Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

14 Mei 2018 Ds André Agenbag Pinksterdiens

Lees preke

Maandag 14 Mei 2018                                                                                               Durbanville Gemeente

Psalm 16                                                         Vreugde is om verenig te wees met dít wat ons liefhet.

 

Inleiding: Vreugde is die beloning vir ‘n goeie lewe (Goeie en Vol Lewe + Vreugde = Florerende Lewe)

Robert Louis Stevenson het in 1887 ‘n opstel geskryf, waarin hy die volgende oor vreugde te sê gehad het: “As jy vreugde gemis het, het jy alles gemis.” Dit maak nie saak wat ons besit, wat jy al beleef het, of hoe jy optree nie, indien jy nie vreugde het nie, het jy niks nie.

Vreugde is tog ‘n eenvoudige saak, is dit nie? Kry net dít wat jou hart begeer, en jy ervaar blydskap. Doen net dít waarvan jy die meeste hou en jy sal vreugde ervaar. Of soos daardie beroemde Amerikaanse intellektueel, Joseph Campbell gesê het: “Follow your bliss!” “Volg jou geluk, volg jou vreugde!”

Jy mag dalk nou verontwaardig uitroep: “Sjoe! Maar dit is só oppervlakkig en selfgesentreerd! Vreugde kan tog nie só selfbehep wees nie!” Wag ‘n bietjie. Voordat ons hierdie standpunt te vinnig kritiseer, laat ons net ‘n bietjie hieroor nadink. Veral iemand soos Joseph Campbell sal baie beslis nie daarmee bedoel dat mens jou eenvoudig en oppervlakkig moet oorgee aan alles wat vir jou vreugde gee nie. Hy het beslis nie ‘n soort vreugde in gedagte wat bloot uit die lug val nie. ‘n Soort vreugde wat niks met jou menswees en diepste binneste te maak het nie. ‘n Soort vreugde wat eenvoudig, vanselfsprekend en voor die handliggend is.

Party mense sal sê: Mense is oppervlakkig en hulle soek die onmiddellike bevrediging van hulle behoefte aan vreugde – selfs al is dit oppervlakkig en selfs al kan dit gevaarlike gevolge hê soos dwelmverslawing, motorongelukke, buite-egtelike verhoudings of gewapende roof en tronkstraf. Iemand soos Joseph Cambell sal sê, “Nee, eintlik is die meeste mense nie selfsugtig GENOEG nie. Want as jy regtig soek na dít jou vreugde gee, sal jy nie oppervlakkige en gevaarlike bronne van vreugde kies nie. As jy régtig selfsugtig is sal jy jou vreugde vind in dinge wat GOED is vir jou.”

Maar hoe weet ek dan wat vreugde régtig is? Hoe vínd ek vreugde? Hoekom maak sekere dinge my bly en ander nie? Is dit nie tóg maar iets wat maar sommer net uit die lug val nie? Maak dieselfde dinge nie maar vir ons almal bly nie? Is dit nie maar op die ou einde so eenvoudig soos: óf iets verskaf vreugde óf nie. En daarom laat jy jou bloot en baie eenvoudig lei deur dít wat vir jou vreugde gee.

Ek dink ons almal voel aan dat vreugde nie so ‘n eenvoudige saak nie. Kom ek gee vir julle ‘n voorbeeld uit my eie lewe. Toe ek in 1992 in Engeland geleef en gewerk het so tussen my studies deur, het my ma en pa na amper ses maande in die vreemde vir my kom kuier. En hulle het die wonderlikste geskenk vir my saamgebring: Biltong. Dit het aan my oneindige plesier en vreugde verskaf! Ek bied toe van die biltong aan vir die mense wat saam met my gewerk het omdat ek wou hê dat hulle iets moes geniet wat eg-Suid-Afrikaans is. Iets wat aan my en my mense baie vreugde verskaf. Ek wou hê dat hierdie spesifiek Suid-Afrikaanse vreugde internasionaal gedeel moet word. Daar was twee Australiërs, een Nieu-Seelander, een Kanadees, een Skot en een Engelse vrou. Maar toe gebeur daar iets wat twee verskillende reaksies by my ontlok het: Nie een van hulle wou eers proe daaraan nie! Rou vleis. Onhigiënies was die algemene verskoning. Hieroor was ek hartseer én bly. Ek was hartseer omdat hulle nie wou deel in iets wat aan my sóveel vreugde verskaf nie. Maar ek was bly omdat daar nou méér biltong vir my was!

Vreugde is dus iets groter en meer omvattend, nê? Dieselfde voorwerp maak almal nie ewe bly of selfs hoegenaamd bly nie. Daar is beslis ‘n kulturele element. Jy vind vreugde in iets omdat jy deel is van ‘n gemeenskap wat daardie vreugde deel. As deel van daardie gemeenskap word jy van kleins af geléér om vreugde te vind in sekere goed en nie in ander nie. Dit val nie sommer net uit die lug uit nie. Wie ek is, hoe ek groot geword het, waar ek vandaan kom, wat my diepste oortuigings is, hoe ek leef – dit alles en nóg meer veroorsaak die mate waartoe ek vreugde en ervaar en waaroor ek bly raak.

So, hoe gaan ons ‘n bietjie verder in ons soeke na wat vreugde regtig is? Is daar êrens ‘n bedding waarin die vreugdesplantjie kan groei? ‘n Soort wegspringplek vir die kultivering van vreugde? Want wie wil dan nou nie vreugde hê nie?

Die bekende gelykenis van die muntstukke in Matteus 25 help ons nogal hiermee. ‘n Man het mos op reis gegaan en sy besittings aan sy diensknegte toevertrou. Elke dienskneg het ‘n ander hoeveelheid muntstukke ontvang en hulle moes daarmee gaan woeker. Let op: Hulle ontvang iets onverdiend en dan moet hulle iets daarvan gaan maak. Hulle moet gaan lewe met wat hulle ontvang het. Uiteindelik kom die man terug en hy beloon die getroue dienskneg. En hoe beloon hy hom? Wat gee die man vir die dienskneg wat goed geleef het met die opdrag en gawes wat hy ontvang het? In Matt 25:23 lees ons wat die man vir sy dienskneg gee as beloning vir sy goeie lewe. Hy sê, “Kom in en deel in my vreugde!”

Vreugde word nie gevind deur vreugde te soek nie. Vreugde is die beloning, nee die uitdrukking van ‘n lewe wat goed geleef word. ‘n Goeie lewe word beloon met vreugde. En ‘n goeie lewe wat gekenmerk word deur vreugde, is ‘n florerende lewe. ‘n Lewe wat blom.

Hoe leef ek so ‘n goeie, vol lewe wat bot met vreugdesblomme?

Eerstens moet daar moet iets spesifieks wees waaroor ek my doelbewus verheug

Vreugde is mos ‘n emosie wat ons ervaar wanneer iets goeds gebeur met ons of hulle vir wie ons omgee. Thomas Aquinas help ons om dit nóg beter te sê, “Vreugde is om verenig te word met dít wat ons liefhet.” Wanneer dit wat jy liefhet, dit waarvoor jy omgee, dit wat regtig vir jou saakmaak gebeur, dan is jy bly, dan is jy vreugdevol.

So: “Wat is dít waarvoor ek lief is?” Daar is verskillende opsies. Dawid sê in Psalm 16:3, “Die afgode in die land, so aantreklik vir baie – met hulle wil ek niks te doen hê nie.” Afgode is gode wat diep vreugde belowe, vreugdes gebaseer op baie aantreklike dinge: Rykdom, roem, sukses, hoë oktaan ervarings, erkenning en aanvaarding, ‘n pragtige uiterlike voorkoms. Daarmee wil Dawid niks te doen hê nie, want hy is nie daarvoor lief nie.

Nee, Dawid praat sommer self met God in Psalm 16:2, “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie, behalwe by U” en dan sê hy in vers 11: “By U is daar oorvloedige blydskap.”

Samevattend kan gesê word dat daar iets spesifieks moet wees waaroor ek my doelbewus verheug. Want vreugde is om verenig te word met dít waarvoor ek regtig lief is.

Maar dit is nie genoeg nie: Ek moet ook oortuig wees daarvan dat hierdie iets waaroor ek my verheug GOED is.

Om vreugde te ervaar, moet die voorwerp van vreugde as goed vertolk moet word

Wanneer Dawid in Psalm 16:3 praat van die aantreklike afgode waarmee hy niks te doen wil hê nie, dan sê hy in vers 4, “Elkeen wat ‘n ander god vereer, beleef baie smart.” Dawid wéét dat om jou vreugde in die kortstondige en vernietigende dinge van die lewe te vind, sleg is. Uiteindelik is dit nie goed vir jou nie. Daarom dat Joseph Campbell sê dat ons eintlik nie selfsugtig genoeg is nie; want as ons regtig selfsugtig genoeg was (nie TE selfsugtig nie, maar selfsugtig GENOEG), dan het ons dit wat GOED is die voorwerp van ons vreugde gemaak.

Daarom sê Dawid in vers 2 “Daar is vir my niks goeds nie, behalwe by U” Hy kies doelbewus vir iets goeds waaroor hy hom kan verheug. Iets wat ook goed vir hom en andere sal wees. Maar dis nie altyd so maklik nie. Want daar is dinge waaroor ek nie beheer het nie, wat met my gebeur. Dinge waarvoor ek nie gevra het nie. Hoe moet ek weet waaroor om my te verheug en waaroor nie?

Dít, liewe vriende, is die leerskool van die lewe. Want vreugde hang af van die uiterlike dinge sowel as my innerlike vertolking daarvan.

Indien ek byvoorbeeld 'n begeerlike voorwerp op my tafel vind en ek vertolk dit as 'n geskenk, is ek bly; maar indien ek dit as omkopery beskou, is ek ontsteld. Maar indien die goeie nie dit is waaroor ek my verheug nie; dan sal ‘n omkoopgeskenk my blymaak. Of nog erger: Indien die obsessie met en vergrype aan sukses, rykdom en roem vir my goed en reg is, dan sal omkopery baie goed inpas daarby en my baie vreugde gee. Om van al die ander dinge wat daarmee verband hou nie eens te praat nie!

Ons leer dus om vanuit ons liefde vir dít wat goed is (uiteinedelik God sélf) te leer waaroor om ons te verheug en waaroor nie. “Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het” (vers 7a). “...selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer” (vers 7b). “U leer my hoe om te lewe” (vers 11a).

Ek is dus betrokke by wat my sal vreugde gee of nie. Dit staan nie los van my af nie. Ek moet verantwoordelikheid daarvoor neem. Ja, daar is ‘n uiterlike kant waarvoor ek nie noodwendig kies nie; maar daar is ALTYD die innerlike kant: Hoe ek KIES om te reageer op dit wat met my gebeur? Ek kan myself dus van vreugde beroof deur nie wonderlike dinge AS wonderlike dinge te beleef en daaroor bly te raak nie. Dis asof ek met ‘n sekere oog moet kyk na die regte dinge om daaroor bly te raak.

Vreugde is dus gekoppel aan my PERSEPSIE van iets, eerder as die ding in sigself. Ek kan dieselfde gebeurtenis op twee heeltemal verskillende maniere ervaar: Met vreugde óf hartseer. Bv die geboorte van 'n kind. Ek sal vreugdevol daaroor wees SLEGS as ek dit as GOED bestempel.

Miroslav Volf skryf so mooi: Ons kan in 'n volmaakte tuin leef waarin ons van al die bome mag eet, behalwe een. En dan is dit moontlik dat ek geen vreugde sal hê nie. Dat ek volkome vreugdeloos tussen al die wonderlike vrugtebome kan rondloop net omdat daar een is waarvan ek nie mag eet nie!

Samevattend kan gesê word: Vreugde verg dat die voorwerp van vreugde as goed vertolk moet word.

Maar daar is nóg iets wat baie belangrik is vir my as ek ‘n vreugdevolle lewe wil hê:

Om vreugde te hê oor iets moet ek dít waaroor ek bly is as onverdiend en skuldvry (gratis) beskou

Kom ek gee ‘n voorbeeld. Ek is bly oor my bonus aan die einde van die jaar, maar ek is nie so bly oor my maandelikse salaris nie, want my maandelikse salaris verdien ek mos! Tensy ek natuurlik ook my werk nie as vanselfsprekend aanvaar nie, maar as ‘n gawe.

God is vir ons die Gewer: Alles wat goed is kom van God af. Weereens Psalm 16:2 “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U.” (Let ook die herhalende gebruik van die woordjie “ontvang”). En lees gerus Rom 11:35, “Wie bewys Hom ‘n guns sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” Lees ook Job 41:2, “Wie wil aan My eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.”

Miroslav Volf het só mooi geskryf, “No sacrifice can extract anything from God, because everything given as sacrifice came from God in the first place. To give to God is to take from God’s right hand and put that very thing back into God’s left hand.”

God, die Gewer, gee onvoorwaardelik. As God se gee voorwaardelik was en dit moes êrens ophou, was daar niks nie. God is die Bron en Onderhouer van die lewe. God sélf is die lewe. Die blote feit dat daar lewe is, is ‘n teken daarvan dat God gee.

Om God se gawes in dankbaarheid te ontvang, gee vreugde en laat ons floreer. Daar is niks wat mens so ellendig maak as wanneer jy dink goed kom jou toe of dat jy dit verdien, of dat dit jou verskuldig is nie. Ons almal ken die uitdrukking, “Man, hy dink die wêreld skuld hom iets....” Is daar enigiets meer tragies as dit? Hoe sal só ‘n persoon vreugde kan ervaar?

Samevattend kan ons dus sê dat vreugde is 'n emosionele ingesteldheid (attunement) tussen jouself self en die wêreld sodat 'n deel daarvan (gewoonlik 'n kleinerige deeltjie daarvan) ervaar word as 'n seëning (blessing).

SLOT:

Antoine de Saint-Exupéry het ‘n pragtige kinderboekie geskryf, “The Little Prince.” Hy skryf: “Vanaf die ster waar hy moes sorg vir drie vulkane en een roos, vind die klein prinsie sy weg na die aarde toe. Hier vind hy duisende rose in mense se tuine. ‘Die mense hier waar jy lewe,’ sê die klein prinsie vir sy vlieënier vriend, het sommer vyfduisend rose in een tuin... en tóg vind hulle nie waarna hulle soek nie... En dít waarna hulle soek kan gevind word in ‘n een, enkele roos...’ En toe voeg hy by, ‘Maar die oë is blind. Jy moet met die hart kyk.’”

Terug