Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

10 Maart 2019 Dr. Tinus van Zyl Klassieke Diens

Lees preke

10 Maart 2019 – Klassieke diens

Reeks: Drie maal God – Tema: God van vrede

Skriflesing:    Efesiërs 2:11-22

Wie is God?

Ons het hierdie kwartaal nagedink oor die vraag: Wie is God? Wie is die drie-enige God van die Bybel? Die God wat vir ons is, die God wat by ons is, die God wat in ons is?

Doop

En nêrens sal jy ‘n beter prentjie kan kry om daardie vraag te beantwoord, as wat jy sopas gesien het in Petrus se doop nie:

God is ... die Vader wat ons liefhet en vir ons sorg.

God is ... die Seun, Jesus Christus, wat in genade ons Here en Verlosser is.

God is ... die Heilige Gees wat in ons woon en deur ons werk.

Net net een ding nie

Die drie-enige God help ons om te verstaan dat jy nie vir God kan reduseer tot een ding nie. God is nie net vir ons nie, maar God is ook by ons, God is nie net by ons nie, maar God is ook in ons. Daar is altyd iets meer om te sê en om te verstaan van Wie God is. Jy kan een deeltjie van God in isolasie verstaan nie. Jy moet die hele prentjie raaksien.

Doop in isolasie

Net soos jy nie Petrus se doop sal verstaan, as jy dit in isolasie bekyk nie. Om Petrus se doop te verstaan, moet jy ook sy ouers se geloof raaksien. En om sy ouers se geloof te verstaan, moet jy ook hulle doop raaksien. En om hulle doop te verstaan, moet jy ook hulle ouers se geloof raaksien. En om hulle ouers se geloof te verstaan, moet jy ook hulle doop raaksien.

Fout van verlede

‘n Fout wat ons dominees in die verlede gemaak het, toe ons vir ons mense probeer verduidelik het hoekom babatjies gedoop kan word, nog voordat hulle hul geloof bely, is dat ons die doop teenoor geloof opgestel het.

Net genade

Ons het die verbondsdoop verduidelik deur te sê dat geloof nie belangrik is nie. Ons het dit probeer verduidelik deur te sê dat die doop gaan oor dit wat God uit suiwer genade doen, en geloof is iets anders, dit is iets wat ons doen.

Halwe waarheid

Maar dis net ‘n halwe waarheid. Ja, dis reg dat die doop wys vir ons wat God uit suiwer genade doen, maar geloof is nie onbelangrik nie, en geloof is ook nie óns prestasie nie.

Geloof is werking van Gees

Geloof is die werking van die Heilige Gees ín ons en deur ons – en dit is baie belangrik! Daarom word ons nie net gedoop in die naam van die Vader en die Seun nie, maar ook in die Naam van die Heilige Gees!

Voortdurende bekering

Die Heilige Gees is die één wat ons voortdurend tot bekering bring, wat ons voortdurend omdraai – om ons rug te draai op die bose, om ons sonde met berou te bely, om in geloof na Christus toe te draai en om met hoop vir Christus te leef. Dit is die werking van die Heilige Gees in ons en dit is nét so ‘n groot genade en nét so ‘n groot wonderwerk.

Voortdurende wonderwerk

Die doop is nie ‘n eenmalige wonderwerk nie. Dit is ‘n voortgaande wonderwerk. Die wonderwerk dat God die Vader ons insluit in die liefdesverbond, die wonder dat ons in genade verbind is aan Jesus Christus en aan sy kerk, die wonder dat die Heilige Gees ons daagliks van binne af vernuwe, sodat nuwe mense kan wees, wat met ons harte glo en met ons lewens bely dat die drie-enige God ‘n God van liefde en genade is.

Die karakter van God

Deur die kwartaal het ons gesels oor Wie hierdie drie-enige God is en wat hierdie God alles doen: dit is die God wat skep, die God van liefde, die God van genade, die God wat bevry, die God van geregtigheid en vanoggend sluit ons af met die God van vrede.

Vrede – nie net naby of ver nie

En weereens sal ons ‘n fout maak as ons vrede te enkelvoudig verstaan, dit in isolasie bekyk. Dikwels as ons aan vrede dink, dan dink ons óf te naby, óf te ver. Ons dink dat die Heilige Gees hier vir my vrede in my hart moet gee. Of ons dink dat God die Vader vrede op aarde en in ons land moet bring, daar ver.

Dit ook

Dit is nie verkeerd nie. Dit is 100% korrek. Die Heilige Gees bring vrede in ons gemoed en God die Vader se droom vir die wêreld en vir ons land is in der daad vrede, sjaloom, wat beteken heelheid, herstel, genesing, voorspoed en florering van mense.

Vrede in Christus

Maar die vrede wat die Gees in my hart gee en die vrede op aarde wat God die Vader se droom is vir die wêreld, kan nie losgemaak van die konkrete vrede wat Christus bring tussen my en vyand nie.

Jode en nie-Jode

Efesiërs 2:14 sê: “Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het.” Dit is ‘n ongemaklike waarheid. Dit sê: Ek gaan nie vrede in my hart kan ervaar, en daar gaan nie vrede op aarde kan kom, as ek nie bereid is om die vrede te aanvaar wat Christus bring tussen my en my mees gehate vyand nie.

Baie naby

En gewoonlik is daardie vyand iemand baie naby aan my. Dis gewoonlik nie ‘n vreemde vyand daar ver weg nie, maar ‘n broer of suster, ‘n ouer of ‘n kind, selfs my man of vrou, dalk my eks-man of eks-vrou. Iemand wat ek nog nie vergewe het nie, of vir wie ek nie om vergifnis wil vra nie.

Broers en susters

Dis dikwels nie iemand van ‘n ander plek nie, maar sommer my buurman of buurvrou. Nie iemand van ‘n ander geloof nie, maar sommer my eie broers en susters in Christus. Dis nie die Moslems, Hindus of Boeddhiste met wie ons moet vrede maak nie, maar sommer met die VGK, ons eie bruin en swart broers en susters in die NG Kerk, wat in stukke gedeel is.

Nie vreemdelinge nie

Ons “vyande” is gewoonlik mense vir wie ons eintlik baie lief is, maar mense met ‘n wie ons ‘n slegte en ‘n hartseer geskiedenis deel, ‘n geskiedenis waarin ons mekaar seergemaak en verwerp het, ‘n geskiedenis waarin daar onreg en benadeling plaasgevind het, ‘n geskiedenis waarin daar bitterheid is en daar nog nie ware berou en vergifnis gebeur het nie.

Verstaan nie doop nie

Wanneer ons nie vrede wil maak nie, is dit omdat ons nie ons doop verstaan nie. Ons verstaan nie dat ons deur ons doop werklikwaar, soos Efesiërs 2 sê: één gemaak is met Christus nie.

Verenig met Christus

Deur ons doop word ons verenig met Christus. Ons word ingelyf in die liggaam van Christus. Ons word ingeënt in Christus. En as jy een is met Christus, ingelyf in sy liggaam, ingeëent in Hom, dan is jy verenig met die hele liggaam van Christus, wat jou vyand insluit.

Geen vrede nie

Daarom is daar géén vrede met God, versoening met God, sonder vrede en versoening met jou buurman, jou broer en suster, jou naaste nie. Dit is een en dieselfde ding. Om met Christus verenig te wees, beteken om gelyktydig met God en met jou naaste versoen te word.

Vir my en vir my vyand

Die feit dat God die Vader vír my is en dat God die Vader vír my vyand is, is een en dieselfde feit. God kan nie vír my wees en téén my vyand wees nie. Want in Christus is God die Vader vír my en vír my vyand!

Toe ons nog vyande was

Romeine 5 sê dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog God se vyande was. God was reeds vír ons, toe ons nog téén God was. Dit is wat die doop tog vir ons helder wys. Dat nog voordat ons vir God kan kies, het God reeds vír ons gekies.

Nie vir my en teen my vyand nie

Maar nou kan ek nie dink dat God vir my is, wat gedoop is, maar teen my vyand nie. Want in Christus is God vír my en vír my vyand. In Christus is ek en my vyand reeds versoen.

Om teen God te draai

As ek nou wil draai téén my vyand, dan draai ek téén God. Dan draai ek téén Christus. Dan draai ek téén my eie doop! Dan draai ek téén die Gees wat God se vrede in my wil bring.

Nog ‘n denkfout

Maar nou is daar ‘n verder ding wat ons verkeerd verstaan. Ons dink dat Christus slegs vrede moontlik maak. Of dat Christus vir óns vra om vrede te maak. Maar Christus ís reeds ons vrede, sê Efesiërs.

Bo-oor muur klim

Ons verstaan dit verkeerd as ons dink dat daar ‘n muur van vyandskap tussen my en my vyande is, en nou vra Christus vir my om bo-oor hierdie muur te klim. Nee, Christus het reeds die muur van vyandskap tussen my en my vyande afgebreek.

Net Christus staan tussen ons

Die enigste ding wat nou staan tussen my en my vyande, is Christus. As ek nader aan Christus beweeg, beweeg ek nader aan my vyand. En as ek wegdraai van my vyand, draai ek weg van Christus.

Wat was die muur?

Maar wat is die muur wat tussen ons en ons vyande gestaan het? Wat is die muur wat Christus kom afbreek het? In Efesiërs 2 se konteks, met die vyandskap tussen Jode en nie-Jode, was die muur, die wet. Dit sê die teks duidelik in vers 14-15:

Die wet

“Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos 'n muur skeiding gemaak het. Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef ...” Die wet van Moses was die muur, wat Christus kom afbreek het, kom ophef het.

Goeie ding

Dit is eintlik baie verbasend, want die wet van Moses is tog iets wonderlik, iets goed, iets mooi – God Self het dit vir Israel gegee, en Jesus het gesê dat Hy nie gekom het om die wet tot niet te maak nie, maar juis om die wet te vervul.

Hartseer geheim

Hierin lê daar vir ons ‘n baie diep en ‘n hartseer geheim. So dikwels is dit die mooi dinge, die goeie dinge, dinge wat van God af kom, wat ons gebruik om mure te bou tussen ons en ons vyande.

Goeie en mooi dinge

Goeie en mooi dinge soos die wet. Goeie en mooi dinge soos die Bybel. Goeie en mooi dinge soos die belydenisskrifte. Goeie en mooi dinge soos die kerkorde. Goeie en mooi dinge soos die doop. Goeie en mooi dinge soos die nagmaal. Goeie en mooi dinge soos ons gereformeerde tradisie. Goeie en mooi dinge soos ons geloof, ons belydenis.

Bou mure

Dit is seker die hartseerste ding: dat ons goeie en mooi gawes uit God se hand uit kan gebruik om mure te bou tussen ons en ons vyande. En dan is dit dikwels juis die dinge wat ons moes verenig het: soos ons een geloof in Christus, ons een doop, die nagmaal waar ons verenig word in die een liggaam van Christus.

Gemeente se verhaal

Hierdie gemeente het ‘n interessante verhaal wat dit betref. In 1857 het die sinode van die NG Kerk gesê dat alhoewel dit onbybels is dat die nagmaal apart gevier word tussen wit en bruin en swart gelowiges, sal hulle ‘n uitsondering sal maak, ter will van die swakheid van sommige lidmate, wat nie saam met hulle bruin en swart broers en susters wil nagmaal vier nie.

Vier steeds nagmaal saam

Hierdie gemeente het egter aangehou om as een gemeente saam te aanbid en die nagmaal te vier. Alhoewel dit algemene praktyk geword het in ander gemeentes dat wit, bruin en swart gelowiges van die nagmaaltafel geskei is, het hierdie gemeente vir nog ‘n driekwarteeu as een gemeente saam aanbid en saam die doop en die nagmaal gevier. Tot in die 1930’s, toe die sendinggemeente gestig is.

Illustrasie

Hierdie verhaal illustreer so mooi hoe ons goeie en mooi dinge kan vat, soos die nagmaal, dinge wat van God af kom, dinge wat eintlik bedoel is om ons saam te bind, en ons maak daarvan mure om ons te verdeel.

Mure van verbeelding

En dan raak daardie mure so hoog in ons verbeelding dat ons later dink ons kan glad nie meer daar bo-oor kan kom nie. Maar in der waarheid is daar geen muur nie. Christus het reeds die muur afgebreek. Die muur bestaan net in ons verbeelding.

Berlynse muur

30 jaar terug, op die 9de November 1989, het niemand geweet dat dit die dag is wat die Berlynse muur gaan val nie. Mense was nog oortuig dat die muur vir altyd sal staan, dat dit nooit afgebreek sal kan word nie.

Die segsman van Oos-Duitsland, Günter Schabowski, was pas aangestel in sy pos en hy was nie goed ingelig toe hy die media moes toespreek nie. Hy het aankondig dat daar in die toekoms ‘n bietjie meer beweging tussen Oos- en Wes-Duitsland sal wees.

Hy het seker aangeneem dat daar ‘n lang, geordende aansoekporses sal wees. Maar toe ‘n joernalis hom vra wanneer hierdie beweging aanvang gaan neem, het hy in onkunde geantwoord: “Sover ek weet, onmiddelik.”

En onmiddelik het Oos- en Wes-Duitsers, mense wat eens burgers van dieselfde land was, mense wat eens saam in een stad gewoon het, kollegas, vriende en familie van mekaar, begin om die muur vanuit die Ooste en die Weste af te breek. En in een dag, het die eens magtige Berlynse muur, geval.

Die werklike muur tussen Oos- en Wes-Duitsers was nie die Berlynse muur van baksteen beton nie, maar die muur in hulle eie verbeelding. Toe die muur in hulle verbeelding val, toe val die muur van baksteen en beton binne een dag.

Muur in jou verbeelding

Die muur tussen jou en jou vyand, bestaan net in jou verbeelding. Moenie daarin vaskyk nie. Moenie daarin glo nie. Christus het reeds die muur afgebreek. Glo in Christus. Glo in jou doop.

Die enigste ding tussen jou en ...

Die enigste ding wat tussen jou en jou vyand staan, is Christus. En die enigste dinge wat tussen jou en God staan, is jou vyand.

Dit is nie meer jou vyand nie

Maar dit is nie meer jou vyand nie. Dit is reeds jou broer of jou suster in Christus. In Christus is julle reeds versoen met mekaar en versoen met God. Stap eenvoudig na jou broer of jy suster en sê: Vrede vir jou. Amen.

Terug