Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

10 September 2017: Dr. Tinus van Zyl

Lees preke

‘n Hart vir mense: Seksualiteit

Skriflesing:    Galasiërs 2:11-21

Debatte

‘n Mens mag dalk wonder: Waarom op dees aarde is deesdae al hierdie debatte in die kerk, oor homoseksualiteit, oor Belhar, en so meer. ‘n Mens mag by jouself dink: Waarom is dit nodig om al hierdie gesprekke en argumente te hê? Kan ons nie maar net terugkeer na die Bybel en die eenvoudige waarheid van die evangelie glo en verkondig nie?

As ons na Bybel gaan ...

Maar dan, wanneer ons dit doen, wanneer ons terugkeer na die Bybel en lees wat daar staan, dan vind ons dat sulke debatte is so oud soos die kerk. Reg van die begin af, met dit ontstaan van die kerk, was daar sulke debatte in die kerk.

Elke brief

So te sê elke brief in die Nuwe Testament, die briewe van Paulus, Petrus, Jakobus en Johannes, is in reaksie op twisgesprekke in die eerste gemeentes. En in party briewe  spreek Paulus sommer ‘n hele reeks debatte binne die kerk aan.

Debatte oor...

Debatte oor wat is reg en wat is verkeerd, wat is sonde en wat is nie sonde nie, moet volgelinge van Christus nog die wet van Moses onderhou of hoef hulle nie meer nie, moet alle volgelinge van Jesus besny word, moet hulle nog die Sabbatdag onderhou, mag hulle varkvleis eet, mag hulle vleis eet wat aan afgode geoffer is, watter van die wette geld nog en watter geld nie meer nie?

Kwessies van die dag

Hierdie was die teologiese en morele kwessies van die dag en die vroeë kerk het hewige debatte daaroor gevoer!

Formuliere van eenheid

Dieselfde geld vir die formuliere van eenheid wat in die eerste paar eeue van die kerk ontstaan het, waarvan die Apostoloese Geloofsbelydenis wat ons nounet saam bely het, ook een voorbeeld is. Hierdie formuliere van eenheid was die resultaat van hewige debatte in die kerk, waaroor daar groot stryd en skerp opponerende standpunte was.

Belydenisskrifte

Dieselfde geld ook van die honderde belydenisskrifte wat in die reformasie ontstaan het, soos onder andere die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordste leerreëls.

Onenigheid en geweld

Hierdie belydenisskrifte het nie uit die lug uit geval nie, maar was die resultaat van hewige debatte, stryd en verskille binne die kerk, en dit het met groot onenigheid en steenstand, vervolging en selfs geweld gepaardgegaan.

Robuuste debatte

So as ons robuuste debatte binne die kerk het, en niemand het nog iemand anders fisies aangeval of vervolg nie, dan kan ons nog eintlik goed voel oor onsself, want in die kerk se geskiedenis het debatte nie altyd so vreedsaam verloop nie.

Goue draad

Maar ‘n goue draad wat dwarsdeur die Nuwe Testament loop, te midde van al hierdie debatte en verskillende standpunte, is dat gelowiges, gedooptes, se eenheid in Christus is groter en sterker as ons verskillende standpunte.

Een in Christus

Ons kan met mekaar stry en van mekaar verskil oor hierdie teologiese argument of daardie morele standpunt, maar die begin en die einde van elke gesprek is dat ons één is in Christus, want ons is almal sondaars wat uit genade alleen verlos is.

Efesiërs 4

Ons mag radikaal van mekaar verskil oor hoe ons die Bybel verstaan en hoe ons die wet van Moses toepas, maar dit wat vasstaan is dat ons steeds één is, want ... “[daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God [ons] geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.”

Vertrekpunt

In die kerk, tussen gelowiges, tussen gedooptes, is ons vertrekpunt altyd: ons is verlos uit die volkome genade van Jesus Christus, en daar is niks wat ons kan doen wat iets by daardie verlossing kan toevoeg of iets daarvan kan wegvat nie.

Doop en nagmaal

En daarom is ons almal één in Christus, want ons almal het in die doop saam met Christus gesterf en opgestaan, en ons almal sit om dieselfde tafel van die Here en ontvang sy genade, in die vorm van die brood en die beker, met die leë hande van geloof, wat niks het om te gee nie en net as bedelaars God se goedheid en vergifnis ontvang.

Getoets om ‘n tafel

Dis interessant hoe dikwels ware Christenskap getoets word rondom ‘n tafel.

Jesus

Jesus het voortdurend in sondaars se huise ingegaan en saam met hulle aan tafel geëet, wat die kenners van die Bybel en die wet nie kon verdra nie, want dit was ‘n oortreding van die wet van Moses, dit was ‘n morele taboe, dit het jou onrein gemaak om in sondaars se huise in te gaan en saam met hulle te eet.

Petrus

En nou weer, in Galasiërs 2, word Petrus se volgelingskap van Christus getoets rondom ‘n etenstafel. En die ironie is dat Petrus glad nie ‘n probleem daarmee gehad het om saam met die Griekse gelowiges te eet nie, want hy het self glad nie meer die wette van Moses onderhou nie.

Maar toe Jakobus en sy groep, wat nog voorstanders daarvan was dat volgelinge van Christus die wet moet onderhou, het Petrus bang geraak vir wat hulle van hom gaan dink, en toe begin hy huigel, en toe begin ander gelowiges saam met hom huigel.

Afgedwaal van evangeliese waarheid

Omdat hulle bang was vir wat ander mense van hulle gaan dink, het hulle afgedwaal van die evangeliese waarheid, naamlik dat ons slegs deur die genade in Jesus Christus verlos word en deur niks anders nie.

1857

In ons eie kerk se geskiedenis het ons voorouers dieselfde fout gemaak, in 1857, toe daar sommige gelowiges was wat nie meer aan die nagmaaltafel wou aansit saam met bruin en swart broers en susters in Christus nie.

En alhoewel die kerk duidelik geweet het dat die evangeliese waarheid is dat alle gelowiges één is in Christus danksy sy genadige verlossing, en dat ons deel is van die één liggaam van Christus deur ons doop, en dat ons daarom om één tafel sit en van die één brood eet en uit die één beker drink, het die kerk afgewyk van daardie evangeliese waarheid “ter wille van die swakheid van sommige”.

Nie Durbanville nie

Nou, ek kan met trots sê dat hierdie gemeente nie daardie besluit van die kerk nagevolg het nie en dat wit en bruin en swart gelowiges in hierdie gemeente voortgegaan het om saam te aanbid en saam die nagmaal te gebruik lank na 1857.

Wonder hieroor

Ek het nogal by myself gewonder, waarom is dit so dat ons ware Christenskap, ons dissipelskap, getoets word by tafelgemeenskap? Waarom is dit so dikwels rondom ‘n tafel, dat ons getoets word of ons regtig met ons harte glo dit wat ons met ons mond bely?

Moeiliker as teorie

Ek wonder of dit nie is dat wanneer ons saam aan tafel sit, dan moet ons mekaar se menslikheid, mekaar se liggaamlikheid, erken. Dis maklik om in teorie te sê: “Ek is lief vir alle mense.” Dis moeiliker om saam met iemand aan tafel te sit en saam te eet, as die ander persoon vir my vreemd is, of as ek hulle lewenswyse onaanvaarbaar vind, of as ek om een of rede gril vir hulle liggaamlikheid.

En tog

En tog, tog is dit juis wanneer ons saam met iemand aan tafel sit en hulle in die oë kyk, wat ons ook dikwels ontdek dat daardie persoon ook maar net ‘n mens is soos ek – ‘n mens wat honger en dors raak, soos ek, ‘n mens met behoeftes en begeertes, soos ek, ‘n mens wat graag liefgehê en aanvaar wil word, soos ek.

Gesprek oor homoseksualiteit

Die gesprek oor homoseksualiteit in die kerk, gaan nie oor ‘n saak of oor ‘n beginsel nie, dit gaan oor mense. Ons eie mense. Dis ons eie kinders en kleinkinders, ons eie broers en susters, nefies en niggies. Dis ons kollegas en vriende.

Nog meer

Nog meer, dit is nie net mense wat ons ken nie, maar dit is in baie gevalle ook medegelowiges, broers en susters in Christus, gedooptes, gelowige mense, wat die Heilige Gees ontvang het, wat saam met ons aanbid en saam met ons die Bybel lees in ‘n opregte soeke na God se wil vir hulle lewe.

Galasiërs vra

Galasiërs 2 vra nie van ons as medegelowiges om oor elke teologiese en morele saak saam te stem nie. Wat Galasiërs 2 van ons vra, is om, ten spyte van ons verskillende sieninge en standpunte, te bely dat ons eenheid in Christus groter en sterker is as al ons verskille, dat Christus se genade groter en meer is as al ons sonde, en om saam aan die tafel van die Here te sit en sy genade met leë hande te ontvang.

Metafoor: Gesin

Stel jouself voor dat die kerk ‘n huisgesin is. En die gesin sit om die tafel, besig om saam te eet. En op een gegewe dag, maak die oudste seun ‘n aankondiging: “Ek is gay.”

Almal in die gesin reageer verskillende op hierdie verrassende, skokkende aankondiging:

Pa dink: Ag nee man, dis sommer bog. Jy was ‘n WP rugby speler, en die meisie loop agter jou aan. Dis sommer nonsens.     

Ma is bekommerd oor kind: Wat gaan van hom word? Wat gaan mense van hom sê en van hom dink? En daar gaan haar drome van ‘n troue en kleinkinders.

Die jonger broer is veroordelend: Dis sonde! Die Bybel sê duidelik dis sonde! Jy moet dit nou dadelik stop.

Sussie dink dis wonderlik. Sy is baie trots op haar broer dat hy die moed gehad het om dit erken aan sy gesin en dat hy nie meer met hierdie groot geheim hoef rond te loop nie.

Wat nou gemaak?

Hopelik sal die ouers die wysheid hê om te sê: Hierdie is ons vertrekpunt en dit is hoe ons hierdie nou verder gaan hanteer: Maak nie saak wat ons verskillende reaksies en standpunte is nie: Ons bly ‘n gesin. Ons gaan mekaar nie los nie. Ons kan verskil van mekaar, ons kan selfs hewige debatte hê, maar ons gaan mekaar nie los nie, want ons is ‘n gesin, en ons eenheid as gesin is belangriker as ons verskillende standpunte.

Mag ons

Mag dit ook ons as kerk van Here Jesus se vertrekpunt en eindpunt wees: ons eenheid in Christus, die feit dat ons almal verlos word uit die suiwer genade in Jesus Christus, die feit dat ons almal met die dieselfde doop gedoop is, dat ons dieselfde Here dien, dat dieselfde Gees in ons elkeen werk, dat ons ons bes probeer om ons lewe in te rig vogens dieselfde Woord van God, dat ons dieselfde hoop in Christus deel, en dat ons daarom saam om dieselfde tafel van die Here kan aansit, waar ons almal Christus se genade met die leë hande van geloof in ontvangs neem. Amen.

Terug