Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

16 September Dr. Tinus van Zyl Gesamentlike Diens

Lees preke

16 September 2018

Gesamentlike diens: Nagmaal

Psalm 6 – Om ons trane te bid

 

Skriflesing:    Psalm 6

Vriend

Nou die dag drink ek koffie saam met ‘n vriend met wie dit regtig sleg gaan – regtig sleg. En soos hy praat, word dit baie helder vir my dat daar nie eintlik oplossings vir sy probleme is nie – daar is in elk geval geen raad of hulp wat ék hom kan gee nie.

Woorde raak op

En soos ons daar sit in die koffiewinkel en ons woorde al hoe minder en minder word, totdat ons laterhand heeltemal stil is, kry hy ‘n ver kyk in sy oë, ‘n uitdrukking van diep eensaamheid spoel oor sy gesig, sy oë raak tranerig en ‘n spiertjie hier by sy mond begin spring, soos sy gemoed vol skiet.

Spreuke 14

Spreuke 14: 10 sê: ”Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie.” Hartseer, verlies en rou kan van die mees eensame ervarings in die lewe wees.

Pieter Bruegel – Val van Ikarus

Julle ken miskien hierdie skildery van Pieter Bruegel in 1558. Dis ‘n pragtige toneel. ‘n Mooi landskap. In die voorgrond is ‘n boer besig om sy land te ploeg. Bietjie dieper in staan iemand wat lyk soos ‘n reisiger, met sak op sy rug, ‘n stok in sy hand en ‘n hond langs hom – en die man staan en staar op na die lug of die wolke, ons weet nie wat hy bewonder nie.

Maar die skildery se naam is – “Die val van Ikarus”. En dan as ons mooi kyk, dan sien ons net een been uitsteek van Ikarus wat in die see val, met ‘n paar vere wat nog agterna sweef. Daar is ‘n Duitse gesegde wat sê – Geen ploeg stop vir ‘n man wat besig is om dood te gaan nie.

Die sensus in Betlehem

In nog ‘n skildery van Bruegel, sien ons ‘n woelige dorpie met baie aktiwiteite. Kinders wat speel in die sneeu. Mense drom saam om ‘n huis. En die titel van die skildery is: “Die sensus in Betlehem.” Amper onopsigtelik in die skildery is Josef en ‘n hoogs verwagtende Maria.

W.H. Auden

In 1938 – toe Nazi’s opgang gemaak het in Europa en gedreig het om die hele Europese kultuur te verander met die opsweping van nasionalisme – het die digter W.H. Auden ‘n kunsmuseum in Brussels, België besoek, en ‘n gedig geskryf oor hierdie twee kunswerke, getiteld Musee des Beaux Arts – die naam van die museum.

Ironie van lewe

Auden verwonder hom in hierdie gedig oor die wysheid van die ou meesters soos Bruegel, wat geweet het dat daar ‘n diep ironie in die lewe is – terwyl mense rustig werk en reis op ‘n pragtige sonskyn dag, kom Ikarus se vlug na die son tot ‘n tragiese val.

Terwyl mense saamdrom rondom ‘n huis waar ‘n sensus opgeneem word, en kinders op die ys speel en ‘n hondjie se ding doen teen ‘n boom, kom die Messias se familie onopgemerk aangestap.

Funeral blues

Dieselfde W.H. Auden skryf een van die mees hartverskeurende gedigte – Funeral blues. In hierdie gedig verwoord Auden die versugting dat die wêreld asseblief tog net vir ‘n oomblik tot stilstand moet kom, want sy lewe en sy wêreld is tot stlstand geruk deur ‘n diep hartseer en verlies.

Four weddings and a funeral         Video: https://www.youtube.com/watch?v=DDXWclpGhcg

Barend Vos se parafrasering van Psalm 6 in Die ewigheid in my hart: “By wie sal ek gaan huil?”

Here hoor stem van geween

Die 1953 vertaling het vers 9b baie mooi en akkuraat vertaal: “...want, die Here het die stem van my geween gehoor.” Die Here het die klank van my huil gehoor. Dawid se geween het sy gebed geword. God het sy gehuil gehoor, en dit as ‘n gebed ontvang.

God hou nie op luister nie

Wanneer ons regtig in diepe hartseer of rou is, droog die woorde van ons gebede op. Maar God hou nie op om te luister nie. God hoor ook die geluid van ons gehuil. God sien ook ons trane. En God ontvang dit as opregte gebede uit ons hart uit.

Wat is eerliker as trane?

Wat is meer eerlik as trane? Wat is meer opreg as ‘n gehuil? Om sonder woorde voor God te huil en te ween, kan dalk die mees opregte gebede wees wat ons tot God kan bid.

Flou verskonings?

Maar, liewe vriende, ek is versigtig om te sê dat dit nie nodig is om in woorde tot God te bid nie. As mense sê dat stilte ook gebed is, of dat die hele lewe gebed is, dan is ek huiwerig om saam te stem, want dit kan ook maar net flou verskonings wees om nie te bid nie

Nie Moslems of Buddiste nie

Ons is nie Moslems wat glo dat as ons ‘n sekere rympie vyf maal per dag opsê, dan sal God tevrede wees nie, maar ons is ook nie Buddiste wat glo dat gebed maar net stil-meditasie is om myself te help, want eintlik is daar geen god wat my kan help nie.

Persoonlike God

Nee, ons glo dat God werklikwaar ons gebede hoor. Dat God ‘n persoonlike God is, ‘n God wat hoor en wat praat, ‘n God tot wie ons kan nader en op wie ons ons rug kan draai, ‘n God wat red en verlos, ‘n God wat troos en help. En daarom kan ons rou eerlik met God praat en God smeek om ons te hoor en ons te help, om ons te red en ons te verlos uit ons ellende!

Só persoonlik

Maar God is só persoonlik en só intiem by ons betrokke, dat ons ook soms sonder woorde by God kan huil en ween, en God sal ook die geklank van ons gehuil hoor en ons trane as gebede in sy hande vang.

Gebede in ons liggaam

Dit is ‘n wonderlik besef, want dikwels is daar gebede in ons hart, in ons liggaam, waarvan ons kop, ons rasionele denke, nog nie bewus is nie. Ons dra dikwels ‘n hartseer in ons lyf saam, wat ons nog nie eers registreer het in ons bewuste denke nie. Blaise Pascal se bekende sê-ding: “Die hart het sy redes wat die rede nie verstaan nie.”

Bid met jou liggaam

En daarom is dit so belangrik om met nie net met ons koppe te bid nie, maar ook met ons harte en ons liggame. Daarom is dit so belangrik om ons gebede nie net te sê nie, maar om hulle ook te sing. Of as die lirieke opraak, om hulle te neurie, of op die klavier, die kitaar of die drom te speel.

Nie net sit en bid nie

Daarom is dit so belangrik om nie net te sit en te bid nie. Interessant, om te sit is die enigste gebedsposisie wat nêrens in die Psalms voorkom nie – die psalmdigters kniel voor die Here, staan voor die Here of lê voor die Here, plat op hulle gesig. Hulle sit nooit en bid nie.   

My eie ervaring

In my eie lewe het ek ontdek, al is ek iemand wat mal is daaroor om teologie te lees en wat daarvan hou om oor dinge te filosofeer in my kop, as dit kom by gebed, dan moet ek my liggaam gebruik, sodat my gebed dieper kan beweeg as net al die gedagtes in my kop en kan uitkom by die gevoelens wat in my hart en in my liggaam leef.

Maak gebede konkreet

Om te gaan stap, of om te kniel, om aan ‘n kruis of ‘n klip vas te hou, om my gebede hardop te sê of om dit op papier neer te skryf, help my om my gebede meer konkreet, meer fisies te maak, om tasbare uitdrukking te gee aan die vae gevoelens wat binne-in my leef, waarvan ek dikwels self onbewus is.

Gee ‘n naam

‘n Groot en belangrike deel van gebed is om name te gee vir dinge. Miskien is daar ‘n vae, donker wolk wat in my maag kolk, ‘n naamlose gevoel waarop ek nie my vinger kan lê nie. Maar wanneer ek bid, kan die Heilige Gees my help om ‘n naam vir daardie vae, donker wolk te gee, miskien is sy naam: “hartseer”, of dalk “eensaam”, miskien “bitter” of “teleurgesteld”, dalk “verlate” of “verlange”.

Lê dit voor God

Om ‘n naam te gee vir dit wat in ons leef, is kragtig, want nou is dit iets met ‘n naam wat ek voor God se voete kan kom neerlê.

Maar daar kom tye ...

Maar, liewe vriende, daar kom ook tye in ‘n mens se lewe, wanneer jy nie name en woorde kan gebruik nie. Wanneer die hartseer so oorweldigend is, die verlies en die pyn so diep is, dat jou woorde heeltemal opraak.

Kerk

En dit is in sulke tye wat ‘n mens weer die waarde besef van ‘n geloofsgemeenskap, die kerk. Want wanneer ek nie meer kan bid nie, dan is daar mense wat vir my bid en wat namens my bid.

Gees

En, sê Romeine 8, wanneer ons woorde opraak, pleit die Heilige Gees steeds vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie.

Hulle gebede dra my

So dis in die eerste plek die Gees wat vir ons en namens ons bid, en tweedens is die gemeente wat vir ons en namens ons bid. En so word ek as individu gedra deur die gebede van die Gees en die gebede van die gemeente, wanneer my eie gebede opdroog.

Bid ons trane

So as ons nie meer woorde het om na God te bring nie, dan bring ons ons trane, in die wete dat die gemeente vir ons bid en dat die Gees namens ons sug en dat die Gees ín ons uitroep tot God.

As my lewe tot stilstand kom

Wanneer my lewe en my wêreld tot stilstand geruk word deur hartseer en verlies, en die wêreld daarbuite voortstoom in sy ongenaakbare gejaagdheid, ‘n gevoellose besigheid, dan kom God, die skepper en verlosser van hierdie hele wêreld, ook tot stilstand saam met my, by my.

God staan stil

Terwyl die wêreld daarbuite aangaan op sy gewone, onsimpatieke trant, kom staan God stil by my in my hartseer. En God hoor my sagte snikke in die nag. God sien die geluidlose traan op my wang. God koester daardie trane, want dit is gebede wat reguit uit my hart kom.

Oremus

Padraig o Tuama, ‘n gemeenskapsleier in Noord-Ierland, hy skryf die volgende in ‘n opstel getiteld “Oremus“, ‘n Latynse woord wat beteken: “Laat ons bid”.

“Prayer, like poetry, like breath, like our own names, has a fundamental rhythm in our bodies. ... Let us listen to the sound of breath in our bodies. Let us listen to the sounds of our own voices, of our own names, of our own fears. Let us name the harsh light and soft darkness that surround us. Let’s claw ourselves out from the graves we’ve dug. Let’s lick the earth from our fingers. Let us look up and out and around. The world is big and wide and wild and wonderful and wicked, and our lives are murky, magnificent, malleable, and full of meaning. Oremus. Let us pray.”

Lied 512:1-3   Nader my God by U (staan)

Video: Nearer, My God, to Thee deur Vocal Point

https://m.youtube.com/watch?v=WyxXGdG3-Io

 

Terug