Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

15 Julie 2018 Ds. Jana Dickason Klassieke Diens

Lees preke

Sondag: 15/07/2018

Oggenddiens by Durbanville Gemeente ( Kerk)

Teks:    Markus 6:17-29

LITURGIE

Verwelkom en Afkondigings

Votum:

Aan die einde van Markus 6 probeer Jesus en sy dissipels ontsnap van die skares net vir ’n oomblik se rus en iets te ete.  Maar die mense het hulle dopgehou en ’n groot menigte was spoedig weer op hulle spoor.  En dan lees ons die volgende:  Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy ’n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie...

En later het Hy hierdie selfde skare op die groen gras laat sit en Hy het die vyf brode en die twee visse geneem en na die hemel toe opgekyk en die seen gevra.  Al die mense het geeet en genoeg gekry...

Seëngroet:  Jesus is die Goeie Herder en die wat by Hom aansit, sal nooit weer honger wees nie.

Liedere:

Lied 184 vv 1,2 en 4

Lied: 205 vv 1, 2 en 3

Kersritueel:

Gebed:

Lied 257 vv 1, 2 en 3

Teks: Markus 6:17-29

17 Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, 18en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.”

19 Herodias het daarna 'n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, 20want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy 'n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in 'n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.

21 Op 'n dag het Herodias 'n goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea 'n feesmaal gegee het, 22het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”

23 Daarby het hy dit herhaaldelik met 'n eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.”

24 Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?”

Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.”

25 Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in 'n skottel die kop gee van Johannes die Doper.”

26 Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met 'n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. 27Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, 28sy kop in 'n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.

29 Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.

Preek:

In hierdie gedeelte lees ons van die bose aard van die familie-lewe van die Herodusse  (Keeping up with the Herodians).  Net om te probeer byhou by die aardige en nare familiestamboom vanaf Herodus die Grote is al erg genoeg.  Dis soos om ’n familie reünie van die voormalige bokser George Foreman by te woon – wat al 5 sy seuns “George” genoem het!

Die naam ‘Herodus’ is net so algemeen rondgegooi tussen die verskillende nasate van die verskillende vroue van Herodus die Grote.  En die meeste sou hom volg in die familiebesigheid  (korrupsie en staatskapery)!

Die ontstellende verhaal van Herodes en Johannes die Doper onderstreep die feit dat dissipelskap altyd ’n prys kos.

DISSIPELSKAP VRA ALTYD ‘N PRYS

Jesus trek Herodes se aandag

Herodes is baie bewus van Jesus se gesprekke en genesings.  Soos die mense, wonder Herodes ook waar Jesus die krag vandaan kry dit te doen.  Soos sommige van hulle dink Herodes dat Jesus eintlik Johannes die Doper is wat uit die dood opgewek is.  Daarom is hy bang vir Jesus, nie net vanweë die gewaande opstandingswonderwerk nie, maar veral vanweë die moontlikheid van politieke teenstand in Jesus se bediening.  Hy dink dat dit Johannes in die gestalte van Jesus is wat opgedaag om hom terug te betaal en van sy troon te beroof.

Net so bietjie inligting: Herodes Antipas, die Herodes van ons teks, was die seun van Herodes die Grote, die een wat die kindermoord gepleeg het by Jesus se geboorte.  Na sy pa se dood het hy koning oor die landstreke Galilea en Berea geword.  Dit is dié gebied waarin Jesus sy dissipels uitgestuur het en waarin twee-derdes van die evangelie van Markus afspeel.  Daarom is Herodes as heerser van dié gebied baie bewus van alles wat Jesus doen.

Herodes red sy eer en maak ‘n onskuldige dood

Ons word dieper ingelig waarom Herodes bang was.  Op ‘n meesterlike manier verduidelik  Markus Herodes se vrees met die herinnering aan die dood wat Johannes die Doper as martelaar aan Herodes se hand gesterf het.  Herodes het met sy broer se vrou, Herodias, getrou, en toe Johannes hom daaroor betig, is hy opgesluit.  Herodes was egter bang vir Johannes, omdat hy ‘n opregte en godvresende man was.  Hiervoor het Herodes respek gehad.  Herodes kon egter nie sover kom om sy moreel korrupte verhouding met Herodias te beëindig nie.

Maar, Herodias was nie bang nie.  Deur haar listigheid kry sy dit reg om Johannes dood te maak.  Herodes kies om eerder sy eer voor sy gaste te handhaaf as om ‘n belofte teenoor Herodias se dogter, Salome (volgens Josefus), te verbreek, al moet hy ‘n onskuldige aan die pen laat ry.  Die tragiese uiteinde is dat Johannes die Doper sterf.  Onskuldig.

Mag triomfeer oor onskuld.

Die 74 jarige non, Dorothy Stang, het nie na die tipiese persoon gelyk wat ’n  kontrak op haar lewe uit sou hê nie. Sy was kort met grys hare en ’n brilletjie wat as gevolg van die hitte gereeld afgegly het tot op die punt van haar neus.

Sy het nie ’n wapen gedra nie. Sy het haar Bybel getrou gelees en uitgeleef.

Sy het bekend gestaan as “Sister Dorothy” of “Dot”. Nee, Dorothy het nie gelyk na die soort persoon wat ‘n bedreiging vir enigiemand sou wees nie, totdat sy begin praat het...

Dorothy, ’n Amerikaner, het as jong vrou aangesluit by the Sisters of Notre Dame de Namur in Cincinnati – ’n orde van nonne wie se missie is “to take our stand with poor people, especially women and children, in the most abandoned places.”

Dorothy het toe gaan werk in die oerwoud in die noorde van Brasilië se Para-streek. Daar het sy onder die armste van arm mense in die reënwoud gewerk. Maar hierdie mense met geen grond of stem, was kwesbaar/vatbaar/ vulnerable vir uitbuiting.

Onwettige houtkappers en groot veeboere is besig om reuse hoeveelhede hout van die reënwoud te vernietig - 20% van die streek se 1.6 miljoen hektaar.

Die vernietiging van die reënwoud het ook die vernietiging van ’n leefwyse vir die armste van armes beteken. Hulle is weggedryf deur dreigemente, intimidasie en selfs geweld.

Sister Dorothy het geweier om hieroor stil te bly... Sy het aangehou om die mense van die streek te leer om te boer sonder om die reënwoud te vernietig, terwyl sy tegelykertyd die Brasiliaanse regering gemobiliseer het om iets aan die situasie te doen deur die mense op die naam te noem wat besig was met die verskriklike destruktiewe optredes.

Kyk Video oor Dorothy

As gevolg daarvan het sy ’n bedreiging vir die houtkappers en ryk, groot veeboere geword en ’n kontrak is op haar lewe uitgereik.

Ongeag dat sy hiervan geweet het, het sy geweier om te vlug. Soos sy dit self gestel het: “I don't want to flee, nor do I want to abandon the battle of these farmers who live without any protection in the forest. They have the right to aspire to a better life on land where they can live and work with dignity while respecting the environment.”

Sy is dikwels gesien in ’n T-hemp met die Portugese woorde daarop “Die dood van die woud is die einde van ons lewe.”

Op 12 Februarie 2005, terwyl Dorothy saam met twee plaaslike inwoners van die Boa Esperanca nedersetting geloop het, het twee gewapende mans uit die bosse gekom. Hulle het haar gevra of sy enige wapens het. Sy het geantwoord dat die Bybel haar enigste wapen is. Sy het die Bybel oopgemaak en Jesus se saligsprekinge begin lees. Hulle het haar in die maag en rug geskiet en toe 4 maal in die kop!

In baie opsigte was sy soos Johannes die Doper wat Herodus gekonfronteer het omdat Hy sy broer, Filippus se vrou, Herodias, geneem het. Die uiteindelike gevolg was dat dit sy lewe gekos het.

Dorothy kan ook soos Johannes beskryf word as ’n opregte en godvresende persoon (vs 20)

Dissipelskap is morsig!

VERTEL STORIE OOR Vuildoek by Calitzdorp

God se koninkryk kom deur selfopofferende diens

Maar, is dit werklik so?

Ons moet erken dat Johannes die Doper en ook later Jesus self, delf op ‘n menslike vlak die onderspit teen die owerhede van die dag.  Johannes aan die hand van Herodes, Jesus aan die hand van die Romeinse owerhede, Pilates, en die Joodse leiers.  Mag triomfeer oor onskuld.

Maar die triomf van hierdie mag is net op die oog af so. 

In die eerste plek: mag wat só uitgeoefen word, boemerang altyd tog maar weer op die onregverdige maghebber.

Die geskiedenis leer ons dat die dood van sowel Johannes, as wegbereider, en Jesus se eie kruisdood die voorspel was tot die einde van juis die mense en koninkryke wat die mag teenoor hulle misbruik het. 

  • Herodes Antipas word later deur keiser Caligula verban na wat vandag Lyon in Frankryk is.  Sy heerskappy word dus beëindig.
  • En, die Romeinse ryk, waarvan Pilatus die maghebber in Jerusalem was, loop hom binne vier eeue te pletter teen die kruis van Jesus.  Die Romeinse ryk bestaan eintlik ironies genoeg net voort in die Rooms-Katolieke kerk, by wyse van spreke.

In die tweede plek: die verhaal leer ons dat die koninkryk van God nie deur mag en geweld kom nie, maar deur selfopofferende diens en gehoorsaamheid aan God.

Dit is so, profete word doodgemaak wanneer hulle bediening hoë aandag trek.  Die magte hou dit nie uit met die waarheid nie.  Johannes het gesterf.  En sy dood, aan die hand van politieke mag, is natuurlik ‘n profesie van Jesus se eie dood.  Onskuldig.  Albei.

Maar, in die onskuld van hulle dood, word die misterie en styl van God se regeermag openbaar.  God se oorwinning word in die teendeel geopenbaar.  God se ryk wen deur die kruis en die opstanding, en deur die gesante van die kruis en opstanding wat hierdie gebeure lewend en teenwoordig hou deur hulle lewe en woorde.

Dit is waar die bediening van die versoening, van ‘n lewe met mekaar en ‘n lewe met God sy impetus gekry het.

God is uiteindelik in beheer

In die derde plek: die verhaal help ons verstaan dat God uiteindelik in beheer is, en dat die magte hulle knieë voor God moet buig en God moet gehoorsaam. 

Dit geld alle vorme van mag en alle soorte gesagsdraers.  Waar regeerders en maghebbers hul eie koers inslaan, sonder ontsag vir God en sy gebod, is hulle op dun ys.  Konings en presidente, eerste ministers en premiers moet die knie voor God buig.  Kerkrade en dominees moet die knie buig.  Skoolhoofde, voorsitters, kommissarisse, noem maar op.

En in die vierde plek: dit is waar van ons almal.  Die meeste van ons is iewers in ‘n gesagsposisie.  Ons het verantwoordelikhede by die werk.  Ons dien op komitees en kerkrade.  Ons is die ouers van kinders.  Ons is klaskapteins of dien op leerlingrade.  En ons moet buig voor die gesag van God en God dien.

Dit laat my dink aan Psalm 2:10-12, wat so ‘n sentrale tema in die Psalms aanroer, iets wat ook in die NT weerklink:

“Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde! Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig en Hom onderdanig wees,  sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie,  want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek.”

Ironies genoeg het koning Herodes Antipas ontsag vir God gehad.  Én vir God se gestuurde, Johannes die Doper.  Hy het egter nie die wilskrag en moed van sy oortuiging gehad om die regte ding te doen nie.  Hy misbruik sy mag.  Hy veroorsaak ellende en lyding.  Daarmee bou hy sy huis op sand.

Watter Evangelie leef ons?

Johannes die Doper het altyd gereageer as hy “evil” raakgesien het. “Evil flourishes when good men do nothing.” Johannes die Doper het nooit niks gedoen nie. En jy? Wat doen jy as jy ‘evil’ (die verkeerde) raaksien?

Hou jou mond toe en jy sal nooit in die moeilikheid kom nie.

Onthou, dieselfde Griekse woord wat gebruik word vir ‘martelaar’, word gebruik vir ‘getuie’. Daarom sodra jy jou mond oopmaak oor Jesus en Hom begin leef, dan is die kanse goed dat jy begin om iets van martelaarskap te ervaar, al is dit op ’n klein skaal.

Eerstens, martelare word doodgemaak nie vir hulle hulle oortuigings, maar omdat hulle hulle oortuigings hoorbaar gemaak het. Martelare hou nie hulle geloof privaat nie. Hulle weier om hulle monde toe te hou en daarom kom hulle in die moeilikheid.

Om Daniel Berrigan se woorde weer te herhaal: “If you want to follow Jesus, you better look good on wood.” 

God se werk trek altyd publieke aandag.  Dit was regdeur die Ou Testament so.  Die oortuiging dat God regeer, is ‘n oortuiging wat in die publieke ruimte uitgeleef word.  Dit het altyd implikasies vir die openbare lewe.

Dis ‘n tragiese verhaal wat in ons teksgedeelte afspeel. Die wegwyser na die Messias, Johannes die Doper, kom tragies en voortydig aan sy einde.  Hoe anders sou mens nie wou hê Johannes se lewe moes eindig nie!

Tog was Johannes getrou as getuie van die Here, en het hy sy taak voltooi, ‘n belangriker taak as enige ander profeet voor hom, die aankondiging van die Messias self, soos Jesus self aan Johannes erkenning sou gee.  Daarvoor kan ons Johannes onthou en sy voorbeeld navolg, al leer dit ons dat dissipelskap altyd ‘n prys kos.

Deur Johannes is die vaandel van die koninkryk hoog gehou, triomfeer God se koninkryk uiteindelik oor die mag van hierdie wêreld.  Nie deur mag en geweld nie, maar deur diensbaarheid en opoffering.

Dankoffer

Dankgebed

Geloofsbelydenis

 Slotlied: 471 x 2

Seën: Die Here Jesus, ons Herder, ken julle en niemand sal julle uit sy hand ruk nie. Amen

Gemeente sing “Amen”

Terug