflike genade. Want somtyds is dit al wat jy kan doen.

Dawid en Batseba

Dawid kon nie weer vir Batseba se man, Urija, lewend maak nie. Maar die minste wat hy kon doen, was om in Psalm 51 sy sonde te bely en te sê: “Ek het teen die Here gesondig.”

En daarin is God se ongelooflike genade bewys, aan Dawid, ja, maar nog meer, aan Batseba, deurdat die grote, magtige, heilige koning Dawid, moes erken, wat ek aan jou gedoen het, was ‘n sonde in die oë van die Here. Wat ‘n genadige God aanbid ons nie! Amen.

Voorganger:    As u gemeente en namens die wêreld bely ons ons sonde:                 

Genadige God, ons het teen U gesondig in denke, woorde en dade

                        deur dit wat ons gedoen het en wat ons nie gedoen het nie.                

Ons het U nie met ons hele hart liefgehad nie.

Ons het nie ons naaste soos onsself liefgehad nie.                                    

Ontferm U oor ons en vergewe ons, vernuwe ons en lei ons,

sodat ons ons mag verheug in u wil en u weg kan volg

tot die eer van u Naam.

Voorganger:    Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem,

Gemeente:     wees ons genadig.

Voorganger:    Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem,

Gemeente:     ontferm U oor ons.

Voorganger:    Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem,

Gemeente:     gee ons vrede.

Vryspraak

Elkeen wat in ware berou kom na Here Jesus Christus, verklaar ek vrygespreek in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

 

Terug