Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld

Lees preke

07 Oktober Dr Tinus van Zyl Klassieke Diens

Lees preke

7 Oktober 2018

Klassieke diens: Doop

Psalm 150 – Om ons lof te bid

Skriflesing:    Psalm 150

Aanbiddende wesens

‘n Mens is gemaak om te aanbid. Mense is aanbiddende wesens.

Alone in the world?

Prof Wentzel van Huyssteen se Gifford lesings is gepubliseer in ‘n boek met die aangrypende titel – Alone in the world? Hierin wys hy hoe die pre-historiese mens reeds in rotstekeninge die behoefte uitgedruk het om te aanbid– die begeerte om iets groter as onsself te aanbid.

Prof Wentzel sê in die inleiding, wat ek sommer vry vertaal: “...ons het nog nie ons wêreld of onsself begryp, voordat ons dit nie verstaan in verhouding tot God nie.”

Mens gedefinieer deur aanbidding

Die mens word gedefinieer deur dit wat ons aanbid, dit wat ons met ons hele wese liefhet en begeer, dit waarop ons ons lewe rig, waarvolgens ons onsself oriënteer.

Almal aanbid

Alle mense aanbid iets, maar dis nie noodwendig God nie. Jy kan rykdom aanbid. Jy kan mag aanbid. Jy kan gewildheid aanbid. Jy kan plesier aanbid. Maar almal aanbid iets. Selfs Donald Trump aanbid – hy aanbid Donald Trump.

Afgode

Calvyn het gesê die mens se hart is ‘n voortdurende vervaardiger van afgode.

Nagmaalformulier

Die nagmaalformulier verwoord dit uitstekend wanneer dit verduidelik dat ons in die nagmaal onsself toewy aan God alleen en stelling inneem teen alle afgode in ons lewe.

Dit sê: “Omdat ons van nature geneig is om vir onsself afgode te skep, moet ons telkens bevry word om die enigste ware God te aanbid, dié God wat Homself in sy Seun geopenbaar het.

“In die nagmaal word ons gekonfronteer met die vrae: Waarop sit jy jou hart? Waar lê jou hoogste prioriteite en lojaliteite? Wie roep jy aan in jou oomblikke van nood? Op wie vertrou jy? Want, dié een wat ons as die bron beskou van alle[s wat goed is] en wat in tye van verdriet en moeilikheid ons enigste toevlug is, dié dinge waarop ‘n mens se hart staatmaak en waarop dit geheel en al vertrou, is in werklikheid jou God.”

Doop bevry van afgode

Die doop is die bevryding van alle afgode. Deur die doop word ons afgesny en bevry van alle magte en kragte in hierdie wêreld wat ‘n aanspraak op ons maak, wat ons prioriteit en lojaliteit vir hulleself wil toeëien. Die doop sny ons los van alles en almal in hierdie wêreld wat sê dat ons aan hulle behoort.

Behoort aan God

Gedooptes behoort nie meer aan onsself nie, ons behoort aan God alleen. Jesus is nou die enigste Here en Koning oor ons lewe. Ons het gesterf vir hierdie wêreld se koninkryke en hulle heersers en ons leef nou vir een Heer alleen en vir sy koninkryk hier op aarde.

Draai rug op bose

Om elke dag vanuit ons doop te leef, beteken om elke dag ons rug te draai op alles en almal wat ons vir hulleself wil toeëien en ons wil inspan om hulle koninkryk en hulle agenda te bevorder.

Vroeë kerk

Daarom het die kerk deur die eeue op Paassondag, wanneer nuwe lidmate gedoop is, almal saam gedraai na die Weste, waar die son sak en wat die simbool was van boosheid – en dan gesê: Ons verwerp die duiwel en al sy werke!

En dan het die hele kerk omgedraai na die Ooste, waar die son opkom en wat die simbool was van Christus se opstanding – en gesê: Ons draai na Christus toe! Ons het saam met Christus gesterf! Ons het saam met Christus opgestaan!

You are what you love

Mense sê spottenderwys: “You are what you eat.” Maar ‘n teoloog, Jamie Smith, sê met groter erns: “You are what you worship. You are what you desire and adore. You are what you love.”

Kan dinge bewonder

Dit beteken nie dat ons niks op hierdie aarde mag bewonder, begeer of liefhê nie. Om aan God alleen te behoort en God alleen te aanbid, beteken nie dat ons nie die skoonheid van die natuur mag bewonder nie, of mooi musiek en kuns mag waardeer nie, of lekker kos en wyn mag geniet nie, of die vreugde van samesyn en liefde mag koester nie.

Dit is goed!

Dit is tog alles deel van God se wonderlike skepping, waarvan God Self herhaaldelik gesê het: Dit is goed!

Prioriteit

Om God te aanbid, beteken dat ons die regte prioriteit aan hierdie dinge gee. Om God te aanbid as die Gewer van al hierdie goeie gawes, beteken dat ons nie die gawes self begin aanbid nie.

Verdraaiing van bewondering

Want as ons die gawes self begin aanbid, dan verander bewondering in beheptheid en afgodery, dan verander begeerte in gierigheid en obsessie, dan verander liefde in besitlikheid en jaloesie.  

Selfs ons kinders

Selfs ons eie kinders en kleinkinders, hierdie kinders wat vandag gedoop is – ons kan nie aan hulle vasklou asof hulle aan ons behoort nie. Ons ontvang hulle as gawes uit God se hand uit. God gee hulle aan ons om te versorg, om hulle lief te hê en te geniet.

Vasklou

Maar die oomblik as ons aan ons kinders gaan begin vasklou asof hulle aan ons behoort, die oomblik as ons hulle vir onsself wil hou, as ons hulle wil verhoed om hulle eie lewens vir God te leef, gaan ons hulle versmoor.

Doop herinner aan op hand

Die doop herinner ons dat ons kinders gawes is uit God se hand en dat ons hulle met ‘n oop hand moet vashou. Ons mag nie ons kinders of ons kleinkinders aanbid nie. Ons moet die God aanbid wat hulle aan ons geskenk het. Dan sal ons ons kinders en kleinkinders op ‘n gesonde manier kan waardeer, liefhê en koester.

Barth

Die teoloog Karl Barth het gesê dat die hele skepping God vereer en aanbid, deur eenvoudig te wees wat God dit gemaak het om te wees – niks meer nie en niks minder nie.

Mossie en arend

Die mossie vereer God deur ‘n mossie te wees – nie as hy probeer om ‘n arend te wees nie. Die kappertjie vereer God deur ‘n kappertjie te wees – nie deur ‘n roos te probeer wees nie. Die meerkat vereer God deur ‘n meerkat te wees – nie deur ‘n leeu te probeer wees nie.

Die spekboom deur ‘n spekboom te wees, nie ‘n kremetart nie; en die krimpvarkie deur ‘n krimpvarkie te wees, nie ‘n olifant nie, die klipvis deur ‘n klipvis te wees, en nie ‘n walvis nie.

Mens

En die mens vereer God deur ‘n mens te wees – niks meer nie en niks minder nie. Die mens vereer nie God deur ‘n God te probeer wees nie. Dit is die teenoorgestelde van aanbidding – dit is afgodery – wanneer mense probeer om soos God te wees. Om waarlik vir God te aanbid en te vereer, moet die mens wees wat God ons gemaak het om te wees – mense.

Deel van skepping

Deel van die probleem as mense probeer om méér as mense te wees – as ons probeer om God te wees – is dat ons vergeet dat ons deel is van God se skepping. Dit is wanneer ons die res van God se skepping begin misbruik en uitbuit, beskadig en besoedel vir ons eie gemak en voordeel, want ons het vergeet dat ons deel is van hierdie skepping.

Alles wat asem het

Alles wat asem het, die hele skepping bring eer aan God deur te wees wat God dit gemaak het om te wees. En as ons God aanbid, die Skepper van alles en die Gewer van alle goeie gawes, en ons aanbid onsself – die mens – nie, dan sal ons onthou dat ons mense onlosmaaklik deel is van hierdie skepping van God.

Alles is nie goed en mooi nie

Maar liewe vriende, ons moet ook ‘n treetjie verder gee en sê dat dit nie beteken dat alles in die skepping goed en mooi is nie. Ons kan wel sê dat God alles goed en mooi geskape het, maar alles is in die skepping gebeur nie volgens God se bedoeling of wil nie.

Psalms weet dit

En dit is waarmee die Psalms ons gehelp het, die afgelope kwartaal. Dwarsdeur die Psalms het ons gesien hoe die psalmdigters God aanbid in verskillende lewensomstandighede.

Elke ervaring en emosie

Die Psalmdigters beleef onderdrukking, pyn en moeilikhede. Hulle raak bewus van hulle eie onoplettendheid, verlorendheid en sonde. Hulle ervaar vrees, haat en hartseer in hulle harte. Hulle worstel met twyfel, ongeloof en wanhoop.    

Nie ten spyte van nie, maar te midde van

En die psalmdigters aanbid God – nie ten spyte van dit alles nie, nee, hulle aanbid en soek na God binne-in en dwarsdeur dit alles.

Bring na God toe

Die psalmdigters skuif nie al die probleme in die wêreld en al die moeilikhede in hulle lewe eenkant toe en loof en prys God in ‘n poging om van hierdie bose wêreld te ontvlug nie. Nee, hulle bring al die probleme in die wêreld en al die moeilikhede in hulle lewe na God toe in gebed en smeking, én met danksegging.

Halleluja!

Die laaste vyf Psalms begin en eindig met die uitroep: Halleluja!  Dit beteken: Loof die Here! Prys die Here! Miskien kan dit ons help om besef dat ons hele lewe – van begin tot einde – word omring deur hierdie uitroep na God – Halleluja!    

Barend Vos

Alhoewel mense gemaak is om te aanbid, alhoewel elke mens íéts aanbid, sê Barend Vos dat Halleluja nie iets wat vanself uit ons monde kom nie. Dit is iets wat ons moet aanleer. In sy parafrasering van Psalm 149, getiteld Halleluja-taal, skryf hy: (bl. 354 – eerste twee paragrawe)

Leer ons kinders

Liewe vriende, mag ons ons kinders leer, ook hierdie doopkinders, om nog Halleluja te sê. Nie ‘n goedkoop Halleluja wat verby al die swaarkry in die wêreld kyk en probeer om jou eie pyn te onvtlug nie. Mag ons hulle leer om ‘n egte en ‘n eerlike Halleluja! te sê – ‘n Halleluja! wat die hele lewe, elke goeie gawe, asook elke sweet-, bloed- en traandruppel insluit.

Mag ons self nie verleer nie

En mag ons self nooit verleer om Halleluja te sê nie. Maar mag ons voortdurend hierdie woorde op ons lippe neem, in goeie en in slegte tye, omdat ons in lewe en in sterwe nie aan onsself behoort nie, maar aan die Here ons God. Amen.

 

Terug