Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

13 Januarie 2019 Dr Tinus van Zyl Klassieke diens

Lees preke

Klassieke diens – 13 Januarie 2019

Efesiërs 1:15-23 – Om God werklik te ken

Tinus van Zyl

Skriflesing:    Efesiërs 1:15-23

God ken?

Wat beteken dit om vir God te ken, werklik te ken? Is kennis van God moontlik?

Pessimisties of optimisties

Deesdae is mense nogal geneig om óf te pessimisties te wees en te sê dat ons glad niks van God kan weet nie, óf te optimisties te wees en te maak asof hulle alles van God weet.

Gees van wysheid

Ek vermoed die Gees van wysheid waarna Paulus verwys, is ‘n wysheid wat tussendeur hierdie twee uiterstes deurbeweeg en balanseer.

Empiriese kennis

Aan die een kant is daar mense wat maak asof die enigste werklike kennis wat ons in hierdie wêreld kan hê, is wetenskaplike kennis. En as hulle sê “wetenskaplike” kennis, dan bedoel hulle nie al die wetenskappe nie, maar dan bedoel hulle slegs die empiriese wetenskappe, die wetenskappe wat fisiese, konkrete dinge meet en obserweer.

Subjektiewe opinies

Alle ander kennis, volgens hulle, is maar net mense se subjektiewe opinies en emosies. Dit is nie wetenskaplike kennis nie. Mense sal selfs so ver gaan om te sê: As jy dit nie kan meet nie, dan tel dit nie.

Skraal kennis

Maar as hulle reg is, dan is kennis maar ‘n baie skraal, skraal begrip, wat net verwys na die meetbare, fisiese wêreld.

Alles wat moeite werd is

Maar dit sluit amper alles uit wat die lewe die moeite werd maak om te leef. Alles wat mooi en lekker is – kennis van estetika – alles wat goed en reg is – kennis van etiek – alles wat sin gee en hoop gee aan die lewe – geloofskennis, is hierby uitgesluit!

Hoe sleg!

Hoe sinloos, sleg en vervelig sal die lewe wees as ons niks kan weet van al hierdie wonderlike dinge wat die lewe vul met betekenis en vreugde nie. 

As hulle reg

As hulle reg is, as empiriese kennis die enigste vorm van kennis is, dan is dit onmoontlik om te weet dat Mozart se Requiem mooier is as Kurt Darren se Kaptein span die seile.

As hulle reg is, dan is dit onmoontlik om te weet dat Van Gogh se Sterrenag mooier is die stokmannetjies wat ek teken.

As hulle reg is, dan is onmoontlik om te weet dat Shakespeare se toneelstuk Romeo and Juliet mooier is Sewende laan.

As hulle reg is, dan is dit onmoontlik om te weet dat die ballet Swan lake mooier is as die danspassies van ‘n kleuterskoolkonsert.

Stry oor mooi en lekker

My pa het ‘n sê-ding. Hy sê altyd: Ons stry nie oor mooi en lekker nie. Dit is seker ‘n goeie beginsel. As iemand hou van Kurt Darren of van Sewende laan, dan is dit hulle goeie reg om daarvan te hou.

Maar ons kan maar stry oor mooi en lekker, want net omdat iemand daarvan hou, net omdat iemand dink dis vir hom mooi, beteken nie dit ís werklik mooier as goeie kwaliteit musiek of toneelstukke nie.

Velde van kennis

Mense wat geleerd is in daardie velde van kennis, sal baie mooi vir jou kan verduidelik waarom Mozart en Shakespeare in ‘n klas van hulle eie is.

Kos en wyn

Dieselfde geld vir dinge wat lekker is, soos die gereg van ‘n Meestersjef of ‘n trofeewyn van ‘n gesogte wynplaas.

Die kenners in die veld sal vir jou kan verduidelik hoekom daardie gereg of daardie wyn so uitstekend is, al is dit nie miskien jou smaak nie.     

Jy hou dalk van ‘n goedkoop papsakwyn en ‘n McDondalds burger – dis jou goeie reg – maar dit maak dit nie goeie wyn of goeie kos nie.

Nie net smaak nie

Ons kan stry oor mooi en lekker, want dit is ook ‘n veld van kennis. Daar is verskillende grade van kundigheid in daardie velde. Dit is nie maar net ‘n saak van jou persoonlike smaak of mening nie.

Dwases en wyses

Elke dwaas dink hy weet alles van alles. Maar mense met wysheid weet dat ware kennis gesoek, nagevors en nagestreef moet word. Jy het dit nie sommer net vanself in jou, soos ‘n persoonlike opinie of ‘n smaak nie.

Kennis bemeester

Ware kennis is ook nie iets wat jy sommer net kan opsoek of kan Google nie. Dit kom eers wanneer jy begin om daardie veld van kennis te bemeester.

Eers as jy self ‘n paar klavierlesse gehad het, kan jy dalk iets van Mozart begin waardeer. En hoe verder jy vorder met musiekvaardigheid, hoe meer genuanseerd raak jou kennis en jou waardering.

En so ook met die ander vorme van estiese kennis. Eers as jy begin om iets van die kuns te bemeester, kan jy ware kennis begin opdoen van daardie veld.

Etiese kennis

Soos ons kennis kan opdoen van estetika, van dinge wat mooi en lekker is, so kan ons ook kennis opdoen van etiek – van reg en verkeerd, van goed en kwaad.

Doodmaak vs kos gee

As die empiriese wetenskappe ons enigste veld van kennis was, dan sou dit onmoontlik wees om te weet dat om iemand kos te gee is beter as om iemand dood te maak.

Dalk beter?

Om die waarheid te sê, as ons net empiriese kennis gehad het, en geen morele of etiese kennis nie, geen kennis van goed en kwaad nie, dan sou ons dalk soos dwase kon redeneer dat dit beter is om iemand dood te maak as om iemand kos te gee, want as ons iemand kos gee, dan gaan hy more weer honger raak.

Ons kan onderskei

Maar ons mense het die vermoë tot wysheid, tot morele, etiese kennis. Ons kan onderskei tussen goed en kwaad, beter en slegter.

Ons ken die verskil

Ons kan die verskil leer ken tussen liefde en haat, reg en onreg, vrede en geweld, eenheid en verdeling, versoening en weerwraak, empatie en apatie.

Nie altyd maklik nie

Dit beteken nie dat dit altyd maklik is om te weet wat die regte ding is om te doen nie. Somtyds moet ons kies vir die beste moontlike aksie tussen ‘n verskeidenheid slegte opsies.

Velde van kennis

En dit is hoekom daar ook ‘n hele veld, eintlik veld-e, van kennis is oor goed en kwaad, reg en verkeerd. Soos byvoorbeeld etiek en regsgeleerdheid.

Inoefen

Maar net soos met estetika, is kennis van etiek ook nie net iets wat jy kan opsoek of Google nie. ‘n Goeie lewe, ‘n morele lewe, ‘n lewe van wysheid, is ook iets wat ingeoefen en bemeester moet word.

Karakter

Dit kom nie net vanself nie. En dit kom nie net met kopkennis nie. Dit kom deur die inoefening van deugde, waardeur karakter gevorm word.

Groei in kennis

En soos ‘n mens groei in die deugde, soos wat jou karakter al hoe meer gevorm word, so groei jy in jou kennis van ‘n goeie lewe. Soos wat jy ‘n goeie lewe begin leef, lei dit tot ‘n beter visie en insig, ‘n beter verstaan, ‘n ryker kennis, ‘n dieper wysheid in wat ‘n goeie lewe waarlik behels.

Gelooskennis

En dit wat waar is van estetika en etiek, is ook waar van geloofskennis. Daar is so iets soos kennis van God.

Geen verskil nie?

 As daar geen geloofskennis was nie, as al wat ons kon weet net emperise feite was, en as geloof maar net mense se eie, persoonlike opinie was, wat almal ewe reg is, dan sou daar geen verskil wees om te sê God is liefde of God is haat nie.

Almal ewe reg?

Dan sou dit ewe reg wees om te sê God is ‘n God van vrede of God is ‘n God van geweld. Dan sou dit irrelevant wees of jy glo dat God ‘n God van reg en geregtigheid is, of dat God ‘n onregverdige tiran is, wat kant kies tussen mense.

Kan almal glo wat hulle wil?

Dit is vir my interessant dat mense soms vir my sê dat almal kan glo wat hulle wil en dat almal se geloof ewe goed en ewe reg is. Maar hulle verander gougou hulle storie as ek vra: “En sou nou maar mense glo in ‘n God wat net lief is vir wit mense? Of net omgee vir ryk mense? Of ‘n God wat dink mans is beter as vroue?”

Nee

Dan besef hulle gou: jy kan nie maar net glo wat jy wil nie. Alle geloof, alle kennis van God, is nie ewe reg of ewe goed nie. Mense glo ‘n klomp nonsens.

Onvolledige geloof

En alle geloof, alle kennis van God is ook nie volledig nie. Mense dink hulle glo in God, maar hulle sien dalk nog net 10% van die volle prentjie. En gevolglik is hulle verstaan van God heeltemal skeefgetrek.

Ander groep mense

En dit bring ons dan by die ander groep mense, waarna ek aan die begin verwys het. Mense wat weer dink dat hulle alles van God weet, tot in die laaste detail.

Versoeking vir kerk

Dit is seker die gevaarlikste ding, en ons, die kerk, is waarskynlik in die grootste versoeking om hierdie fout te maak – om te dink ons ken reeds vir God volledig, om te dink ons weet alles van Wie God is.

Nie boedel oorgee nie

Die antwoord op hierdie versoeking, is egter nie om boedel oor te gee en te sê: Ag, ons sal in elk geval nooit vir God volledig kan ken nie, so hoekom moeite doen.

Patetiese man

Dit is soos ‘n patetiese man wat sê: “Ag, ek gaan in elk geval nooit my vrou verstaan nie, so ek probeer nie eers meer nie.”

God word openbaar in Jesus

Die feit dat ons God nooit ten volle kan begryp nie, beteken nie dat ons niks van God kan weet nie. God word aan ons openbaar in Jesus Christus. In Jesus Christus ken ons vir God ten diepste. In Jesus Christus ken ons God se hart, God se wese.

Kan nie uitgeput word nie

Hierdie kennis is so ryk, so oorweldigend, so diep, dat ons dit nooit volledig sal kan ontgin of uitput of opgebruik nie. Daar sal altyd nog wees om te ontdek.

Toelê daarop

Maar dan moet ons onsself daarop toelê om God te leerken, en nie gelate onsself oorgee aan ons onkunde en dwaasheid nie. Soos met die ander velde van kennis, strek geloofskennis ook verder as net die invordering van inligting, verder as ‘n Google soektog.

Lewe van kerk

Geloofskennis is ook iets wat bemeester moet word deur ‘n lewe van geloof. En daarom kan ons geloof in God nie losgemaak word van die lewe van die kerk nie.

Krag in ons

Volgende week sal ons verder praat oor wat dit beteken om werklik kerk te wees, maar selfs in hierdie gedeelte, lees ons dat daar ‘n geweldige krag is, wat God uitoefen in ons wat glo.

Openbaring van God

Dit is dieselfde krag waarmee Christus uit die dood opgewek is, sodat ons, die kerk, die liggaam van Christus kan wees, met ander woorde die openbaring van God in die wêreld.

Openbaring ontvang en uitleef

Die openbaring van God, die kennis van God, is nie net iets wat ons ontvang nie, maar dit is ook iets wat ons uitleef in die wêreld daarbuite. En soos ons die kennis van God uitleef, so neem ons kennis van God ook toe.

2 Petrus 1

In 2 Petrus 1:5-8 sê Petrus vir die gemeente: “... julle moet alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.

As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken.”

Heilige kringloop

So lei die geloofskennis van God, wat uitgeleef word met deugsaamheid, selfbeheersing, volharding, godsvrug, liefde vir mekaar en liefde vir alle mense, uiteindelik tot ‘n dieper en ‘n voller kennis van ons Here Jesus Christus.

Drie maal God

Hierdie jaar is ons gemeente se tema: Drie maal God: God vir ons – God by ons – God in ons. En dit gaan daaroor dat ons God werklik sal ken, dat ons sal groei in ons kennis van God, dat ons sal groei in die uitlewing van ons kennis van God, en soos ons dit meer en meer uitleef, dat ons kennis van God nog meer een meer sal toeneem.

Groei in wysheid

Om die drie-enige God beter en beter te leerken, is nie ‘n oefening in abstrakte, ingewikkelde teorieë nie. Dit gaan daaroor om te groei in wysheid. In die wysheid dat ek, aan die een kant, nooit moet dink dat ek alles van God weet nie, maar dat ek, aan die ander kant, nie myself moet oorgee aan onkunde en dwaasheid nie.

Leerbare gees

Om tussendeur hierdie uiterstes te stuur, vra ‘n oop, ‘n nuuskierige én nederige ingesteldheid – dit wat Johannes Calvyn genoem het: ‘n leerbare gees.

Bid tot Gees

Dit vra dat ons sal bid, soos Paulus hier bid, dat ons geestesoë, letterlik vertaal: die oë van ons hart, deur God se Gees oopgemaak sal word, sodat ons die hoop van sy roeping, die rykdom van sy erfenis en die krag waardeur God in ons werk, kan ken.

Begeerte om te ken

Mag ons in hierdie sewe weke reeks, en ook in die res van hierdie jaar, groei in ons begeerte om God te ken, werklik te ken.

En mag ons begeerte om God te ken, beantwoord word deur God se Selfopenbaring aan ons, wat weer die begeerte om God te ken, net nóg méér sal laat toeneem.

Amen.

 

 

Terug