Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

14 Oktober Ds. André Agenbag Klassieke Diens

Lees preke

14 Oktober 2018                                                                              Durbanville Gemeente: Klassieke Diens

Hebreërs 1:1-4, 2:5-12

Inleidend: Onmiddellik voor God

Oorlede Prof Willie Jonker hou op 1 Feb 1991 die NP van Wyk Louw – Gedenklesing: “Onmiddellik voor God” en hy begin sy lesing met die volgende inleiding, “Dit is vir my ‘n groot eer dat ek by hierdie geleentheid enkele opmerkings mag maak ter gedagtenis aan iemand vir wie se persoon en werk ek soveel bewondering koester. Van Wyk Louw het ‘n onberekenbare groot invloed op my uitgeoefen. Wanneer ek as teoloog oor die poësie van Van Wyk Louw praat, gaan dit vir my nie om die literêre kwaliteite daarvan nie, maar om die lewensbeskoulike gesigspunte wat daarin na vore kom. Wat my boei, is die wyse waarop hy met die lewe omgaan, die vlak waarop hy intellektueel en eksistensieel beweeg, en die manier waarop hy dinge waarneem en uitspreek wat vir elke ernstige leser, maar beslis ook vir ‘n teoloog wesenlik is. Die literêre skoonheid van sy werk is gegee met die selftug en eerlikheid waarmee hy as digter in dodelike erns met die diepste vrae van die lewe omgaan. Dit is hierdie sentrale perspektief in sy werk wat my interesseer, naamlik sy soeke na die waarheid van die klein en onmagtige menslike bestaan in verhouding tot die ongrypbare geheimenis van die syn. Sy werk word gedra deur die begeerte om die menslike lot, die menslike eksistensie, die menslike hart te deurskou soos hy is, ten einde iets uit te spreek van die laaste en finale waarheid daarvan. Dit word deur hom onder andere uitgedruk deur te sê dat dit in die literatuur moet gaan om die waarheid van die mens soos hy onmiddellik voor God staan.”

Willie Jonker haal dan vir van Wyk Louw aan in ‘n poging om te verduidelik hoedat van Wyk Louw die diepste roeping van die skrywer verstaan: “Die skrywer moet alle toevalligheid van omgewing en stand van hom afstroop om alleen die essensiële te kan sê; hy moet hom teenoor sy onderwerp plaas asof hulle alleen in die wêreld was, en sy woorde moet eerlik wees soos sterfbedwoorde”

Wat het ons met ons godsdiens aangevang?

Volgens Willie Jonker het DJ Opperman vertel dat NP van Wyk Louw in sy jeug geen godsdienssin gehad het nie, en dat hy sonder berou sy geloof verloor en ‘n ongelowige geword het. En dan vra Willie Jonker aan die einde van sy gedenklesing, “Dit laat my met ‘n vraag eindig: Hoe kom dit tog dat ons as Gereformeerdes blykbaar nie in staat is om die blye evangelie van genade so deur te gee, dat spesifiek ook ons kunstenaar-lidmate daarin rus kan vind nie? Volgens Lina Spies het ook Elisabeth Eybers jare lank onder die idee gely dat die God van haar gereformeerde vader ‘n harde en willekeurige despoot is. Daar moet êrens iets met ons verkondiging en pastoraat, en miskien ook met ons tipe spiritualiteit verkeerd wees. Want uiteindelik kan die soektog van alle intellektueles en digters alleen tot ‘n vrolike einde kom, as ook hulle onrustige harte rus vind in die vrye genade van God deur Jesus Christus onse Heer.”

Met hierdie laaste woorde verwys Willie Jonker na die ou kerkvader, Augustinus wat lank gelede reeds gesê het: “My siel bly onrustig totdat ek tot rus kom in U.” Dít is wat ons moet verkondig. Dit is die Goeie Nuus. Dit is die Evangelie wat mense se harte en lewens verander.

Iemand anders het ook oor hierdie gedenklesing van Willie Jonker nagedink. Pieter de Villiers, bekende Nuwe Testament skrifverklaarder, wat ook nou al afgetree is, skryf, “Terwyl ek hierdie slotwoorde van Willie se gedenklesing lees, besin ek weer oor die verlies wat ons gely het toe die mistiek uit ons gesigseinder verdwyn het. Die mistiek wat vra na die eenwording met God berus fundamenteel op die insig dat God een wil word met die mens en dat die Godsverlange nie net van die mens se kant kom nie... God verlang - na die mens. En 'n God wat verlang is 'n God met 'n ontblote hart, verwondbaar, oop, uitreikend, selfs smagtend (ek soek jou in die tuin: waar is julle?).” En dan vra Pieter de Villiers, “Wat het ons tog met ons godsdiens aangevang?”

Wat het ons met ons godsdiens aangevang dat ons dít verloor het: Hierdie geheimenisvolheid van alles? Hierdie verwondering in God? Hierdie geloof wat anderkant wette, reëls, leerstellings en dogmas is? Anderkant strakke belydenisse, absolute sekerhede en voorspelbaarhede. Wat het ons met ons godsdiens aangevang? Waar is die goeie nuus? Hoekom kan ons nie meer iets verkondig wat mense regtig spontaan opgewonde en bly maak nie? Hoekom moet ons die roete volg van om mense skuldig te laat voel, of sleg te laat voel oor hulleself, of bang te maak vóórdat hulle by die punt kom dat die evangelie vir hulle goeie nuus is? Êrens het ons iets verloor!

Die waarheid vs die liefde

Een van die teoloë wat vir ons as Gereformeerdes in die NG Kerk baie belangrik is, is die Nederlandse teoloog, Herman Bavink. Hy het tydens die eerste derde van die twintingste eeu op besoek deur die VSA verskeie eredienste bygewoon en later geskryf oor sy waarnemings. Hy skryf dat hy in al die eredienste en prediking ‘n beheptheid met moraliteit waargeneem het – ‘n beheptheid met morele en etiese reëls. Met ander woorde: Moralisme. Die gemeentes se lewens het gewentel rondom ‘n obsessie met watter gedrag nou reg of verkeerd sou wees; wie in en wie uit sou wees. Dit is asof alles in die lewe van geloof in God uiteindelik toegespits is op watter gedrag en mense aanvaarbaar is of nie.

Dit is asof die goeie nuus by die agterdeur uit is! Ons is terug by die Fariseërs en skrifgeleerdes se wettiese beheptheid met die waarheid: Wie rein en wie onrein is. Wie aanvaarbaar en wie onaanvaarbaar is. Die harde en kras gesig van die Christendom en die Gereformeerdheid. Die kwaai God. Streng reëls. Die God van Elizabeth Eybers se gereformeerde vader: ‘n Harde en willekeurige despoot.

Deesdae word hierdie soort geloof en lees van die Bybel bevraagteken. Deesdae word hierdie harde en veroordelende soort Gereformeerdheid of Christendom bevraagteken, “Maar waar is die liefde dan? Is God dan nie liefde nie?” En dan verdedig die streng Gereformeerdes hulleself verontwaardig, “Maar die Waarheid is tog belangriker as die Liefde! Julle oordryf die liefde! Ons kan tog nie alles en almal goedkeur nie! Want dit is wat gebeur as ons die liefde bo die waarheid beklemtoon: Want dan moet ons tog alles en almal goedkeur! En waar gaan ons dán eindig?!”

Hierdie gesprek van “die liefde vs die waarheid” word deesdae nogal in die sosiale media tussen gelowiges, veral lidmate van die NG Kerk gehoor. Die een groep sê, “Die Waarheid kom eerste. Altyd! En die Liefde tweede.” Die ander lot wat sê, “As dít die geval is, dan is ons in die moeilikheid!” Dalk sê die Bybel iets anders. Dalk sê die Bybel dat die liefde die waarheid ís...

Die logika van die glibberige roete. Die sg “slippery slope.”

En agter die geloof van “die waarheid is belangriker as die liefde” sit ‘n manier van argumenteer wat bekend staan as die “slippery slope” logika. Die logika van die glibberige roete. Die vrees dat as ons ophou om met absolute sekerheid te sê wat reg en verkeerd is, ons op die ou einde net almal sal toelaat. Dat alles aanvaarbaar gaan wees. Dat niks meer sonde gaan wees nie. Die “glibberige roete.”

Maar hierdie logika van die glibberige roete is ‘n gevaarlike soort logika. Die argument is dan dat indien jy die liefde belangriker as die waarheid ag, jy op ‘n glibberige roete beland waar alles uiteindelik aanvaarbaar sal wees. Niks sal op die ou einde meer sonde wees nie. Hierdie logika vertel vir ons dat ons nie ‘n saak op sy eie meriete kan beoordeel nie. Ons moet liewer net stop en penne in die grond slaan, want ons weet nie waar dit alles gaan eindig nie. Ons dink eintlik op ‘n sekere manier oor goed na omdat ons bang is dat ons op die einde nie meer beheer gaan hê nie. En daarom kyk ons nie na iets, soos wat dit is, in die lig van die Skrif nie – ons moet eintlik net die heeltyd wal gooi, want ons is bang dat ons nie kan voorspel en weet waarheen dit alles gaan nie.

Die Filosofie is welbekend met die logika van die glibberige roete. Dit word beskryf as ‘n dwaling in logika: “This type of argument is sometimes used as a form of fear mongering, in which the probable consequences of a given action are exaggerated in an attempt to scare the audience.”

So daar bly in ons hierdie kiem van vrees. Dat ons in ons verstaan en verkondiging van die evangelie eintlik ten diepste gedryf word deur vrees – vrees vir dit waarheen alles dalk oppad is... eerder as wat ons gedryf word deur die liefde... eerder as deur dít wat ons ‘n bietjie minder gemaklik en seker kan maak. En daarom word die godsdienste van vandag se wêreld gekenmerk deur mense wat bereid is om vinnige en eenvoudige antwoorde te gee. Sodat ons veilig kan voel. Ons wil absolute sekerhede kan hê! Maar ons weet dat die lewe nie so werk nie...

Jeremy Punt het ‘n pragtige studie van Hebreërs 1 en 2 gedoen. Hy skryf, “Hier gaan dit nie oor die ‘regte leerstellings’ oor Jesus nie, maar om met verwondering Jesus se lof te besing asook oor Jesus se solidariteit met mense.” Hierdie is die twee dinge wat vir hom uitstaan in ons skrifgedeelte van vanoggend:

  • Om met verwondering Jesus se lof te besing

en

  • Jesus se solidariteit met mense.

 

Jesus se solidariteit met mense

Die einste NP van Wyk Louw wat sy eie soort pad met God en geloof gestap het, word toe in 1962 deur Willie Jonker gevra om ‘n feesgedig te skryf ter viering van die Johannesburg gemeente in Braamfontein se 75ste bestaansjaar. En hy gaan skryf toe ‘n gedig wat hy by die pastorie vir Willie Jonker gaan aflewer met verduidelikende notas. Hierdie gedig is een van die mooistes in Afrikaans en dit gee vir ons die skarnier wat nodig is om ons te beweeg van strakke, harde, koue godsdiens na godsdiens, geloof en spiritualiteit wat leef. En dit is: God wat mens word. God wat na óns verlang. God wat na óns toe kom.

Visarendjie van God – NP van Wyk Louw

Nie in die wit paleise nie

wou Hy (uit soewereine Wil)

tot ons soort staat gebore word;

maar, waar die Kuise en die Arme stil

en buite die hotel se poort

verniet loseer het in die stal,

het Hy, Visarendjie van God,

in ons benoude vlees geval.

Die eerste oë wat Hom sien,

was skawagters vol strooi en stof;

kras manne wat in skerms woon

en ruik na bok en rook en mof;

ná baie dwaal en baie soek

- en selfs digby Herodes vra! –

kom eindelik die Wyses tóg

met goud en wierook agterna.

Hy het sy eerste kern gekies

nie uit geleerdes in die Skrif

of dié wat hande en borde was

met koue voorgeskrewe drif;

maar vissers en ‘n tollenaar

die ‘t Hy geroep met sagte groet:

manne met harde hande en sweet

en eelte, en ‘n oop gemoed.

En toe Hy sy groot net uit laat gooi

regs van die boot en links en regs,

het Hy ingesleep: ‘n vreemde prooi –

’n visvangs soos die óú Wet slegs

in skaam vermoede kon vermoed :

melaats, besete, ryk of klein;

sondaars van elke kleur en geur,

maar in Sy glimlag, skielik: rein.

Willie Jonker praat dan ‘n bietjie oor hierdie gedig in sy gedenklesing, “Van die harde manne wat Christus om Hom versamel het, word uitdruklik verklaar dat hulle manne ‘met ‘n oop gemoed’ was. Dit suggereer dat ‘n bepaalde kwalifikasie mense ontvankliker maak vir die heil. Ook by Dostojewski vind ons dat dit die eenvoudiges, die pretensieloses, selfs die bewus sondiges is wat die heil ontvang, en dit word dan verklaar op grond van hulle deemoed of liefde.”

Daar is iets wat jou ontvankliker maak vir die verlossing. Daar is iets wat jou oper maak vir God. Dit is baie interessant! Vir ‘n mens om die volheid van die evangelie en goeie nuus te ontvang is daar by jou ‘n oop gemoed nodig. ‘n Soort nederigheid. ‘n Besef van jou diep afhanklikheid van God. Hoe meer en dieper jy dit besef, hoe minder dit vir jou nodig is om jouself beter te maak as ander sodat jy op die een of minder sou kwalifiseer vir die liefde van die Here, hoe meer jy werklik jou eie gebrokenheid besef, hoe dieper jy dit besef, hoe dieper kwalifiseer jy vir God se liefde en die verlossing en hoe meer is jy instaat om die volheid daarvan te ontvang. Hoe armer jy is, hoe ryker kan jy word in die geloof.

Jesus sê dit so mooi in sy Saligsprekinge. In die Nuwe Vertaling is die opskrif, “Die werklik gelukkiges.” Matteus 5:3, “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” In die Ou Vertaling staan daar, “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

Dié wat wat wéét, dié wat diep weet hoe afhanklik hulle van God is; aan húlle behoort die koninkryk van die hemel. Daar kom ons nou by die plek waarna van Wyk Louw smag. Die plek waar die mens tot op die been gestroop voor God staan en weet wie jy voor God en in God is. En dit word alles moontlik gemaak deur God wat na ons toe kom. Dis die ongelooflike ding van God se menswording in Christus: Dit vra niks moeite van ons nie. Al die goeie goed van die evangelie kom na ons toe. Dis dinge wat ons eintlik net moet ontvang. Daar is nie sweet, en harde werk en prestasie betrokke nie. Daar is net die nederige ontvang van God wat soos ‘n visarendjie uit die lug neerplons in die water - om my te vang. Die Visser van mense! Hy kom na my toe! En al wat ek moet doen, is om myself nie te grênd te hou nie en net te ontvang – te wéét hoe nodig ek God het: God se verlange na die méns. En die mens moet net oop en eerlik wees: oop en ontvanklik. Om nie te probeer presteer nie. Om nie te probeer verdien nie. Om ruimte te skep vir ander sodat hulle ook kan ontvang wat ek en jy ontvang het.

Om met verwondering Jesus se lof te besing

Dít is die geboorteplek van die geloof, nê: Verwondering! Verwondering is nie iets wat jy kan opwerk in jouself nie. Dink ‘n bietjie. Dit is soos iemand wat sê, “Wees bly! Lag!” As jy nie lus voel om te lag nie, gaan iemand jou laat lag deur vir jou te sê, “Lag man! Lag!”? (Dit klink amper soos iets wat ‘n korporaal êrens tydens my dienspligjare vir my gesê het.) Nee, die lag moet in jou gebeur. Daar moet goed in jou gebeur, dán sal jy lag.

Net so werk dit met die verwondering van God. Dis nie iets wat jy in jouself kan opwerk nie. Ek kan nie vir julle sê julle moet julle verwonder in die Here en dan verwonder julle almal julleself skielik in die Here nie! Dis tog onmoontlik! Dis iets wat net tussen jou en die Here kan gebeur waar jy gestroop voor God sit – wetende wie jy is: gebroke en diep afhanklik van die Here – en dit sál gebeur. Hierdie is die geboorteplek van die geloof. En dit is iets wat sonder moeite plaasvind. Dit is iets wat ons ontvang. Dít is die kweekhuis van die geloof. Dit kweek volharding. Dit is ‘n plek waarna ons weer en weer terugkeer. Die plek van gestroopdheid. Die plek van verwondering omdat ek weet dat ek sondig en gebroke is en dat alles net genade is. En elke keer as ek na daardie plek toe terugkeer word my donkerte verhelder deur die glinsterende teenwoordigheid van die heerlikheid van God. En dan sing ek, “Heilig, heilig, heilig!” En dan is die nie vir my nodig om ‘n obsessie te hê met waarom wie nie ingesluit is nie. Dan kyk ek anders. Dan vertrou ek die slippery slope. Want ek vertrou God.

Slot: Die einde van NP van Wyk Louw se lewe

Die laaste woorde wat opgeteken is deur van Wyk Louw is geskryf die aand voor sy dood. Gelukkig is dit vir ons bewaar. Willie Jonker sê in sy gedenklesing, “In dié wonder-mooi stuk bely hy dat hy 'n hele dag deurgebring het sonder om aan God te dink. Daarop volg 'n aangrypende gebed om vergiffenis. Hy betuig sy innige liefde vir God en sê dat as hy in die nag sou sterf, hy homself net in die hande van Gods genade neerlê. Maar dan laat hy daarop volg: ‘As my sondes nog nie genoeg uitgeboet is nie – of as hulle nie reeds in u genade vergeef is nie – dan is daar alleen u vergiffenis waarop ek kan vertrou. En ek vertrou daarop. Dit is my troos elke dag: dat U, my God, wat die allerheiligste Geregtigheid is, Liefde is. U, my God, is Liefde.

Amen

 

Terug