Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

15 April 2018 Ds. André Agenbag

Lees preke

15 April 2018                                                                          Durbanville Gemeente: Klassieke Diens

Handelinge 3:12-19               

Inleiding

Die boek Lukas-Handelinge was oorspronklik een dokument. Dit behandel die evangelieverhaal in twee dele: Lukas vertel die verhaal van Jesus en Handelinge vertel die verhaal van die liggaam van Jesus, die kerk. Die Lukasevangelie eindig met die verhaal van Jesus se hemelvaart, terwyl Handelinge weer daarmee begin. Lukas-Handelinge was uit die aard van die saak baie belangrik vir die vroeë kerk. Lukas-Handelinge as geskrif beslaan meer as vyftig persent van die Nuwe Testament. ‘n Baie belangrike boek vir Christene. Maar wat het dit met ons te doen? Hier het ons ‘n verhaal van die begin van die kerk, terwyl ons byna 2000 jaar later kerk van Christus is. Daar het intussen sóveel in die kerk se geskiedenis gebeur. Wat het Lukas-Handelinge regtig vir ons te sê? Wat het dit vir my te sê?

Dalk is een van die aanknopingspunte: Bekering. Bekering as tema loop soos ‘n goue draad deur Lukas-Handelinge. Veral Handelinge is die boek van nuwe dinge: van ‘n nuwe begin maak op verskillende maniere en verskillende vlakke. Maar die woordjie “bekering” is in die moeilikheid. Die begrip het sóveel bagasie! ‘n Mens kan amper sê, “Bekering het ‘n slegte naam gekry.”

Bekering het vasgeval in resepte en formules

Tydens ‘n nagraadse kursus vir ervare predikante uit verskillende denominasies het ‘n pastoor uit ‘n ander kerkgroep met my in gesprek getree oor sy persepsie van die NG Kerk. Hy was baie verbaas toe ek na die NG Kerk verwys as ‘n evangeliese kerk, ‘n kerk wat die evangelie verkondig en bekering preek. Die rede vir sy verbasing en selfs ongeloof hieroor was dat hy oortuig was daarvan dat die NG Kerk nie aan bekering glo nie, maar verkondig dat mense gered word, bloot omdat hulle as baba’s gedoop word. Hierna vra ek hom toe uit oor sy beskouing van bekering.

Hy verduidelik toe dat sy beskouing Bybels is en daarop neerkom dat bekering en wedergeboorte van mekaar geskei behoort word. En wedergeboorte is iets wat op ‘n bepaalde oomblik en bepaalde dag en datum gebeur. Almal moet ‘n dag en ‘n datum van wedergeboorte hê. Daar is ‘n radikale skeiding tussen die lewe voor Christus en die lewe na Christus. Indien jy sou sterf voor die spesifieke oomblik (selfs sekonde) van wedergeboorte, gaan jy hel toe, en indien jy sou sterf na die spesifieke oomblik (selfs sekonde) van wedergeboorte, gaan jy hemel toe.

Hy vertel my toe sy eie verhaal met bekering. Hy het in ‘n christelike huis groot geword en as lid van die Grieks-Ortodokse kerk is hy as baba gedoop. Ek vra hom toe of hy ‘n christen was as kind. Hierop het hy bevestigend geantwoord, “Ja, ek was ‘n kind van die Here.” Ek vra hom toe of hy hemel toe sou gaan as hy op daardie stadium van sy lewe sou sterf.  “Ja,” sê hy, hy sou hemel toe gaan. Hy vertel toe dat hy egter as tiener rebels en wêrelds geraak het en dat hy opgehou het om as ‘n kind van die Here te leef. Tot in sy twintigs was hy ongered. Ek vra hom toe weer of hy hemel toe sou gaan as hy op daardie stadium van sy lewe sou sterf. “Nee,” sê hy, hy sou hel toe gaan, want hy was ongered. Later, toe hy in sy twintigs was, kom hy toe radikaal tot bekering en hy bevestig dat as hy vyf minute voor hierdie (tweede) wedergeboorte sou sterf, hy hel toe sou gaan, en indien hy vyf minute na hierdie (tweede) wedergeboorte sou sterf, hy hemel toe sou gaan. Op my vraag oor hoe seker hy is dat hy nie in die toekoms weer verlore kan raak nie, het hy nie ‘n antwoord gehad nie.

Hierna het hy vertel hoe verskillend sy eie seun en dogter was. Sy seun was wild en ongered en het later radikaal tot bekering gekom. Sy dogter was van altyd af ‘n christen. Sy het nooit radikaal tot bekering gekom nie.

Bekering het vir baie mense vasgeval in resepte en formules: Daar moet ‘n presiese en eenvoudige verduideliking wees vir hoe ‘n mens gered word en dit moet maklik op alle mense en situasies toegepas word. Mense en kerke wat só ‘n eng of nougesette verstaan van wedergeboorte en bekering het, sal dan maklik ander kerke of mense, wat nie hieroor met hulle saamstem nie, as onbybels afmaak. Die werklikheid is egter dat beide die Bybel en die werklikheid getuig van baie meer verskeidenheid wanneer dit by wedergeboorte en bekering kom.

Die Bethlehemse christen toergids

‘n Heeltemal ander bekeringsverhaal het ek gehoor uit die mond van ons Palestynse toergids tydens ‘n toer deur Israel. Hierdie Palestynse toergids was ‘n christen en hy was afkomstig uit die dorpie Betlehem, in Israel. Omdat ek self in ‘n dorpie met die naam Bethlehem (in die Vrystaat!) grootgeword het, het ons lekker hieroor geskerts en gesels. Op ‘n stadium vra ek ons toergids toe wanneer hy dan nou ‘n christen geword het, wanneer hy tot bekering gekom het. Sy antwoord was dat hy in ‘n christelike huis grootgeword het en dat hy as ‘n babatjie gedoop is. “Nou wanneer het jou pa dan ‘n christen geword?” vra ek hom toe. “Nee,” antwoord hy, “my pa het óók in ‘n christelike huis grootgeword en is óók as ‘n baba gedoop, só ook sy oupa.” “Nou wanneer het jou familie christene geword?” vra ek hom toe? “Wel, jy lees daarvan in Handelinge 2:11 antwoord hy toe: ‘Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.’” Hy vertel my toe dat sy familie al vir meer as 2000 jaar in Betlehem woon, en dat hulle christene is vanaf die tyd waarvan Handelinge 2 vertel.

Bekering is om deel te wees van iets groters. ‘n Groter verhaal. En bekering is om jou pad te vind in daardie groot verhaal. Want jy kan soms jou pad verloor.

Maar hoe word ek deel van die verhaal? Hoe raak die verhaal my lewe?

Bekering: Wortels en Vleuels

In die Joodse Talmud staan daar blykbaar dat ouers hulle kinders met wortels én vleuels moet grootmaak. Aan die een kant geanker in die grond. Stewig. Verbind tot die verlede en tradisies. Identiteit. Maar aan die ander kant: Vleuels. Vry om te vlieg. Jou eie koers in te slaan. Maar altyd gewortel, veranker in die vrugbare grond van die HART van jou geloof, jou identiteit, jou geskiedenis en jou tradisie.

Bekering is om te lewe met wortels én vleuels. Dis ‘n skeppende spanning. Dis skeppend: Nuwe goed gebeur. Nuwe moontlikhede. Maar dis spannend: Jy is nooit finaal daar nie. Jy moet dit uitwerk. Dis ‘n reis.

Jy is altyd oppad. Dis ‘n proses. ‘n Proses van transformasie.

Bekering is ‘n leefstyl vir gelowiges. Jy kan dit nie oorvereenvoudig deur eenvoudige terme of kategorieë - om jouself dan op die een of ander wyse as  onaantasbaar te verklaar nie: “My geestelike transformasie, my geestelike groei is nou afgehandel, dankie. Ek is volgroeid in Christus...” Nee. Bekering is ‘n lewenslange reis. ‘n Lewenslange leefstyl.

‘n Leefstyl met wortels én vleuels. Altyd getrou aan en groeiend vanuit die wortels. Maar nooit vasgevang daarin nie. En vanuit die wortels groei die vryheid wat die vleuels bring. Maar nooit vleuels sonder wortels nie. Nooit absolute vryheid nie. Die wortels gee die vryheid aan die vleuels. Die vleuels verdwyn nie in die niet nie; omdat dit stewige gewortel is....

Lukas-Handelinge praat van die bekering van God se volk

Lukas-Handelinge vertel vir ons dat bekering is om met wortels én vleuels te leef. Maar dis nie altyd maklik nie. En dit is dikwels gevaarlik. Wanneer mense daaraan herinner word dat hulle ontrou aan hulle eie wortels geraak het, is daar dikwels konflik.

Lukas-Handelinge vertel die verhaal van ‘n godsdiens wat sy hart (wortels) verloor het. En van ‘n Mens wat dit kom herstel het. Dat Hy dit tot só ‘n mate reggekry het, dat hulle nie anders kon as om van Hom te praat as die Seun van God nie. Maar hierdie Jesus wou nie ‘n nuwe godsdiens begin nie. Hy wou die volk van God teruglei na die hart (wortels) van die geloof: Om die Here jou God lief te hê met jou hele hart, siel en verstand; en om jou naaste lief te hê soos jouself. Maar om dit reg te kry, moes hy dit alles sélf beliggaam. In Hom sou ons die ware betekenis van hierdie Koninkryk van God, die Koninkryk van liefde sien uitspeel. In sy lewe. In alles wat Hy gesê en gedoen het. Daarom het Jesus die volk van God opgeroep tot bekering. Bekering is die terugkeer na die hart. Om jouself te herbelyn. Met wie jy self ten diepste is. Om terug te keer na die hart van dit alles.

Jesus se Ou Testamentiese wortels

Lukas-Handelinge doen baie moeite om te wys dat alles wat Jesus is en doen Ou Testamentiese wortels het. Dat Christus die vervulling van die wet en die profete is; dat die kerk as liggaam van Christus die ware volk van God is. Jesus kom as’t ware uit die verlede. Hy groei uit die oeroue bedding van die volk van God. Hy beliggaming die wortels van Israel se geloof. Hy wil die volk terugneem na hulle wortels. Ons vind bekering as ‘n leefstyl met Bybelse wortels en vleuels regdeur Lukas-Handelinge:

Jesus se geboorte aangekondig

Luk 1:27 “Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria.”

Luk 1:30 “30 Die engel sê toe vir haar... 32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33 en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

Die loflied van Sagaria

Luk 1:68 “68 Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk. 69 ‘n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan uit die huis van sy dienaar Dawid. 70 Soos die Here dit van oudsher belowe deur die mond van sy heilige profete: 71 om ons te verlos van ons vyande en uit die hand van al ons haters; 72 om Hom te ontferm oor ons voorvaders en sy heilige verbond te onthou.73 Met ‘n eed het Hy dit bevestig aan ons voorvader Abraham dat Hy sou gee dat ons, 74 gered uit die hand van vyande Hom onbevrees kan dien 75 in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe.”

Bekering is verdieping want die volk het hulle wortels verloor

Maar Lukas-Handelinge doen baie moeite om te wys dat die volk van God sélf hulle Ou Testamentiese wortels verloor het. Hulle het die uiterlike behou; maar die innerlike, die HART verloor. Daarom wys Lukas-Handelinge dat hulle hulle vleuels verloor het, juis omdat hulle hulle wortels verloor het.

Bekering as ‘n leefstyl met wortels en vleuels bring konflik

Daarom is daar voortdurend konflik met die godsdienstige leiers en die godsdienstige establishment:

Luk 11:39 “Maar die Here sê vir hom: ‘Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid.”

Koninkryk van God (vs Fariseërs)

Luk 16:15 “Hy sê toe vir hulle: ‘Julle is dié wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God ken julle harte. Wat deur die mense as belangrik beskou word, is ‘n gruwel voor God.’ 16 ‘Tot op Johannes was dit net die wet en die profete. Van toe af word die koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer so hard as hy kan om daar in te kom.’”

Petrus verloën vir Jesus

Luk 22:32 (Jesus praat met Petrus): “Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk!”... 34 Maar Hy antwoord: ’Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.’”

Petrus sou later in Handelinge 10:34 bely, “Waarlik, ek begryp nou eers dat God geen onderskeid maak nie, 35 maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36 Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal.”

Petrus se bekering het stelselmatig plaasgevind. Uiteindelik was dit ‘n verandering van gedagte. Die Griekse woord vir bekering is “om van gedagte of denke te verander.” Hier, in Handelinge 10, bely hy dat hy nou eers begryp. Dit het tyd geverg vir Petrus om na die kern (wortels) van alles terug te keer en dit met die res van sy lewe en die lewe van Jesus in verband te bring.

Die oorsteek van geografiese en persoonsgrense

Die Lukasevangelie eindig met die hemelvaart van Jesus in Luk 24:50-53 in Betanië. Daar is groot blydskap onder die dissipels en hulle keer terug na Jerusalem.

Die boek Handelinge begin (Hand 1:4) begin met die herinnering aan ‘n opstandingsverskyning van Jesus:

“Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: ‘Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.’”

Kort daarna (Hand 1:8) is daar die herinnering aan Jesus wat vertel het van die Goeie Nuus wat binnekort (na Pinkster) vanuit Jerusalem oor die hele aarde versprei sal word: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Waar die Lukasevangelie eindig met Jesus se hemelvaart, begin die boek Handelinge daarmee na ‘n kort inleiding in Hand 1:9-11. Hierna vind die geboorte van die kerk plaas met die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 2) oor mense van baie nasies en tale. Petrus staan op en verduidelik in ‘n preek vir almal wat so pas gebeur het.

Ons lees van talle bekerings in die boek Handelinge. Nie slegs dié van Petrus nie, maar ook dié van ‘n Fariseër wat die christene vervolg het: Saulus (Hand 9:1-19). Onmiddellik na sy bekering begin Saulus preek in die sinagoges van Damaskus (Hand 9:19,20). Algaande verskuif die boek Handelinge die klem van Petrus na Paulus; van Jerusalem na die uithoeke van die bekende wêreld van daardie tyd. Die laaste verwysing na Petrus vind ons Hand 15:7 by die vergadering in Jerusalem waarna Paulus as’t ware die belangrikste vaandeldraer van die evangelie na die uithoeke van die bekende wêreld is.

Die Lukasevangelie word gekenmerk deur die maaltye wat Jesus hou saam met ongewensde en onrein mense: Prostitute, Fariseërs, Tollenaars en ander sondaars. Jesus beliggaam die momentum van God se seën wat van die begin af veronderstel was om deur die verbondsbelofte van God se volk na die ander nasies te gaan. God se volk het hierdie seën egter meestal vir hulleself gehou deur hulleself te weerhou van almal wat onrein en anders was. Hand 8:26-40 vertel die pragtige verhaal van Filippus en die Ontmande Etiopiër wat saam reis met die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop. Dieselfde ingeseldheid wat Jesus jeens vreemdes, onaanvaarbares en onreines gehad het, vind ons nou by die kerk as liggaam van Christus in die gestalte van Filippus. Die Etiopiër kom tot bekering wanneer hy met Filippus se begeleiding besef dat die skrifte uiteindelik van Jesus praat. Jesus is die vervulling (die wortel of kern) van die Ou Testamentiese geskrifte.

Weerstand en Groei

Een van die kenmerke van die momentum van die evangelie is die verband tussen weerstand en groei. Die evangelie blom selfs onder die moeilikste omstandighede. Weerstand gee aanleiding tot groei, soos wat groei aanleiding gee tot weerstand.

Hand 8:4 “Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig. 5 So het dit gebeur dat Filippus by ‘n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het.” Hier lees ons dat mense wat vlug omdat hulle die Goeie Nuus glo, só geïnspireer daardeur is, dat hulle orals daarvan getuig. Die Goeie Nuus het soos ‘n veldbrand versprei 

Bekering as Wortels en Vleuels: Hierdie is die vervulling van God se volk

Dít is soos die bedoel was om te wees: God se volk was geseën sodat hulle tot seën kon wees vir alle nasies. Nie net in en vir Jerusalem nie. Maar vir almal. Ook die onaanvaarbares: Prostitute, oneerlike Tollenaars, die onrein ontmande Etiopiër.

Bekering is nie ‘n doel insigself nie. Sommige kerke rig hulle hele bestaan in om mense tot bekering te lei sodat hulle nie hel toe gaan nie. En jy kry soms die idee dat die begin EN die einde van alles is. Maar bekering is eintlik ‘n leefstyl om jou wortels weer en weer; en dieper en dieper te ontdek en jou vlerke te sprei. Om jou identiteit te soek en te vind in die groot verhaal van God se liefde en genade. Om meer en meer; om dieper en dieper vanuit jou wortels te leef; en om te ontdek dat dit jou nie vasmessel in die verlede nie; nie vaspen in die uiterlike nakoming van wat ookal as reëls en voorskrifte bestempel word nie; maar dat jou wortels jou vleuels laat groei sodat jy kan vlieg...

 

 

Terug