Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

08 April 2018 Ds. Rian Verster

Lees preke

Sondag 8.4.2018.

Klassieke Diens

Teks:  Joh. 20: 19 – 31.

1. Wat is die skopus van die teks?

As ons die teks lees is die een persoon wat hier die aandag trek Tomas. Die twyfelaar, die ongelowige! Ons verstaan di took, want ons het simpatie met Tomas omdat on sook twyfel ken. En ons ken nie net twyfel nie, ons is ook goed daarvan bewus hoedat twyfel ons kan verrinneweer!

Ons moet egter baie mooi duidelikheid kry waaroor dit in hierdie teks gaan en om dit te doen sal dit help om te vra na die doel, die boodskap van die Johannes-evangelie. Die Johannes-evangelie wil die lesers, die kerk, vir ons te laat sien dat Jesus Christus die Here is wat uit die dood opgestaan het. Daarom gee die evanglie nie net interressante inligting nie, maar vra dit van ons om Jesus te glo!!

Aan die eenkant is dit half jammer dat die fokus op Tomas is. Almal van hulle het weggehardloop toe Jesus in hegtenis geneem is. Toe Petrus onder druk kom het hy ontken dat hy ook ‘n dissipel is. Toe die vroue met die boodskap by hulle aankom dat die graf leeg is, was almal van hulle skepties. Ag dae gelede was hulleook bymekaar en Jesus het na hulle toe gekom. En tog,  hierdie Sondagaand is die dissipels bymekaar, let op, agter toe deure, gesluit, want hulle was bang vir die Joodse leiers en die Romeinse amptenare. Sal dieselfde met hulle gebeur as wat met Jesus gebeur het?

2. En wat doen Jesus?

Hy kom soek Sy dissipels op. Nie om te verwyt of vrae te vra of te beskuldig nie, maar in groot liefde -  om te vergewe, te herstel, om Sy vrede vir hulle te gee. Die Joodse groet “vrede vir julle” beteken, “ek kom nie met kwade bedoelings, met ‘n versteekte wapen na jou nie.” Dis ‘n groet in goeie trou! So herstel Jesus die verhouding tussen Hom en Sy dissipels. Hy neem die inisiatief omdat Hy liefhet, omdat Hy hulle wil intrek in Sy groter toekomsplan vir skepping en wêreld, omdat dit waarvoor Hy Sy lewe gegee het, die liefde van God vir alle mense aan te bied.

3. Wat dan van ons twyfel? Want teen wil en dank kom ons ook nie van ons twyfel los nie.

Dit is bevrydend om eerlik te wees oor ons twyfel en nog meer bevrydend om vir die Here te kan sê dat ons ook nie elke dag lekker weet hoe ons oor ons wêreld em omstandighede moet dink nie. Dat ons dikwels ook wil vra, waar is die Here dan in al hierdie deurmekaarheid? Da tons heel dikwels mal van frustrasie en onsekerheid ons hare uit ons koppe wil trek van magteloosheid!

Tomas was eerlik in sy twyfel en let nou op, die voorwaardes wat Tomas gestel het, as ek nie sien nie en my vingers in die merke van die spykers steek en my hand in Sy steek nie, sal ek nooit glo nie! En by hierdie geleentheid sê Jesus vir Tomas:- “Bring jou vinger en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy …..”

As ons eerlik is met die Here oor ons twyfel moet ons Hom ten minste ook die geleentheid gee om ons twyfel te antwoord.

Dit is belangrik, want as dit nie gebeur nie bly ons agter geslote deure wegkruip en die wonder van die evangelie van Jesus, die wonder van God se liefde stol op ons lippe  en syfer weg uit ons doen en late!!

Die sleg ding van twyfel is dat dit ons oë toemaak vir die teenwoordigheid van die Here in elke situasie. En as dit gebeur begin ons onsself verlekker in die twyfel. Dan wil ons rondom die braaivleisvure net nog ‘n beter storie vertel oor hoe hopeloos ons omstandighede nou geword het.

Agter geslote deure en geslote denke vergeet ons van ons dissipelskap!! Dissipelskap beteken nie dat ons vol bravade, seker van ons saak, antwoorde op alle lewensvrae, die wysheid van die grysheid het nie. Dissipelskap beteken om in groot nederigheid te weet dat ons van die Here afhanklik is, want ons weet ook nie elke keer nie.

4. Wat ons egter wel weet is dat die Here vir Sy dissipels Sy Gees gegee het. Sommige verklaardes sê hierdie is Johannes se weergawe van die koms van die Hg op Pinksterdag. Ander noem dit ‘n klein Pinkster.

Wat egter belangrik is is die wete, die vrede dat ons dissipelskap gedra word deur die Here se Gees. Terwyl ons as mense probeer om sin te maak van ons groter wêreld en van eie realiteite, waarvan twyfel maar een is, die vrede, ons lee fonder die leiding, liefde en sorg van Sy Gees!

Wat ons verder weet is dat die Here vra dat ons vergewend sal lewe! Ons dink nie so daaroor nie, ons dink nie dat dit so belangrik is vir die koms van God se koninkryk nie, maar die impak van vergifnis is onberekenbaar. Dit lyk uit die teks of Jesus vir Sy dissipels die reg gee om sondes te vergewe of nie. Dit is egter nie so nie, geen mens kan sonde vergewe nie, maar ons kan vergifnis demonstreer in ons omgang met mekaar en “believe it or not” die impak daarvan is onberekenbaar!!

 

 

 

Terug