Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

16 Mei Ds. André Agenbag Pinksterdiens

Lees preke

Woensdag, 16 Mei 2018                                                                                Durbanville Gemeente

Psalm 137, Fil 4:4-9

Vreugde is om vreugdevol te leef te midde van swaarkry: ‘n Helder hartseer

 

Vreugde en die wrakstukke van lyding

Justin Crisp het geskryf, “Ons staan tussen die wrakstukke van die geskiedenis. Kan vreugde ‘n bestanddeel wees van dié soort geloofslewe wat in sulke tye floreer?”

  • “Aan die een kant lyk vreugde as ‘n emosie te dun, te veranderlik en broos om die aanslae van lyding en die verpletterende omvang van pyn te weerstaan...
  • Aan die ander kant kan die oproep tot vreugde eties onverantwoordelik en polities gevaarlik lyk... ‘n poging om opium (dwelms) aan die massas te verkwansel: Ontvlugting.”

 Jurgen Moltmann se eerste projek oor geloof en vreugde: (1971)

Hoe kan ons die lied van die Here sing in ‘n vreemde land?

Jurgen Moltmann het reeds in 1971 ‘n boek oor vreugde en teologie (geloof) geskryf. Dit was binne die raamwerk van die oorlog in Viëtnam en die wêreldwye protesbeweging teen die oorlog.

In die inleiding tot sy boek verwys Moltmann dan na die toneelstuk, “Fiddler on the Roof”wat in daardie tyd op die planke was. Dit vertel van Tevye, ‘n melkboer en sy Joodse gemeente in die dorpie, Anatevka in die Ukraïne. Die Tsar het hulle onderdruk met buitensporige belastings. Hulle seuns was gedwing om te dien in ‘n vreemde weermag en te veg in ongewensde oorloë. Tóg het hierdie klein vervolgde en onderdrukte gemeente die Here se lied in ‘n vreemde land gesing. Het hulle dit bloot gedoen omdat hulle wou vergeet van hulle moeilike omstandighede? Wou hulle hulleself maar net troos deur hulle hartseer te bedek met vrolike klanke? Of is daar regtig so iets soos vryheid te midde van slawerny, vreugde te midde van lyding en lof aan God te midde van die sugte van die skepping?

Dit moet sekerlike iets te make hê met wie God is. ‘n Soort perspektief op God en die lewe wat vreugde te midde van lyding moontlik maak. Iets wat vir baie mense nie alleen moeilik is nie, maar onmoontlik.

Die Vraag

‘n Ma het by die begrafnis van haar seuntjie vir my gesê: “As nog een enkele mens vir my sê: ‘Die Here het die mooiste blommetjie vir Hom kom pluk,’ dan gaan ek slange vang! Want alles is vir my nét donker. Ek weet nie meer wie God is nie!”

En van die tradisionele maniere waarop daar gepraat word oor die verhouding van God tot lyding is om twee konsepte teenoor mekaar op te stel. Beheer teenoor Liefde:

  • Indien God in beheer is, beteken dit mos dat God al hierdie slegte dinge toelaat. Hoe kan só ‘n God dan ‘n God van liefde wees?

of:

  • Indien God ‘n God van liefde is, beteken dit dat God hartseer is oor al die lyding en dat dit nie sy wil is nie. Hoe kan só ‘n God in beheer wees.

Hierdie denkraamwerk sê dus: God is óf ‘n God van liefde, óf God is in beheer. En dan moet ons elkeen maar besluit hoe ons daardie vraag gaan beantwoord.

Moltmann se tweede projek oor geloof en vreugde: (2015)

Hoe kan ek die Here se lied sing in die teenwoordigheid van sy glinsterende aangesig?

In 2015 bied Yale onder leiding van Miroslav Volf ‘n kongres aan, genaamd Joy and human florishing. Jurgen Moltmann lewer sy bydrae wat later as ‘n opstel in ‘n bundel oor hierdie tema gepubliseer word. Hy begin sy opstel deur te verduidelik hoe hy die tema van geloof en vreugde nou, 44 jaar later, anders aanpak as in 1971, “In this essay on God’s joy and human flourishing I am not asking, “How can I sing the Lord’s song in an alien land?” but, “How can I sing the Lord’s song in his presence—figuratively speaking, in the warmth of God’s shining face?” (in die warmte van God se glinsterende aangesig). Hierdie beeld wat na God se aangesig as glinsterend verwys, vind ons onder andere in die bekende priesterlike seën (Numeri 6:24-26):

“24 Die Here sal jou seën en jou behoed; 25 die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; 26 die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.”

Moltmann veronderstel steeds die gebrokenheid, onstuimigheid, oorloë, lyding en wreedheid wat daar in die wêreld is; en dan sê hy: “Maar nou wil ek die positiewe dimensies ondersoek van die groot vreugde wat daar te vinde is in die onbeperkte ruimte van God, wat nader aan ons is as wat ons dink.” God as “onbeperkte ruimte.” ‘n Baie interessante manier om God te verstaan. Dit kom uit Job 36:16 en in die RSV staan daar, “He also allured you out of distress into a broad place where there was no cramping, and what was set on your table was full of fatness.” In die Ou Vertaling van die Afrikaanse Bybel staan daar, “So lok Hy u dan ook uit die mond van die nood na ‘n onbeperkte ruimte en na die behaaglikheid van u tafel wat vol is van vetspys.”

Jurgen Moltman wil dus die vraag oor God se verhouding tot lyding by God begin beantwoord. Wie is hierdie God? En dan besluit hy 44 jaar later om hierdie moeilike vraag na God se verhouding tot lyding te begin beantwoord deur na te dink oor God en oor vreugde.

  • Vreugde is die krag om te lewe: Lewenskrag, om lief te hê om skeppend te wees. Vreugde ontwaak al ons sintuie en dit gee energie aan die verstand en die liggaam.
  • Maar wat het God met vreugde uit te waai?

God se vreugde in die Ou Testament

Moltmann sê as hy die Ou Testament lees, dan sien hy sóveel vreugde. En agter dit alles sit God, wat soos die priesterlike gebed sê, “die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn.” M.a.w God is goed. God draai nie sy gesig weg nie. God draai sy glinsterende gesig na ons toe: En daarom is daar vreugde. Psalm 16:11, “U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.”

Vanuit hierdie glinsterende aangesig van God kom seëninge voort en dit lei tot geseënde lewens wat floreer en feestelik is. Dit is ook nie net die mense wat floreer in die teenwoordigheid van God, in hierdie Onbeperkte Ruimte (wie God is) nie, dit is ook die natuur! Psalm 96:11-13, “11 Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, die see en alles daarin moet druis, 12 die veld en alles daarop moet jubel, al die bome in die bos moet hulle verheug 13 voor die Here, want Hy kom, Hy kom om oor die aarde te heers. Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.”

Wat die Psalmskrywer natuurlik hier sê is nie dat die natuur regtig lofliedere sing op dieselfde manier as wat mense dit sou doen nie, maar dat die natuur floreer omdat God die Bron van die Lewe is. In daardie sin verheerlik die natuur God, want dit is wat dit gemáák is om te wees: Die skepping van God.

Moltmann sê dat daar altyd twee bewegings is:

  • Die eerste is dat God sy glinsterende aangesig na die mens wend. God, die Bron van die lewe en van liefde draai sy gesig na die mens toe.
  • En omdat God nie sy gesig wegdraai van die mens wanneer die mens vernietigend, hatig, wreed en gierig is nie, maar altyd en onvoorwaardelik glinsterend na die mens gewend bly, skep dit by die mens ook ‘n beweging. Die mens floreer. Die mens blom.

Psalm 30:12, “12 Ek was in rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek.”

Hoe moet ons veral onverdiende pyn en lyding vertolk?

Maar hoe maak ons dan met lyding, wreedheid, ongeregtigheid en hartseer in die wêreld? Maak ons asof dit nie bestaan nie? Asof alles dan nou net vreugde is? Die hartseerste begrafnis wat ek ooit bygewoon het, was een waar die familie geweier het om te huil. Nee, hulle het gelag, want hulle familielid, wat in ‘n motorongeluk gesterf het, is nou in die hemel. Daar is dus geen rede om hartseer te wees nie. Die afgestorwe familielid se moeder het uiteindelik téén die familie se wense in by die graf in trane uitgebars. Sy was net té hartseer om voor te gee dat die dood van ‘n geliefde nét vreugde is.

Nee, sê Jurgen Moltmann, “Ek verkies om vas te hou aan onverduidelikbare lyding en om te protesteer teen sulke ongegregtigheid. Hierdie wêreld, waar daar soveel misdaad en lyding is, is nie ‘n goddelike wêreld nie, dit is hel. Daar is geen manier om te kompenseer vir hierdie pyn met verwysing na ‘n wêreld anderkant ons wêreld nie. Die gesig van hierdie wêreld is nie ‘n gesig van vrede en vreugde nie. Dit is pyn en protes.”

Staan vreugde dan teenoor al die pyn, lyding en hartseer?

Moltmann is oortuig daarvan dat vreugde nie teenoor pyn, lyding en hartseer staan nie. Onthou julle die Vraag: Hoe is God betrokke by lyding? Is God in beheer; of is God ‘n God van liefde? Moltmann probeer dan hierdie vraag beantwoord vanuit die liefde.

Hy sê, “Die geheim van die lewe is liefde. Uit liefde tree ons buite onsself en stel ons onsself oop vir al die ervaringe van die lewe. Uit liefde word ons terselfdertyd bly én kwesbaar. Uit liefde kan ons lag én huil. Uit liefde kan ons onsself verheug én moet ons terselfdertyd protesteer.... Hoe dieper die liefde ons intrek in die lewe in, hoe dieper leef ons, maar hoe dieper word ons kapasiteit tot hartseer ook. Hierdie is die spanning wat deel vorm van ‘n lewe van liefde. Ons kan nie die eerste (vreugde) sonder die tweede (hartseer) hê nie.”

So, hier is die geheim: God is groter as die vraag (Is God ‘n God van liefde óf is God in beheer?) Want Liefde is dieper as vreugde en liefde is dieper as hartseer. Ons moet die liefde najaag. Want dit is wie God is.

Dit is oorspronklik. Dit is nie die reaksie op iets wat verkeerd gegaan het of reggemaak moet word nie. Dit is die Bron. En daarom is dit (die liefde) nie bloot die antwoord op ‘n vraag nie.

Dit beteken dat ons nie die vraag moet probeer beantwoord nie: Ons moet die vraag lééf!

Ons moet dus nie te vinnig antwoorde gee op die vraag oor God se wil en lyding nie. Dalk moet ons eers wag. Dalk moet ons baie lank wag. Psalm 130, “1 Uit die dieptes roep ek na U, Here, 2 luister tog na my Here, hoor tog my hulpgeroep. 5 Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. 6 Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. 7 Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde.”

Die digter, Rainer Maria Rilke het só mooi geskryf: “Wees geduldig met al die onopgeloste vrae in jou hart en probeer om daardie vrae lief te kry, soos kamers wat toegesluit is... Moenie nou die antwoorde soek wat nie nou vir jou gegee kan word nie want jy sal nie instaat wees om daarmee te leef nie. En die punt is om dit alles te leef. Nou moet jy eers die vrae sélf leef. Miskien sal jy dan geleidelik, sonder om dit agter te kom, êrens eendag in die toekoms in die antwoord leef.

As ons die antwoord forseer, sterf ons:

Van selfbeskerming teen pyn na egte medelye en ‘n lewe wat floreer

Ons kan só maklik probeer om die vraag té vinnig en té maklik te probeer beantwoord. Ons kan ook só maklik probeer om onsself teen pyn en hartseer te verskans. Wanneer ons verwond is en ons onttrek ons aan ons liefde vir die lewe, verloor ons die belangstelling om régtig te leef en word ons apaties (sonder passie, sonder gevoel). Dan ervaar en voel ons nie meer die teleurstelling, die ongeregtigheid en die pyn nie, maar dan lewe ons ook nie regtig meer nie! Ons harte het hard geword. Ons harte het harte van klip geword. Niks raak ons meer diep aan nie, nie goed óf sleg nie, en dit is die eerste tree na die dood. Die dood van die siel kan voor die dood van ‘n persoon se liggaam intree.

Maar dit is vreugde in die lewe se blydskap wat ons motiveer om te protesteer teen lewe wat vernietig word en die vernietigers van lewe. En hartseer oor lewe wat vernietig word is niks anders nie as die diep verlange na die bevryding van die lewe sodat dit gekenmerk sal word deur vreugde en blydskap. Andersins sal ons altyd onskuldige lyding en die vernietiging van lewe aanvaar as ons lot en bestemming.

Medelye en deernis is daarom altyd die keersy van ‘n lewende vreugde. Dan beskuldig ons nie vir God omdat daar lyding in die wêreld is nie. Nee, ons protesteer in die Naam van God teen lyding sowel as húlle wat dit veroorsaak. Ons léwe dus die lydensvraag, en dít is ‘n lewe wat floreer!

Wat wen op die ou einde? Vreugde of hartseer?

Friedrich Nietzsche het só mooi geskryf:

Joy—deeper still than misery:                       

Pain says: Refrain!                                         

Yet all joy wants eternity—                                       

Wants deep, wants deep eternity.     

In Afrikaans:

Vreugde is dieper as verdriet en ellende:

Pyn sê: Weerhou jouself!

En tog wil vreugde die ewigheid hê (Dit wil nooit ophou nie) -

Dit verlang na diep, diep ewigheid.

Die filosoof Paul Ricoeur het gepraat van die logika van “hoeveel oorvloediger”. Dit verwys na Rom 5:20 wat sê, “... en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword.” Ons sou dit seker kon vertaal met, “... en hoe meer die lyding geword het, hoe meer het die onvoorwaardelike liefde geword.”

Slot

‘n Lewe wat vreugde (ter wille van vreugde) soek sal verlep. ‘n Lewe wat veranker is in die Bron van liefde, sal floreer. Soms sal daar hartseer wees en soms sal daar vreugde wees. Maar selfs die hartseer sal kom vanuit ‘n plek van vreugde, omdat die diepste Bron die Liefde is.

Die kennis van die gevalle (gebroke) wêreld

vernietig nie die vreugde

wat van hierdie wêreld uitstraal nie,

altyd, konstant

soos 'n helder hartseer.

Alexander Schmemann

Habakkuk 3:17-19

17 “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde meer wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees,

18 nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder.

19 Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilige loop.”

 

Amen

Terug