Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

11 Februarie 2018 Ds. André Agenbag

Lees preke

Klassieke Diens                                                                      

Markus 9:2-9                                                                                                   Jesus se verheerliking op die berg

Inleidend: Om met albei oë te kyk

Die voormalige Aartsbiskop van Kantelberg, Rowan William haal in ‘n preek van hom aan uit die gedig van William Blake:

“May God us keep
From Single vision and Newtons sleep!”

En dan verduidelik hy hoe hy die paar versreëltjies verstaan: “By Newton's sleep he meant the scientific world view as a thing in itself which gave you a one-eyed vision of the world. But it's not a bad image to think about.

It's very easy for us to have one-eyed vision and the Gospel requires us to have full, binocular vision.”

Rowan Williams verduidelik dan hoekom hierdie metafoor hom herinner aan sy roeping:

“Just to finish, I can perhaps share with you a memory from my time in Wales when I made a visit to a primary school and, a week or so later, met one of the parents of a child in that school who told me that she had been very puzzled when her little girl had come home and said they'd had a visit that morning from the optician. She was a bit puzzled about this, she didn't know that opticians regularly went round schools but investigation revealed, in fact, that the visit had in fact been from the optician of Wales no less. Opticians correct your vision, opticians help you to see properly out of both eyes. It may be that modest redefinition of the task of an Archbishop by a primary school child in Gwent is a vocation worth thinking about.”

Grond en plek is heilig

Grond is vir ons plekke op ‘n kaart. Grondgebied tot die beskikking van ontwikkelaars. Grond waaroor mense baklei om ideologiese en politieke redes. In die antieke wêreld was grond heilig. Op die ou kaarte was Jerusalem in die middel van wêreld. En in Jerusalem was die tempel. Maar nie soos in baie godsdienstige tradisies waar tempels of heilige plekke staan vir ‘n onttrekking vanuit die wêreld nie. Dit was eerder ‘n brug na die wêreld. Tot binne-in die wêreld. Dié teken dat die Skepper-God die wêreld opeis. Byna terugeis vir Godself. En daarmee vestig Hy Sy (eie) heerskappy in hierdie wêreld.

Dit is in hierdie wêreld waar God sy heerlikheid sigbaar en ervaarbaar wou maak. Maar die Bybel praat dan daarvan dat God in die hemel woon! So, was die bedoeling dan dat God by wyse van uitsondering, of met respek gesê, op ‘n koninklike vakansie gaan om dan vir ‘n rukkie in die tempel in Jerusalem te gaan woon? As’t ware van tyd tot by ons te kom kuier?

Nee, vir die antieke gelowiges was die tempel nie alleen die middelpunt van die wêreld en uiteindelik die heelal nie. Nee: Die tempel was waar hemel en aarde mekaar ontmoet het. Hiermee het die Jode nie bloot gesê God is in Jerusalem; en Jerusalem is in Israel nie. Dit was ‘n manier om te sê: Hemel en aarde is nie só ver van mekaar nie. Hemel en aarde is naby aan mekaar!

Mens sou vandag kon sê vir die antieke mens het hemele en aarde oorvleuel en was hemel en aarde eerder

soos die vingers van twee hande vat saamgevou is, ineengestrengel. En reg deur die Bybel hoor ons die boodskap weer en weer op verskillende maniere dat die God van Israel die koning is en dat Hy besig is om sy heerskappy sy koninkryk te vestig op aarde soos in die hemel.

In die Nuwe Testament lees ons dat die hemel en die aarde nóú bymekaar aangesluit het; maar ons sien dat dit nie meer bloot in die tempel is nie. Ons sien die hemel en aarde bymekaar kom dáár waar daar genesing plaasvind. Versoening en vergifnis. Geregtigheid vir die swakkes en die siekes. Met ander woorde: Die oorvleueling tussen hemel en aarde het plaasgevind waar Jesus ookal was. En in dít wat HY gedoen het.

Jesus was ‘n wandelende tempel

Markus 1:14, 15, “... het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: ‘Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.’”

Jesus verklaar hiermee sy hele bediening as ‘n bediening in diens van die koms van die koninkryk van God. Met ander woorde: In diens van God se heerskappy op aarde ... soos in die hemel. En dan die wonderlike woorde van Jesus dat die koninkryk van God naby gekom het. En daarmee sê Jesus eintlik dat Hy die koninkryk van God beliggaam. Omdat Jesus naby aan die mense gekom het, het die koninkryk van God naby gekom. Waar die tempel in die antieke tyd vir die Joodse gelowiges die teken was van God wat naby gekom het, wat as’t ware in die tempel wys dat Hy naby is, dat Hy Koning is en dat Hy regeer op aarde, soos in die hemel, het Jesus nou die beliggaming van God se teenwoordigheid en God se heerskappy geword. ‘n Mens sou kon sê: Jesus was ‘n wandelende tempel. Die God van Israel het nou in ‘n Lewende Persoon gewoon. In Jesus het God se heerskappy al hoe nader gekom.

Maar die tempel was korrup

In die tyd van Jesus was die tempel reeds korrup. Mense is uitgebuit - veral finansieel. Die tempel was die plek waar al die mense se finansiële skuld opgeteken was, sê die bekende Nuwe Testamentiese skrifverklaarder, NT Wright. Dáárom, sê hy, wou die Jode tydens hulle opstande die tempel verbrand. Want dit was die plek waar hulle skuld opgeskryf en gehou was. Skuld wat in die teken van uitbuiting en korrupsie gestaan het. Die tempel het dus sy status as simbool van hemel en aarde wat aan mekaar raak, verloor. Die tempel het nie meer gesê: God is naby, God is hier, God regeer – Hy is regverdig, genade en vol liefde nie.

Verwagtinge van die koninkryk

Daar was natuurlik verskillende verwagtinge van die koninkryk. Een van die opvallendstes was ‘n messiaanse beweging, waarvan Petrus en Judas waarskynlik deel was. Hulle het ‘n aardse messias verwag wat met geweld die Romeinse onderdrukkers sou verslaan om Israel se grondgebied weer terug te besorg aan die uitverkore volk van God.

Vandag is daar mense wat ook hulle eie verwagtinge het van God en die koninkryk. Om die waarheid te sê het ons almal maar ons eie verwagtinge van wat God se heerskappy nou eintlik behels! Sommige Christene verkondig bv die vals Leer van Voorspoed: Ons is God se spesiale kinders en sy doel vir ons is oorvloed, weelde, sukses en rykdom. “The health and wealth gospel” word dit in Amerika genoem. Só asof jy lyding, swaarkry, armoede en gebrokenheid sal vryspring as jy die evangelie-goed net op “die regte manier” doen. Gewoonlik sal die persoon of gemeente wat die betrokke resep vir Voorspoed verkondig, elkeen ‘n eie unieke stel voorwaardes hê wat nagekom moet word voordat hierdie Voorspoed jou sal tref!

Ander Christene weer, dink die doel van ons verlossing en ons christenskap is om hemel toe te gaan. En natuurlik is die lewe na die dood iets wat maar belangrik mag wees vir Christene. Die vraag is eerder hóé ons hieroor nadink. ‘n Bekende Afrikaanse sanger wat bekend was vir sy promiskuïteit, is meer as twee dekades gelede gevra waarom hy homself nie tot God bekeer nie. Sy antwoord was dat hy die lewe eers wil geniet en dat hy dan teen die einde van sy lewe tot bekering sal kom sodat hy ook hemel toe kan gaan. So, asof die doel van die hele christelike lewe bloot is om die kaartjie hemel toe te kry. Van ‘n verloste en vervulde lewe hier op aarde is daar nie veel sprake nie.

Die eerste agt hoofstukke van die Markusevangelie: Jesus se populariteit

Die Markusevangelie is sestien hoofstukke lank. Net mooi vir die eerste helfte daarvan is Jesus se loopbaan dié van opgang; die geweldig vinnige groei na gewildheid. Jesus het met gesag gepreek en opgetree. Hy het mense genees, massas op wonderbaarlike wyse gevoed en selfs dooies lewend gemaak. Mense het in massas agter hom aangegaan en Hom hieroor gevolg.

Maar Jesus het geweet dat hierdie verwagtinge nie verband hou met sy diepste roeping nie. Sy roeping was nie om ‘n skouspelagtige bediening te hê waar Hy orals enige vorm ellende, lyding of nood verlig nie. Ja, Hy het die koms van God se koninkryk, heerskappy en vrederyk beliggaam, en daarom sien ons tekens van die koms van die koninkryk oral waar Hy preek, genees, saam met armes en ongewensdes eet, ongeregtigheid uitdaag ens.

Maar Jesus se roeping was groter as dit. Hy moes ly, sterf en uit die dood opstaan om vir eens en vir altyd versoening tussen God, mens en skepping te bewerkstellig. En daarom word die kerk later die Liggaam van Christus genoem. Want nou sou almal wat in Christus verlossing ontvang het, bringers van die koninkryk van God word.

Jesus het dus geweet dat hierdie koninkryksverwagting van die massas wat hom gevolg het, selfs sy dissipels, verkeerd was. Dat dit op menslike behoeftes gegrond was, en nié die roeping van God nie.

Eerste Lydensaankondiging: Markus 8:31-33

Daarom kondig Jesus, tot die skok van sy hoorders, sy lyding en sterwe reg in die middel van die Markusverhaal aan. Hierdie sou die eerste van drie lydensaankondigings van Jesus in die Markusevangelie wees; en elke keer is die dissipels se reaksie hierop baie insiggewend. Sonder uitsondering toon hulle dat ook húlle nie verstaan het waaroor die koms van die koninkryk en Jesus se wérklike identiteit as Messias gaan nie.

Petrus se reaksie op die eerste lydensaankondiging was om Jesus te berispe (Mark 8:32). En dan gebruik Jesus die sterkste woorde wat ons Hom ooit sou hoor sê in die Bybel, “Moenie in my pad staan nie, Satan, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.” Natuurlik was Petrus nie sélf, letterlik, die Satan nie. Hy was immers ‘n dissipel, ‘n volgeling van Jesus. Maar deur in die pad van Jesus se diepste roeping te staan, het hy die werk van die Teenstander gedoen. Jesus se roeping was nie om ‘n aardse ryk vry van Romeinse onderdrukking te bewerkstellig nie.

Net so sou ‘n mens vandag sê dat Jesus se roeping nie was om ‘n aardse lewe van wêreldse voorspoed, sukses en gewildheid vir mense te bewerkstellig nie. Jesus se roeping was om sy lewe neer te lê, uit te giet, vir verlorenes, armes, siekes en ongeregtigheid. Hy het gekom om ‘n nuwe bedeling te bewerkstellig. En dít het gevra dat Hy sy lewe neerlê. Só vra dit dieselfde van ons vandag.

Daarom dat Jesus onmiddellik na hierdie relaas met Petrus preek oor wat die beteken om Hom te volg. Hy sê, “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg” (Mark 8:34).

Verheerliking op die berg: Markus 9:2-9

Ses dae nadat Jesus sy eerste lydensaankondiging gemaak het en gepreek het oor kruisdra en selfprysgawe as die enigste maniere om Hom te volg, gaan Hy en sy beste vriende, Petrus, Jakobus en Johannes teen ‘n hoë berg op. Die Lukasevangelie vertel vir ons dat hulle daar gaan bid het. Hierdie gebeurtenis, Jesus se verheerliking op die berg, word die skarnier in die Markusevangelie. Dit hou die twee helftes van Markus se evangelie bymekaar. Die eerste deel wat handel oor sy gewildheid met al die wonderlike preke en genesings; maar ook die tweede deel wat vertel van toenemende konflik met godsdienstige leiers, hulle sameswerings teen Hom, sy ontmaskering van ongeregtigheid, en dan sy lyding en uiteindelike kruisiging en opstanding. Maar ons kom netnou weer hierheen terug.

Tweede lydensaankondiging: Markus 9:30-32

Die dissipels se reaksie op Jesus se tweede lydensaankondiging bevestig die vermoede dat hulle nog steeds nie verstaan het wat Jesus se diepste identiteit en roeping as Messias was nie: Die dissipels stry oor wie die belangrikste is (Markus 9:33-37).  In lyn met sy eie roeping en ook die roeping van enige iemand wat Hom wil volg, sê Jesus toe, “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees” (Mark 9:35). En toe neem Jesus ‘n kindjie (verse 36 en 37), sit sy arm om hom en sê vir die stryende dissipels, “Elkeen wat so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat my gestuur het.”

Derde lydensaankondiging: Markus 10: 32-34

Teen dié tyd is ons glad nie meer verbaas om te ontdek dat die dissipels se reaksie op Jesus se derde lydensaankondig (Mark 10: 32-34) soortgelyk aan die eerste twee was nie: Jakobus en Johannes wil aan sy regter en linkerkant sit wanneer Jesus as koning heers (Markus 10:35-45). In woorde soortgelyk aan dié tydens sy verheerliking op die berg (vgl Mark 9:6), sê Jesus vir hulle, “Julle weet nie wat julle vra nie” (Mark 10:38). “Elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (Mark 10: 44, 45).

Verheerliking op die Berg: Markus 9:2-9

Jesus se drie lydensaankondigings, sowél as die verhaal van Jesus se verheerliking op die berg, vertel dieselfde verhaal: Nie eens Jesus se intiemste vriende en volgelinge het sy diepste identiteit en roeping as Messias verstaan nie.

God se heerlikheid daal nie neer op die berg Sinai soos toe God in sy heerlikheid afgekom het net voordat Hy die Wet vir Moses gegee het nie (Eks 19:18).

God se heerlikheid daal ook nie neer soos toe die profeet Elia in 2 Konings 2:11 in ‘n wa van vuur met perde van vuur in ‘n stormwind in die hemel opgegaan het nie.

En God se heerlikheid daal nie neer in die Allerheiligste van die tempel soos wat ons daarvan lees in Jesaja 6:1 nie.

Hier sien ons dat God se heerlikheid op Jesus Christus neerdaal. Sheila Cussons skryf so mooi in haar gedig “Verheerliking” dat die dissipels hierdie Jesus gewaar as “’n man gemaak van son.” En die stem uit die hemel bevestig dat hierdie God se geliefde Seun is. Dit moes sekerlik al die verwagtinge wat Jakobus, Johannes en Petrus gehad het, by verre oortref het!

Daarom maak Petrus ‘n voorstel wat vir hom sekerlik na die mees vanselfsprekende ding gelyk het: Kom ons bou drie hutte: een vir U, een vir Moses en een vir Elia (vers 5). Dít is mos waaroor die koms van die koninkryk gaan! Hierdie heerlikheid van God. Hier waar daar nie siekte, sonde, ellende of ongegeregtigheid is nie! Kom ons bly hier en gaan nêrens heen nie! Maar nee, verduidelik Markus: “Hy het nie geweet wat hy sê nie.”

Jesus se verheerliking en God se stem uit die hemel bevestig inderdaad: Hierdie Jesus beliggaam God se doel. In Hom sien ons God se koninkryk in lewende lywe. Alles wat Hy sê en doen bring die koninkryk nader – vestig God se heerskappy net verder en verder; meer en meer. In Jesus sien ons dat God heers op aarde soos in die hemel. Maar God se koninkryk is nog nie volledig gevestig nie. Daarvoor is Jesus gestuur. Daar is werk om te doen. En om te werk aan die vestiging van God se koninkryk is nie ‘n wegneem van alle lyding en ellende in ‘n wonderwerkende oogwink nie. Dit is ‘n reis deur selfopoffering en lyding. Jesus moes homself prysgee. Hy moes aanmeld as die grootste Dienskneg van almal!

Die verhaal van Jesus se verheerliking op die berg eindig met alles wat eensklaps is soos wat dit vantevore was. Die heerlikheid het nie net aangehou en aangehou nie (vers 8). Hulle gaan van die berg van verheerliking af (vers 9) en dan gebeur twee interessante, maar nou reeds voorspelbare dinge:

Eerstens redeneer die dissipels eers weer onder mekaar nadat Jesus vir hulle die swye oplê (vers 10);

en tweedens gaan Jesus voort met die beliggaming van die koms van God se koninkryk. Hy werk in God se diens deur sy medemens te dien: Hy genees ‘n seun (Markus 9:14-29).

Nadat hulle van die berg van verheerliking afgekom het, sou Jesus die reis aanpak na Jerusalem totdat Hy sy lewe op ‘n nog ‘n berg, Golgotta, finaal as offer sou opgee. Hierdie reis was gekenmerk deur verwerping, lyding, swaarkry en selfprysgawe.

Slot:

Jesus se koms na hierdie wêreld was die vervulling van ‘n baie spesifieke roeping: Hy het gekom om God se heerskappy op aarde teenwoordig te stel. Jesus was die beliggaming daarvan; die tempel van die Here in lewende lywe. Sy hele lewe was ‘n geloofwaardige offer in God se diens, want die manier waarop God sy koninkryk wou vestig, moes strook met die diepste karakter van God self: Die weggee van die self uit liefde. Daarom dat God nie met een magsdaad alle lyding en ellende van die aarde af weggevee het nie.

Jesus het nie gekom om enige iemand se agendas te dien of aan hulle verwagtinge te voldoen nie. Hy het gekom om uitvoering te gee aan God se roeping: Om Homself te gee as losprys vir die mense. Later sou die kerk die Liggaam van Christus genoem word omdat ons dieselfde roeping ontvang het. Ook ons moet die koms van die koninkryk beliggaam. Ook ons moet God se heerskappy teenwoordig stel en dit ‘n werklikheid maak daar waar ons is.

Daarom kan ons nie aanspraak maak op die vestiging van aardse, politieke koninkryke in Jesus se Naam nie. Ons kan ook nie aanspraak maak op weelderige en voorspoedige lewens, vry van siekte, ellende of armoede nie. Ons kan wél aanspraak maak op die Een wat vir ons voorgegaan het en die grootste prys namens ons betaal het, sodat ons vry kan wees. Waarlik vry van aardse sekerhede, afgode, leë beloftes of welvaart. Ons kan onsself verloën, ons kruis opneem en Hom volg... sodat ons lewende gebede kan word: “Laat U koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel...”

Amen

 

 

 

Terug