Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

09 September Ds. André Agenbag Klassieke Diens

Lees preke

9 September 2018                                         Durbanville Gemeente: Klassieke Diens

Psalm 137      

Verkondiging: Om te onthou en jou eie lied te sing

By die riviere van Babel

  • Suide van Amerika. Oktober: Columbus Dag. Die aankoms van Columbus in die sg Nuwe Wêreld. Vrolik: Flotte met kinders, trompoppies. Mense wat soos Columbus en sy mense aangetrek het. Veteraan motors. Musiek: Karnaval.
  • Deel van die optog: Die Inheemse Amerikaners. Die ou mense wat daar was toe Columbus in die “nuwe wêreld” aangekom het. Ook in hulle tradisionele klere.
  • Ons het vreeslik met die Inheemse Amerikaners geïdentifiseer, want ons het baie na Suid-Afrika, na óns land verlang.
  • Een van die geleenthede wat jy by die Columbus Dag Karnaval kan bywoon, is ‘n “Pow-wow”: ‘n stambyeenkoms. Vergadering. Vier fees. Dans.
  • ‘n Digter staan op by die Pow-wow en begin met ons praat: “Ons het geen geloof of identeit sonder grond, die bison en die arend nie. Ons is verbind aan hierdie drie dinge. Niks sal OOIT weer dieselfde wees nie.”
  • “Ons kan nie wees wie ons is sonder die grond, die bison en die arend nie.”
  • Israel sit by die riviere van Babel: Gestroop.
  • Identiteit gekoppel aan jou land, jou gewoontes, jou gebruike, jou kultuur, jou geloof.
  • Weg van hulle land. Israel lê verwoes. Jerusalem en die tempel op die berg Sion is met die grond gelykgemaak. Hulle kan nie meer hulle godsdiens en geloof beoefen binne die ruimtes en heilige plekke waar dit tuishoort nie.
  • Hulle is gestroop.
  • Sonder identiteit.
  • By die riviere van Babel ween hulle.
  • Só gestroop was die Israeliete.

Sing vir ons ‘n lied!

  • Israel sê: By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het soos daardie riviere gevloei as ons aan Sion dink!
  • Die mense van die land wat hulle oorwin het, in ballingskap weggevoer het en nou onderdruk het, het gesien dat hierdie Israeliete singende en dansende mense was.
  • Hulle het gesien dat hulle hulle musiekinstrumente saamgedra het. Al die pad van hulle vaderland af.
  • En sarkasties roep hulle uit: Nou gaan julle ‘n ander deuntjie sing! Kyk wie’s NOU baas! Sing vir ons ‘n vrolike lied oor Sion!
  • a.w: Sing vir ons ‘n vrolike lied oor hierdie God van julle wat duidelik nie magtig genoeg was om julle teen ons te beskerm nie. Julle en julle God het verloor. Wie is julle NOU? Toe! Sing vir ons ‘n vrolike lied oor Sion!

Hoe kan ons die Here se lied sing in ‘n vreemde land?

  • Maar Israel verseg om hierdie vrolike lied te sing. Hulle hang liewer hulle liere aan die wilgerbome van daardie land op.
  • Hulle sê: “Hoe kan ons die lied van die Here sing in ‘n vreemde land?
  • Wat bedoel hulle?
  • Hulle bedoel ten minste twee dinge:
  • Eerstens: Ons kan nie vals sing nie. Nie vals, soos in, van die noot af nie. Maar vals, soos om nie eg vanuit die hart te sing nie.
  • Daar is nie ‘n vrolike lied in ons harte nie. Daarom kan ons nie ‘n vrolike lied sing nie. Ons hang liewer ons liere aan die wilgerbome op!
  • Tweedens: Ons kan nie iemand anders se lied sing nie. Of ons sing ons eie lied, of ons bly stil en ons hang ons liere aan die wilgerbome op.
  • Nee, wat ons sit hier in Babel en ons trane vloei soos die riviere van Babel. ‘n Vrolike lied is daar nie in ons nie. En ons sal ook nie JULLE lied sing nie!
  • Maar daar ís ‘n lied om te sing. Daar móét gesing word: Maar dis ‘n klaaglied. ‘n Treurlied.
  • Boney-M het in 1978 die liedjie, By the Rivers of Babylon, bekend gemaak. Dit het platinum status bereik en is blykbaar tot vandag toe een van die tien mees suksesvolle liedjies in Groot Brittanje.
  • Maar dis ‘n lied. Hulle sing Psalm 137 asof dit ‘n lied is.
  • Maar die Israeliete vra dan: Hoe kan ons die Here se lied in ‘n vreemde land sing? Al word ons getart en gevra om ‘n vrolike lied oor Sion te sing, bly ons liewer stil en hang ons ons liere aan die wenende wilgerbome op. Dit lyk asof die Israeliete sê dat daar nie ‘n lied is om te sing nie!
  • En tog. En tog!
  • Die HELE Psalm 137 is inderdaad ‘n lied. Maar soos iemand dit so mooi beskryf het; dit is ‘n anti-lied. Dit is ‘n teen-lied. Dit is ‘n lied wat protesteer.
  • Dit is ‘n ... klaaglied.

Nee, Babel. Ons gaan nie JULLE lied sing nie! Ons gaan ONS lied sing. Ons eie lied! En hierdie lied is nie vrolik nie. Dis ‘n klaaglied.

Maar daar is ‘n voorwaarde, sê Israel: Ons moet ONTHOU!

Onthou om te onthou, vergeet om te vergeet!

  • Laurika Rauch sing ook so ‘n lied waarin een geliefde verlang na ‘n ander geliefde wat ver van haar af is. Sy sing:

DIE WINTERAAND IS OM MY
VOOR DIE KAGGELVUUR SE KOLE
BUITE TJANK DIE WINDE
SOOS DIE WOLWE IN DIE BERGE
TEEN DIE HORTJIES KLAP DIE VENSTER
EN HERINNER MY AAN DIE
KLOP VAN JOU KNEUKEL AAN MY DEUR
MAAR EK WEET OOK DAT JY VER IS
EN DAT EK MY
DOOD VERLANG NA JOU

VERGEET OM MY TE VERGEET
ONTHOU OM TE ONTHOU
EN WEET DAT JY ALTYD WEET
EK IS LIEF VIR JOU
VERGEET OM MY TE VERGEET
ONTHOU OM TE ONTHOU
OM MY TE ONTHOU

  • Die geheim is om te onthou!
  • Maar die geheim is om REG te onthou:
  • Hoopvol te onthou. Sodat die toekoms oopgesluit word, en nie toegesluit word nie:

VERGEET OM MY TE VERGEET
ONTHOU OM TE ONTHOU

  • Psalm 137 sê dit só pragtig en poëties (verse 5 en 6):
  • As ek jou sou vergeet, Jerusalem,
  • mag my regterhand dan verlam raak.
  • Mag my tong aan my verhemelte vaskleef

as ek nie aan jou dink nie,

as Jerusalem nie my grootste vreugde bly nie.

  • My regterhand verlam raak: Dan kan ek nie meer die lier bespeel nie. Dan kan ek nie meer musiek maak nie.
  • My tong aan my verhemelte vaskleef: Dan kan ek nie meer sing nie.

Twee uitdagings aan die sing van die lied van die Here in ‘n vreemde land

  • Die eerste uitdaging is om nie vals te sing nie. Om nie iemand anders se lied te sing nie. Maar jou eie lied. Al is dit dan ‘n klaaglied.
  • Die tweede is om te weet dat jou lied in ‘n vreemde land gebore word vanuit jou onthou.
    • Jou onthou van wie jy is.
    • Waar jy vandaan kom.
    • Wat regtig vir jou die belangrikste is: As ek nie aan jou dink nie, as Jerusalem nie my grootste vreugde bly nie.
  • Om jouself en die HERE te onthou. Om HOOPVOL te onthou. Om die slegte dinge:
    • Terugskouend-hoopvol te onthou;
    • sodat jy vorentoe kan kyk met ‘n VERWAGTING.
    • ‘n Klaaglied wat OOPMAAK vorentoe!

‘n Klaaglied wat Geregtigheid verwag.

  • Omdat Israel ONTHOU, en HOOPVOL onthou, sing hulle ‘n klaaglied met ‘n toekoms.
  • En omdat hulle hier waar daar groot onreg teen hulle gepleeg word onthou dat God ‘n God van geregtigheid is, vra hulle die HERE om die Edomiete en die Babiloniërs se skreiende onreg te onthou:
  • Vers 7: “Onthou die Edomiete, Here, die dag toe Jerusalem ingeneem is, hoe aangehou het met sê: ‘Breek af, breek af die stad tot op sy fondamente!”
  • En daar langs die wenende Wilgerbome waaraan die liere nou NIE meer hang nie; sing die volk hoopvol (vers 8): “Dat jy verwoes sal word, Babel, is seker. Gelukkig is die man wat jou terugbetaal vir wat jy ons aangedoen het.”
  • Jy sal terugbetaal word, Babel. Geregtigheid sal geskied!
  • En het dit?
  • Het hierdie teen-lied, hierdie proteslied, hierdie klaaglied die toekoms uiteindelik vir Israel OOPGEMAAK; of het dit hulle toekoms TOEGESLUIT?

Nehemia 1: Die volk word vrygelaat

  • Ons verhaal flits 70 jaar vorentoe in die geskiedenis.
  • Wêreldpolitiek het verander. Groot skuiwe het buite Israel se beheer om gebeur: Hulle word vrygelaat vanuit ballingskap.
  • Die meeste van die ou ballinge wat nog uit Israel weggevoer was, is nou al dood. Dalk almal. Dit was seker maar net die kinders wat in die vreemde gebore is, wat nou terugkeer na ‘n land, hulle beloofde land, ‘n land waar hulle nog nooit was nie.
  • ‘n Land wat hulle maar net ken deur die vertellinge van hulle ma’s en pa’s, hulle oupa’s en ouma’s. Omdat ma en pa ONTHOU het; omdat oupa en ouma ONTHOU het; het die kinders ONTHOU. Kon hulle terugkeer na ‘n onthou-land.

Nehemia 2,3: Die volk bou Jerusalem se muur weer

  • In die boek Nehemia lees ons dat die volk teruggekeer het, maar dat hulle in ellende was, alles was in puin (Neh 1:3).
  • Nehemia kry toestemming om te bou (Neh 2:4,5)
  • Nehemia oortuig die volk en hulle sê, “Kom ons bou!” (Neh 3:18).

Nehemia 8: Die volk wil ‘n tempel bou en kom bymekaar

  • Nehemia het die hele volk soos een man by die Waterpoort bymekaar gebring (8:2).
  • Toe vra hy vir Esra die hoëpriester om die wetboek waarin Moses se bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring (8:2).
  • Esra het hoër gestaan as die hele gemeente en het die boek voor almal se oë oopgemaak. Toe hy dit oopmaak, het die hele gemeente opgestaan (8:6). Esra het die Here, die grote God geprys en die hele gemeente het geantwoord: “Amen, amen.”(8:7).
  • Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word.”(8:9).
  • Nehemia en Esra en die Leviete sê toe vir die gemeente:
  • “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.”
  • Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet.”(8:10).

SLOT

  • By die riviere van Babel het ons trane soos ‘n rivier gevloei.
  • Ons het nie Babel se lied gesing nie:Ons het ons liere aan die wenende wilgers opgehang.
  • Maar ons het onthou: Ons het onthou dat God, dat Jerusalem ons grootste vreugde is. Ons pa’s en ons ma’s; ons ouma’s en oupa’s het ons hieraan herinner. Dag en nag. En ons, die kinders en kleinkinders het onthou!
  • En ons het gesing: Ons het ons eie lied gesing. ‘n Proteslied. ‘n Klaaglied. En ons lied het die toekoms oopgemaak.
  • En toe ons na 70 jaar terug was in ons eie land, het ons op ‘n oop stuk grond gestaan waar die tempel gebou sou word.
  • En die Woord van die Here is voor ons oopgemaak, vir ons gelees en vir ons verduidelik.
  • En ons het wéér gehuil.
  • By die fondasies van die tempel in ons eie land het ons gehuil en ons het wéér gesing:
  • Ons eie lied: ‘n Loflied.

Kom ons sing ons eie lied.

Kom ons onthou.

Kom ons bou!

Amen

Terug