Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

16 Julie 2017: Ds. André Agenbag

Lees preke

Johannes 10:11-21                                                   

Ek is die Goeie Herder

Die  Katolieke kunstenaar, digter en priester Thomas Merton het gesê: “Indien jy wil weet wie ek is, moenie vir my vra waar ek woon of wat ek graag eet of hoe ek my hare kam nie, maar vra my waarvoor ek leef, in detail, vra my ook wat ek dink dit is wat my weerhou daarvan om ten volle te leef vir dít waarvoor ek wil leef.” Dis ‘n baie mooi opsomming van die doel van egte godsdiens. Regte geloof is om te leef vir dít wat regtig belangrik is vir jou. Om jou daarop in te stel, daarvoor te beywer en om bewus te wees van dít wat jou daarvan weerhou.

Tog kan godsdiens ook verkeerd loop. Soos soveel skrywers al deur die eeue gesê het. “Godsdiens kan gevaarlik wees.”  Ek wonder of verkeerde of slegte godsdiens nie die gevaarlikste ding is wat daar is nie. Ons lees dikwels in die Bybel van plekke waar godsdiens verkeerd loop. Miskien het godsdiens al in jou lewe verkeerd geloop. Miskien sit jy hier en jy is êrens gekwes deur godsdiens of godsdienstige mense. Ek het ‘n gevoel dat baie van die mense wat nie hier sit nie, mense wat nooit kerk toe kom nie, mense is wat seergemaak is deur godsdiens.

Vra jouself hierdie vraag: “Hoe kan dit moontlik wees dat ‘n blinde man wat genees word, uitgeban word uit die sinagoge, bloot omdat hy dit gewaag het om genees te word van sy blindheid op die sabbat?”

As jy daarna luister klink dit mos verkeerd. Hoe kan godsdiens só maak? Hoe kan godsdiens iemand uit die sinagoge uitban omdat daardie persoon op ‘n sabbatdag genees is? Hoe werk dit? Wat gaan hier aan? In Johannes 9 vertel  Johannes ons dat ons hier te doen het met geestelike blindheid.

Kan Christene blind wees? Kan ‘n mens wat veronderstel is om by die hart van dit alles te wees, iemand wat ‘n dieper insig in hulle self en in die lewe het en ‘n nederige verstaan van God het, só blind wees? Wanneer jou godsdiens in die pad van die lewe kom staan, word godsdiens eintlik een groot teenstrydigheid. Word godsdiens en jou spiritualiteit een groot groot weerspreking van jouself. Wanneer dít gebeur, het jy blind geraak. Dan kry jy geestelike blindheid. En dit is ‘n baie akkute soort blindheid omdat mense wat aan hierdie blindheid ly, nie bewus is daarvan dat hulle blind is nie. Jy dink jy kan sien, maar jy kan nie.

Party van die Fariseërs het gesê, “Ons is mos nie blind nie!” Onthou, dit was hierdie mense wat die blinde man wat op die sabbat dag genees is (nadat hy lewenslank fisies blind was), geban het uit die sinagoge. Hulle het vir Jesus gesê: “Ons is mos nie blind nie!” Jesus sê toe vir hulle (in vers 41): “As julle blind was, sou julle ook nie skuldig gewees het nie”, m.a.w as julle geweet het julle is blind, as julle insig gehad het in hierdie gemors wat julle aanvang, dan sou julle nie skuldig gewees het nie. “Maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.” Godsdiens kan gevaarlik wees.'

Die Fariseërs het nie net toe geleef nie, ons almal kan Fariseërs wees. In ‘n sekere sin kan godsdiens ‘n slegte ding wees wanneer jy op ‘n manier só blind raak, dat jy jouself in die middelpunt van jou godsdiens stel en nie vir God nie. In ‘n sekere sin is dit die oersonde van Adam en Eva. EK is die middelpunt van die heelal, ek is die een wat bepaal wat reg en verkeerd is.

Thomas Merton sê : Jou God, die God wat jy aanbid, is dít wat die hoogste en diepste waarheid in jou lewe is. Jou God sê eintlik wie jy is. Thomas Merton verduidelik dat die prentjie wat jy van God in jou kop het, meer van jou sê as van God. Dan sê Thomas Merton dat jou lewe gevorm word deur dít waarvoor jy leef;  jy word as’t ware geskape na die beeld van dít wat jy die diepste begeer.

Die groot denker Frederick Feuerbach het gesê: “Ons almal skep God na ons eie beeld. Dit wat julle Christene sê is nie waar nie, julle word nie na God se beeld geskep nie, julle skep julle eie gode,  julle eie god na julle eie beeld.” Dit kan godsdiens inderdaad doen. Ons kan só blind raak, dat ons alles projekteer op God en dit dan op ‘n manier regkry om alles wat ons sê, dink en glo daardeur te regverdig. ‘n Baie gevaarlike speletjie.

Die Fariseërs het hierdie gevaarlike godsdienstige speletjie gespeel. Die Fariseërs was natuurlik nie net sleg nie. Hulle het in ‘n tyd geleef toe Herodes baie magtig was. Herodes het die indruk probeer skep dat hy die wêreld wil vergrieks, maar eintlik was sy diepste behoefte om net ‘n stewiger magsbasis te kry. Hy was magshonger. Hy het sy mag misbruik.

Die Fariseërs was van die min wat daarteen opgestaan het. Hulle was die party wat die beste geplaas was om Herodus te kritiseer. Daarom sou Jesus dit moes oorweeg om homself te vereenselwig met hierdie Fariseërs, want hulle was die mense wat so goed verstaan het dat daar ‘n groot gaping is tussen die magtige wêreld van Herodus en die Romeine aan die een kant en die wêreld wat God uit die Ou Testament al voorstel as God se wêreld aan die ander kant.

God se wêreld is ‘n ander soort wêreld en die Fariseërs het dit besef. Êrens, op ‘n manier, het hulle te rigied en eng geraak. Aan die een kant het jy Herodus, hy was magsbehep. Vir hom was mense dinge. Vir alle magbeheptes word mense dinge, goeters, objekte. Mense word gereduseer om in diens te staan van Herodus se ambisie. Hy gebruik mense, mense is gebruiksartikels.

Aan die ander kant het jy die Fariseërs. Eugene Peterson sê die Fariseërs was egter nie ‘n opsie vir Jesus nie. Die manier waarop hulle, selfs met hulle bedoelings (wat hulle sou beskou as goeie bedoelings) Herodus teë gestaan het, was iets waarmee Jesus hom nie kon vereenselwig nie. Dan fokus Eugene Peterson op die taal, die manier, waarop die Fariseërs praat. Taal was die manier waarop hulle iets gedefinieer het om hulle self te verdedig. Hulle was bekend vir reëls en regulasies. Hulle kon eindelose gesprekke voer oor die korrekte en verkeerde gedrag. Hulle het die Skrif fyn bestudeer. Hulle het gefokus op elke lettergreep. Hulle het taal baie ernstig opgeneem, maar hulle taal was kleurloos en verbeeldingloos. Hulle taal was strak ten spyte van die feit dat hulle Hebreeuse agtergrond ryk was aan verbeeldingryke verhale wat getuig het van groot wysheid.

Tot van dag in die filosofie word die wysheid van die Jode deur die eeue geweldig hoog op prys gestel. Maar die Fariseërs het hierdie eeueoue wysheid op ‘n manier gesystap. Hulle sou later jare eers weer hierdie groot bron van wysheid herontdek, maar in die tyd van Jesus was ander dinge vir die Fariseërs belangriker as die vertel van verhale. Hierdie godsdienstige mense, die godsdienstiges van hulle tyd, het gevoel die belangrikste ding is om vir mense kaalkop die waarheid te vertel. Om hulle roeping te sien as die deurgee van instruksies van wat om te doen en nie te doen nie; wanneer om dit te doen en waar om dit te doen. Maar Jesus se taal was verbeeldingsryk,  ryk aan beelde en metafore.

As jy ‘n metafoor mooi bekyk dan is ‘n metafoor eintlike ‘n leuen. Jy kan tog nie letterlik sout wees nie, jy kan jouself tog nie lettelik strooi oor jou oggendete om die smaak te verbeter nie. Ek is tog nie ‘n lig nie. As ek in ‘n donker kamer instap, dan word niks verlig nie. God is ook nie ‘n rots nie. Geoloë ontleed nie rotse om bewyse vir God te vind nie. Tóg sê die Bybel ons moet sout wees, ons moet lig wees en dat God ons rots is. Metafore doen ‘n klomp merkwaardige dinge wat aan die hart van die evangelie lê. Een ding wat ‘n metafoor doen  is om ons deelname te verg.  As Jesus sê, “Ek is julle Herder,” word ons verbeelding geprikkel. ‘n Prentjie word in ons gedagtes gevorm en ons begin om hierdie beeld met allerhande ander dinge te vereenseldig. ‘n Mens sou kon sê dat ‘n metafoor ‘n gekonsentreerde verhaal is. Jy kan nie bloot passief bly in die teenwoordigheid van ‘n metafoor nie. Metafore maak dit vir jou onmoontlik om bloot ‘n toeskouer te wees en om die aksie bloot van die kantlyn af dop te hou. Metafore trek ons in, maak ons deelnemers van dit wat die spreker of skrywer in gedagte het. “Ek is die goeie Herder” gaan vir jou niks beteken as jy ‘n toeskouer bly nie. Jy moet betrokke raak en saamwerk daarmee.

Maar die Fariseërs, in hulle verbintenis om by die waarheid te bly en om hulle self te weerhou van die sondige dinge van die sondige wêreld, het hulle taal op ‘n onpersoonlike en beheersde manier moontlik gebruik. Eintlik was hulle maar net soos die keiser; eintlik het mense en taal maar net vir hulle gebruiksartikels geraak om hulle perspektief deur te gee. Indien jy só leef, maak verhoudings nie meer saak nie.

Mense word goeters, mense word verbruiksartikels of selfs wapens; al is dit binne die raamwerk van godsdiens. Selfs binne die raamwerk van so ‘n godsdiens word mense middele tot ‘n doel. Dan word die wettiese onderhouding  van die sabbat inderdaad belangriker as die genesing van ‘n blinde man!

Kan jy sien hoe godsdiens dan sy doel verloor? Wanneer taal só rigied en verbeeldingloos word,  word alles uiteindelik afhanklik van die uiterlike nakoming van ‘n sekere klomp wette. Dís wat gebeur wanneer taal sy energie en verbeelding, sy mens-georiënteerdheid en verhoudings-georiënteerdheid  verloor. Wanneer taal ewige stellings word wat vir altyd waar is, dan verloor jy mense langs die pad en dan maak dit sin om ‘n man wat genees is uit die sinagoge te verban .

Jesus was net so verbind tot die waarheid as die Fariseërs. Maar Jesus het taal gebruik as iets wat intens persoontlik was. Taal wat oor verhoudings gegaan het en taal wat van luisteraars deelnemers gemaak het. Uiteindelik bring hierdie taal van Jesus ons by die hart van alles. Die doel waarom ons leef, die liefde, dis hoe Jesus sy taal gebruik het.

Dis onmoontlik om Jesus se woorde te verstaan sonder die hart van die liefde daarin, sonder om ontroer te word. Sonder om persoontlik betrokke te raak. Sonder persoontlike verhoudings maak niks sin nie. Maar as mens só na die lewe kyk dat die hart van godsdiens uiteindelik neerkom op verhoudings en op liefde, dan is dit nie altyd lekker nie, want verhoudings kan pynlik wees.

Mense is nie voorspelbaar nie. Wanneer ons onself op hierdie terrein begewe, begewe ons ons op die terrein van groot kwesbaarheid en weerloosheid. Dit vra van ons om onsself weg te gee. Maar die taal van reëls is klinies en koud, dit verg nie mense-verhoudings nie. Die taal van Jesus lewe egter. Dit prikkel die verbeelding. Dit vra van ons om onsself uiteindelik te gee. Om onsself  weg te gee.

Thomas Merton skryf: “Die liefde is ons bestemming, ons ontdek nie die sin van ons lewe op ons eie nie maar saam met ander.” Dís die hart van Godsdiens. Jy kan nie verhoudings daaruit haal nie, jy kan nie eens ontdek wie jy self is sonder ander mense nie. Dit is ‘n brose besigheid. Jesus is die persoon wat dit kom wys het. Hy sê “Ek is die goeie Herder” en daarmee breek hy deur al die uiterlike, wettiese reëls tot by die hart van dit alles. “Ek is” is beroemde woorde. Dit is heel eenvoudig die mees persoonlike naam van God in die bybel: “Ek is.”  

Hierdie woorde vind jy konstant in die Johannesevangelie. Wanneer Jesus dit gebruik, word jy gedompel in wêreld van mense verhoudings.  Die beeld van ‘n herder word natuurlik regdeur die Bybel gebruik. God word al in die Ou Testament vereenselwig met ‘n herder omdat skape en herders so ‘n daaglikse deel van almal se lewens was.

Jesaja 40:11, “Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.”  So word God uitgebeeld in intieme, sagte en kwesbare taal.

Wie van ons het nie groot geword met Psalm 23 nie? Die Ou Vertaling: “Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen wyvelde, na waters waar rus is lei hy my heen. Hy verkwik my siel. Hy lei my in die spore van geregtigheid. Al gaan ek ook deur ‘n dal van dood skaduwee, ek sal geen onheil vrees nie want U is met my. U stok en u staf vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teen my teëstaanders. U maak my hoof vet met olie. My beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.”

Hierdie wonderlike lied, hierdie wonderlike gedig, word geskryf deur iemand in doodsangs. Dit beteken dat hierdie psalmdigter in dié soort ‘n verhouding staan wat hom sóveel hoop gee dat hy in sy doodsangs kan sê “Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie!” Jesus is so. Soos God ‘n Herder is, is Hy die goeie Herder. En alles gaan oor verhoudings: verhoudings van liefde.

Hy sê dit in Johannes 10:3, “Die skape luister na die Herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer Hy al sy skape uitgebring het, loop Hy voor hulle uit, en die skape volg hom omdat hulle sy stem ken.” Hier is ‘n verhouding ter sprake! Johannes 10:14, “Ek is die goeie herder. Ek ken my skape en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken.” Die hart van God is ‘n hart wat ingestel is op verhoudings. God is ‘n verhoudings-God van liefde.

Maar hierdie beeld van die herder is nie altyd ‘n positiewe beeld nie. Die leiers het dit nie altyd reggekry om soos goeie herders te leef nie. Die leiers was soms slegte herders.

In Esegiël 34 staan daar, “Mens, tree op as profeet teen die herders van Israel, tree op as profeet en sê vir hulle, vir die herders: So sê die Here my God: Ellende wag vir die herders van Israel wat net vir hulleself sorg! Moet herders dan nie vir die kleinvee sorg nie? Julle drink die melk, julle maak vir julle klere van die wol, julle slag die vetste kleinvee, maar julle sorg nie vir die kleinvee nie. Julle het nie die swakkes gedokter nie, julle het nie die wonde van dié wat seergekry het, versorg nie, julle het nie dié wat weggedwaal het, teruggebring nie, julle het nie dié wat weggeraak het, gesoek nie. Julle was harde en wrede regeerders. Die kleinvee was sonder herder en het verstrooi geraak, en toe hulle verstrooi raak, word hulle ‘n prooi vir roofdiere.

Jesus verwys na mense wat herderloos is. Niemand kyk na hulle nie. Daar is niemand wat vir hulle sorg nie, en Jesus kom en bied Homself aan as die Goeie Herder. Maar hy verwys na die karakters wat sy kudde bedreig. Mense wat slegte herders is, is soos diewe en rowers wat nie by die hek inkom nie. Hulle klim oor die muur, hulle bedreig hierdie kudde. Daar is mense wat nie die mense se gebrokenheid en behoeftes op die hart dra nie. Hulle steel en gebruik mense net vir selfsigtige doeleindes. Daar is mense wat geen respek het vir verhoudings nie. Mense is vir hulle voorwerpe, objekte wat hulle kan gebruik of misbruik. As ons eerlik is, het ons almal al êrens iemand anders gesien, nie net as mense nie maar as objekte. Iemand wat maar net vir my werk, iemand wat ‘n dronklap, ‘n boemelaar ens. Ons almal doen dit soms.

Dan is daar ook mense wat nie noodwendig sleg is nie, en die skape oppas teen vergoeding. Maar omdat daardie skape nie hulle skape is nie, hardloop hulle weg as hulle bedreig word. As die wolwe kom, hol hulle! Hoekom? Want dis nie hulle skape nie. Daar is nie ‘n verhouding nie. Daar is nie liefde nie. Dit is bloot ‘n transaksie.

Wanneer daar nie liefde is nie, loop alles verkeerd. Wanneer ons onself nie vir mekaar gee nie, loop dinge skeef. Dan loop godsdiens, die hart van spiritualiteit  skeef, dan raak ons blind. Dan kan ons maar so vroom wees soos ons wil, kan ons al die sondagskool antwoorde ken. Want as ons hier fouteer, fouteer ons aan die hart van dit alles. Om ‘n herder te wees vra veel meer.

Ons leef in ‘n wêreld waar ons ons diepste oortuigings eintlik weggee met die taal wat ons gebruik. Vat die woord “disfunksioneel.” Ons sê mos, “Daardie is ‘n disfunksionele verhouding of ‘n toksiese verhouding.” Eugene Pieterson, die bekende Amerikaanse skrywer-dominee sê: “As daar een woord is wat uit die kerk se woordeskat verwyder moet word is dit is dit die woord ‘disfunksioneel.’  Dis ‘n lelike woord!” Hy sê, “Fietse is disfunksioneel, mense is nie disfunksioneel nie. Die oomblik as ons hierdie taal begin gebruik, begin ons om aan mense te dink as ‘n probleem. Maar mense is nie probleme wat opgelos moet word nie, mense is geheimenisse wat wat ontdek moet word.”

Wat ons doen wanneer ons herders is, is om te kyk na die dinge vanuit die perspektief van verhoudings, van vergifnis, van genade, van genesing, van begrip, van verlossing van geduld. Dís die kenmerke van ‘n ware geloofsgemeenskap.  Nie uitdrukkings soos “disfunksioneel” en “probleme is wat opgelos moet word nie.” In die Ou Testament word vertel dat Moses eers moes leer om ‘n skaapwagter te wees van skape voordat hy gereed was om die herder van mense te wees.

Ons vind daardie selfde woorde in Psalm 78: 70-72, “Hy het Dawid as sy dienaar gekies en hom van die skaapkrale af weggeneem. Agter die lammerooie het Hy hom weggehaal om sy volk Jakob, sy eiendom Israel, te versorg. Dawid het die volk met toewyding versorg en hulle met oorleg gelei.”  Dis wat dit beteken om herders te wees.

Thomas Merton skryf, “Die ware rede waarom so min mense in God glo, is dat hulle ophou glo het dat selfs ‘n God hulle kan liefhê.” Dis seker waar dit alles begin, om jouself regtig toe te laat om liefgehê te word deur God maar dan ook deur ander mense. Dis ‘n baie brose ding as mens regtig eerlik oor dit is. Dis natuurlik makliker om lief te hê as om liefgehê te word. Dis een ding om te sê, “Ek is so lief vir daardie gebroke persoon. Ek is lief vir hom of vir haar ten spyte van hulle sondes.” Dis egter veel moeiliker om te aanvaar dat jy deur God liefgehê word met inagname van wie jy regtig is. Dis waar dit begin om ‘n goeie herder te wees.

Om ‘n goeie herder te wees begin by waar jy die volgeling is van ‘n goeie herder. Waar jy die herder se voorbeeld navolg, waar jy toe laat dat hy jou lei en dat hy jou troos, dat hy jou vergewe waar jy jou lewe oopstel voor hom. Met dieselfde mate waarmee ons dit regkry om die detail van ons lewens voor God te oop te maak sal ons kan ervaar dat heling deel van ons lewens word.

Ons leef in ‘n wêreld waar verhoudings al hoe vlakker word. Ek lees êrens dat jongmense só deur Facebook gevorm is (waar jy iemand kan “unfriend” met die druk van ‘n knoppie), dat hulle glad nie meer ‘n vriendskap op ‘n normale manier kan beëindig nie. Hulle “unfriend“ mekaar net. Jy is “ge-unfriend.” Ons leef in ‘n wêreld waar ons lewens al moe meer Gerkleur word deur transaksies, ons word goeters.

Dinge raak al hoe meer onpersoonlik. Menslikheid is besig om ons te verlaat. Ons sien nie kans vir die morsigheid en die moeite  wat met verhoudings gepaard gaan nie. Ons is te besig en te selfgesentreerd. Waar dit alles ten diepste oor gaan is oor verhoudings. Uiteindelik is die toets van ‘n herder of dit iemand is wat versorg en liefhet. Dit was eienskappe wat kenmerkend was van Jesus. Dis wat hom anders maak as die huurling. Hy is bereid om sy lewe te gee vir sy kudde.  Ja, op ‘n eerste vlak weet ons dat Jesus homself gegee het om gekruisig te word, maar dit was ook ‘n hele lewenshouding; ‘n soort vryheid: Die liefde wat Jesus só vry gemaak het, dat dat Hy homself kon weggee. Dis die diepste soort vryheid wat daar is. “Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder lê sy lewe af vir die skape.”

In Afrika ken ons die uitdrukking, “Umntu, ngumntu, ngabantu.” Ek is ‘n mense saam met ander mense. Ek kan nie sonder ander mense ‘n mens wees nie. Ek gaan ‘n baie arm en skraal mensie wees as ek net ‘n mens is onder dié wat oulik is en ryk en suksesvol of skoon of slim is soos ek. As ek myself só gaan ontdek net tussen die eende van my eie dam, gaan ek ‘n arm mens wees. Thomas Merton sê die liefde is ons bestemming, ons ontdek nie die sin van die lewe op ons eie nie maar saam met ander. Uiteindelik is die liefde die toets. Ek wil afsluit met ‘n aanhaling van hom: “Om te sê dat ek na die beeld van God geskape is, is om te sê dat liefde die rede vir my bestaan is. Die liefde is my ware identiteit. Selfloosheid is my ware self. Liefde is my ware karakter. Liefde is my naam.” AMEN

Terug