Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

11 Maart 2018 Ds. André Agenbag

Lees preke

11 Maart 2018                                                                     Durbanville Gemeente: Klassieke Diens

Johannes 3:14-21                                                  Dié wat in Christus glo, ontvang die ewige lewe

Sê nou net dat ons nou reeds, hier op aarde, vanuit die hemel kan leef? Dat ons régtig so vry en nuut kan leef, as wat die Bybel en die Johannesevangelie sê? Sou dit nie wonderlik wees nie? Dalk wil jy nou antwoord, “Maar ek is ‘n geestelike / gelowige / godsdienstige mens! Hoe kan jy my só ‘n vraag vra!”

Wel, ons lees in Johannes van ‘n gesprek wat plaasgevind het tussen Nikodemus, een van die bekendste leermeersters onder die Fariseërs, en Jesus. Die gesprek vind in die donker plaas. In die nag. Dit is duidelik dat hierdie leier in die godsdienstige establishment nie in Jesus se geselskap gesien wil word nie. Dit is óók duidelik dat hy soekend is. Dat hy kan aanvoel dat daar méér is as waarmee hy as ‘n godsman tevrede geraak het.

Ons lees in vers 2 dat Nikodemus vir Jesus as “Rabbi” (leermeester) aanspreek. En dan verduidelik hy dat Jesus tog sekerklik ‘n leermeester moet wees wat van God af kom, want niemand kan die wondertekens doen wat Jesus doen as God nie by hom is nie. En tog was hierdie verwysing na Jesus niks méér as die wyse waarop die Jode na hulle profete verwys het nie. Van beide Moses (Eks 3:12), sowél as Jeremia (Jer 1:19) word gesê dat God by hulle was.

Nikodemus, die Fariseër het Jesus se gesag toegeskryf aan die wondertekens wat hy verrig het. Jesus het egter van beter geweet. Hy het geweet dat gelowiges wie se geloof deur hulle verwondering oor wondertekens bewerkstellig is, mense was op wie hy hom nie kon verlaat nie. “Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof (πιστεύω pisteuō) in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat (πιστεύω pisteuō) nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ‘n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is” (Joh 2:23-25). Johannes se spel met woorde (πιστεύω pisteuō) maak dit duidelik dat hy wou sê: “Jesus het nie geloof gehad in die mense se geloof in hom nie... Hy het hulle geloof nie vertrou nie.”

Jesus sluit nie aan by Nikodemus se gesprek oor wondertekens nie. Jesus se wondertekens was nie bedoel as skouspelagtige en indrukwekkende gebeurtenisse waardeur mense tot geloof kon kom nie. Sy wondertekens was tekens van iets anders. Hulle het heengewys na iets anderkant hulleself. Soos ‘n padteken, is ‘n wonderteken nie die bestemming nie, maar die heenwysing na die bestemming – na Iets (Iemand) anders.

En Israel het ‘n slegte gewoonte gehad om hulleself vas te staar in die teken self. In vers 14 vertel Jesus dat die Seun van die mens, soos die koperslang van ouds, verhoog sal word, sodat elkeen wat glo die ewige lewe kan hê. Jesus se verwysing na die koperslang in Joh 3:14 is ‘n verwysing na die gebeure in Numeri 21:4-9 toe die giftige slange die Israeliete gepik het nadat in hulle oor hulle omstandighede in die woestyn gemor het. Deur op te kyk na die koperslang het hulle van God genesing ontvang, en tóg het die koperslang as teken van God se genesing later vir hulle die bron van die genesing self geword. In 2 Kon 18:4 lees ons, “Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer.” Hiskia moes dus drasties optree as die hervormer van Israel se godsgeloof omdat dit in afgodediens verander het.

Jesus verkies om nie oor die wondertekens te praat nie, maar om by die kern of die hart van die saak uit te kom: Die koninkryk van God. Waar Matteus, Markus en Lukas op omvangryke wyse gebruik maak van die uitdrukking “koninkryk van God,” word hierdie uitdrukking net twee keer in die Johannesevangelie aangetref - en beide van hulle in hierdie naggesprek tussen Nikodemus en Jesus (verse 3 en 5). Die rede hiervoor is dat die uitdrukking “ewige lewe” wat so kenmerkend van die Johannesevangelie is, Johannes se ekwivalent van die uitdrukking “koninkryk van God” is. Jesus sê vir Nikodemus: “Jy kan die koninkryk (heerskappy) van God slegs sien as jy opnuut (of van bo) gebore word.” Hierdie uitdrukking – om opnuut of van bo gebore te word, het glad nie in die Judaïsme van Jesus se tyd voorgekom nie. Nêrens, in enige Joodse literatuur word die idee van wedergeboorte aangetref nie. Ook nie in die Griekse wêreld nie.

In vers 4 vra Nikodemus: “Hoe kan jy opnuut gebore word as jy al ‘n ou man is?” Hierdie vraag van hom is in lyn met die letterlike logika van die Fariseërs. Dit is asof Jesus Nikodemus se ingeperkte geestelike insig op die spits dryf. Asof hy dit op ‘n punt bring waar daar ‘n dramatiese breuk kom tussen die geloofswêreld van Nikodemus en dié wat Jesus as God se Gestuurde kom beliggaam het. Jesus maak dit vir Nikodemus onmoontlik om logies voort te gaan met die godsdienstige gedagtegang waarin hy opgelei was. Hierdie letterlikheid van die Jode was natuurlik niks nuuts nie. Reeds in Joh 2:20, nadat Jesus gesê het die Jode sal die tempel afbreek en dat Hy dit in in drie dae sal oprig, sê die Jode ook, “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”

In plaas daarvan om direk op Nikodemus se onbegrip te reageer, sê Jesus dieselfde ding op ‘n ander manier in vers 5. Hy verwys nou ‘n tweede keer na die koninkryk van God: “As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.” En dan verduidelik Jesus wat Hy bedoel in vers 6: “Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.” Vir Jesus is ‘n aardse kyk na dinge nie genoeg nie. Jy kan nie die hemel op aarde sien deur met aardse oë daarna te soek nie. ‘n Nuwe kyk is nodig. En dit ontvang jy van Bo. Daar is dus ‘n radikale breuk vir Jesus tussen die aardse logika van dít wat van die Joodse geloof geword het, en dít wat dit nog altyd bedoel was om te wees. Dis nie die koperslang wat die genesing gee nie, maar God. Die koninkryk van God, m.a.w die heerskappy van God, die teenwoordigheid van God in hierdie wêreld en in die heelal, word nie raakgesien met die natuurlike kyk van menslike oë nie, maar wanneer ‘n mens van Bo gebore word – uit water en Gees. God en God alleen gee die kyk nodig is om die koninkryk raak te sien.

Teen hierdie tyd besef Nikodemus dat sy eie godsdienstige verwysingsraamwerk geweldige tekortkominge het. Terselfdertyd het dít wat Jesus sê genoeg sin vir hom gemaak het om te besef dat ‘n ander, dieper pad moontlik is. Hy weet egter nie hoe om so ‘n ander koers in te slaan nie. Daarom vra hy in vers 9: “Maar hoe is dit moontlik?” Nou is dit Jesus se beurt om Nikodemus as die bekende leermeerster van Israel aan te spreek en om dan vir hom, amper verbaas, te vra “... en JY verstaan nie?” Die implikasie van Jesus se woorde is dat dít wat veronderstel was om die mees basiese, mees vanselfsprekende aspek van Israel se godsgeloof te wees, om die een of ander verstommende rede nie deur een van Israel se bekenste leermeesters begryp word nie. Jesus het dus nie gedink dat dít wat hy oor die nuwe geboorte deur water en Gees te sê gehad het, veronderstel was om so onbegryplik vir ‘n gelowige leermeester te wees nie. En tóg. En tóg!

Nikodemus is ‘n opregte Fariseër wat êrens langs die pad agter die kap van die byl begin kom het oor hierdie Jesus. Hy was soekend. Hy moes self dalk ontevrede en ontnugter met sy godsdiens geword het. Maar die status wat aan sy posisie as geestelike leier gekoppel was en die nadelige gevolge wat enige openbare verbintenis met Jesus na alle waarskynlikheid sou hê, het veroorsaak dat hy stilletjies in die nag na Jesus gegaan het om te soek na die antwoorde op die vrae wat in sy binneste gewoed het. Godsiens KAN sy hart verloor. Godsdiens KAN blind maak. Godsdiens KAN veroorsaak dat mense in die duisternis, eerder as in die lig leef.

Jesus wil graag Nikodemus se vraag beantwoord. Onthou, Nikodemus het gevra: “Maar hoe is dit moontlik?” (om die koninkryk regtig te sien deur nuut gebore te word deur water en gees). Vanaf verse 11 tot 13 praat Jesus dan oor die verskil tussen aardse en hemelse dinge. Godsdiens gaan oor die lewe op aarde... maar vanuit die hemel. Om die koninkryk hier op aarde raak te sien, kom nie van nature nie. God moet dit gee. God gee ons oë vir ‘n hemelse visie van die aarde.

Maar is dit nie TE geestelik nie? TE wêreldvreemd, TE onsigbaar nie? TE veel buite Nikodemus se bereik nie? Nee. Nou verwys Jesus vir die eerste keer na Homself: Net iemand wat uit die hemel gekom het, kan oor die hemelse dinge praat (vers 13). Ons het sommer vroeg in die Johannesevangelie gehoor dat die Woord van die begin af daar was, by God was, ja sélf God was (Joh 1:1) en dat hierdie Woord vlees mens geword het en onder ons kom woon het (Joh 1:14). Jesus is die toegang tot God. Tot die hemel. Jesus sélf is die sleutel wat die geheimenis van die hemel, die ewige lewe en die koninkryk van God oopsluit. Geïnspireer deur die verhaal van Jakob se droom oor die leer waarmee die engele op en af beweeg het (Gen 28), dink Johannes aan Jesus as die leer wat hemel en aarde aan mekaar verbind. Ons lees in Johannes 1:51: “Verder sê Jesus vir hom: ‘Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.’”

Maar dan die verrassing. Hierdie wonderlike Jesus wat uit die hemel gekom het, het nie hierheen gekom om in skitterende glans verheerlik te word as “die Een uit die hemel” nie. Johannes maak dit duidelik dat dit baie belangrik is om te verstaan wie hierdie Jesus regtig was. In Joh 3:14 hoor ons dat die Seun van die mens verhoog moet word. Johannes gebruik presies dieselfde Griekse woord (ὑψόω / hupsōo) om te verwys na Jesus wat verhoog is aan die kruis, sowel as Jesus wat opgestaan (vgl Joh 8:28, 12:32,34) het uit die dood. Dit sê alles! Waar Markus moeite doen om Jesus se lyding en heerlikheid uitmekaar te hou, vervleg Johannes dit met een woord ineen: Jesus word verhoog en verheerlik aan die kruis. Want dís wie Jesus is. En dit vertel ons wie God is. Jy KAN vanuit die hemel leef. Jy KAN die koninkryk sien. Maar wat moet jy doen om dit reg te kry? GLO in die Seun van die mens, sê Jesus by monde van Johannes. Vers 15: “Sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.” En hierdie Seun van die mens, hierdie Seun van God word juis verheerlik deur verhoog te word aan die kruis. Dít is waarom God Hom gestuur het – om só die ewige lewe vir dié wat in Hom glo te verwerf.

Nou mag jy dalk vra: “Maar wat is die ewige lewe? Vertel my meer daarvan!” Johannes stel dit só mooi in Joh 17:3 “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” Johannes sê: Die ewige lewe gaan oor die KEN van God. Mense wat God KEN hét die ewige lewe. Dit gaan oor ‘n lewende, persoonlike verhouding met God. Dit gaan nie oor die blote nakom van bepaalde reëls nie. Dit gaan daarom dat vanuit die hemel hier op aarde geleef word. Vers 16: Alles kom vanuit God se hart van liefde. Dit is die BRON van verlossing.

En as dit vir jou TE geestelik, TE vreemd ens is: Kyk na Jesus. HY is die koninkryk in lewende lywe. Die hemel geklee in ‘n menslike liggaam. In Hom kom die hemel aarde toe. Die koms van die koninkryk lê nie in die toekoms nie; dit is NOU. Johannes sê dat Jesus die vervulling van die Joodse geloof en die Ou Testament of die Ou Verbond is. (Let wel: Nie die vervanging nie, maar die vervulling). En sy wondertekens is nie daar vir die skouspelagtigheid of indrukwekkendheid daarvan nie; maar as tekens van God se heerskappy. Van God wat die wêreld red van homself. Elke keer as iemand genees word, sien ons hoe God se heerskappy naby kom. Elke keer as Jesus iemand bevry van die verslawende bande van die bose, sien ons die koninkryk van God, die ewige lewe in aksie. En elke keer as Jesus pleit vir die beoefening van geregtigheid jeens die armes, die weduwees en die kindertjies, sien ons hoe die hemel aarde toe gekom het.

Interessant nê, dat Joh 3:16 nie sê waarvan die wêreld gered word nie. Wanneer ons hoor dat iemand gered is, dan weet ons daardie persoon is tog van iets gered, bv van verdrinking of van Tafelberg se hange af ens. Sommige skrifverklaarders meen dat dit met opset nie hier in Joh 3:16 vermeld word nie, omdat die bedoeling is dat die wêreld van homself gered moet word! Is dit nie maar wat ons almal wil hê nie? Ons eie sin. Ek wil in beheer van my eie lewe wees. Ek wil van niks of niemand afhanklik wees nie. Ek skuld niks of niemand ‘n verduideliking nie. Maar dan is ek aan myself uitgelewer, nie waar nie?

Johannes sê: As jy nie glo nie, is jy reeds veroordeel. Want dan is jy aan jouself uitgelewer. Al ís jy godsdienstig. Uiterlik is alles netjies en godsdienstig in plek, maar innerlik gaan daar niks aan nie. Gewaande en selfgemaakte godsdiens speel met versies. En dit speel met netjiese kategorieë van reg of verkeerd. Dit speel ook met netjiese en eenvoudige (aardse) formules vir geheimenisvolle (hemelse) goed soos verlossing en heiligmaking. En wanneer mens só sekuriteit begin vind in die wyse waarop jy sekere godsdienste reëls uiterlik nakom, verval jy in geestelike meerderwaardigheid. Dan word dit al te maklik om ander daarop te wys dat hulle om hierdie of daardie rede te kort skiet. In die proses het jy jouself oortuig daarvan dat jy jou verlossing of s.g heiligmaking op die een of ander manier verdien het omdat jy die (aardse) godsdienstige speletjie beter as ander speel.

Dit word selfs moontlik vir sommige godsdienstige mense om van Joh 3:16 ‘n nuwe wet te maak. Dan word daar bv streng voorwaardes gestel aan al die regte bestanddele van wedergeboorte. Jy MOET bv “‘n dag en ‘n datum hê” en daar is baie duidelike en helder prentjies van die lewe “voor Christus” en “na Christus.” Al waarop dit uiteindelik neerkom is die totale afwesigheid van absolute afhanklikheid van God vir verlossing. Onderliggend aan enige vorm van wettisisme of gewaande godsdienstigheid is die oortuiging dat God as’t ware handsvatsels het. Dat daar vashouplek is wat ons minder kwesbaar en uitgelewer sal maak. Ons soek net daardie een, klein vaste staanplekkie sodat ons kan sê: Ek is okey en daarom móét die Here my Syne maak!

Ons probleem is dus ons vrees om gestroop van enige beheer of meriete voor God te lewe. Die kwesbaarheid is darem net te veel. Die totale afhanklikheid van die geskenk van die nuwe geboorte van Bo deur water en Gees is net te erg. Só afhanklik wil ons darem ook nie wees nie! En tóg sien ons in die verhaal van God wat sy enigste Seun uit liefde na die wêreld stuur (sodat almal gered kan word) ‘n prentjie van kwesbare liefdfe. En ons sien in Jesus se verhoging aan die kruis ‘n prentjie van kwesbare liefde. Want ware, goddelike liefde, die liefde van Bo is die weggee van die self. Dit is kwesbaarheid.

Maar ons soek beheer, vaste sekerhede, waarborge en reëls. Waarom? Want ons sien nie kans vir die broosheid van om weer en weer in totale afhanklikheid na God toe terug te keer nie! Ons wil nie in absolute afhanklikheid van God daagliks weer / opnuut / van Bo gebore word nie. Ja, ons verlossing staan vas in Christus op grond van God se genade, sy kruisdood en opstanding. Maar die geskenk van geloof in Jesus, is ‘n geskenk wat ons daagliks van voor af in diepe afhanklikheid van die Here moet ontvang, sodat ons daagliks vanuit die geloof kan lewe!

Daarom sluit die gesprek in die nag af met ‘n gesprek oor lig en duisternis. Jesus sê dat daar inderdaad ‘n skeiding kom tussen lig en duisternis. Daar is ‘n skeiding tussen natuurlike geboorte en nuwe geboorte. Daar is ‘n skeiding tussen ‘n lewe vanuit dit wat hier onder is en ‘n lewe vanuit dit wat daar Bo is. Soos Nikodemus, is mense bang vir die lig, want in die lig word die waarheid van jou lewe onthul. In die lig word ons kwesbaarheid, gebrokenheid en diepe afhanklikheid van God onthul. En daarom is ook die pad na ons eie verhoging (opstanding uit die dood saam met Jesus) ‘n pad wat deur ons elkeen se verhoging saam met Jesus aan die kruis loop. Elders sê Jesus, “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg” (Mark 8:34). Om vanuit die hemel te leef hier op aarde is om soos Jesus te leef. Om daagliks vanuit ‘n diepe afhanklikheid van God te leef; jouself weg te gee / uit te giet in liefde. DIT is wat dit beteken om te wandel in die LIG.

En daarom sluit die Naggesprek af in die Lig:

Joh 3:21, “Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Amen

 

Terug