Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

10 September 2017: Ds. André Agenbag

Lees preke

Seksualiteit

Galasiërs 2:11-21

Liewe Vriende, God het ons almal geskape. Mooi en goed het die Here ons gemaak. En tussen ons, tussen hierdie maaksels van die Here, is daar baie verskille. Maar tóg is daar baie meer ooreenkomste as verskille. Byvoorbeeld: ons is almal mense. Maar party van ons is mansmense en ander van ons is vroumense. Of dan seuntjies en dogtertjies.

Nog iets wat ’n groot geskenk van die Here is, is ons seksualiteit. Die Here het dit vir ons gegee om te geniet. Maar omdat seksualiteit so ’n persoonlike onderwerp is, is ons almal eintlik baie kwesbaar wanneer dit oor ons seksualiteit gaan. En alhoewel dit bedoel is – seksualiteit - om so wonderlik te wees, kry baie mense skaam en seer êrens in hulle lewe oor hulle seksualiteit, veral – en daar is baie redes hoekom ’n mens kan skaam voel of seerkry oor jou seksualiteit – maar veral as jy voel jy is so ’n bietjie uit of so ‘n bietjie anders as ander mense. Dan is dit vir jou ekstra pynlik of ekstra persoonlik.

Ek is nou al vir meer as twee-en-twintig jaar ‘n dominee en dit is vir my ’n groot voorreg, maar die volgende verhaal loop soos ’n goue draad regdeur my bediening: Jy kry ’n gewone gesinnetjie en op ’n dag dan is daar een van die kinders in die gesin wat sê: “Pappa, Mamma, ek is gay.”  Dis nooit maklik vir so ’n gesin nie. En ek het dit nou al oral in die wêreld – letterlik in elke gemeente waar ek was - teëgekom. En dan, die kind wat gay is, voel “ek is so gemaak – ek kan nie anders nie, ek kan nie kan help dat ek so is nie. Wat moet ek nou doen?”

So, hier het ons nou die gesinnetjie en van die mense in die gesin is teleurgesteld, party van hulle is selfs kwaad. Teleurgesteld - ek sou so graag kleinkinders wou hê! Nou gaan ek nie kleinkinders hê nie. Ander lede van die gesin voel: Ag, dis eintlik normaal. Kom ons aanvaar nou maar die kind net soos hy of sy is. Ek sal my gay kinders net so liefhê soos die ander kinders. Ek gaan hom of haar volledig aanvaar. En dan is daar baiekeer in so ’n gesin iemand of meer as een persoon wat sê: Dis onnatuurlik, dis verkeerd en party sal sê maar selfs die Bybel sê so – dit kan tog nie reg wees nie. Wat doen ‘n pa en die ma in so ‘n gesin?

Moet hulle die Bybel gaan lees, gaan besluit of dit vir eens en vir altyd reg of verkeerd is? ’n Familievergadering beroep en dan vir die familie sê ons het nou finale uitsluitsel gekry: dis reg of dis verkeerd om hierdie of daardie redes. Moet die kind wat gay is soos in baie gevalle (mense het dit al vertel) onterf word? Moet ons vir die kind sê: ek wil jou nooit weer sien nie, ek wil niks met jou te doen hê nie. Baiekeer gebeur dit.

Of moet ons vir hulle sê: jy is welkom net soos enigiemand anders; wees net jouself. Pappa en Mamma is baie lief vir jou, net soos jy is. Hoe hanteer ons dit? Hoe maak ons daarmee as daar ‘n gay kind in ons gesin is? En dieselfde vraag sou ons natuurlik kon vra aan ons as gemeente: hoe maak ons met die gay mense in ons gemeente? Die wat nog die waagmoed het om hier te wees en om dit selfs openlik te wees.

Ons almal ken nou al tot vervelens toe die debat in die NG Kerk oor selfdegeslag-verhoudings. Ons weet van die besluit in 2015 wat gesê het dat dit nie verkeerd is om gay te wees nie en dat gay mense in verhoudings van liefde en trou mag leef – hulleself mag uitleef. Sommige gay Christene was toe so opgewonde daaroor (en ek het sulke vriende) - hulle het onmiddellik gaan trou. En die persoon vir wie hulle baie lief was vir jare, het hulle in ’n vaste verbintenis mee ingegaan.

Maar daar was ander mense wat baie ongelukkig daaroor was. Mense wat hulle ongelukkigheid op verskillende maniere te kenne gegee het. Van hulle was so ongelukkig, hulle het die kerk verlaat. Ook ons gemeente het sulke mense wat die kerk verlaat het oor daardie besluit.

En in 2016 (ons almal weet wat toe gebeur), toe met ’n meerderheid van ongeveer ses stemme, keer die Kerk haar besluit om. En die Kerk sê: dis steeds nie verkeerd om gay te wees nie, maar jy mag dit net nie uitleef nie – maak nie saak of daar ’n verhouding van liefde en trou is nie. By implikasie sê die Kerk toe vir die mense wat ’n jaar gelede kon gaan trou (of ten minste in vaste verbintenisse van liefde en trou betrokke raak), julle moet nou skei, want dit is nou verkeerd. Dit het sommige mense baie ongelukkig gemaak en hulle het die kerk verlaat oor dit. Ook in ons gemeente is daar mense wat oor die tweede besluit die kerk verlaat het.

Ander mense was weer baie bly en het gesê: uiteindelik het die Woord van die Here geskied en het die Kerk weer teruggekeer na die Woord van die Here.

Die derde hoofstuk in hierdie – mag ek sê amper tragiese – verhaal is dat die NG Kerk binnekort hof toe geneem gaan word oor die 2016-besluit en regsgeleerdes sê daar is ’n baie goeie kans dat die hof die 2016-besluit gaan verwerp en dat ons weer teruggaan na die 2015-besluit -  om tegniese redes of redes wat verband hou met die verkeerde prosedures wat gebruik is. Die stryd sou daarna net voortgesit kon word.

So, dis ’n moeilike en dis selfs ’n morsige ding. Die realiteit is, riende, ons sit in die NG Kerk met twee groepe mense: daar is ’n groot hoeveelheid mense in die NG Kerk wat die een standpunt huldig en daar is ’n groot hoeveelheid mense in die NG Kerk wat die ander standpunt huldig.

Twee groepe waarvan die een sê: dis nie verkeerd om gay te wees nie;  jy mag dit net nie uitleef nie; die ander groep wat sê: dis nie verkeerd om gay te wees nie, jy mag dit wel uitleef in verhoudings van liefde en trou.

Die een lot sê: jy kan gay wees maar jy moet selibaat bly, die ander lot sê: nee, jy kan gay wees, solank dit in ’n verhouding van liefde en trou... in ’n vaste verbintenis is. Dit is die twee groot standpunte.

Ons is lankal verby die punt waar mense sê dis onnatuurlik of dis verkeerd om gay te wees. Dis al dekades gelede nie meer die standpunt waarmee die Evangeliese en Protestantse kerke in die wêreld werk nie.

So, hoe moet ons daarmee maak as gesinne en as gemeentelede? Hoe hanteer ons dit? Ek dink Galasiërs kan ons help. Dit kan ons help, want in Galasiërs kry ons ook twee groepe mense. Twee groepe mense wat die kerklike toneel in die vroeë Kerk vir ten minste tien jaar gedomineer het.

Die stryd wat daar tussen hulle was, was soort van die een ding waaroor almal die heeltyd gepraat het – vir ten minste of meer as tien jaar. En Paulus het daardie situasie op ’n bepaalde manier kom help hanteer. Hy sê: Dít is wat ons moet maak met hierdie twee groepe mense. En wat hy gedoen het, dink ek, is ontsettend belangrik en het die kerkgeskiedenis vir altyd verander. En as dit nie vir Paulus se hantering van die verskille tussen die twee groepe was nie, dan was ons waarskynlik nie hier nie of ten minste op ’n baie ander manier hier bymekaar.

Daar was spanning tussen die Jode en die nie-Jode binne die Christendom. Nou moet ek net verduidelik: die vroeë Kerk het onderskei tussen Christene uit die Jodedom en Christene uit die heidendom. Die Christene uit die heidendom word dikwels sommer Grieke genoem. Onthou, die wêreld van die Nuwe Testament was ’n mengelmoes van mense. Daar was mense van orals uit baie kulture en godsdienste. Maar ons lees, veral in Paulus se briewe, dat hy bewus was van die spanning tussen Christene wat vroeër Jode was en Christene wat vroeër nie-Jode was. Ons lees daarvan in Romeine 9-11, 1 Kor 1, Ef 2, Fil 3, Kol 2:16 en die Galasiërbrief. Dit was ’n groot “issue” vir Paulus en die vroeë gemeentes. Hulle net so sterk (of sterker!) gevoel oor die spanning tussen Joodse en heidense christene as wat ons vandag voel oor die gay kwessie.

Baie van die vroeë gemeentes het ontstaan vanuit die sinagoges. Volgens Handelinge het Paulus sy sendingwerk in ’n spesifieke stad begin deur in die sinagoge te preek. Paulus het dit baie goed reggekry om te verduidelik dat Jesus die Messias is en dat enige ordentlike Jood moet weet dat Jesus die vervulling is van alles wat hulle tot sover geglo het. Dit was beslis die oorspronklike wyse waarop die kerk van Jesus ontstaan het: vanuit die Jode. Maar daar het nie alleen Jode na hom geluister nie, want ons lees in die Bybel dat daar ook “godvresende” nie-Jode in die sinagoges was. Met ander woorde, voor die koms van Jesus al, was daar nie-Jode wat in God geglo het en na die sinagoges toe gegaan het. Ons lees in Hand 17:4, “Party van die Jode het oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. ’n Groot aantal godvresende Grieke en ’n aantal vooraanstaande vroue het ook nog bygekom.” Hierdie godvresende nie-Jode was wél deur die Jode beskou as godvresend en gelowig, maar nie as Jode nie. Vir jou om as deel van die Joodse godsvolk beskou te geword het, moes jy die besnydenis ondergaan het en die dieëtkundige voorskrifte van die Judaïsme nagekom het. Jy moes m.a.w die wet van die Ou Testament navolg. Belangrik om te onthou, egter, is dat daar reeds vóór die koms van Jesus ’n mengsel van mense in die sinagoges aanbid het. Hierdie godvresende nie-Jode was godsdienstig gesproke Jode, maar gemeentelik was hulle as tweederangse Jode beskou.

Hulle het nie in die wet geglo asof die wet jou red nie. Maar die wet, die eet van kosjer kos en die besnydenis was vir hulle tekens van wie ten volle deel was van God se volk of nie. Hulle was dus dankbaar as iemand uit die heidense gelowe tot bekering kom, maar tot tyd en wyl hulle nie die wet en die besnydenis onderhou nie, was hulle hoogstens simpatieke buitestaanders – mense met wie jy oor sekere geloofsake saamgestem het, maar met wie jy nie jou tafel gedeel het nie. Die koms van die Messias het vir die Jode niks hiermee te make gehad nie. Die koms van die Messias was nie genoeg om jou deel van die godsvolk te maak nie. Dit was hoogstens genoeg om jou te red. Daarom vra Paulus: Wat is die toelatingsvereistes tot die volk van God, noudat Jesus as die Messias gekom het? Is dit geloof in God soos wat Hy Hom in die Messias Jesus geopenbaar het, PLUS die onderhouding van die wet en besnydenis? Of is die geloof in Jesus as die Christus opsigself genoeg? By implikasie het Paulus gevra, “As jy ’n heiden is wat tot bekering kom, moet jy eers ’n Jood word voordat jy tot die Christelike gemeente toegelaat kan word?”

So, Petrus het rustig saam met die Galasiërs geëet BUITE die streng Joodse reëls en wette om. Hierdie mense was Christene vanuit die Grieke, hulle was dus voorheen heidene. Mense met geen Joodse agtergrond nie. Tot op daardie stadium was hulle vir Petrus (die Joodse Christen), volledig deel van die kerk... die volk van God. Toe kom “Jakobus se mense” (vers 12) daar aan. Hulle was waarskynlik Joodse Christene uit die hoofsaaklik Joodse gemeente in Jerusalem. Hulle was baie Joods en waarskynlik baie sterk ten gunste van die besnydenis en die onderhouding van die Joodse dieëtkundige wette. En skielik verander Petrus sy houding. Die een oomblik eet hy saam met Christene uit die heidendom en maak die eet van kosjer kos glad nie saak nie en die volgende oomblik begin hy om ’n ander deuntjie te sing! Skielik onttrek hy hom aan die Christene met wie hy vroeër saamgeëet het SONDER die voorwaardes van al die reëls wat onderhou moet word. Hy het homself eenkant begin hou, sê Paulus, omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis. Petrus en die groepie Joodse Christene het die Christene wat NIE uit ’n Joodse agtergrond kom nie, dus UITGESLUIT. Paulus noem dit huigelary.

Hy stel dit nóg sterker: Hy sê, “Toe ek sien dat hulle van die reguit pad van die evangeliese waarheid afwyk...” en dan lees ons dat hy wat Paulus is, hulle berispe het.

“Jy is ’n Jood, en jy hou nie meer aan die Joodse gebruike nie. As jy self leef asof jy nie nie ’n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?”

Daar was drie opsies vir die vroeë kerk rondom hierdie kwessie.

Opsie Een: Christene wat nie Jode was nie, moet eers “Jode” word en volledig die pad van die Jodendom loop. Dan word die Christendom ’n soort onderafdeling van die Jodendom. Dan het die kerk vandag ook heeltemal anders gelyk.

Francois Wessels, jarelank predikant in die Kaap met die roeping van bediening aan die Jode, skryf dat as Silas en Barnabas hulle sin gekry het, sou die hele vroeg-Christelike kerk ’n onderskeid moes maak tussen Christene uit die Jodendom en Christene uit die heidendom. Dan sou die Christendom ’n sekte van die Jodendom gebly het. Almal wat tot bekering gekom het, sou ook Jode moes word om deel van die kerk van Jesus te wees.

Opsie Twee: Elke groep word erken as ’n aparte groep en van nou af kry jy twee soorte Christelike gemeentes: Joods-Christelike gemeentes en heidens-Christelike gemeentes. Dié waar jy na jou bekering eers ’n Jood moet word, en dié waar dit nie saakmaak nie.

Opsie Drie: (Dis die opsie wat Paulus kies). ’n Hele nuwe basis word gevind waarby beide groepe op ’n gelykwaardige basis deel word van die nuwe gemeenskap. Ons word ’n nuwe gemeenskap. Nie Joods-Christelik of heidens-Christelik nie. ’n Nuwe gemeenskap. Dit is Paulus se bydrae om die probleem in die vroeë kerk te help oplos. Dit is die insig wat die kerk se geskiedenis verander het. Wat gemaak het dat ons vandag lyk soos ons lyk. Ons dink onmiddellik aan Gal 3:28, “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”

Wat sê dit alles vir ons oor die brose onderwerp van seksualiteit? Dit is duidelik dat ons twee groeperinge in die NG Kerk het tov selfdegeslagverhoudings. Ook in ons gemeente is daar verskil van mening. Sommiges wil hê daar MOET nou vir eens en vir altyd gesê word dat dit verkeerd is, want volgens hulle staan dit helder en duidelik in die Bybel. Ander wil hê dat daar vir eens en vir altyd gesê moet word dat dit reg is om in selfdegeslagverhoudings van liefde en trou te wees.

Ek reken dit sal ’n groot fout wees om hierdie saak só op die spits te dryf, dat ons onsself in twee verdeel. Paulus se brief aan die Galasiërs wys dat daar ’n derde opsie is. ’n Opsie waarvolgens ons sê dat die gemeente soos ’n gesin is. In die gesin is daar ’n gay kind. Almal in die gesin voel nie dieselfde oor die saak nie. Daar is baie verskillende gevoelens.

Maar soos met die verhaal van die Barmhartige Samaritaan is die vraag om te vra, nie die vraag van die wetsgeleerde, “Wie is my naaste?” nie. Want hy wou die vraag vra om sommiges uit en ander in te sluit. Hy wou regverdiging vind vir sy eie vooroordele. Regverdiging vir die feit dat hy wil hê dat sommige mense NIE sy naaste moet wees nie. Dat daar sommige mense is vir wie hy NIE lief hoef te wees nie. Maar Jesus troef hom deur ’n teenvraag te vra: Wie is die een wat aangerand is se naaste? M.a.w ons begin ons hantering van die saak nie vanuit die perpektief van die wetgeleerde nie, maar vanuit die perspektief van die een wat lê en bloei.

’n Gesin begin die saak van ’n gay kind hanteer vanuit die perspektief van die kind. Dis my kind. Dis my broer. Dis my suster. Ek ken hom of haar. Ek het hom of haar lief. Sy sal altyd ’n geliefde lid van die familie bly, met net soveel voorregte as al die ander lede van die gesin. Ja, daar is onder ons diégene wat ’n ander opinie het, en daardie opinie sal gerespekteer word. Maar altyd is die belangrikste beginsel dat die een wat blootgestel is, volledig aanvaar sal word.

Nou mag jy dalk vra, “Maar is niks meer sonde nie?” Dan sal my antwoord wees: Wees baie versigtig vir daardie vraag, want daar is min Christene wat gaan probeer om ’n saak uit te maak ten gunste van moord. Ons het hieroor baie groot konsensus. Jy maak nie iemand anders dood nie. Daar is sekere sake waaroor ons baie eenstemmigheid het. Maar daar is ander sake waaroor daar groot meningsverskille bestaan. Die vraag is nou: Wat doen ons met die sake waaroor ons van mekaar verskil? Want ek kan julle belowe dat daar ná die gay kwessie in hierdie kerk en al die kerke in die wêreld nog baie ander kwessies gaan wees waaroor ons van mekaar gaan verskil. Só van mekaar verskil, dat ons wil wegbreek van mekaar of mekaar se geloof in twyfel wil trek. Die gay-kwessie is beslis nie die laaste kwessie waaroor Christene van mekaar gaan verskil nie, en by Paulus leer ons dat dit ook nie die eerste kwessie is nie. Wat gaan van die kerk van Christus word as ons mekaar se integriteit bevraagteken elke keer as ons van mekaar verskil? Gaan ons afstig en afstig en afstig?

Ek pleit dat ons Paulus se derde opsie volg: Die weg van die liefde. Dat ons onsself sal verstaan as ’n gesin. Dat ons nie alles op die spits gaan dryf nie. Dat ons mekaar sal verdra. Ook ons gay mense. Dat ons nie hulle integriteit gaan bevraagteken nie. Dat ons nie in die eerste of die laaste instansie die finale antwoord gaan soek van wat reg of verkeerd is nie, maar dat ons eerder sal vra: hoe leef ek met mense saam wat regtig van my verskil, maar op só ’n manier dat almal regtig sal tuis voel?

Dít is volwassenheid. Dit is nie maklik nie, nê? Ons almal weet dit. Ek voel regtig dat die Woord van die Here van ons vra om ’n gesin van die Here Jesus te word wat volwasse is in ons liefde vir mekaar. Daar moet ruimte wees vir die gay kind. Maar daar moet ook ruimte wees vir die kind wat sukkel om dit te aanvaar en te verstaan. Vir beide moet daar plek wees. Ons moet mekaar nie probeer verander nie. Maar ons moet vir mekaar in liefde kan sê: Ek verskil van jou. Maar ek moet ook vir jou kan sê: Ek het jou in die Here se Naam só lief, só lief soos wat die Here my liefhet. Want wie sou ek dan nou wees om beter te wees as jy of enigiemand anders?

Amen

Terug