Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

11 November 2018 Dr Tinus van Zyl Klassieke Diens

Lees preke

11 November 2018 – Klassieke diens

Skriflesing:    Hebreërs 10:19-25 en Hebreërs 13:1-6

24 Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 

As good as it gets

In die 1997 fliek As good as it gets sê Helen Hunt, nadat Jack Nicholson haar baie sleg hanteer het, dat as hy nie nou vir haar ‘n kompliment kan gee nie, loop sy uit by die restaurant. Jack Nicholson vertel dan vir haar dat sy dokter vir hom gesê het om sekere pille te gebruik, maar hy haat, haat, haat pille. Maar nou het hy weer begin om sy pille te neem.

Helen Hunt vra: Nou hoe is dit ‘n kompliment vir my?

Waarop hy antwoord: Jy maak dat ek ‘n beter mens wil wees.

Ken jy so iemand?

Het jy al ooit die belewenis gehad dat jy iemand ontmoet wat maak dat jy ‘n beter mens wil wees, dat jy die beste weergawe van jouself wil wees?

Verlief

Dit gebeur dikwels met jongmense as hulle verlief raak. Ewe skielik begin hulle dinge doen waarvoor hulle voorheen hopeloos te lui was. Hulle sal vroeg opstaan, hulle hare kam, netjies aantrek, huistake doen en behulpsaam wees, hulle sal oefeninge begin doen, boeke begin lees, briewe en gedigte begin skryf, hulle sal ver stap, lank wag – alles sonder om te kla – want hulle het inspirasie gevind wat hulle aanspoor tot liefde en goeie dade.

Stories uit jou verlede

Julle kan elkeen lang stories vertel van toe julle jonk was, of toe julle ouers of grootouers jonk was, van hoe hulle kilometers ver gestap het, of op ‘n grondpad oor ‘n bergpas met ‘n fiets gery het, of deur die nag met ‘n Volkswagen kewer gery het, net om by hulle nooi te gaan kuier.

‘n Vriend

Ek het ook so ‘n vriend wat my aanspoor tot liefde en goeie dade. Sonder dat hy ooit vir my sal sê om dit of dat te doen. Sy blote teenwoordigheid, sy menswees, sy vriendskap, sy liefde en goeie dade aan ander, spoor my aan tot liefde en goeie dade.

Visie vir kerk

Wat ‘n wonderlike visie is dit vir die kerk – om ‘n gemeente wees waar ons mekaar aanspoor tot liefde en goeie dade. ‘n Gemeente waar ons die beste van mekaar glo – die beste in mekaar uitbring. Waar ons nie mekaar veroordeel en verdoem vir ons foute en tekortkominge nie, maar mekaar aanspoor tot liefde en goeie dade.

Ouerskap

As ouer maak ek so dikwels die fout met my kinders – om aanmekaar net hulle foute raak te sien en hulle daarop te wys, om aanmekaar net die risiko’s en die gevare raak te sien en hulle daarteen te waarsku – in plaas daarvan om hulle liefde en goeie dade raak te sien en dit verder aan te blaas.

Menslik

Dit is so ‘n natuurlike, menslike ding. Ons aandag word baie makliker getrek deur dit wat mense verkeerd doen. Ons reageer so veel vinniger op mense se oortredinge. En ons neem die goeie en liefdevolle dade van mense so maklik as vanselfsprekend. Ons kyk mense se liefde en goeie dade so maklik mis; gee so min waardering en erkenning vir mekaar.

Navorsing

Daar is baie navorsing wat wys dat wanneer mense op hulle foute gewys word, verbeter hulle gedrag nie noodwendig nie. Maar as mense waardering en erkenning kry vir hulle goeie dade, dan word hulle aangespoor en gemotiveer om nog meer liefde te bewys en nog goeie dade te doen.

Discovery rewards

Dit is hoekom Discovery mediese fonds se rewards so ‘n suksesvolle program is, want mense kry erkenning vir die bietjie oefening wat hulle doen, hulle word beloon met ‘n gratis koffie, en nou vogende week oefen hulle sommer nog ‘n bietjie harder.

Afrikaners

Deel van die probleem vir ons Afrikaners, is dat ons sleg is daarmee om komplimente te gee, en nog slegter om komplimente te ontvang. Ons het ‘n geveinsde nederigheid waarmee ons voorgee asof ons geen waardering of erkenning vir ons dade wil hê nie, terwyl alle mense ‘n behoefte het na erkenning en waardering.

Beste jy

Dit is wel so dat ‘n mens nie liefde moet bewys en goeie dade moet doen om mense te beïndruk of sodat mense van jou sal hou nie. Ons doen dit mos vir die Here, uit dankbaarheid vir sy genade. Maar wanneer mense vir jou waardering en erkenning gee, dan help dit jou om die mens te wees wat God jou gemaak het om te wees – om die beste weergawe van jouself te wees.

Ek glo in jou

Ek vermoed ek het al die storie vertel van ‘n vriend van my wat een keer vir my ‘n boodskap gestuur het wat verskriklik baie vir my beteken het. Dit was ‘n tyd in ons lewe toe hy meer “op die regte pad” was en ek effens die “pad byster geraak het”, sou ‘n mens kon sê. En hy het vir ‘n boodskap gestuur wat gesê het: “Ek glo nog in jou.”

Wonderlike boodskap

Dit was vir my so ‘n wonderlike boodskap. Want hy het nie gesê ek glo nog dat God jou gaan verander of ek glo nog dat jy tot inkeer sal kom en die regte ding sal doen nie. Hy het net gesê: Ek glo nog in jou. En dit het geweldig baie vir my beteken. Want hy het iets in my raakgesien, wat ek dalk self nie meer so lekker kon raaksien nie.

Wat mense sien in ons

Die vreemde ding is dat ons mense geneig is om op te leef na dit wat mense in ons raaksien. As mense die slegste in ons raaksien, is ons geneig om na daardie reputasie toe op te leef. As mense die beste in ons raaksien, is ons geneig om na daardie beeld toe op te leef.

Paraxysmos

Dit is ‘n interessante term wat hier in Hebreërs gebruik word om mekaar aan te spoor. Die Griekse woord is paroxysmos. Hierdie woord is amper ‘n negatiewe woord. Dit word byvoorbeeld gebruik in Handelinge 15 vir die vurige argument tussen Paulus en Barnabas wat maak dat hulle paaie skei.

Uitlok

Paroxysmos beteken letterlik om iemand aan te hits of aan te por, om hulle uit te lok of in die versoeking te lei.

Dogters

Dis amper soos wanneer ons vir ons oudste dogter sê: Moenie jou jonger suster so vertoorn nie! En dan sal sy haar onskuld bepleit: Maar ek het niks aan haar gedoen nie. Waarop ons dan sal antwoord: Jy weet presies wat jy doen, jy druk haar knoppies, jy lok haar uit, totdat sy reageer.

Knoppies druk

Paroxysmos is amper so ‘n woord. Dit is iets meer as om net iemand te probeer motiveer. Dit is amper om iemand uit te lok tot goeie dade, om hulle aan te hits tot liefde, om hulle in die versoeking te bring om iets mooi te doen, om die regte knoppies te druk wat hulle laat oorgaan tot aksie. Die Engelse sal sê: “You provoke someone or you incite people to act.”

Jong kêrel

Dis amper soos daai jong kêrel wat agter die mooi meisie aan is, en sy wil niks van hom weet nie. Maar hy hou so aan, hy irriteer haar eintlik so met sy liefde en goeie dade, dat sy mettertyd moed opgee om hom te probeer oortuig om haar uit te los. Hy is so aanhoudend met sy liefde, dat sy nie anders kán as om sy liefde met liefde te beantwoord nie.

Te ordentlik?

Ek wonder of ons dalk somtyds in die kerk té ordentlik is? Dat ons so versigtig is om iemand anders te hinder, te irriteer of te pla, dat ons eintlik versuim om liefde en goeie dade aan mekaar te bewys.

Mense waardeer dit

En tog het mense soveel waardering daarvoor as iemand anders belangstelling in hulle toon. Ek wonder byvoorbeeld hoe dit ons kan help as ons met meer vrymoedigheid vir mekaar kan sê: Sien jou Sondagoggend by die erediens! Kan jou kom oplaai?

Dit help my

Wanneer ek dalk vanoggend nie kans sien vir die erediens nie, maar ek weet daar is iemand wat my gaan kom oplaai, of iemand wat daar by die kerk vir my gaan wag, sal dit my dalk aanspoor om op te staan en reg te maak vir kerk.

Ander terreine

En dit geld ook vir soveel ander terreine van ons lewe.

Gasvryheid

As ek gasvryheid by my medegelowiges beleef, spoor dit my ook aan tot groter gasvryheid.

Ek en Gerda praat dikwels oor hoe welkom Gys en Thea van Schoor ons laat voel het toe ons by hierdie gemeente aangekom het, en dat ons nou weer daar gasvryheid aan ander moet bewys.

Medelye

As mense medelye het met my swaarkry en seer, spoor dit my aan om groter medelye te hê met ander wat swaarkry en seer het.

Ek onthou ‘n lidmaat wat vir my gesê het, dat hy altyd so simpel gevoel het om ‘n sms boodskappie te stuur vir iemand wat in die hospitaal is. Maar nou dat hy self in daardie situasie was, en gesien het hoeveel dit vir hóm beteken het om sulke boodskappe te kry, is hy weer aangespoor om dieselfde vir ander te doen.

Huwelik

As ander mense vir my ‘n voorbeeld is van hoe om in liefde en trou teenoor mekaar te leef in hulle huwelik, spoor dit my weer aan tot groter liefde en trou in my eie lewe.

Vriendin

Ek onthou op skool dat ek by ‘n vriendin se huis gaan kuier het, en net toe ek hoor hoe haar pa vir haar ma vra om vir hom die koerant aan te gee, was ek verstom oor die liefdevolle manier waarop hulle met mekaar praat. En ek het vir my vriendin begin uitgevra oor haar ouers se huweliksverhouding.

Jou huwelik

Miskien was jou huwelik al, sonder dat jy dit weet, ‘n inspirasie vir jou kinders se maats. Kinders wat dalk al hulle geloof in die huwelik begin verloor het, maar wat in julle huwelik iets raakgesien het, wat hulle weer aangespoor het om te glo in liefde.

Geldgierigheid

So ook as dit kom by geldgierigheid. Nou die dag het ons gesin gaan kuier by ‘n paartjie, wat ‘n soort eenvoudige lewenstyl het, wat heel teen die stroom van ons tyd leef. Hulle sit nie kaste ín in hulle huis nie, maar haal kaste uit, om te keer dat hulle onnodige besittings begin opgaar. As hulle een kledingstuk koop, gee hulle een weg.

Oorvloed

Maar hulle lewe is alles behalwe karig. Daar is oorvloed in hulle huis. Oorvloed grappe en geselskap. Oorvloed speletjies en pret. Oorvloed liefde en omgee. Dalk is dit omdat daar minder besittings is, dat daar soveel ruimte is vir liefde in daardie huis.

Aansporing

En toe ons daar wegry, sê ek en Gerda vir mekaar dat ons meer gereeld met hierdie mense moet kuier, want hulle spoor ons aan tot liefde en goeie dade. Sonder dat hulle vir een oomblik gesê het dat ons ook moet maak soos hulle maak.

Aansteeklik

Maar hulle lewenswyse is aansteeklik. Hulle goeie dade lok ‘n mens uit om ook goeie dade te wil doen. Ewe skielik lyk die geldgierige lewenswyse van die wêreld nie meer so aanloklik nie, want ons het nou ‘n alternatiewe moontlikheid gesien en beleef, wat baie meer vreugde en genoegsaamheid inhou.

Mense weet

Die fout wat ons dikwels maak, is dat ons dink dat wanneer mense nie die regte ding doen nie, dan is dit omdat hulle nie weet dat hulle optrede verkeerd is nie. So dan dink ons dat ons hulle moet inlig dat hulle optrede verkeerd is. Ons moet vir hulle moet sê wat die regte ding is om te doen.

Nie gebrek aan informasie nie

Maar dit is baie selde die geval dat ‘n gebrek aan informasie die rede is waarom mense nie die regte ding doen nie. Neem ‘n geldgierigheid as voorbeeld. As jy vir iemand gaan sê: Jy is geldgierig, of: Moenie so geldgierig wees nie, gaan dit in alle waarskynlikheid geen verskil aan hulle gedrag maak nie.

Behoefte of vrees

Maar wat sit agter iemand se geldgierigheid? Miskien is dit ‘n behoefte aan waardering en erkenning. Of miskien is dit ‘n vrees om uitgelaat of agtergelaat te word. So dit help nie ek sê vir iemand: Jy moet minder geldgierig wees nie.

Help hulle daarmee

Ek moet hulle help om weer waardering en erkenning by God te vind, om weer veilig en geborge by God te voel. Ek moet hulle help om te ontdek dat die Here hulle Herder is en dat hulle niks kortkom nie. Ek moet vir hulle wys dat God hulle helper is en dat hulle niks hoef te vrees nie. En dit kan ek net doen deur liefde en goeie dade.  

Versigtig wees

Maar, liewe vriende, wanneer ons dit doen, moet ons ook versigtig wees. Die teks sê vir ons dat ons mekaar moet aanspoor tot liefde en goeie dade. Maar dit sê nie dat ons mekaar moet dwing tot liefde en goeie dade nie. Of dat ons mekaar moet opcheck in ons liefde en goeie dade nie.

Liefde is die punt

Die eintlike punt waarom dit gaan is ons broederlike en susterlike liefde vir mekaar, waarvan hoofstuk 13:1 ook praat. As ons mekaar waarlik liefhet, as ons regtig goed is vir mekaar, dan sal ons mekaar daardeur aanspoor tot liefde en goeie dade.

Nie bybedoelings nie

Maar dit kan so maklik gebeur dat ons liefde en goeie dade met bybedoelings kom. Dat ons eintlik probeer om mekaar te beheer of manipuleer.

Ek bring vir jou ‘n bos blomme, want eintlik wil ek hê dat jy vir my moet jammer sê. Ek bied aan om jou te help, want eintlik hoop ek dat jy sal aanbied om my ook te help. Ek komplimenteer jou, want heimlik is ek opsoek na ‘n kompliment.

Laat oor in God se hande

Ons moet die effek, die impak van ons liefde en goeie dade nie probeer beheer en manipuleer nie. Ons dit in opregtheid doen en die eindresultaat oorlaat in God se hande.

Selfs God doen dit

Selfs God se grootste bewys van liefde, God se mees wonderlike goeie daad, naamlik Christus se offer aan die kruis, was geen waarborg dat mense God se liefde sou aanvaar en positief daarop sou reageer nie.

God se hoop

God bewys liefde, God doen goed aan mense, ongeag mense se reaksie daarop. Natuurlik is God se hoop dat Christus se liefde en goedheid aan ons, ons lewens sal verander en ons nou ook sal leef vanuit liefde en met goeie dade teenoor mekaar.

God forseer nie

Maar God forseer ons nooit nie. God dwing ons nie. God beheer en manipuleer ons nie. God het ons lief en God bewys goedheid aan ons, ongeag.

So laat ons ook

So laat ons ook mekaar ook so liefhê, en goed wees vir mekaar, ongeag die reaksie daarop. Laat ons mekaar aanspoor tot liefde en goeie dade, nie deur vir mekaar voor te skryf of vir mekaar te preek nie, maar deur mekaar in opregtheid lief te hê en goed te wees vir mekaar. Want dit is wat God in Christus vir ons kom doen het. Amen.

 

Terug