Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

15 Mei 2018 Ds. André Agenbag Pinksterdiens

Lees preke

Dinsdag, 15 Mei 2018                                                                                                Durbanville Gemeente

Prediker 9:7-10                                             Vreugde is om jou te verheug in die fees van die lewe

 

Inleiding: Waar ons gister begin het

  • Vreugde is nie sommer ‘n ding wat uit die lug val nie. Almal word ook nie bly oor dieselfde goed nie. Vreugde het diepte en daar is sóveel meer aan vreugde as wat ons dink. Vreugde is deel van en uiteindelik die uitdrukking van ‘n vol en goeie lewe.
  • Daarom moet vreugde gevind word in iets spesifieks: “Vreugde is om verenig te word met dít wat ons liefhet.”
  • Die voorwerp van die vreugde moet ook as goed vertolk word. Daarom sê Dawid in Psalm 16:2, “Daar is vir my niks goeds nie, behalwe by U.”
  • Die voorwerp van vreugde moet verstaan word as ‘n geskenk: Gratis en onverdiend. Om dít te kry wat jy dink jy verdien, of wat jou toekom, skep maar net ‘n houding van, “Die wêreld skuld my iets.” Dit skep nie volhoubare vreugde nie, maar eerder frustrasie, onvergenoegdheid en selfs angs.
  • Vreugde is 'n emosionele ingesteldheid (attunement) tussen jouself self en die wêreld sodat 'n deel daarvan (soms selfs 'n kleinerige deeltjie daarvan) ervaar word as 'n seën / blessing.

Beginpunt / Bron: Ons beheptheid met probleme

Dit word tradisioneel aanvaar dat godsdiens nuttig is: Dat godsdiens, geloof of spiritualiteit die oplossing vir probleme is. Dit maak reg wat verkeerd is. Dit verlos en bevry. En hopelik is dit wáár dat godsdiens dít wat op ‘n manier verkeerd is, wil beter of reg maak. Die probleem is net dat hierdie benadering ‘n prentjie skets van godsdiens as ‘n reddingsplan, as ‘n mediese fonds, iets wat ‘n verkeerde, stukkende of siek ding wil reg maak. Só gesien vind godsdiens, geloof of spiritualiteit sy oorsprong of bron in die probleem of die krisis.

Dis asof godsdiens en spiritualiteit dan altyd op die agtervoet is. En wanneer ons dan oor vreugde praat, is die gevolg dat vreugde beperk word tot blydskap oor iets wat verlore was, maar weer gevind is, iemand wat siek was, maar nou weer gesond is, oor ‘n samelewing wat uitgelewer was aan slegte leiers en in ongeregtigheid gedompel was en nou weer goeie leiers het wat reg laat geskied ens.

Dink maar aan die Heidelbergse Kategismus se beroemde driedeling: Sonde, Verlossing, Dankbaarheid. Alhoewel die Heidelbergse Kategismus wat begin met ‘n vraag oor wat ons enigste troos in lewe en in sterwe is, bly die wegspringplek van die stuktuur, die momentum en die beweging daarvan die sonde. Veral sekere kerkgroepe het ‘n beheptheid met sonde, want sonder ‘n sondebesef kan mense nie hulle toevlug na Jesus hulle enigste Verlosser en Saligmaker neem en derhalwe gered word nie. Só werk die logika van daardie soort benadering. Die enigste motivering vir verlossing is ‘n sondebesef! Is geloof dan só reaktief of selfs reaksionêr? Is dit só onoorspronklik? Is sonde só noodsaaklik dat geloof, spiritualiteit en godsdiens daarvan die oorsprong of kern moet maak?

Kritiek teen Christene: Ons is sonde-behep.

Iemand wat baie krities teenoor die kerk ingestel is, het geskryf: Die kerk verkondig sonde sodat die mense weer en weer terug sal kom om die vergifnis te ontvang wat die kerk verkondig en uitdeel. Dit is dus ‘n slinkse slenter om mense vasgevang te hou en te beheer. Hulle as’t ware van hulle diepste bestemming as mense te weerhou. Hierdie stelling is dalk oorvereenvoudig, maar dit vat iets raak van die persepsie wat mense buite die kerk van die kerk sélf het.

Pret-gemeenskappe wat nie meer weet hoe om fees te vier nie

Daarom is daar by baie mense ‘n soort opgaan in die plesiere van die lewe: Hedonisme.

Jurgen Moltmann skryf dat ons baie mooi moet onderskei tussen pret en vreugde. Hy beskryf hedendaagse gemeenskappe wat meer welaf is as “Spaßgesellschaft” (Pret-gemeenskappe). Almal wil net “’n goeie tyd” hê en die pret (fun) is net nooit genoeg nie.  Hoe meer pret jy het, hoe meer wil jy hê. Soos wat Shakespeare gesê het “The appetite had grown from what it fed upon.” Die verwagting is dat die lewe een eindelose partytjie is. Ook die ouer mense het hulle eie weergawes van die eindelose partytjies wat die jongmense hou. Moltmann skryf dat hierdie mense nie meer weet hoe om fees te vier nie. Hulle probeer nie eens meer nie! Hulle huur mense wat die vermaak verskaf en die geleenthede reël. Hulle sorg dat hulle vermaak word omdat hulle nie meer instaat is om hulleself te vermaak nie.

  • Vreugde is volhoubaar en dit oefen ‘n invloed uit op ‘n mens se lewensingesteldheid. Pret is ‘n korttermyn ervaring en die doel is altyd om vermaak te word. Egte vreugde is slegs moontlik wanneer jou hele hart, siel en al jou kragte betrokke is.
  • Die lewensgevoel onderliggend aan ‘n partytjie-behepte pret-gemeenskap het meer met verveling te make as egte vreugde.
  • Egte vreugde open ‘n mens se siel vir die beweging van die menslike gees sowél as die Goddelike Gees. Dit verleen aan die lewe ‘n soort gemaklikheid. Moltmann skryf so mooi, “Ons is gebore vir vreugde!”

Gebruik ‘n ander vertrekpunt: Om vreugdevol te floreer!

Ja, die beheptheid met sonde en dit wat verkeerd is, is ‘n probleem. Die vraag is net: Hoe kan Christene dit dan anders hanteer?

Só skryf een Christen Pastorale Sielkundige, Mary Clark Moschella: “Omdat Freud se (patologie-gedrewe) (patologie = siekteleer) benadering so ‘n groot invloed uitgeoefen het, wil sielkundiges en andere die mens verstaan met die oog op die een of ander siekte (patologie). Mary Clark Moschella sê dan dat die beste manier om mense te help en te versorg is om beide jou wegspringplek en bestemming te vind in die ervaring van vreugde. En sy gaan verder. Sy sê, “Vreugde is wanneer ‘n mens se diepste wese gerig is daarop om aandag te gee aan die goedheid van God.” Sy sê, “As ons wil floreer, moet ons nie bloot die heeltyd reageer op die veelvuldige krisisse wat oor ons pad kom nie. Ons vertrekpunt moet ‘n omvattende visie wees van ‘n florerende, vreugdevolle lewe.” Vreugde is dus meer oorspronklik as krisisse. Vreugde kom vóór sonde. Ons begín by vreugde, nie by probleme en sonde nie. Dalk moet die Heidelbergse Kategismus begín met Skepping; en dán Sonde, Verlossing en Dankbaarheid!

‘n Ander teoloog wat ook só oor die onderwerp praat, is Jurgen Moltmann. Hy wys die verstaan van godsdiens as iets wat nodig is, wat 'n nut het, af. Hy sê dat die uitdrukking "Nood leer bid" verkeerd is. Veeleerder is godsdiens die fees van die lewe, nutteloos maar vreugdevol, en gebed is die lofprysing vir die vreugde van bestaan. M.a.w ons glo nie in die eerste plek omdat ons geloof, ons godsdiens, ons spiritualiteit ‘n nut het, of die oplossing vir ‘n probleem is nie, maar om ons bestaan te vier. Ons gebede is die lofliedere wat uitdrukking gee aan die vreugde van ons bestaan.

Vreugde is self-uitdrukking

(Die vanselfsprekendheid van als versus die belewenis dat alles wat goed is gawes is)

Omdat vreugde die self-uitdrukking, die viering van die fees van die lewe is, vra dit van ons ‘n bepaalde uitkyk, openheid en ingesteldheid. Dit vra van ons ‘n ingesteldheid op God as die Bron van die lewe. God wat as’t ware agter en onder alles is. Die Amerikaanse skrywer, Eugene Peterson, praat van “the previousness of God.”

  • Psalm 36:10, “U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons.”
  • Paulus preek tydens sy Areopagusrede, opgeteken in Hd 17:27, 28, “God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur om lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters gesê het: Ons stam ook van Hom af.”
  • Alles, alles is gawes van God. Dit is orals om ons elke dag. Dit is daar om geniet te word as gawes.
    • Nie dinge wat vanselfsprekend is nie.
    • Nie dinge wat ons verdien of wat ons toekom nie.

En daarom klou ons nie vas aan hierdie dinge nie

Want ons weet dit is nie vanweë ons toedoen nie; dis gawes van die Gewer. En ons weet dit hou nie vir altyd nie; ons moet dit geniet; maar ons moet dit nie probeer besit of daaraan vasklou nie. Die Prediker is ‘n bietjie meer sinies. Hy skryf in Pred 9:3, “Die ellende met alles wat in die wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref.... en sy einde is die dood.” Daar is ‘n soort ligtheid aan ons lewe: ‘n Vreugdevolheid, ‘n dankbaarheid. So, al kom dit alles tot ‘n einde, geniet ons dit, verheug ons onsself daaroor as gawes uit die hand van die Gewer. Pred 9:7, “Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het. Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen...”

Om bewus wees van dit wat voorhande is. Attentativeness. Om aandag te gee.

Uiteindelik is vreugde nie te vinde in die ontvlugting vanuit die harde werklikhede van ons aardse bestaan nie. Dis om die gawes in ons, in mekaar en om ons raak te sien, in te neem en vreugde daaruit te put. Vreugde is ook nie te vinde in die onversadigbare honger na hoë-oktaan ervarings en die feeslose behoefte om vermaak te word nie. Vreugde is regtig om jou te verlustig in die lewe. Om die fees van die lewe te vier.

Ek het eendag lank en stil in my tuin gesit en toe die volgende reëltjies geskryf.

Stil sit ek in die tuin en leeg

wag ek tot die tuin in my beweeg

Antoinette Pienaar, die bekende kruiekenner, het eendag op ‘n radioprogram vertel van haar grootword jare op hulle familieplaas in die Karoo. Sy vertel dat die grootmense en die oumense op die stoep gesit het. Hulle het in stilte gesit en uitkyk oor die wye Karoovlaktes. Hulle kyk en hulle kyk en hulle kyk. Die kinders het in die tuin rondgespeel. Dan word die kinders nadergeroep om óók stil op die stoep te kom sit en kyk. Sy sê:

Jy kyk en jy kyk en jy kyk

totdat jou kyk jou gryp

en dan dink jy oor jou kyk

en dan maak jou kyk jou gesond

 

Amen

Terug