Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

14 Januarie 2018: Dr. Tinus van Zyl

Lees preke

14 Januarie 2018

Skriflesing:    Psalm 139

“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.”

Troos of toets?

Is hierdie woorde vir jou ‘n troos of ‘n toets? Bedaar of bedreig hierdie gedagte jou? Vul dit jou met vrede of vrees?

Elke gedagte

As jy daaraan moet dink dat God elke gedagte van jou ken nog voordat dit by jou opkom; dat God met al jou paaie goed bekend is; dat daar nog nie ‘n woord op jou tong is nie, of God weet reeds wat dit gaan wees – maak dit jou kalm of maak dit jou bang?

Skaam

Miskien voel jy te skaam om hardop te erken dat hierdie woorde jou nie altyd troos en rustig laat voel nie, maar dat dit jou ook soms onseker en onrustig maak. As God dwarsdeur my kan sien, as God alles van my af weet – is dit ‘n goeie of ‘n slegte ding?

Psalmdigter ook

Maar as jy somtyds so voel, asof hierdie woorde van psalm 139 jou nie troos nie, maar eerder ‘n bietjie ongemaklik laat, dan is jy nie alleen nie. Ek dink die psalmdigter voel self nie so rustig en kalm deur hierdie ontdekking dat God alles van hom af weet en dat God hom deur en deur ken nie.

Dawid

As Dawid waarlik die digter van hierdie Psalm was, dan kan ons dit ook verstaan, want Dawid was ‘n man met baie bloed op sy hande.

In ‘n hoek vas

Die digter van Psalm 139 beskryf die ervaring van iemand wat voel asof hy deur God in ‘n hoek vasgedruk word, sonder uitkomkans.

Besetting

Want in vers 5 sê hy: “U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.” Hierdie is taal wat gebruik is wanneer ‘n weermag ‘n stad omsingel en beleër het. Dit beskryf ‘n militêre besetting. ‘n Vyandige oorname deur ‘n oormag.

Oorweldig my

Daarom sê die digter: “Dié wete oorweldig my.” Hierdie ontdekking dat God hom in beslag neem, is vir die Psalmdigter nie net ‘n rustige troos wat hom met vrede en kalmte vul nie, maar eerder oorweldigende ontnugtering, wat hom ontwrig en sy voete onder hom uitslaan.

Paniekbevange

En dan amper asof die digter paniekbevange raak, begin hy uitkomkans soek van God se oorweldigende teenwoordigheid wat hom so in beslag neem en van alle kante omsluit. Hy sê:

Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?

Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?

Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.

Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste,

ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.

Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek,

of die lig rondom my om in nag te verander,

maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag,

duisternis so goed soos lig.

Kan nie wegkruip nie

Niks kan hom wegsteek nie. Nêrens kan hy vir God wegkruip nie. Oral agtervolg God hom. Oral vind en ontbloot God hom. Selfs al sou hy sy rug op God draai en vir God probeer weghardloop en wegkruip, sal hy nie kan wegkom van die teenwoordigheid van God nie. Selfs in die doderyk sal God hom vind.

Bono

Die sanger Bono, van die groep U2, wat befaamd is daarvoor dat hy byna altyd sonbrille dra, het gesê: In God se teenwoordigheid, kan niemand ‘n sonbril dra nie. Niemand kan wegkruip vir God nie.

Geen maskers nie

Die sonbrille wat ons dra, die maskers wat ons voorhou, om te probeer wegkruip en die ware “ek” te probeer wegsteek – dit alles misluk in die teenwoordigheid van God, want God ken ons deur en deur, God sien dwarsdeur ons.

Baie manier om weg te kruip

‘n Mens kan op baie maniere vir God probeer wegkruip:

Werk

Jy kan jouself verdiep in jou werk en hoop om daar weg te kruip.

Mense

Jy kan jouself altyd omring deur mense en jouself in die middel van soveel as moontlik aktiwiteite plaas, in die hoop om daar vir God weg te kruip.

Probleme

Jy kan jouself so bemoei met ‘n klomp probleme en uitdagings – dalk nie eers jou eie probleme nie, maar die probleme van jou kinders of ander mense – in ‘n poging om nie self ontbloot voor God te staan nie.

Kerk / godsdiens

‘n Mens kan selfs probeer om vir God weg te kruip in die kerk en in godsdiens – deur jouself so besig te hou met die dinge van God, dat jy nooit gekonfronteer word deur die God van alle dinge nie.

Sonde en ellende

Of jy kan probeer wegkruip in jou sonde en ellende. ‘n Mens kan by jouself redeneer dat jy so sleg en sondig is, dat jy so verlore en vervreemd is van God, dat God niks meer met jou te doen wil hê nie – en dat God jou daarom sal uitlos.

Tevergeefs

Maar dit alles is tevergeefs, want wáár ookal jy probeer wegkruip, daar is God rééds teenwoordig. Selfs in jou verlorendheid en sonde, ook dáár is God reeds. Selfs die diepste duisternis is vir God so lig soos die dag. Daar is nêrens wegkruipplek van God nie – selfs nie eers in ons sonde en ellende nie, want ook daar agtervolg en vind God ons.

Geen wonder

Geen wonder die Psalmdigter voel so vasgekeer en omsingel nie.

Troos

Maar dan kom die troos: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.” Dit herinner ‘n mens aan Psalm 103, waarin Dawid sê dat God nie met ons handel volgens ons sondes nie, want: “God weet waarvan ons gemaak is, God hou dit in gedagte dat ons stof is.”

God ken ons

God se kennis van ons gaan selfs nog dieper. God is nie net oral teenwoordig nie, maar God weet waarvan gemaak is. God Self het ons aanmekaar geweef in ons moeder se skoot.

Vers 15: “Geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.”

God weet alles

Ja, God agtervolg ons oral waar ons gaan en God ken elke gedagte wat by ons opkom, elke woord wat ons gaan sê nog voordat ons dit sê. God ken ons deur en deur – ons kan niks vir God wegsteek nie en ons kan nêrens vir God wegkruip nie.

MAAR

MAAR hierdie God is nie ons vyand of ‘n neutrale regter nie. Nee, hierdie God is die Een wat ons met sy eie hande aamekaar geweef het diep in die moederskoot. Dit is die God wat weet waarvan ons gemaak is, wat dit in gedagte hou dat ons net stof is.

Karl Barth

Die teoloog Karl Barth het gesê dat die grootste wonder, die grootste verrassing, is nie hoe groot en magtig; alomteenwoordig en alwetend God is nie, maar hoe naby hierdie grote God aan ons kom, hoe genadig hierdie regverdig God met ons handel, hoe intiem hierdie magtige God by ons elkeen betrokke is.

Wonder van die doop

Dit is die wonder van die doop. Dat die grote, almagtige, alwetende, alomteenwoordige, skepper-God, naby ons gekom het, ons kom aanraak het, by ons kom woon het, in ons en deur ons kom werk.

Hierdie ontdekking

Dit is hierdie wete, hierdie ontdekking van die intieme nabyheid en betrokkenheid van God, meer as die almag, alwetenheid en alomteenwoordigheid van God, wat die psalmdigter met verwondering en ontsag vul.

Grootheid geen troos sonder goedheid

Want die grootheid van God is geen troos, as ons nie ook die goedheid van God ken nie. Die alomteenwoordigheid en alwetendheid van God kan die grootste bron van angs en onsekerheid wees, as ons nie die barmhartigheid en genade, die lankmoedigheid en trou van God ken nie.

Hoe wonderlik is u gedagtes

Dit laat die digter sing: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! 18As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.”

Vraag en belydenis

En nou borrel daar ‘n vraag en ‘n belydenis by die digter op: Maar wat dan van al die goddeloses, die moordenaars, die mense wat bose planne teen God smee, diegene wat so vals optree, hulle wat voorgee om God te dien, maar wat eintik net hulle eie selfsugtige, gierige, magsbehepte, gewelddadige agendas bevorder?

Moet ons hulle nie haat nie

Moet ons dan nie ook dié haat wat vir God haat nie. Die digter bely dat hy nie anders kán nie. Hy haat hulle met ‘n uiterste haat – hulle almal wat so vals en skynheilig is, so gierig en gewelddadig, so liefdeloos en eiegeregtig, so selfsugtig en boos.

Terug by begin

En dit bring die digter dan eintlik terug na waar hy begin het: die feit dat God ook vir hóm deur en deur ken, ook al sy valsheid en skynheiligheid, ook al sy gierigheid en geweld, sy liefdeloosheid en eiegeregtigheid, sy selfsug en boosheid.

Deurgrond

En daarom vra hy weer: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!

Net God ken die bedoelings van die hart

Die psalmdigter weet dat net God die diepste bedoelings van ons hart ken. Net God kan oordeel of ons op die verkeerde pad is en net God kan ons weer teruglei op die regte pad.

Geen morele hoër grond

Daar is geen morele hoër grond van waar ons oor ander se dade kan oordeel nie, want voor die alwetende God wat ons deur en deur ken – elke gedagte nog voor dit by ons opkom, elke woord nog voor ons dit uiter – voor die alomteenwoordige God wat met al ons paaie goed bekend is en van wie se teenwoordigheid ons nooit kan ontvlug nie, voor hierdie God staan ons almal ontbloot en weerloos, en kan ons almal maar net bid:

Heer, wees my, ‘n sondaar genadig. Amen.

Terug